Hierdie afgelope week was weereens propvol opwindende aktiwiteite wat onder andere prysuitdelings, atletiek, “sing-songs”, “water slides”, klas- en graadpartytjies, ens. ingesluit het.

Hierdie week het die jaarlikse prysuitdelings onderskeidelik vir graad 4 tot 7 plaasgevind. Graag fokus ek eers op die graad 4 en 5-prysuitdelings aangesien die saktyd vir die weeklikse nuusbrief te vroeg in die week is, om ook die prysuitdelings vir graad 6 en 7 in te sluit. Ek sal wel in volgende week se nuusbrief daaroor terugvoering gee. Die graad 4 en 5-prysuitdelings het op ‘n manier informeel, maar tog uiters stylvol plaasgevind. Prysuitdelings is op beste van tye ‘n sensitiewe en kontroversiële onderwerp van bespreking en ek wil julle die waarborg gee dat ons as skoolbestuur baie begrip daarvoor het. Ek glo dat ons skool die erkenningsproses so verfyn het dat ons dit regkry om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom.  Ons neem dit egter nog ‘n stappie verder en gee vir elke leerder ‘n persoonlike en unieke erkenning in die saal. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as ‘n laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Daar was baie hoogtepunte tydens die prysuitdelings, maar opvallend was die leerders se toejuiging tydens die bekendmaking van die akademiese presteerders. Baie van die top 10 akademiese leerders was aangenaam verras met die aankondiging van hul name en het dit glad nie verwag nie. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien dat ons leerders mekaar se prestasies vier en dit is so spesiaal wat ons skool op nog ‘n manier uniek maak. Hierdie trotse oomblikke sal ek verewig koester en bevestig net weer dat daar ‘n plek vir akademiese erkenning is op die voorwaarde dat ‘n skool waardegedrewe moet wees en ‘n spesiale etos van omgee en respek omhels.

Op Sondagaand, 04 Desember, om 19:00 het beide ons junior- en senior kore vir die tweede  agtereenvolgende naweek tydens kerssangdienste opgetree en die keer in die pragtige NG Kerk,  Drieankerbaai. Beide kore het hul puik van hul taak gekwyt en weereens ons ouers/voogde en al die Drieankerbaai kerkgangers betower met die sing van pragtige kersliedere. Baie dankie aan ons mammas wat gehelp het om ons leerders as Josef, Maria, die wyse manne en engele aan te trek wat die aand verder ekstra spesiaal gemaak het.

Op Woensdag, 06 Desember, het die velditems van ons jaarlikse kleure-atletiek by die Hoërskool se velde plaasgevind. Baie dankie aan mnr. Leon vir al die puik reëlings asook ons personeel wat toegewyd hul stasies beman en ons atlete aangemoedig het. Graag wil ek ons ouers/voogde bedank wat tyd by die werk afgeknyp het om die dag te ondersteun en luidkeels hul kind/ers aan te moedig om net hul beste te doen. Die pragtige uitsig vanaf die hoërskool se velde met die ikoniese Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel as agtergrond het beslis gehelp om almal se gemoed te lig en die jaar op ‘n hoë noot af te sluit.

Laat my ook toe om Gerhard Conradie hartlik te bedank wat die afgelope week sy span mense gestuur het om die mini-sportveld agter die skool kompos asook ‘n bolaag sand toe te dien. Baie dankie Gerhard, ons het groot waardering.

Volgende week is die laaste skoolweek vir 2023 en sluit die skool op Dinsdag, 12 Oktober, vir almal om 10:30. Ek hoop en vertrou dat almal vandag se kleure-atletiek (baanitems) sal geniet. Ek sien uit om julle daar te sien. 

Graag sluit ek af soos oudergewoonte met my bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Roy T. Bennet oor dankbaarheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet. 

“When one has a grateful heart, 
Life is so beautiful!’’ 

Vriendelike groete 

Naas Beets 
SKOOLHOOF