Vandag sluit die skole in die Wes-Kaap vir ‘n welverdiende vakansie vir die leerders na ‘n lang akademiese jaar. Skole sluit egter ‘n dag vroeër as wat geskeduleer is, want dit is te danke aan die Springbokke se geskiedkundige oorwinning oor die All Blacks om die rugbywêreldbeker vir ‘n rekord vierde keer te verower. Die Bokke het ons so trots gemaak en weereens bewys dat daar plek vir uitnemendheid in ons pragtige land is.

Verlede week is al die gr. 4 – 7-prysuitdelings suksesvol afgehandel om erkenning vir ons leerders vir hul harde werk en toewyding te gee. Ons unieke wyse van erkenning gee, veral vir die akademie, maak my gerus dat ons die regte aanslag het en dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning en uitnemendheid is. Ons poog as personeel om vir ons leerders ‘n voorbeeld te stel deur alles wat ons as skool aanpak, met uitnemendheid te doen. Baie geluk aan die volgende Top 10 akademiese graad 7-leerders vir hulle harde werk en toewyding:

  1. Katia van Wyk (Dux leerder 2023)
  2. Lida-Mari Bosman
  3. Liza Hertzog
  4. Karlien van der Walt
  5. Gemma de Vries
  6. Stella Lamprecht
  7. Ruben Oosthuizen
  8. Mieke Nel
  9. Jan-Willem Silvis
  10. Sofia Newton

Graag wil ek ook vir mnr. Leon en sy span hartlik gelukwens met vanjaar se puik kleure-atletiekbyeenkoms wat op Woensdag, 06 Desember, (velditems) en Vrydag, 08 Desember, (Baanitems) plaasgevind het. Die atletiekdag het reeds Vrydagoggend vroeg om 07:15 met die tradisionele optogte om die baan begin. Die onderskeie kleurhuise se areas op die pawiljoen was merkwaardig versier en dit alles te danke aan ons graad 7-ouers wat reeds dou voor dag daarmee begin het. Opvallend was die ‘lekker’ gees wat reeds met die aanvang van die ongelooflike dag teenwoordig was en die hele dag geheers het. Ons leerdes se stemme was hees gesing en later het ons lekker musiek gespeel waarop hulle saam met personeel, ouers/voogde gedans het. Dit was baie spesiaal om te sien hoe ons onderwysers saam met ouers op die ritme van die musiek gedans het. Ek is vanjaar 3 jaar by die merkwaardige skool betrokke en dit was volgens my die beste atletiekdag sedert ek by die skool aangesluit het. Die meerderheid van leerders en hul ouers/voogde het tot 15:45 na afloop van die prysuitdeling gebly. Baie geluk aan die huis van Blou wat die geesbeker verower het en Huis Oranje wat vanjaar die atletiek oorheers het. Baie geluk aan die volgende atlete met hul uitsonderlike prestasie:

  • Victrix Ludorum jnr (o.10 – o.11): Cato Terblanche
  • Victor Ludorum jnr (o.10 – o.11): Rafa Lamprecht
  • Victrix Ludorum jnr (o.12 – o.13): Jana Olivier
  • Victor Ludorum jnr (o.12 – o.13): Delmar Benecke wat 3 rekords op die dag verbeter het.

Ons neem oor die laaste week stelselmatig afskeid van die gr. 7-leerders. Ons het op Maandag, 11 Desember, ‘n spesiale afskiedsaal vir die gr. 7’s saam met hul ouers/voogde gehou. Daarna het hul tradisioneel met hul skoolklere in die swembad gespring. Hulle finale sokkie is dan ook op Maandagaand om 18:00 in die saal aangebied. Baie dankie aan al die ouers wat met die opmaak en verfraaiing van die saal vir die spesiale sokkie betrokke was. Baie geluk aan die gr. 7’s met jul pragtige 2023 Jaarboek. Dit sluit ‘n spesiale bladsy in van elke gr. 7-leerder met iets spesiaal oor haar of homself. Kostelik is die babafoto van elke gr. 7-leerder in vergelyking met hul hedendaagse foto. Hierdie pragtige jaarboek is te danke aan Kerala Allewell, Annabel Potgieter, Lida-Mari Bosman, Katia van Wyk, Karlien van der Walt, Mia Smith, Emma Jonker en Gemma de Vries.

Ons beste wense vergesel die gr. 7’s vir hul nuwe reistog na die hoërskool en mag hulle hul hoërskoolloopbaan net so geniet soos by ons. Onthou my boodskap: Droom groot en as iemand dit durf waag om te sê dat julle te groot droom dan moet julle vir hulle sê dat hulle dalk te klein droom. Julle is ‘n merkwaardige groep leerders met ‘n blink toekoms wat voorlê. Ons gaan julle baie mis. Hou aan om ‘n positiewe verskil in mense se lewens te maak deur net jouself te wees.

2023 was ‘n ongelooflike suksesvolle jaar vir Laerskool Jan van Riebeeck. Die hoogtepunte is legio en ons skool het in alle opsigte merkwaardig presteer. Dit kon slegs gebeur met toegewyde leerders, personeel en effektiewe skoolbestuur, ondersteunende ouers/voogde en ‘n dinamiese Beheerraad. Sukses beteken nie net altyd prestasies nie, want die karakter en omgeehart van ons skoolgemeenskap is prysenswaardig en uniek. Ek is baie trots op ons personeel wat jaar-in en jaar-uit die spreekwoordelike ekstra myl tot voordeel van ons leerders loop. Baie dankie aan die EXCO (skoolbestuur) vir jul leeue-aandeel in die effektiewe bestuur van die puik skool. Laat my ook toe om my regterhand, naamlik Marinda (adjunkhoof) te bedank vir haar harde werk en lojale ondersteuning die afgelope jaar.

Lees gerus my jaarverslag vir 2023 wat bondig opsom wat ons as skool die afgelope jaar vermag het.

Graag sluit ek af en wens vir julle’n welverdiende vakansie toe van lekker rus en ontspan saam met vriende en familie. Mag elkeen van julle ‘n Christusfees vol vreugde, vrede en liefde ervaar saam met al die spesiale mense in jou lewe. Mag 2024 voorspoedig wees vol nuwe avonture, vrede en hoop!

Julle moet asseblief veilig reis en sien julle D.V. 17 Januarie 2024 wanneer die skool weer sy deure vir 2024 oopmaak.

Vriendelike Vakansie-groete

Naas Beets
SKOOLHOOF