Ons gr. 4 – 6-leerders het die afgelope week op Dinsdag, 21 November, ook met hul finale eksamens begin en dit eindig op Donderdag, 30 November. Die grondslagfase se finale assesserings vir die jaar is gedurende die afgelope twee weke afgehandel, gemodereer en punte is verwerk. Hiermee wil ek ons toegewyde grondslagfase opvoeders en hul klasassistente hartlik bedank vir hul leeue-aandeel in die suksesvolle afhandeling van die akademiese jaar.

Die jaarlikse prysuitdelings vir die Grondslagfase het op Donderdag, 23 November, plaasgevind. Baie geluk aan al ons wonderlike grondslagfase leerders wat op die dag die nodige erkenning vir hul harde werk, toewyding en puik prestasies ontvang het. Julle is almal presteerders wat ons baie trots maak! Baie dankie aan al die ouers/voogde wat in groot getalle die onderskeie prysuitdelings bygewoon het en in die proses dit baie spesiaal vir hul kind/ers gemaak het. Prysuitdelings vir gr. 4 en 5 geskied op Dinsdag, 05 Desember, en vir gr. 6 en 7 op Donderdag, 07 Desember.

Op Donderdagaand, 16 November, om 18:00 het die inligtingsaand vir gr. 7-ouers van 2024 in die saal plaasgevind. Graag wil ek juf. Charlene (gr. 7-Graadhoof) en haar span hartlik bedank vir die puik aanbieding waartydens die onderskeie vakonderwysers aan die ouers voorgestel is, die gr. 7-kurrikulum met nuwe vakke is verduidelik, besprekings rakende kampe, sokkies, roomysverkope, fondsinsamelingsprojekte, konsert, afskeid aan die einde van die jaar, ens. is in detail hanteer. Ons ouers/voogde het die sessie baie insiggewend ervaar en met geruste harte uit die saal gestap met die wete dat hul kinders volgende jaar vir hul laaste laerskooljaar weer in goeie hande sal wees.

Baie geluk aan Louise en haar Huppellandspan met die uitstekende jaarlikse konsert wat op Vrydagaand, 17 November, in die skoolsaal plaasgevind het. Dit is beslis ‘n hoogtepunt op die Huppellandkalender en is so goed deur die ouers/voogde en familie ondersteun. Die leerders en hul onderskeie opvoeders het die afgelope twee weke baie hard geoefen om die sukses van die aand te verseker.

Ons is verder ook trots op Jan Kas met sy merkwaardige aanlyn aankope platform wat sedert die amptelike opening ongelooflik deur ons ouers/voogde ondersteun word. Ons is nou in ‘n posisie om ons nuwe gemaklike skooldrag onmiddellik aan ons leerders te voorsien. Suzaan kan amper nie voorbly met die bestellings nie en ons moes noodgedwonge nog voorraad bestel om ons ouers/voogde te bedien. Ek glo julle het ook die nuwe aanwysingsborde vir Jan Kas gesien wat beslis sal help sodat almal maklik hul pad na die ligging van ons nuwe klerewinkel sal vind.

Ons innige meegevoel gaan aan die familie van Charl Theron, voormalige voorsitter van ons Beheerraad, wat onverwags die week afgesterwe het. Mag ons gebede die familie tydens die moeilike tyd dra. Ons dink ook aan mnr. Oosthuizen in hierdie tyd, aangesien hy en Charl vir ‘n baie lang tyd ‘n hegte vriendskap gedeel het.

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Mandy Hale oor die belangrikheid van ‘n positiewe gesindheid. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende en/of familie geniet.

“A great attitude becomes a great day,
which becomes a great month,
which becomes a great year,
which becomes a great life.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF