Dit is vir ons belangrik om op ‘n tydige en gerieflike wyse met ouers te kan kommunikeer, daarom kondig ons graag die volgende reëlings t.o.v. kommunikasie vir 2024 aan:

  • Met die volledige implementering van Teams by die skool en die uitbreiding van funksionaliteit in WhatsApp, is besluit om die gebruik van Skooler aan die einde van 2023 op te skort.
  • Die skool het reeds ons eie WhatsApp Community, Ls JvR, geskep. Dié WhatsApp Community, tesame met ‘n aantal WhatsApp-groepe, sal vanaf 11 Desember as amptelike kommunikasiekanaal gebruik word om aankondigings, dringende kennisgewings en reëlings t.o.v. sportoefeninge, wedstryde, optredes e.d.m. aan ouers te kommunikeer. Skooler sal steeds tot einde van die kwartaal gebruik word terwyl ouers kans het om by die WhatsApp Community aan te sluit. Moet asb. nog nie Skooler van jou selfoon af verwyder nie.

Om by die skool se WhatsApp Community-groepe aan te sluit, volg asb. hierdie stappe:

  1.  Gaan in op Skooler en volg die WhatsApp Community-skakel wat later vandag in die Algemeengroep beskikbaar gaan wees.
  2. Sluit aan by die skool se Community.
  3. Jy sal outomaties deel wees van die Announcement-groep waarop ons algemene afkondigings sal maak. Niemand sal jou selfoonnommer in hierdie groep kan sien nie.
  4. Jy gaan ‘n lys van groepe sien waarby jy ook kan aansluit. Kies die relevante groepe en kies die opsie “request to join”. Jou versoek sal met tyd aanvaar word, wees asb. geduldig indien jy nie onmiddellik tot die groep toegelaat word nie. Neem kennis dat jou selfoonnommer wel vir ander ouers sigbaar sal wees in die groepe waarby jy aansluit. Wanneer jy by groepe in die Community aansluit, gee jy toestemming dat die ouers in daardie groep jou nommer mag sien.
  5. Onthou dat hierdie groepe vir 2024 geskep is. Moet asb. nog nie by klasgroepe aansluit totdat jy weet in wie se klas jou kind volgende jaar is nie.
  6. Dit is ouers verantwoordelikheid om by die skool se WhatsApp Community en die relevante groepe wat onder dit val, aan te sluit.
  7. Alle groepe is gestel op eenrigting-kommunikasie en ouers sal dus nie nou op enige groepe boodskappe kan stuur nie. Dit sal verander sodra daar ‘n behoefte in ‘n groep ontstaan vir ouers om met mekaar reëlings te tref.
  8. Daar is ‘n “Create Group”-opsie in die Community. Ouers sal egter nie groepe binne die Community kan stig nie en dit sal slegs as ‘n versoek by die administrateurs van die Community uitkom. Moet dus asb. nie op “Create Group” kliek nie.

Riglyne tot Kommunikasie 

Onderhewig aan ondernemings rondom redelikheid en respek vir die reg op privaatheid, geld die volgende riglyne vir kommunikasie tussen ouers en onderwysers: 

  • Onderwysers is formeel beskikbaar vanaf 07:00 – 18:00 gedurende weeksdae om ouers se oproepe en boodskappe te beantwoord. Slegs in noodgevalle kan buite hierdie ure gekommunikeer word.
  • Neem in ag dat personeel nie noodwendig onmiddellik beskikbaar gaan wees om boodskappe te beantwoord nie. Onderrig in die klas en afrigting op die sportveld geniet voorkeur. Indien daar ‘n dringende versoek gedurende hierdie tyd is, kan ouers die skool se ontvangs kontak om ‘n boodskap te los.
  • Onderwysers sal binne 24 uur op boodskappe en navrae reageer.
  • Onderwysers sal ouers wat versoek het om by ‘n groep aan te sluit binne 24 uur aanvaar.
  • Die skoolhoof is beskikbaar indien daar ‘n krisis is.
  • Vertroulike inligting behoort per e-pos gekommunikeer te word en nie per WhatsApp nie.
  • Minstens een ouer/voog per gesin moet deel wees van die skool se WhatsApp Community.
  • Die volgende is aanvaarbare vorme van kommunikasie tussen ouers en onderwysers: 
    • E-pos;
    • WhatsApp na amptelike skoolnommers soos in die Community aangedui;
    • Telefoonoproep;
    • Afspraak in persoon.
  • Die volgende vorme van kommunikasie met die skool en onderwysers word nie toegelaat nie:
    • WhatsApp stemnotas;
    • Onderwysers betrek by privaatgroepe wat deur ouers gestig is.