“Jy is uniek en spesiaal… Jy kan enige iets bereik as jy regtig wil…”

Bekende woorde vir elke ouer. Maar, ten spyte van hierdie voortdurende pogings van ouers se kant af om hul kinders beter oor hulself te laat voel, word ‘n ouer byna daagliks gekonfronteer met ‘n moedelose, ongelukkige kind wat voel hy of sy is nie goed genoeg nie.

Daar is ongelukkig min bewyse dat hierdie voortdurende gerusstelling deur ‘n ouer enige verskil gaan maak in hoe kinders hulself gaan beleef wanneer hulle – weg van hul ouers – met hindernisse, teleurstellings en uitdagings gekonfronteer word.

Navorsing bevestig dat werklike selfvertroue slegs gekweek kan word wanneer jy jou kind toelaat om sélf oplossings te vind en om sélf hindernisse in die oë te kyk. Dit is híérdie kinders wat uiteindelik (al is die ouers nie daar nie) die wêreld kan trotseer. Soms is dit al manier hoe kinders hul eie persoonlike sterkpunte kan leer ken.

Kinders met selfvertroue weet hulle mag misluk, maar glo ook in hul eie vermoë om “terug te bons” en weer te probeer. Natuurlik geskied hierdie veerkragtigheid binne ‘n raamwerk van betrokke en ondersteunende ouers.

Moedig dus jou kind van kleins af aan om hul omgewings te verken, in hulself te glo en as hulle val, op te staan, knieë af te stof en aan te gaan.

– MARIKE BADENHORST, OPVOEDKUNDIGE SIELKUNDIGE