Die Kaap van Storms het beslis die naweek van 6 tot 7 April sy naam behoorlik gestand gedoen met sterk winde en stormweer wat genadeloos oor ‘n wye gebied verwoesting gesaai het. Dakplate van skole, huise en besighede is afgewaai, verskeie bome is ontwortel, glasvensters is deur die sterk winde uitgewaai, elektriese kabels is deur die sterk winde uitgeruk wat tot brande gelei het terwyl paaie en brûe weggespoel is. Dit het veroorsaak dat verskeie skole in die Wynland, Helderberg en Overberg vanaf 08 – 09 April gesluit was. Genade was groot vir Laerskool Jan van Riebeeck aangesien ons geboue en dakke geen skade opgedoen het nie. Slegs enkele bome by Huppelland se parkeerarea is omgewaai en moes ons baie takke en blare by beide die laerskool en Huppelland verwyder. Ons gebede gaan uit aan die gemeenskappe wat as gevolg van die stormweer baie skade opgedoen het.

Op Saterdag, 06 April, het ons aan die jaarlikse o.10-netbaltoernooi te Laerskool Durbanville deelgeneem wat puik georganiseer is. Ons o.10A-span het baie goed gevaar. Hulle wen hul eerste wedstryd 10 – 1 teen LS Bellville-Noord, verloor ongelukkig 5 – 8 teen LS Welgemoed, maar wen die 3de wedstryd 15 – 0 teen LS Totius. Ons opposisie vir die 4de wedstryd het ongelukkig nie opgedaag nie. Baie dankie en geluk aan juff. Anika en Marlize asook ons o.10A-netbaldogters wat die dag as ware ambassadeurs opgetree het. Julle maak ons baie trots! Baie dankie ook aan die ouers asook oumas en oupas wat die dag kom ondersteun het.

Dan ‘n groot dankie aan al ons ouers/voogde wat gedurende 8 – 9 April die ouerafsparke by hul kind/ers se onderskeie onderwysers bygewoon het. Ons waardeer julle tyd en belangstelling in jul kind/ers se akademiese vordering. Ons skool poog altyd om saam met julle as ouers/voogde as ‘n span te werk en in die proses te verseker dat elke Jannie sy/haar potensiaal kan bereik. Hierdie kollektiewe ondersteuning aan ons leerders is deel van die spreekwoordelike wenformule, naamlik ouers/voogde + opvoeders = suksesvolle leerders! Leerders wie se ouers/voogde aktief in hul kind/ers se lewens betrokke is, is gelukkige kinders wat floreer tydens hul skoolloopbaan. Moet nooit jou teenwoordigheid as ‘n ouer/s by skoolfunksies, langs die sportveld of tydens kultuuroptredes onderskat nie. Navorsing toon dat ouerbetrokkenheid hul kind/ers se skoolbywoning, skoolprestasies, sosiale vaardighede en algemene gedrag verbeter. Ek is dus julle baie dankbaar en dit is ‘n riem onder die hart om julle so gereeld by die skool of langs die sportveld te sien.

Tydens Dinsdag, 09 April, se saalbyeenkoms is ons deur ‘n spesiale gas al die pad van Indië, naamlik mnr. Kumar besoek. Hy is ‘n kunsonderwyser by ‘n laerskool in New Delhi met meer as 3 000 leerders. Hulle akkommodeer tussen 90 –100 leerders per klas en dit plaas dinge weer in perspektief en is ons dus baie dankbaar vir die kleiner klasse by ons skool. Hy het ‘n demonstrasie oor Indiese papierkuns gelewer en ons leerders het aan sy lippe gehang. Hy gebruik gekleurde ‘tissue’ papier, rol dit op, gebruik dan ‘n doodgewone skêr en met ‘n eenvoudige knip hier en ‘n knip daar gebruik hy die papier as ‘n medium om verskeie 2D en 3D-voorwerpe te maak. Ons leerders was vas oortuig dit is towerkuns, maar dit was bloot ‘n demonstrasie van ‘n unieke vaardigheid waaroor hy beskik. Hy besoek ook ander openbare skole in die Wes-Kaap.

Baie geluk aan ons netbalspanne wat 10 van die 18 wedstryde op Woensdag, 10 April, tuis teen Curro Durbanville gewen het. Ons eerste netbalspan (o.13A) het kwartaal 2 met ‘n puik 14 -17 oorwinning in hulle nuwe wedstryddrag afgeskop. Dit was die derde ligawedstryd vir die jaar en ‘n titaniese stryd. Ons beste wense vergesel die wintersportspanne vir al die wedstryde wat die kwartaal voorlé.

Graag sluit ek af met die volgende stelling oor ouerbetrokkenheid deur Jane D. Hull en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“At the end of the day,
the most overwhelming
key to a child’s success
is the positive involvement of parents.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF