Alhoewel dit amper ‘n week later is, bly Kaperjolle steeds op almal se lippe. Hierdie jaarlikse en gewilde pretdag het op Saterdag, 20 April, plaasgevind en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se kalender. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk. Die leerders het hulle gate uit geniet en ‘n hoogtepunt was om die ‘skrikwekkende’ spookhuis te besoek. Leerders het in lang rye gestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ‘n kans is dat ‘n sogenaamde spook aan jou been kan vat. Die spookhuis se gewildheid sal nooit oor die jare taan nie en sal vir geslagte nog kinders fasineer. Die spookhuis is vanjaar kreatief deur die leerderraad in die senior seuns se badkamers aangebied.

Verskeie van ons ouers het tydens kaperjolle aan die straatkoskompetisie deelgeneem. Hulle stalletjies was fraai versier. Ek was nie ‘n beoordeelaar nie, maar is in die afgrond bederf met smullekker happies van verskeie straatkosdisse. Die verskeidenheid disse was hemels en die kompetise was baie sterk. Baie geluk aan Marta se span wat met die louere weggestap het.

Die opkoms van ouers en kinders was verstommend en spreek weer boekdele van die karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Die weer het vanjaar perfek saamgespeel, met kostalletjies sonder einde, “live” musiek in die agtergrond, ‘n groot markiestent met gemaklike sitplek om heerlike kos en wyn te geniet. Hierdie kombinasie saam met omgee-mense maak die perfekte resep vir ‘n onvergeetlike ervaring. Ek is uiters trots en dankbaar dat ons ouers/voogde die skool in alle opsigte ondersteun en saam trots op ons puik skool is. Dit dra onder andere kollektief by dat ons skool net van krag-tot-krag gaan. Graag wil ek ons OOV-Voorsitter, Coreen Scholtz, en haar span asook al die ouers, voogde en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die Kaperjolle te verseker, hartlik bedank.

Op Donderdag, 18 April, het ons jaarlikse Kleiduifskietkompetisie by die Gun Valley Skietbaan te Agter-Paarl plaasgevind. Die weergode het vanjaar besluit om nie soos in die verlede gure weer te stuur nie. Baie dankie aan Safari Outdoor wat jaarliks as die hoofborg optree. ‘n Hartlike dank aan Stephanie le Roux en Ria Hertzog wat die gewilde dag vir die 4de agtereenvolgende jaar gereël het. Die geesdrif en samesyn onder ons ouers het soos ‘n paal bo water uitgestaan.

Op Maandagoggend, 22 April, het leerders, ouers/voogde en personeel ingespring om 1 400 toebroodjies vanaf 06:30 – 07:45 in die saal voor te berei wat ons aan minderbevoorregte skole dieselfde dag te Kunstekaap uitgedeel het. Weereens nog ‘n trotse oomblik om te sien hoe veral leerders bereid is om te help en hulle werklik omgee vir mense in nood. Die skole aan wie ons die toebroodjies oorhandig het, bestuur voedingskemas by hul onderskeie skole en is onder geweldige finansiële druk om hul leerders daagliks van kos te voorsien. Uit die aard van die saak het hulle ons bydrae opreg waardeer en kon ons dankbare glimlagte op verskeie van hul leerders se gesigte plaas. Dit laat my opnuut besef hoe bevoorreg ons as skoolgemeenskap is, want heel moontlik hoef ons nie te stres waar ons volgende maaltyd vandaan sal kom nie. Mag die gawe van dankbaarheid deel van ons lewe word as ‘n mens net weer besef wat God vir ons skoolgemeenskap uit genade doen.

Baie dankie aan ons vyf ouers (Merwe Scholtz, Hugo van den Heever, Susan van der Walt, Marié Cruywagen en Stephen Hitchcock) wat op ons nuwe Beheerraad dien vir hul teenwoordigheid tydens Dinsdag, 23 April, se saalbyeenkoms. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz, wat aan die leerders konteks gegee het rakende die rol van die beheerraad by die skool en hoe daar kollektief saam met die skoolhoof asook EXCO hard gewerk word om die skool na nog hoër hoogtes te neem tot voordeel van ons leerders.

Wêreldboekedag is ook ‘n hoogtepunt vir leerders en opvoeders en die week is dit behoorlik op Dinsdag en Woensdag by die skool gevier. Dit gee vir die leerders die geleentheid om soos hul gunsteling boekkarakter aan te trek. Ons leerders het die geleentheid behoorlik aangegryp en daar is ‘n skouspel van boekkarakters opgelewer om sodoende hul liefde vir boeke en hul gunsteling boekkarakters uit te leef. Leerders het van vroeg af vir my in my kantoor hul spoggerige kostuums kom wys. Baie dankie aan al ons ouers/voogde wat gehelp het met die maak van die pragtige kostuums sodat die boekkarakters letterlik lewendig kon word.

Laat my toe om die volgende leerders sterkte toe te wens vir die finale WP-Netbalproewe wat môre plaasvind:

  • Cato Terblance (o.11)
  • Anouk van der Linde (o.11)
  • Stella Pansegrouw (o.12)
  • Chanelle van Wyk (o.12)

Geniet die netbalproewe en wat ookal die uitslag mag wees, ons bly nog steeds baie trots op julle!

Ons skool is werklik geseënd in baie opsigte en dit gaan werklik baie goed met ons skool en Huppelland, daarom sluit ek af met die onderstaande dankbaarheidsjoernaal en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“As jy geluk wil vind,
vind eers Dankbaarheid.
Dankbaarheid is die tonikum
teen ontnugtering en bitterheid’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF