Geagte Ouers / Voogde – 26 April 2024
Alhoewel dit amper ‘n week later is, bly Kaperjolle steeds op almal se lippe. Hierdie jaarlikse en gewilde pretdag het op Saterdag, 20 April, plaasgevind en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se kalender. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk. Die leerders het hulle gate uit geniet en ‘n hoogtepunt was om die ‘skrikwekkende’ spookhuis te besoek. Leerders het in lang rye gestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ‘n kans is dat ‘n sogenaamde spook aan jou been kan vat. Die spookhuis se gewildheid sal nooit oor die jare taan nie en sal vir geslagte nog kinders fasineer. Die spookhuis is vanjaar kreatief deur die leerderraad in die senior seuns se badkamers aangebied. Verskeie van ons ouers het tydens kaperjolle aan die straatkoskompetisie deelgeneem. Hulle stalletjies was fraai versier. Ek was nie ‘n beoordeelaar nie, maar is in die afgrond bederf met smullekker happies van verskeie straatkosdisse. Die verskeidenheid disse was hemels en die kompetise was baie sterk. Baie geluk aan Marta se span wat met die louere weggestap het. Die opkoms van ouers en kinders was verstommend en spreek weer boekdele van die karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Die weer het vanjaar perfek saamgespeel, met kostalletjies sonder einde, “live” musiek in die agtergrond, ‘n groot markiestent met gemaklike sitplek om heerlike kos en...