Jannies Gesprekke

Slimfone – Wenke vir ouers

Ons was so bevoorreg om hierdie jaar weer na Carla de Beer (Social Saam met Carla) te kon luister. Sy het Maandagoggend om 07:30-08:30 in die skoolsaal met ‘n groepie belangstellende ouers gesels. Hierdie gesprek het oor sosiale media, maar meer spesifiek die invloed van en blootstelling aan Kunsmatige Intelligensie gehandel. Dis skrikwekkend hoe min ons, maar meer nog ons kinders van hierdie onderwerp weet en hoe maklik hulle inligting beskikbaar gestel word deur byvoorbeeld aanlyn speletjies met vreemdelinge te speel. 
 
Carla was so gaaf om wenke aan ouers saam te stel en ook ‘n voorbeeld van ‘n slimfoon-ooreenkoms wat ouers met hul kind kan aangaan, met ons te deel. Indien jy dalk na ‘n opname van haar wil luister, loer gerus na hierdie skakel. Ongelukkig fokus sy nie so baie op KI tydens hierdie opname nie. 
 

Verstaan ADHD: ‘n Gids vir ouers

ADHD word as een van die mees algemene neurodiverse uitdagings beskou. Dit kom in kinders en volwassenes voor en word die meeste van die tyd verkeerd verstaan. Heelwat ouers dink steeds dat ADHD net oor ’n kind se konsentrasie gaan, maar navorsing oor jare heen bewys dat dit baie meer kompleks is.

Sien die volledige gids wat ouers en opvoeders help om ADHD beter te verstaan, vroeër te identifiseer en uiteindelik hoe om ons kinders met selfvertroue en deernis te ondersteun.

Alle dank en eer aan Goldilocks and The Bear Foundation wat hierdie inligting met ons deel.

ADHD Newsletter Summary

 

Zen Den-gesels | Gr. 1: Liewe ma en pa, onthou, jou kind is nie jý nie

So op die drumpel van jou graad 1-kind se skoolloopbaan ervaar jy as ‘n ouer baie emosies. Jy besef jou kind word groot en al hoe meer mense word deel van haar wêreld: vriende, onderwysers, die skoolgemeenskap, dalk terapeute en meer. Ons weet mos dat dit ‘n hele gemeenskap verg om ‘n emosioneel sterk en gebalanseerde kind die grootmenswêreld in te stuur. Wanneer ons kinders die “groot skool” betree, word ons “beheer” oor hul doen en late algaande minder.

Jy ervaar dalk nostalgie oor die mooi menswees van jou kindjie oor die afgelope ses of sewe jaar. Dalk herleef jy jou eie laerskooldae of selfs jou eerste dag in graad 1 (of Sub A). Hierdie ervaring was dalk uitdagend of hopelik ‘n herinnering wat jou laat glimlag. 

Wanneer die eerste skooldag aanbreek, sal jou kind dalk glad nie huil nie, want jy het haar mos so selfstandig moontlik grootgemaak of sy sal aanvoel dat jy bitter broos is en jou trane probeer spaar. Jy sal al die emosies binne hou, groet met baie soene en drukkies en vinnig in jou motor klim. Maar sodra die skool ‘n spikkel in jou truspieëltjie raak, sal jy dalk stop en jou hart uit huil oor jou kind se kleinwees wat nou iets van die verlede is, en sommer oor al die emosies wat jy in dié fase saam met jou dra.

Niks kan jou of jou kind voorberei op die perfekte graad 1-dag of laerskool-ervaring te hê nie. Ons berei alles so goed voor – ons sorg dat die skryfbehoeftes netjies en vroegtydig aangekoop en gemerk word; dat die skooltas en skoolklere netjies is en mooi pas; die kosbakkie en waterbottel gevul met gesonde happies… Maar daar is ongelukkig nie so iets soos ‘n perfekte laerskoolloopbaan nie.

Maak nie saak hoe jy daaroor probeer dink nie, uiteindelik moet jy as ouer jou eie verwagtinge teenoor jou kind se menswees en ervaringe balanseer en opweeg. Jy kan nie hul eie paadjie namens hulle stap nie – jy kan nie “verkeerde” maats of besluite van hulle af weg hou nie, of hulle van seerkry spaar nie. Hierdie besef neem vir sommige van ons langer as vir ander, en wanneer jy wel by dié punt uitkom, moet jy deur die verlies werk dat jy nie beheer oor jou kind het nie – dat sy haar eie mens is.

Die rol wat hier, aan die begin van jou kind se laerskoolloopbaan, aan jou gegee word, is soveel meer uitdagend, meer inspirerend en selfverrykend as wat jy ooit kon dink.

Hardloop nie vooruit nie en draf nie agterna nie, maar stap langs jou kind sodat sy kan wéét dat jy altyd daar is, dat jy haar hand sal vashou as dinge moeilik is en haar sal aanmoedig wanneer daar vreugde oor haar pad kom.

Hier is my raad oor hoe om positief by te dra tot jou kind skoolloopbaan:

  1. Ken jou kind se goeie eienskappe en groeigeleenthede – en aanvaar dat sy dinge op haar manier sal wil doen.
  2. Leer ken haar onderwyser(s) en raak betrokke by die skool en skoolgemeenskap. Jy hoef nie elke dag saam met juffrou te kuier en OOV-voorsitter te wees nie, maar dit beteken baie vir jou kind as jy betrokke is by die skool.
  3. Maak tyd om haar met huiswerk te help, luister wanneer sy haar boekies vir jou lees, teken die toetse en briefies wat sy huis toe bring en gesels saam wanneer sy oor haar vriende vertel. Jou belangstelling beteken baie vir jou kind en deur betrokkenheid sal jy vinnig agterkom as daar akademiese leemtes ontstaan.
  4. Moenie jou eie drome en verwagtinge deur haar probeer bereik nie. Sy het haar eie talente, kennis en vaardighede wat ontwikkel moet word. Ons kinders is nie ons nie. Ons kinders is soms beter of minder sterk in ‘n bepaalde veld as hul ouers – en dis wonderlik! Ons leer bymekaar en vul mekaar se leemtes aan.
  5. Wees oop en ontvanklik as die skool/onderwysers inligting oor jou kind se ontwikkeling met jou deel of aanbevelings maak oor intervensies of verryking. ‘n Onderwyser sien baie, hoor baie en het ervaring om met ons kinders te werk. Hulle merk gou op hoe jou kind leer, wanneer hulle op hul beste leer, hoe hulle spanning/angs ervaar, kompetisie ervaar, met maats omgaan en deel, ens. Onthou, hulle bestee dikwels meer tyd met ons kinders as ons wat werkende ouers is.
  6. Onderwysers is mense – gekwalifiseerde, gegradueerde mense (soms met meer as een graad!) – wat ook saans by hul eie gesin wil wees en wat soms siek word. Hulle werk daagliks met ‘n verskeidenheid persoonlikhede, emosies, temperamente, leerders en hul ouers, verskillende buitemuurse programme, administrasie, hul eie werksverwagtinge. Dink daaraan voordat jy na-ure vir hulle boodskappe stuur.
  7. Moet ook nie by mede-ouers/vriende oor die onderwyser of skool skinder nie. Gebruik die regte kanale as iets jou pla.
  8. Geniet jou kind in die fase waarin sy nou is. Die jongkindfase is so opwindend, want alles is ‘n eerste. Leer ken jou kind se vriende en hul ouers sodat daar ‘n veilige net rondom jou kind gespan word. 
  9. Skool-angs is ‘n werklikheid. As jou kind soggens nie uit die motor wil of kan klim nie – haal asem! Jy is nie alleen nie. Dis nie noodwendig jou skuld nie. Gaan vra raad by die skool.
  10. Onthou dat jou kind skoolpligtig is. Moet haar nie sonder goeie rede uit die skool hou nie. Ons as ouers het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders se akademie en ontwikkeling. 
  11. Laat jou kind asseblief soveel moontlik smiddae, saans en naweke speel – met speelgoed, in die tuin, met blokkies, laat haar teken, ens. Kinders moet smiddae, saans en naweke kan afskakel en hulself vir die volgende skooldag reguleer. Dis hier waar tegnologie asseblief baie slim gebruik moet word.
  12. Moenie inmeng by klasindelings, prysuitdelings en leerderraadverkiesings nie. Ons moet ons kinders die geleentheid bied om binne ‘n veilige ruimte blootstelling aan verskillende uitdagings te kry. Mededinging, aanvaarding en gewildheid is gewigtige onderwerpe waarmee alle mense worstel, maar dit is ook deel van die lewe waarop ons ons kinders voorberei.
  13. Foute moet ons almal maak – daar bestaan nie iets soos perfek nie. Laat jou kind dus foute maak, al maak dit jou skaam of verleë. Dit verg baie moed om nie jou kind se emosies aan te trek nie. 
  14. Maak tyd vir jou eie emosionele gesondheid, want jou kinders het jou nodig!
  15. Moedig asseblief kreatiwiteit en verbeelding aan. Raak opgewonde oor pienk koeie en interessante stories. 
  16. En dan: vat dinge stadig aan die begin. Gr. 1 is vir ons kinders uitputtend. Moenie al die buitemuurse aktiwiteite gelyktydig aan jou kind bekend stel nie. Daar is nog baie tyd om allerhande buitemuurse aktiwiteite aan te durf. Hou by ‘n gesonde roetine met genoeg ruimte vir rus en ontspanning Skool verg verskriklik baie energie (emosioneel, fisies en verstandelik) van ons kinders. 

Die belangrikste is om te weet dat jy nie jou kind is nie, dat jou kind op jou staatmaak om gesond en sterk te wees en om bewustelik teenwoordig in haar lewe te wees.

Sy gaan net een jaar in gr. 1 wees. Maak tyd om vir die grappies te lag wat glad nie snaaks is nie en om te luister na al die kinderlike stories. Dis ons plig om as ouers hierdie entoesiasme aan te spoor. Probeer om jou kind se emosionele vlak te waardeer eerder as om alles vir hulle ryp te druk.

Geniet hierdie eerste jaar van haar skoolloopbaan. Word opnuut bederf deur die lewe deur haar oë te bekyk. Die reis wat julle nou saam betree, is uiters spesiaal. Vir eers is jy nog die slimste en mooiste in haar oë – geniet dit, want dit gaan vinnig verander.

Graad 1 2026, hier kom ons!

Marinda Brink – Skrywe het in Rapport/Netwerk24 op Sondag, 11 Januarie 2026, verskyn.

In die land van KI is jou brein koning!

 

In die land van KI is jou brein koning en dit is hoe dit hoort.

Laerskool Jan van Riebeeck se KI-beleid word tans geïmplementeer. Die doel van die beleid is om te verseker dat KI-hulpmiddels op ‘n verantwoordelike, etiese en veilige manier gebruik word om onderrig te ondersteun, maar ook om te voorkom dat leerders se kognitiewe funksies, leerprosesse en ontwikkeling bloot na KI gedelegeer word en sodoende ondermyn word.

Met hierdie konteks in gedagte, het ons in ‘n kort video opname vir ‘n paar Jannies, onvoorbereid, gevra waarom hulle skool toe kom, en vir ‘n paar ouers, waarom hulle hul kinders skool toe stuur.

Kom luister wat die Jannies sê, verstaan die potensieel negatiewe impak van KI op leer en vergewis jouself van die skool se KI-beleid.

Konteks

Die snelle tempo waarteen Kunsmatige Intelligensie kletsbotte soos ChatGPT, Gemini, Bard, Claude, Grok, Copilot en soveel ander aan die algemene publiek beskikbaar gestel is, het opvoedkundige instellings wêreldwyd onkant gevang. Die uitdaging wat skole in die gesig staar is om te verseker dat leerders ‘n optimale leerervaring geniet, waar belangrike kognitiewe vaardighede soos lees, skryf, kritiese denke, probleemoplossing, samewerking en kreatiwiteit ontwikkel word, sodat leerders toegerus word om ‘n onseker wêreld met gemak te navigeer. Ter selfde tyd moet leerders blootgestel word aan die verantwoordelike en etiese gebruik van kunsmatige intelligensie, sonder om die ontwikkeling van hul eie kognitiewe vaardighede in te boet of dit na KI te delegeer.

Waarom kom jy skool toe?

Die groot aanloklikheid van KI-kletsbotte vir kinders is dat dit hulle in staat stel om kortpaaie te neem, sodat hulle nie die harde werk hoef in te sit, werk te beplan, inligting te evalueer, met ‘n probleem hoef te stoei, of met kreatiewe idees vorendag hoef te kom nie. Hulle vra bloot ‘n kletsbot soos ChatGPT om dit vir hulle te doen. Dit is egter juis die kognitiewe vaardighede wat kinders behoort te ontwikkel om hul potensiaal te kan bereik en die uitdagings van die toekoms die hoof te kan bied.
Met hierdie konteks in gedagte, het ons vir ‘n paar Jannies, onvoorbereid, gevra waarom hulle skool toe kom, en vir ‘n paar ouers, waarom hulle hul kinders skool toe stuur. Kyk gerus na die Jannies se redes:  

So, waarom gaan kinders skool toe? Die fokus lê nie op kortpaaie neem of punte nie. Uit die mond van die suigeling – kinders kom skool toe om te leer, met hul maats te speel en aan sport deel te neem.

Maar hoe vind leer plaas?

Leer is ‘n komplekse en dinamiese proses wat deur kinders se ervarings, waarneming, oefening en sosiale interaksie oor ‘n tydperk plaasvind. Leer behels die verwerking van nuwe inligting, die bou van begrip en die toepassing van kennis in verskillende kontekste.

Kinders is nog besig om vaardighede en kapasiteit vir kritiese denke, gefokusde aandag, refleksie en toepassing te ontwikkel en die ouerhuis en skool is grotendeels die omgewing waar hierdie vaardighede aangeleer en ontwikkel word.

Die rol van die skool is dus veral om ‘n omgewing te skep waarbinne leer kan plaasvind en om die leerproses binne hierdie omgewing te fasiliteer. In gevalle waar die gebruik van KI die leerproses potensieel kan ondermyn, behoort dit dus nie in die skoolomgewing gebruik te word nie.

Ons KI-beleid

By Laerskool Jan van Riebeeck het ons die uitdaging wat KI in ‘n skoolomgewing gaan bied, vroeg geïdentifiseer en belangrike stappe geneem om die konteks van KI in ‘n skoolomgewing beter te verstaan en die rol daarvan by die skool te definieer. Dit het ons ook die geleentheid gebied om huidige akademiese praktyke te hersien en areas te identifiseer waar KI potensieel ‘n nadeel vir leerders se kognitiewe ontwikkeling en leer inhou. Hierdie proses het die vorm van ‘n aantal gefasiliteerde werkwinkels, met die IKT-komitee en vakhoofde behels. Die uitkoms van die werkwinkels is Laerskool Jan van Riebeeck se Kunsmatige Intelligensie Beleid, wat onlangs deur die Beheerraad goedgekeur is.

In praktyk hou die beleid die volgende gevolge in:

  • Dit is belangrik om te weet dat, in lyn met die skool se leerfilosofie en visie vir interaktiewe leer, leerders tans by die skool NIE toegang tot KI-hulpmiddels soos ChatGPT, Copilot ens. gebied word nie.
  • Die fokus verskuif om take in die klaskamer af te handel, om te voorkom dat belangrike kognitiewe funksies en -prosesse tuis na KI en selfs ouers, gedelegeer word.
  • Rubrieke (matrikse) vir assesserings is aangepas om KI-gegenereerde werk uit te sluit van bepunting.
  • KI-geletterdheidonderrig vir leerders sal deur die Digitale Geletterdheidsklas gedryf word.

Lees gerus deur die volledige KI-beleid (ingesluit aan die einde van die artikel) en vergewis jouself wat die beleid spesifiseer ten opsigte van die gebruik van KI deur leerders.

Bemagtig jouself as Ouer

Dit is belangrik dat ouers hulself ook vergewis van wat KI behels en wat die effek van onverantwoordelike gebruik van KI op die ontwikkeling van die brein, jonk en oud, het. ‘n Onlangse studie 3 4 deur MIT het aangedui dat onverantwoordelike gebruik van ChatGPT deur studente, gelei het tot ‘n afname in begrip en insig in hul werk, ‘n afname in belangstelling in die werk, slegter geheue en verlaagde breinaktiwiteit, selfs nadat die toetsgroep teruggekeer het om die werk op eie stoom te verrig.

KI is reeds deel van ons dag-tot-dag bestaan en tot almal se beskikking. Die uitdaging is om seker te maak die foute wat met sosiale media gemaak is, word nie herhaal nie. Dit is ons as ouers en opvoeders se verantwoordelikheid om te verseker dat ons kinders leer en verstaan wat KI behels en hoe om op ‘n verantwoordelike wyse interaksie daarmee te hê, sonder om ons eie ontwikkel en potensiaal te ondermyn.

‘n Goeie wegspring om jouself met beter kennis toe te rus, is om die effek van onverantwoordelike KI-gebruik op die brein te verstaan. Kyk gerus na die indiepte potgooi-gesprek waar die onderwerp deur twee wêreldgerekende neurowetenskaplikes bespreek word. Vir jou gerief is ‘n tydlyn van die onderwerpe wat bespreek word is hier onder ingesluit. Klik bloot op die tydskakel langs die onderwerp om daarheen te spring.

Aanbieder: Steven Bartlett (The Diary of a CEO)

Gaste:

  • Dr Daniel Amen (Sielkundige en Kindersielkundige)
  • Dr Terry Sejnowski (Pionier in Computational Neuroscience)
Potgooi Onderwerp Tydlyn

02:06 Introduction

04:19 MIT Study: ChatGPT and Reduced Brain Function

07:25 Link Between ChatGPT and Dementia

10:31 Biggest AI Concerns Before Understanding Long-Term Consequences

19:12 What Does a Healthy Relationship with AI Look Like?

22:27 AI and Early Brain Development

25:09 AI Girlfriends

34:55 Why Struggle is Good for Your Brain

37:07 Biggest Concerns with AI

39:38 ChatGPT Best Practices

44:50 Do We Still Need to Spell?

46:36 How Can We Learn Better?

48:20 How to Avoid Procrastination

53:59 Boosting Brain Health Without AI

57:41 Are We Raising Mentally Weak Kids?

58:30 Effects of Religion on the Brain

1:01:26 How to Build a Brain-Healthy Nation

1:03:38 Things that are Bad for Your Brain

1:10:54 Multitasking

1:12:43 What’s Causing the Rise in ADHD?

1:15:49 Negativity in the Brain

1:18:14 The Top Tip for Brain Health

1:20:26 Importance of Sleep for Brain Health

1:21:29 Concluding remarks on AI

1:25:48 Books

1:26:28 Are You Prepared for your Next Health Challenge?

Ls JvR KI-Beleid

Klik asseblief hier onder om deur die KI-beleid te lees:

Addisionele Materiaal

 

  1. Gerlich, M. (2025).: Gerlich, M. AI Tools in Society: Impacts on Cognitive Offloading and the Future of Critical Thinking. Societies 2025, 15, 6. Societies, 15(9), 252. https://doi.org/10.3390/soc15090252
  2. Jackson, Justin. Increased AI use linked to eroding critical thinking skills (2025, January 13) retrieved 1 October 2025 from https://phys.org/news/2025-01-ai-linked-eroding-critical-skills.html
  3. Nataliya Kosmyna, Eugene Hauptmann, Ye Tong Yuan, Jessica Situ, Xian-Hao Liao, Ashly Vivian Beresnitzky, Iris Braunstein, and Pattie Maes. “Your brain on ChatGPT: Accumulation of cognitive debt when using an ai assistant for essay writing task.” arXiv preprint arXiv:2506.08872 (2025). https://arxiv.org/pdf/2506.08872
  4. Open Minds Foundation. 2025. “Is AI Making Us Stupider? This Study Certainly Thinks So.” 21 August 2025. https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-art-of-critical-thinking/202507/is-ai-making-us-stupider-this-study-certainly-thinks-so?msockid=0c578d6cb7ac6d77002e9b14b6326c21

Uitvoerende funksies

Uitvoerende funksies:

Almal van ons benodig uitvoerende funksies. Vir sommige kinders is dit ’n natuurlike proses, maar vir baie kinders bly dit ’n uitdaging en ’n frustrasie. Hierdie vaardigheid is een van die belangrikste vaardighede om te funksioneer in ons besige leefstyl.

Twee weke gelede het ons oor uitvoerende funksies in die algemeen gesels. Hierdie funksies kan verbeter word deur vaardighede te ontwikkel wat ons oor die volgende paar weke sal bespreek. Sommige kinders kan die vaardighede vanself ontwikkel, maar meeste kinders benodig hulp om die vaardighede te ontwikkel. Hulp kan op verskillende maniere ingewin en gebruik word, byvoorbeeld deur van eksterne bronne (arbeids-, fisio-, spelterapie, remediëring of opvoedkundige sielkundiges) gebruik te maak. Jy kan ook self op jou kind se behoeftes en leemtes fokus en dan oor die onderwerp lees sodat jy tuis daaraan aandag kan skenk deur die onderstaande te probeer:

1. Werksgeheue

Dit is jou brein se notaboek. Werksgeheue is die vermoë om inligting te gebruik wat in die geheue gestoor word sodat ’n opdrag/taak uitgevoer kan word.

Die inligting wat jy opneem deur jou sintuie, word in jou korttermyngeheue gestoor. Die belangrikheid van die vaardigheid verg aandag en konsentrasie. Maak gebruik van geheuespeletjies. Speel speletjies waar kinders meer as drie verskillende woorde, kleure of getalle hoor en kan terug sê. Vermeerder dit elke keer.

 

2. Aanpasbaarheid (Kognitiewe buigsaamheid)

Kognitiewe buigsaamheid behels aanpasbaarheid in verskeie situasies.

Dit is baie belangrik om by veranderinge en nuwe situasies aan te pas deur strategieë te hersien en te verander indien nodig. Hierdie vaardigheid help jou om vinnig besluite te neem. Leer jou kind wat die stappe is om ’n probleem op te los. Skep ’n scenario van ’n probleem en vra jou kind hoe ’n mens die probleem sal oplos. Wat sal die eerste stap wees, ensovoorts.

3. Impulsbeheer of Selfbeheersing

Impulsbeheer verwys na selfbeheersing en kontrole om die impuls te beheer om onmiddellik te reageer. Om eers te stop en te dink voordat daar opgetree of gereageer word, is die vaardigheid wat hier ter sprake is. Hierdie vaardigheid word benodig in ’n mens se alledaagse funksionering, sosiale ontwikkeling sowel as geestesgesondheid.

4. Tydsbestuur en Beplanning

Om die vaardigheid van tydsbestuur en beplanning aan te leer, moet stappe vasgestel word sodat ’n doel bereik kan word. Wanneer kinders in hierdie doel slaag, ervaar hulle sukses wat die proses bevorder.

Kinders moet geleer word om hulle dae te beplan. Leer jou kind om gebruik te maak van ’n dagboek, kalender of ’n daaglikse beplanner wat hulle iewers in hulle kamer, teen die yskas of selfs teen die badkamerspieël kan opsit. Kinders moet self leer om te beplan: watter leervakke hulle het, watter buitemuurse aktiwiteite hulle het en wat hulle daarvoor benodig. Hulle kan dit op hulle beplanners aanteken. Hulle moet leer om hulle skoolwerk, projekte en toetse te beplan en om vroegtydig te begin leer. Dit help indien kinders die aand voor die tyd self hul tasse pak en hul skoolklere reg sit. Natuurlik sal ons as ouers aanvanklik help om hulle te wys en te leer hoe om hulself te organiseer.

Kinders kan tydens huiswerktyd of leertyd gebruik maak van ’n tydmeter. Hulle stel die hoeveelheid tyd wat hulle wil werk en dan gaan ’n alarm af om te sê die tyd is verby. Dit help kinders om te fokus en teen spoed te werk.

5. Organisering

Organisering is die vermoë om stelsels te ontwikkel en te gebruik sodat bronne en inligting maklik is om vind. Dit is baie belangrik dat kinders huishoudelike take verrig. Dit help hulle om verantwoordelikheid te aanvaar, te beplan en te organiseer. Implementeer ‘n gesonde en definitiewe roetine sodat jou kind(ers) daarvolgens hul dag en takies kan organiseer. Huistakies kan die volgende insluit:

  • skottelgoed wegpak, tafeldek, honde se water gereeld vervang;
  • kamer organiseer en netjies hou (so goed soos hul kan – nie volgens ons standaard nie);
  • hul eie bed opmaak;
  • help om kos voor te berei, te bak deur die resep te volg en aksie uit te voer tot gebak as die resultaat en belonging;
  • om daagliks huiswerk te doen en vir projekte te beplan, is deel van ‘n gestruktureerde en doelgerigte roetine.

Kodering is ‘n uitstekende manier om uitvoerende funksies te ontwikkel omdat dit kinders help om te dink hoe hulle ‘n probleem gaan oplos. Hulle leer om die probleem in klein dele te verdeel en stap-vir-stap toe te pas. Kinders moet sekere kodes onthou wat help met werksgeheue. Kinders moet aan ander kodes dink, indien hulle kodes nie werk nie en dit is waar aanpasbaarheid (kognitiewe buigsaamheid) na vore kom. Laastens moet hulle geduldig die proses toets en aandag aan die uitkomstes gee as om net impulsief te raai wat gaan gebeur. Dit is waar selfbeheersing toegepas word.

Samestelling van teks – Marinda Brink, Marietjie de Kock

Ander bronne gebruik:

  • Executive Functioning – Life Skills That Develop Executive Functioning

  • The Sensory Spectrum – The 8 Executive Functions

Visuele teks – Helene Slabbert

Uitvoerende funksies

Het jy al ooit van Uitvoerende funksies (Executive functioning) gehoor?

Of jy nou bekend is met terminologie soos neurotipies, neurodivers, sensories sensitief of -soekend – ons almal moet die verskillende uitvoerende funksies baasraak om effektiewe kognitiewe ontwikkeling moontlik te maak.

Kinderontwikkeling beteken dat alle aspekte van die kind op verskillende maniere en tye ontwikkel om in ‘n vaardige volwassene te ontwikkel wat verantwoordelike keuses kan neem terwyl selfstandigheid, deernis en dankbaarheid uitgeleef word.

Ons almal het iewers ons bepaalde vaardighede aangeleer en daar is selfs vaardighede waarmee volwassenes steeds uitdagings ervaar. Uitvoerende funksies (executive functioning) is ‘n term wat gewild geraak het en waaroor baie meer navorsing gedoen word. Die tekort aan sommige vaardighede verwant aan uitvoerende funksies is ‘n kardinale deel van die ontwikkelingsproses waarmee sommige volwassenes steeds sukkel. 

Uitvoerende funksies is die bestuurstelsel van die brein wat jou help om probleme op te los, besluite te neem, opdragte te begin en deur te voer, ens. Hierdie funksies vind in die sentrale deel van die brein plaas.

Voorbeelde van uitvoerende funksies

1) opdragte begin en uitstel van take

2) beplanning

3) organisering

4) werksgeheue

5) aandag te gee / met fokus te werk

6) tydsbestuur

7) prioritisering

8) regulering van emosies

9) om ‘n opdrag te voltooi / deur te over

10) Kognitiewe aanpasbaarheid – fokus van een na ander onderwerp soomloos te verskuif

11) aanpasbaarheid – ander se opinies te verstaan

12) impulsbeheer/selfbeheersing – dink voor doen

Die aanbieding van Tale (Afrikaans en Engels) is die perfekte plek waartydens hierdie vaardighede ontwikkel en afgerond kan word aangesien dit die aanvanklike ruimte is waar ons geleer word om te skryf. Opstelskryf – watter soort ookal (kreatief, beskrywend, transaksioneel) – word beskou as ‘n reuse berg waarmee elkeen van ons sukkel om te klim totdat ons die vaardighede rondom dit ingeoefen het. Tydens hierdie opdrag word jy aan die volgende uitdagings blootgestel: opdrag en onderwerp verstaan, kreatiwiteit om die opdrag aan te pak, om daarmee te begin en nie dit uit te stel nie, om te beplan, woordkeuse, sinskonstruksie, uitleg, spasiëring, paragrawe, vloei van storielyn, karakters, bou van skryfwerk (begin, middel, einde), netheid (handskrif, lettergrootte, vorming van letters, ens.), proeflees, redigering, voorlegging en om nie te praat van die selfbeeld en konsentrasie wat ook nog ‘n rol speel nie. Dan is daar die sensoriese sensasie wat ook ‘n rol speel. Om ‘n skryfstuk binne ‘n bepaalde tyd en met bepaalde hoeveelhede woorde te skryf, dra ook by tot spanning om die skryfproduk te lewer.  Dan moet die werk nog nagesien word wat beteken dat jy terugvoer gaan ontvang wat nie altyd maklik is om te aanvaar nie. Soms word daar van jou verwag om in groepe te werk wat verdere uitdagings mag bied.

Hierdie vaardighede word dan uitgebrei byvoorbeeld in ‘n skoolvak soos Geskiedenis waar langvrae aan die orde van die dag is om nie eers van jou tersiêre of verdere studies te praat nie. Op die einde van die dag is uitvoerende funksies vir almal van ons belangrik en van waarde aangesien almal op een of ander tyd bestuursfunksies moet uitvoer.

Om die tekort aan hierdie vaardighede so gou moontlik by jou kind aan te spreek, is dus van kardinale belang. Dis waarom so baie jong kinders onder andere na arbeidsterapeute en fisioterapeute verwys word sodat die uitvoerende funksies saam met ander uitdagings aangespreek kan word indien dit nodig is. Die aanleer van die regte studiemetodes wat vir jou kind werk, is deel van hierdie vaardighede en kan help om organisering en beplanning makliker te maak. 

Wat doen ek indien ek nie hierdie vaardighede wat by my kind ontbreek op ‘n vroeë ouderdom aangespreek het nie?

Dis nooit te laat nie. Deur ontvanklik vir ondersteuning te wees, is ‘n goeie begin. Gesels gerus met jou kind se onderwyser of enige ander professionele persoon wat by opvoeding en leer betrokke is.

Skool en die akademiese kurrikulum is so saamgestel dat dit daarna streef om leerders so goed moontlik te bemagtig sodat hierdie vaardighede jaarliks op mekaar bou en afgerond word. Dis iets wat tyd vat en waarmee ons geduldig moet wees. Die vreesaanjaende take/projekte waarmee leerders gekonfronteer word, is als deel van hierdie vaardighede wat uitgebrei word. Dis die rede waarom ons aanmoedig dat formele assesserings tydens klastyd gedoen word sodat leerders by hul maats kan leer met die toesig of fasilitering van die onderwyser. Aangesien kinders elkeen teen hul eie tempo ontwikkel, is dit dan ook so dat nie almal die vaardighede ewe vinnig bemeester nie. Daar is ook hope navorsing wat bewys dat neurodiversiteit dikwels daarop dui dat uitvoerende funksies ontbreek. 

Indien jy tot die besef kom dat jou kind(ers) van die funksies ontbreek, is jy reeds op die regte pad. Alles begin in elk geval by bewuswording. Gesels met en raadpleeg gerus verskeie bronne onder andere ons eie onderwys- en Zen Den-personeel.

Samestelling van teks – Marinda Brink
Visuele teks – Helene Slabbert

Tienerskap vervolg: Tuimeltreinjare

Tienerskap kan sekerlik met ‘n tuimeltrein vergelyk word. Op en af, op en af … maak jou sitplekgordel styf vas vir ‘n opwindende avontuur.

Tydens die Professional Minds-konferensie (Teens & Tweens) wat in Mei 2025 aangebied is, het dr. Jenny Rose (kliniese sielkundige wat in kinder- en tienergeestesgesondheid spesialiseer) heelwat insig oor hierdie komplekse fase gebied. Sy noem dat die hedendaagse tiener onder baie meer druk verkeer as ‘n paar dekades terug. Tieners van vandag se stresvlakke is hoog, hulle sukkel met geestesgesondheidsuitdagings en voel dikwels alleen. Onrealistiese verwagtinge (van hulself en gemeenskap) asook te veel blootstelling op ‘n te jong ouderdom, mag redes hiervoor wees.  

Dr. Rose lig uit dat ons moet onthou wat tienerskap behels, dat ontwikkeling normaal en ouderdomstoepaslik is. Dit beteken dat tieners tydens hierdie uitgerekte fase op ‘n sekere manier sal optree. Wisselvallige gedrag is die nuwe normaal, aangesien hulle hul ouers nodig het, maar soms nie naby hulle wil toelaat nie. Die primêre rol van tienerskap is om identiteit te ontwikkel. Wat hulle van hulself dink, sosiale aanvaarding en kulturele identiteit is als deel van hierdie ontwikkelingstydperk. Hierdie tydperk word ook as ‘n ontdekkingsfase en fase waartydens selfregulering en die bou van selfvertroue posvat, sodat onafhanklikheid uiteindelik bereik kan word. Onafhanklikheid word eintlik al van baie jongs af ontwikkel. Dink sommer bietjie terug aan jou tweejarige wat ‘self’ wil aantrek en eet. Jy was vreeslik gefrustreerd, aangesien jy saam met jou kind deur hierdie reguleringsfase moes werk. Vanaf elf-/twaalfjarige ouderdom ervaar jou tiener ‘n trek-en-stoot-gevoel, aangesien hulle nou leer om hulself te reguleer. Dis wat die uitdagende gedrag teweegbring. Jy weet ook ewe skielik nie of jy kom of gaan nie, wat verdere verwarring en selfs moedeloosheid by jou mag bring.

Sy noem dat jy gerus moet wees dat jou tiener wel veilig en geliefd by jou voel – al toets hulle die grense, tree wisselvallig en uitdagend op en veroorsaak konflik. Die rede hiervoor is dat jy jou kind onvoorwaardelik aanvaar, terwyl hul portuurgroep en die gemeenskap hulle voorwaardelik aanvaar. Daarom sien hul vriende en onderwysers net die mooi wat jou kind kies om te wys.

Spanning en stressors is ongemaklik en bring sekere gedrag na vore, maar moet toegelaat word om te ervaar, aangesien daar ‘n belangrike rol daarvoor is. Dis dus kardinaal vir ouers om nie voor of agter hul kind te ‘stap’ nie, maar eerder langs hul tiener, sodat jy kan bepaal wanneer ingryping of bestuur van situasies of gedrag noodsaaklik is. Lei eerder jou kind as wat jy alles vir of namens hulle doen of regmaak. Tydens hierdie ongemak bou tieners selfvertroue en veerkragtigheid. Jy wil hulle nie hiervan ontneem nie. Dis ‘n uitdagende fase vir ‘n ouer, daarom is konsekwente grense, roetine en duidelike struktuur ‘n gegewe.

Dr. Rose stipuleer die belangrikheid dat jy nie altyd op alles moet reageer nie; dat jy teenwoordig is en opdaag wanneer hulle ‘n toeskouer of ‘n skouer nodig het. Die manier waarop jy situasies hanteer, sal bepaal of jou tiener jou genoeg vertrou om in die toekoms openlik met jou te gesels. Empatie is broodnodig.

Sy noem dat jy moeite moet doen om met opset (so gereeld moontlik) na jou kind te staar of regtig diep te kyk, sodat hulle ervaar hoe wonderlik jy dink hulle is. Lyftaal spreek boekdele. Dieselfde kan ook van jou tiener se gedrag gesê word. Hulle kommunikeer dikwels deur hul lyftaal/gedrag eerder as met woorde. Tienertaal is gedrag. Hulle wys presies wat hulle dink en hoe hulle voel. Jy moet dus ‘n punt daarvan maak om soms dit waarmee jy besig is, neer te sit en opsetlik te luister, te kyk. Hulle moet weet dat jy daar is – maak nie saak wat gebeur nie.

Grense moet en sal getoets word. Dissipline moet toegepas word, aangesien jy met gesonde dissipline jou kind gereed maak om sukses te behaal. Moet dus nie bang wees om dissipline toe te pas indien nodig nie. Sien gerus verlede week se Zen Den-gesels waar dissipline bespreek word. Drie soorte dissipline om in gedagte te hou:

  • Voorkomende dissipline is wanneer duidelike verwagtinge en reëls neergelê word;
  • Ondersteunende dissipline word as ‘sagte’ dissipline gesien, aangesien ‘n waarskuwing of herinnering aan die reëls gelig word;
  • Tydens korrektiewe dissipline word nagevolge toegepas.

Dr. Rose vertel dat breinontwikkeling prioriteit geniet deur herorganisering en volwassenheid, wat nuwe bane en konneksies in die brein beteken. Ontwikkeling van die prefrontale korteks – wat vir hoërorde-denke en besluitneming benodig word – is besig om te ontwikkel. Tienerjare word gekenmerk deur uiterse sensitiwiteit ten opsigte van sosiale vaardighede en groepsdruk, wat soms ook met riskante gedrag gepaardgaan. Wanneer ‘n tiener se brein nie gereguleer is nie, werk die regterbrein baie harder, wat irrasionele besluitneming en gedrag mag inhou. Die uitvoerende funksies is nog besig om te ontwikkel. Uitvoerende funksies sluit onder andere beplanning, organisering, uitvoering van opdragte, evaluering, ens. in. Dit verduidelik dus waarom jou tiener se kamer en klerekas so deurmekaar is. Dr. Rose gebruik die treffende metafoor dat tieners tans in ‘n halfgeboude huis woon, aangesien die brein nog nie volledig ontwikkel is nie.

Om tieners groot te maak is verseker nie aldag pret nie. Ek glo egter dat ons met genoegsame konneksie en gesonde verhoudings wel mooi volwassenes in die wêreld kan stuur. Deur te sorg dat jou tiener genoeg slaap, streng riglyne oor skermtyd implementeer, lees, oefen en gesond eet, kan jy ‘n goed gebalanseerde en gereguleerde kind in jou huis hê.

Laastens het dr. Rose genoem dat daar drie belangrike geleenthede gedurende die dag is om konneksie met jou tiener te bou. Dit hang natuurlik alles van jou kind se persoonlikheid en temperament af. Probeer om een van hierdie drie geleenthede per dag te gebruik om met jou kind verhouding te bou:

  • Eerste ding in die oggend;
  • Direk na skool; en
  • Laaste ding in die aand.

Wanneer die huisomgewing gestruktureerd, voorspelbaar en warm is, word ‘n spasie geskep waarbinne tieners kan floreer. Hierdeur word hulle beter toegerus om hulself te reguleer, wat beteken dat hulle meer gefokus, doelgerig en gedissiplineerd optree. Dit spoel weer oor in goeie gedrag en skolastiese vordering.

Kom ons poog om elke dag van nuuts af saam met ons tieners aan te pak en te groei deur langs hulle te loop. Kom ons poog om mekaar en ons tieners te ondersteun en uit te reik tydens hierdie baie sensitiewe tuimeltreinjare … ons weet eintlik baie goed hoe dit voel. Dalk is dit weer tyd om jou eie tuimeltreinherinneringe te gaan uithaal en af te stof.

Bron: Dr. Jenny Rose, Kliniese sielkundige wat spesialiseer in kinders en tieners se geestesgesondheid, werksaam te Stellenbosch, gasspreker tydens Professional Minds-konferensie, Mei 2025.

Marinda Brink

Tienerskap vervolg: Slapende skoonheid

Jou slapende tiener se slaappatrone lyk heelwat anders as toe jou kind 8 of 9 jaar oud was. Wat sal die rede hiervoor wees, en hoe verseker ek dat my tiener voldoende slaap kry?

Om 8 ure te slaap is nie normaal nie. Dis eerder die gemiddelde hoeveelheid ure wat mense moet slaap. Kinders tussen 6–12 jaar moet 9–12 ure slaap, en tieners (13–18 jaar) moet 8–10 ure slaap.

Dr. Allison Bentley van die Restonic Ezintsha Sleep Clinic beweer dat dit belangrik is om te bepaal wat jou kind se unieke slaappatroon is. Sommige mense kom goed met minder slaap oor die weg, terwyl ander weer soveel moontlik moet slaap. Slaapgewoontes kan geneties van aard wees; daarom is dit uiters belangrik om jou kind so goed moontlik te ken.

Dr. Bentley verduidelik hoe jou liggaam aanpas om te slaap: “Sodra die son ondergaan, tree melatonien in werking, wat help om jou rustig en slaperig te maak. Die liggaam se temperatuur daal, en dit help die liggaam om te slaap.”

In die era waarin ons leef, is skerms ‘n gegewe. Die probleem met tieners en skerms is die lig van die skerm en die afstand wat die skerm vanaf die tiener se gesig is wanneer hulle in die bed met die selfoon lê. Dit beteken dat daar helder lig in hul oë skyn, wat die natuurlike melatonienafskeiding onderdruk en slaap uitstel. Dan praat ons nie eers van die inhoud van dit wat op die selfoon ingeneem word nie. Volgens dr. Hanneke Heyns (pediater, Thriving Kids) voorkom die blou lig wat aankom op die selfoon as daar ‘n boodskap of kennisgewing inkom—al slaap die kind—dat die brein in diep slaap gaan en behoorlik rus kry. Dit word voorgestel dat die foon nie saam met die kind in die kamer bly nie.

Dr. Bentley noem dat dit belangrik is om die gevolge van te min slaap in ag te neem. Sy sê dat die gevolge van te min slaap is dat geheuefunksies en die stoor van belangrike inligting tydens leer aangetas word. Wat interessant is, is dat tieners natuurlik in naguile ontaard, aangesien hul natuurlike slaaptyd met omtrent twee ure per nag aanskuif. Dit beteken dat hulle nou baie maklik 23:00 of 24:00 eers gaan slaap. Ongelukkig is ons skoolstelsel nie hiervoor aangepas nie. Die skole begin almal voor 08:00, wat beteken dat baie tieners nie genoeg slaap gekry het nie. Hulle word wakker, maar is nog nie juis ‘wakker’ nie. Hulle is dan geïrriteerd en wil nie eet nie; daarom is ‘n vinnige, maklike ontbyt soos ‘n smoothie’ van pas. Die gevolge van te min slaap is moegheid en spanning tydens klastyd. Soms kan hierdie gevolg tot lae akademiese prestasie en selfs swak gedrag lei. Met tyd kan hierdie tiener selfs depressief raak. Hulle immuniteit is ook in gedrang, wat tieners meer geneig tot siektes maak. Dis gewoon vir tieners en studente om tydens eksamentyd baie min te slaap en deur die nag te studeer. Sodra hierdie tydperk verby is, is daar gewoonlik ‘n verkoue of virale infeksie wat wag.

Let asseblief op jou kind se slaaphigiëne – spesifiek hoekom jou kind nie goed slaap nie. Bv. snork jou kind? Kinders is nie veronderstel om te snork nie. ‘n Goeie mediese ondersoek sal hopelik die oorsaak hiervan bepaal. Ly jou kind dalk aan restless legs syndrome? Hierdie mediese toestand veroorsaak swak slaap. Wanneer jou tiener aan slaapapnee ly, maak dit hulle soms baie angstig om te gaan slaap, wat beteken dat slaaptyd verder uitgestel kan word. Medikasie mag ook slaap beïnvloed, wat ondersoek moet word. Die probleem met dit alles is dat ‘n wrede slaapsiklus ontstaan wat soms veroorsaak dat middagslapies nodig is, wat weer maak dat jou kind saans te laat aan die slaap raak.

Dr. Heyns stel voor dat ’n magnesiumaanvulling saans geneem word om natuurlike slaap te bevorder. Sy noem ook dat dit kardinaal is om ’n streng slaaproetine te vestig. Dit beteken dat jou kind saans min of meer dieselfde tyd gaan slaap en soggens dieselfde tyd wakker word.

Die punt is dat jy verlief moet neem indien jou slapende skoonheid tydens naweke laatoggend of selfs vroegmiddag eers te voorskyn kom. Hierdie tienerfase sal verbygaan, en dan sal jou kind se slaap weer anders lyk. Motiveer intussen genoeg slaap.


Bronne:

Dr. Allison Bentley, Restonic Ezintsha Sleep Clinic, Restonic Power of Sleep podcasts (Professional Minds-konferensie, Mei 2025)

Dr. Hanneke Heyns, Pediater, Thriving Kids, Junie 2025

Marinda Brink

Dissipline en grense

Op uitnodiging van HS JvR woon ‘n groepie van ons laerskool- en Huppelland-ouers die motiveringspraatjie wat deur Johan Smith op Woensdagaand, 4 Junie, aangebied is, te HS JvR by. Motiverend was Johan Smith se woorde inderdaad: motivering aan ouers om dissipline op ‘n positiewe manier met moed aan te pak. Ek som graag die inhoud van hierdie treffende aanbieding op, aangesien elke ouer hierdie inligting benodig.

Volwasse ouers moet soos helikopters hoog bo hul kind se kop vlieg – hoog genoeg sodat jy wyd kan kyk en die toekoms met durf saam met jou kind kan aanpak. Die doel van ouerskap is om ons kinders na volwassenheid te lei deur hulle te help om van rigting te verander indien hulle moontlik ‘n rigting wil inslaan wat nie ‘n suksesvolle eindresultaat inhou nie.

Met hierdie eindresultaat word daar geen druk op prestasie geplaas nie, maar eerder op uiteindelik gebalanseerde volwassenes met karakter te fokus. Karaktereienskappe waaroor ons eendag wil trots wees, is: integriteit, eerlikheid, empatie, verantwoordelikheid, respek, ens. Wanneer jou volwasse kinders hierdie eienskappe besit, weet jy dat jy as ouer geslaag het. Om in hierdie doel te slaag, beteken dat jy as ouer sterk in jouself moet staan en dat julle as ‘n ouerspan moet saamwerk om dieselfde doel te bereik.

Hierdie tydperk kom met beproewings en verloop nie altyd soos maanskyn en rose nie.

Deur positiewe dissipline toe te pas, voel ons kinders veilig en geborge. Hulle selfbeeld word positief beïnvloed deurdat hulle positiewe terugvoer op hul gedrag ontvang, bv. deur om vriendelik te groet, mense en diere met respek te behandel, mooi maniere te handhaaf, gesonde verhoudings te kweek, ens. Hulle sosiale lewe sal mooi ontwikkel en gesond wees indien daar goeie struktuur, roetine en grense van jongs af tuis toegepas word.

Johan, wat vier grade in Ekonomie verwerf het, erken heelhartig dat ouerskap foute insluit en dat dit menslik is om soms met dissipline te faal. Hy beklemtoon egter die belangrikheid dat ouers liefs nie hul jong kind se vriend moet probeer wees nie. Hy noem dat dit aaklig is om dissipline toe te pas, veral as jou kind ontevrede met jou is en jou as die slegste ouer ooit uitmaak. Dit was bevrydend om te hoor dat dit normaal is en dat dit die rol is wat elke ouer moet speel. Hy meld dat dit kinders se rol is om grense te toets, en ouers se rol is om grense daar te stel. Kinders word ongelukkig nie met grense gebore nie.

So, wat is dissipline? Dissipline gaan oor karakterontwikkeling en om jou kind se toekoms te bou. Met dissipline moet jy vorentoe in plaas van agtertoe kyk. Dissipline beteken dat daar gevolge vir jou dade is. Dissipline moet verkieslik so gou moontlik toegepas word sodat die gedrag onmiddellik aangespreek en verander kan word. Poog om nie jou kind te dreig met straf of dissipline nie. Dreig skep angs by kinders. Ons wil so graag ons kinders van “pyn en lyding” spaar, maar hierdie gevolge van hul aksies is deel van hul grootwordproses en help om karakter te bou. Ons rol as ouers is om hulle hierdeur te mentor en te lei deur gesonde, effektiewe en onmiddellike dissipline toe te pas.

Straf is deel van dissipline, maar moet omtrent net so 20% van dissipline inhou. Straf gebeur wanneer iets in die verlede gebeur het. Dissipline is teenwoordig – nou. Dissipline beteken nie ‘n konstante oorlog nie. Deur goeie struktuur en roetine vas te stel, bied ouers hul kinders die nodige ruimte om hulself te ontwikkel.

Indien dissipline nie toegepas word nie, berei jy jou kind voor vir ‘n wêreld wat nie bestaan nie. Die negatiewe gedrag sal voortgaan en kan selfs vererger, wat beteken dat jou kind sy/haar grootste vyand mag word. Kinders moet besef dat die lewe nie net oor hulle gaan nie, maar ook oor diegene rondom hulle.

Ons as ouers moet dikwels moeilike besluite neem ter wille van ons kinders se toekoms.

Johan verwys deurentyd na sprekers en outeurs. Hy skoei sy praatjie op navorsing. Hyself is ‘n motiveringspreker en outeur wat die nie-winsgewende organisasie VitaAmp se stigterslid is. Hier is ‘n paar bronne waarna hy verwys het:

  1. Andy en Sandra Stanley (Parenting: Getting it Right)

  2. Dr. Lisa Damour (Opvoedkundige sielkundige en outeur van onder andere:

    Untangled: Guiding Teenage Girls Through the Seven Transitions into Adulthood, 2016

    The Emotional Lives of Teenagers: Raising Connected, Capable, and Compassionate Adolescents, 2023)

  3. Dr. Henry Cloud (spreker en outeur)

  4. John Rosmead (lewensafrigter, spreker en outeur)

    Luister en kyk gerus na hierdie video op YouTube van John Rosmead – Vitamin N

Marinda Brink

Puberteit: Pasop! Daar is ‘n tiener in jou huis…

Om met tieners te werk, is ’n spesiale fokus en ingesteldheid nodig.

Puberteit begin nie eers op 13 nie, maar lank reeds voor dit. Dis ’n lang, uitgerekte fase wat met groot sorg aangepak moet word. Die volgende paar weke val die fokus op ons tieners. Trek gerus die bril nader as dit moet!

Inleiding tot puberteit:

Om puberteit te betree, is ’n vreeslike uitdagende en uitgerekte tydperk wat op elke kind wag. Hierdie fase word gekenmerk deur fisiese en biologiese, hormonale, emosionele en kognitiewe groei en ontwikkeling. Dis gedurende hierdie tydperk waar die soeke na identiteit ’n hoogtepunt bereik. Puberteit word beskou as ’n ontdekkingsfase wat met verwarring, uitdagings en druk gepaardgaan.

Fisiologiese ontwikkeling:

Puberteit kan vanaf 8–13 jaar by meisies en 9–14 jaar by seuns begin. Volgens navorsing het die beginfase van puberteit oor die afgelope jare vervroeg, terwyl die beëindiging steeds dieselfde ouderdom is. Voedselinname, omgewingsfaktore en stres kan redes hiervoor wees. Gemiddelde beginouderdom van meisies in die VSA is 7,6 jaar, terwyl ons in SA op ’n gemiddelde ouderdom van 12,5 jaar met puberteit begin. Deur ’n X-straal van die kind se linkerhand te neem, kan bepaal word watter groeifase nog voorlê en wanneer puberteit verwag kan word. Voordat puberteit bereik word, is daar ’n fase waartydens die kind se liggaam reeds begin aanpas om hierdie nuwe fase tegemoet te gaan. Dit word die pre-adolessente fase genoem.

Tieners en voeding:

Puberteit neem geweldig baie energieverbruik in beslag. Twintig persent van energie-inset gaan direk na die brein, wat ’n reuse-aanduider van voedsame eetgewoontes is. Tydens hierdie fase word baie energie verbruik om te groei. Tieners is permanent honger aangesien daar nou ’n verhoogde metaboliese toename en baie hormonale veranderinge plaasvind. Dis ook asof hulle nooit regtig versadig voel nie. Dis ’n goeie idee om te sorg dat jou tiener gereelde en gebalanseerde maaltye geniet wat nie uit te veel verfynde koolhidrate bestaan nie. Dit meng met insulien- en bloedsuikervlakke in. Die doel is om nooit jou tiener op ‘empty’ te laat funksioneer nie. Die gemoed en wisselvalligheid in optrede/gedrag mag oorsake van ’n ongebalanseerde dieet inhou. Dis interessant dat kinders se smaakknoppies verander soos hulle ouer word, wat mag beteken dat jou kind ewe skielik sekere kos nie meer wil eet nie.

Koolhidrate moet liefs nie uit ’n tiener se dieet gesny word nie, aangesien hulle heelwat van hierdie voedingstowwe binne koolhidrate benodig om daaglikse take en liggaamsfunksies te verrig. Ontbyt is kardinaal om die metabolisme soggens wakker te maak, al is daar heelwat moderne maaltydplanne wat anders sê. Genoegsame koolhidrate moet soggens ingeneem word, terwyl meer proteïene saans tydens aandete ingeneem moet word om die breinfunksies snags te vernuwe.

Belangrike voedingstowwe om in maaltye in te sluit tydens die groeifase, is kalsium, foliensuur, vitamien B (vit. B6 spesifiek), yster, sink, magnesium, proteïene, koolhidrate en vette. Hierdie voedingstowwe is onder andere vir konsentrasie, spierbou, weefselgesondheid, hormonale ontwikkeling, immuniteit en emosionele regulasie verantwoordelik. Wees versigtig vir proteïenaanvullings, aangesien dit stres op die niere mag plaas. Maak eerder van ’n gebalanseerde aanvulling gebruik of maak ’n gesonde ‘smoothie’ om soggens te geniet terwyl jou kind nog wakker raak en nog nie dadelik wil eet nie. Die belangrikheid van water moet ook nie onderskat word nie.


Bron: Spreker tydens Professional Minds Konferensie gehou op Sondag, 25 Mei, te Westin Hotel, Kaapstad: Kath McGraw, pediatriese dieetkundige en ontwikkelaar van Nutripaeds (Mindful Meals, 2025 deur Kath McGraw en dr. Jenny Rose)

Marinda Brink

Zen Den-gesels: Huistake (‘chores’): Waarom is dit nodig?

Watter ouer smag nie na verantwoordelike, onafhanklike kinders nie?

Tog is ons voortdurend in die versoeking om alles vir ons kinders te doen. Navorsing bewys egter oor en oor dat ‘n kind wat van jongs af binne ‘n gesin sekere verpligtinge het, meer selfvertroue en waagmoed ontwikkel. Wanneer dit reg bestuur word, word hegter gesinsbande gekweek. Volgens die Amerikaanse Psigiatriese Akademie vir Kinders en Adolessente kan ‘n kind so jonk as 3 jaar al met basiese take in die huis help. Hulle wys die volgende voordele uit:

  • Dit kweek onafhanklikheid;
  • dit ontwikkel die vaardigheid om te organiseer en te beplan;
  • dit leer hulle om hul tyd beter te bestuur;
  • hulle is geneig om meer verantwoordelikhede binne die gesin op te neem;
  • dit bied ‘n geleentheid om ‘n gevoel van sukses te ervaar;
  • hulle leer van jongs af dat werk en plesier gebalanseer kan word;
  • dit help met impulsbeheer en om frustrasie te hanteer.

Waar moet ek begin?

‘n Plan en strategie is nodig om huistake binne ‘n gesin vas te lê. Hier is algemene foute wat ouers geneig is om te maak en wat eerder vermy moet word:

  1. Ouers is geneig om te laat te begin.

    Om by ‘n ouer kind ‘n gewoonte te kweek, is baie moeiliker as om by ‘n jong kind te begin. Jonger kinders is geneig om nuuskieriger, gemoedeliker en gewilliger te wees om te help. Met die nodige kreatiwiteit van die ouers se kant kan take selfs pret wees. 

  2. Ons wil hê dit moet perfek gedoen word.

    Om die taak wat jou kind gedoen het oor te neem of oor te doen (bed ooropmaak, swak gevoude klere oorvou), laat hom/haar voel dat dit wat hulle gedoen het en hoe hulle dit gedoen het, nie goed genoeg was nie. Dit kan hulle ontmoedig om in die toekoms weer te probeer. Fokus op die vordering, nie perfeksie nie – anders gaan jy nie ‘n gewoonte kweek nie.

  3. Om nie duidelik en spesifiek te wees met ‘n opdrag nie.

    Stel redelike en duidelike riglyne oor wat jou kind presies moet doen. Dit is onbillik om bloot te sê dat jou kind sy/haar kamer moet regpak. Waar en hoe moet hulle begin? Dus: gee duidelike, spesifieke instruksies soos: “Sit jou speelgoed in die blou houer teen die muur,” of “Dek asseblief die tafel met vier borde, vier messe en vier vurke.”

  4. Om nie konsekwent te wees nie.

    Om gedurig reëls te verander, skep verwarring.

  5. Om ‘n taak as straf te gebruik.

    Dit skep ‘n negatiewe gesindheid en gegriefdheid by die kind wat jy moeilik in die toekoms sal kan verander. Verder kortwiek dit die motivering om verantwoordelikheid by jou kind te kweek.

  6. Om ‘n swak rolmodel te wees.

    Ouers wat voortdurend negatief is en self kla oor daaglikse roetine-take, kan beswaarlik verwag dat hul kinders dit met selfdissipline en entoesiasme sal doen. Kinders is baie meer geneig om hul eie klere op te tel en hul kamers netjies te hou as hulle sien jy doen dit sonder om te kla.

“If you want children to keep their feet on the ground, put some responsibility on their shoulders.” – Abigail van Buren

Marike Badenhorst

Kunsmatige Intelligensie en Skoolwerk: Kortpad na Sukses of Verlore Leerproses?

 

Kunsmatige Intelligensie (KI) is besig om ’n alledaagse hulpmiddel in ons lewens te word en baie ouers moedig hul kinders aan om KI te gebruik om hul huiswerk of take mee te voltooi. Met net ’n paar klikke kan kinders komplekse vrae beantwoord, opstelle skryf en selfs wiskundeprobleme oplos. Is hierdie tegnologiese vooruitgang ’n waardevolle hulpmiddel of hou dit ook ’n risiko vir werklike leer en breinontwikkeling in?

Konteks

Terwyl Kunsmatige Intelligensie (KI) groot potensiaal het om onderrig en leer te ondersteun, is daar groeiende kommer dat jong kinders afhanklik kan raak van hierdie kragtige hulpmiddel, eerder as om hul eie denkvaardighede, probleemoplossing en kreatiwiteit te ontwikkel. As ouers en opvoeders moet ons vra: help KI ons kinders om slimmer te leer, of leer hulle net hoe om vinniger antwoorde te kry?

Ons skool verstaan die uitdagings wat kinders se gebruik van KI-hulpmiddels vir hul leerervaring en ontwikkeling meebring. Ons is tans besig om ‘n aksieplan en riglyne te formuleer, wat geskoei is op navorsing, internasionale tendense en die opinies van opvoedkundige kenners, ten einde ‘n verantwoordelike, etiese en gebalanseerde benadering tot KI te implementeer.

In ons reeks DInK-slim artikels, gaan ons die uitdagings wat kinders se gebruik van KI bring, bespreek asook die impak daarvan op kritiese denkvaardighede en hoe ouers hul kinders kan help om tegnologie verantwoordelik te gebruik.

Hoe vind leer plaas?

Voor ons oor die KI-dilemma gesels, is dit belangrik om te verstaan hoe leer plaasvind. Leer behels die verwerking van nuwe inligting, die bou van begrip en die toepassing van kennis in verskillende kontekste. Leer is ‘n komplekse en dinamiese proses wat deur kinders se ervarings, waarneming, oefening en sosiale interaksie oor ‘n tydperk plaasvind. Kinders is nog besig om vaardighede en kapasiteit vir kritiese denke, gefokusde aandag, refleksie en toepassing te ontwikkel en die ouerhuis en skool is grotendeels die omgewing waar hierdie vaardighede aangeleer en ontwikkel word.

Die KI-dilemma in die Onderwys

Die gebruik van kunsmatige intelligensie in die onderwys bring waardevolle geleenthede, maar ook ‘n reeks uitdagings wat in wese kinders se leerproses kan skaad. Hier is ‘n paar belangrike kwessies wat ouers en opvoeders in gedagte moet hou:

  1. Verminderde Kritiese Denkvaardighede

Wanneer kinders afhanklik raak van KI om huiswerk te voltooi, omseil hulle die noodsaaklike denkprosesse wat juis nodig is om leer te versterk. Dit kan lei tot:

  • Gebrekkige vaardighede in probleemoplossing en kreatiewe denke;
  • ‘n swakker begrip van konsepte;
  • ’n neiging om antwoorde te kopieer sonder om dit werklik te verstaan of daaroor te reflekteer;
  • ‘n onvermoë om kennis in verskillende kontekste toe te pas en te gebruik; en
  • verminderde blootstelling aan diverse opinies.
  1. Gebrek aan Eie Inspanning

KI kan vinnig vrae beantwoord en opstelle genereer, maar as kinders bloot op hierdie hulpmiddel staatmaak, ontwikkel hulle nie die vaardighede wat nodig is om op hul eie te werk nie. Dit kan beteken dat hulle nie leer hoe om te volhard nie en gebrekkige analitiese denkvaardighede toon wanneer hulle uitdagings aanpak.

  1. Eerlikheid en Plagiaat

Etiese probleme ontstaan omdat KI so maklik antwoorde kan genereer:

  • Plagiaat: Kinders kan KI-geïnspireerde inhoud gebruik sonder om hul eie oorspronklike idees te ontwikkel;
  • Gebrek aan akademiese eerlikheid: Hulle kan werk as hul eie voorhou sonder om self die werk te doen; en
  • Ontoereikende evaluering: Onderwysers sukkel om te bepaal of kinders die werk werklik verstaan.
  1. Gebrek aan Verantwoordelike KI-gebruik

Kinders besef dalk nie die beperkings van KI nie en aanvaar foutiewe inligting as feite. Dit is belangrik dat kinders leer hoe om:

  • KI as ’n ondersteunende hulpmiddel te gebruik en nie as ’n kortpad vir leer nie;
  • feite te verifieer eerder as om bloot KI-gegenereerde inligting te aanvaar en te kopieer; en
  • KI eties en verantwoordelik te gebruik.
  1. Impak op Sosiale Vaardighede

Interaksie met onderwysers en medeleerlinge is krities vir die ontwikkeling van kommunikasie- en saamwerkvaardighede. As kinders hulle gereeld eerder tot KI wend om huiswerk of take te voltooi, word hul kapasiteit vir sinvolle deelname aan klasgesprekke en groepwerk verminder en kan dit die ontwikkeling van hul sosialevaardighede benadeel.

Advies aan Ouers

Om te beoordeel of die gebruik van KI vir ‘n taak of vir huiswerk ‘n hulpmiddel of ‘n kortpad is,  kan ouers hulself die volgende vrae afvra:

  • Gaan my kind die konsep(te) verstaan, selfs sonder KI se hulp?
  • Gebruik hulle KI om idees te genereer en insigte te kry, of net om ‘n volledige antwoord te kry?
  • Sal die gebruik van KI help met kritiese denke en probleemoplossing, of maak dit die taak te maklik?
  • Watter alternatief kan ek bied om my kind te help om selfstandig te leer?

Die sleutel is om KI strategies te gebruik, sodat dit leer ondersteun en nie vervang nie. Ouers kan kinders aanmoedig om eers self oor ‘n taak te dink, en KI te gebruik as ‘n hulpmiddel vir uitbreiding van kennis, maar nie vir klaargemaakte antwoorde nie.

Hier is ‘n paar riglyne vir hoe ouers ‘n balans kan vind tussen KI en tradisionele leer, sodat leer in die proses ondersteun en nie vervang word nie:

  1. Moedig Eie Inspanning aan

Ouers kan kinders leer dat hulle eers self moet probeer voordat hulle KI gebruik. Voorbeelde:

  • Laat hulle hul eie gedagtes neerskryf voor hulle ‘n KI-hulpmiddel raadpleeg;
  • vra hulle om hul eie uitleg of oplossing te gee, en dan te kyk hoe KI daarvan verskil of verbeter; en
  • stel ‘n reël: KI mag nie eerste gebruik word nie – eers hul eie idees!
  1. Gebruik KI as ‘n Leerhulpmiddel, Nie ‘n Antwoordverskaffer

KI moet leer aanvul, nie vervang nie:

  • Moedig hulle aan om KI te gebruik vir breë navorsing, en nie om net ‘n direkte antwoord te kry nie;
  • leer hulle hoe om KI se inligting te evalueer, eerder as om dit blindelings te aanvaar; en
  • as hulle KI vir huiswerk gebruik, vra hulle om te verduidelik wat hulle daaruit geleer het.
  1. Help Kinders om Kritiese Denkvaardighede te Ontwikkel
  • Laat hulle vrae oor KI se antwoorde vra — moedig skeptisisme aan;
  • stel uitdagings waar hulle KI se antwoord moet verduidelik en self verbeter; en
  • leer hulle hoe om betroubare inligting te identifiseer en te gebruik.
  1. Stel Duidelike Riglyne oor Wanneer KI Gebruik Mag Word
  • Mag gebruik vir breë navorsing, kreatiewe idees, en begrip van konsepte;
  • mag nie gebruik word om antwoorde net so oor te neem, sonder eie reflektering en inspanning nie; en
  • maak dit ‘n familiegesprek — leer saam oor hoe KI reg gebruik kan word!
  1. Bou ‘n Gesonde Leermentaliteit

Help kinders verstaan dat leer ’n proses is, nie net ‘n resultaat nie:

  • Vier hulle eie denke en kreatiewe oplossings;
  • moedig hulle aan om vrae te vra en self nuuskierig te wees; en
  • help hulle om te sien dat leervaardighede meer waardevol is as net vinnige antwoorde.

Met hierdie benadering word KI ‘n hulpmiddel, eerder as ‘n kortpad wat leer ondermyn.

Ouers speel ‘n sleutelrol in die vorming van verantwoordelike en DInK-slim leerders!

Kyk gerus na hierdie insiggewende potgooi video van Tristan Harris en Daniel Barcay van die Center for Humane Technology. Hulle gesels met die kognitiewe neurowetenskaplike, Maryanne Wolf, en opvoedkundige kenner, Rebecca Winthrop, oor die dilemma van KI in die onderwys.

Opname oor besprekingsonderwerpe

Ons poog om soveel moontlik inligting in hierdie rubriek te publiseer sodat ons broodnodige leiding en ondersteuning aan ieder en elk kan voorsien wat dit benodig of vir wie dit interesseer. Vandag wil ons by jou hoor of daar ‘n onderwerp is waaroor jy graag meer wil uitvind  OF dalk het jy ‘n goeie idee(s) waarvan ouers meer wil hoor wat ons nog nie bespreek het nie.

Vertel ons meer HIER.

Kinders en Slimfone: Besluit met insig

 

Op watter ouderdom kan my kind ‘n slimfoon kry? Wat is die effek van slimfoongebruik op kinders en wat is die voor- en nadele daarvan om ‘n foon op ‘n jong ouderdom te hê?
H
oe leer ek my kind om ‘n foon op ‘n gesonde en veilige manier te gebruik?

Konteks

In die digitale era is tegnologie met ons en ons kinders se alledaagse lewe verweef. Een van die debatte wat tans wêreldwyd heers, is op watter ouderdom kinders gereed is om ‘n slimfoon te kry of te gebruik. Bill Gates en James Steyer van Common Sense Media het hul eie kinders byvoorbeeld eers op 14-jarige ouderdom toegelaat om ‘n slimfoon te hê, terwyl Steve Jobs nie toegelaat het dat sy eie jong kinders ‘n iPad by die huis gebruik nie.

Met sosiale media, kommunikasie behoeftes, skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite, kan dit moeilik wees om te besluit wanneer jou kind ‘n slimfoon kan begin gebruik. ‘n Slimfoon bied verskeie voordele, maar daar is ook risiko’s aan verbonde, veral vir jonger kinders.

In hierdie DInK-slim uitgawe verken ons die voor- en nadele daarvan om kinders met slimfone toe te rus en bied ons nuttige wenke sodat ouers ingeligte besluite oor hierdie belangrike en aktuele onderwerp kan neem.

DInK-slim Meningspeiling

Impak van Slimfoongebruik op Verskillende Ouderdomsgroepe

Om te kan besluit wanneer jou kind oud genoeg is om ‘n selfoon te gebruik, is dit belangrik dat ouers verstaan wat die impak daarvan op hul ontwikkeling is.

Jonger as 2 Jaar
Vroeë ontwikkeling is baie afhanklik van persoonlike interaksie en sensoriese ontdekkings. Die aanbeveling is om op hierdie jong ouderdom blootstelling aan enige digitale skerms te vermy, behalwe dalk om video gesprekke met geliefdes te fasiliteer.

Ouderdom 4 tot 6
Op hierdie ouderdom is persoonlike interaksie baie belangrik vir die ontwikkeling van sosiale vaardighede en kognitiewe ontwikkeling. Slimfoongebruik word nie aanbeveel nie en blootstelling aan digitale media moet beperk word tot interaktiewe inhoud van hoë kwaliteit, wat leer opvoedkundig van aard is.

Ouderdom 7 tot 11
‘n Selfoon kan nuttig wees om in kontak te bly, maar fone behoort toegang tot beperkte funksies te hê en geen internet toegang nie. Toesighouding is nodig om blootstelling aan onvanpaste materiaal en sosiale media risiko’s te voorkom. Ouers moet ook seker maak selfoongebruik ondermyn nie fisiese aktiwiteit nie en meng nie met sosiale interaksies of jou kind se slaap in nie.

Ouderdom 12 tot 13
Kinders het beter probleemoplossingvaardighede en vaardighede vir kritiese denke begin ontwikkel. In plaas van streng beperkings, beveel sielkundiges aan dat ouers die nodige leiding aan tieners verskaf vir ‘n bewustelike ingesteldheid t.o.v. selfoongebruik en om seker te maak dit ondersteun leer, sosiale konneksies en geestelike welstand. Bepaal die volwassenheid en verantwoordelikheidsin van jou kind voordat jy vir hom of haar ‘n slimfoon gee.

Ouderdom 14 tot 18
Kinders in hierdie ouderdomsgroep is meer gereed om ‘n slimfoon te gebruik. Dit is belangrik dat ouers wel besef dat die prefrontrale korteks van die brein, wat verantwoordelik is vir besluitneming, impulsbeheer, beplanning, organisering- en redenasievermoë, is eers in die mid-20’s ten volle ontwikkel. Ouers het dus steeds die verantwoordelikheid om aktiewe leiding oor verantwoordelike gebruik en gesonde slimfoongewoontes te verskaf. Ongekontroleerde internettoegang kan nadelige gevolge vir tieners inhou. Dit is ook belangrik dat ouers seker maak daar is vasgestelde tye wat geen skermtyd toegelaat word nie, byvoorbeeld aan tafel en voor slaaptyd, om te verseker jou tiener kry genoeg slaap.

Hoe bepaal ek my kind se gereedheid om ‘n slimfoon te gebruik?

Om jou kind se gereedheid vir ‘n slimfoon te beoordeel, kan jy die volgende oorweeg en toepas:

Evalueer kinders se gereedheid ten opsigte van hul:

  • Volwassenheid
    • Kan jou kind moeilike situasies hanteer sonder om impulsief te reageer?
    • Demonstreer hulle emosionele stabiliteit en ‘n vermoë om verantwoordelike keuses te maak?
  • Sin vir verantwoordelikheid
    • Behandel hulle ander se eiendom en hul eie besittings met sorg?
    • Volg hulle huishoudelike reëls en kom hulle hul skoolverantwoordelikhede konsekwent na?
  • Verstaan van grense
    • Begryp jou kind die belangrikheid van tydgrense, soos beperkte skermtyd?
    • Verstaan hulle die belangrikheid daarvan om nie persoonlike inligting te deel nie en kan hulle aanlyn- en privaatheidsgrense respekteer?

Gesprekvoering om jou kind se bewustheid te bepaal:

  • Vra waarom hulle voel hulle is gereed om ‘n slimfoon te gebruik.
    • Stel vrae oor hoe hulle dink ‘n slimfoon hul lewe sal bevoordeel.
  • Vra waarvoor hulle dit wil gebruik.
    • Laat jou kind verduidelik waarvoor hulle ‘n slimfoon sal gebruik. Is dit om te kommunikeer, speletjies te speel, te leer, of om sosiale media te gebruik? Hierdie insig kan help om toepaslike grense en reëls vooraf op te stel.
  • Gesels met jou kind oor potensiële risiko’s soos aanlyn privaatheidsrisiko’s, kuberboeliegedrag, skermverslawing. Bespreek die volgende met jou kind:
    • Aanlyn privaatheidrisiko’s: Die belangrikheid van sterk wagwoorde en om nie persoonlike inligting te deel nie.
    • Kuberboeliegedrag: Hoe om dit te identifiseer en wat hulle moet doen indien dit gebeur.
    • Skermverslawing: Die waarde van balans tussen aanlyn aktiwiteite en ander gesonde gewoontes.

Is ek as ouer gereed vir die verantwoordelikheid dat my kind ‘n slimfoon gebruik?

Om te beoordeel of jy as ouer daarvoor gereed is dat jou kind ‘n slimfoon gebruik, vra jouself die volgende vrae:

  • Is ek gereed om self ‘n voorbeeld van verantwoordelike slimfoongebruik te stel?
  • Hoe gaan ek my kind se slimfoongebruik monitor?
  • Weet ek hoe om toepassings se privaatheidverstellings na te gaan en op te stel?
  • Is ek ingelig oor privaatheid- en veiligheidsrisiko’s wat met slimfoongebruik gepaard gaan?
  • Is ek op hoogte van tegnologie tendense en goeie praktyke?
  • Is ek ingelig oor die digitale wêreld waar binne my kind interaksies gaan hê?

Hoe kan ek privaatheid en veiligheidrisiko’s help bestuur?

Help jou kind om veilige aanlyn ervarings te hê:

  • Monitor jou kind se selfoon- en toepassingsgebruik en kom ooreen dat jy toegang tot die toestel het.
  • Bepaal watter toepassings jou kind kan gebruik.
  • Verstaan watter persoonlike inligting en gebruiksdata deur toepassings versamel word en waarvoor dit gebruik word.
  • Gaan gereeld toepassings se toestemmingverstellings (app permissions) na.
  • Respekteer die minimum ouderdomsvereistes van toepassings, insluitend sosiale media. In Suid-Afrika is die ouderdomsvereiste van die meeste sosiale media platforms 13 jaar. (Facebook, Instagram, Snapchat, TikTok, Discord, YouTube, WhatsApp, X). Die ontwikkelingsvlak van jonger kinders beteken dat hulle nog nie toegerus is om sosiale media op ‘n verantwoordelike manier te gebruik nie.
  • Indien jou kind wel sosiale media gebruik, maak seker dat hulle profiel privaat is en nie oop is vir die publiek nie.
  • Stel ouerbeheer (parental control) op om skermtyd te bestuur, inhoud te filter en ligging op te spoor. Gebruik ingeboude beheer soos Microsoft Family Safety, Google Family Link of Apple Screen Time. Derde party toepassings soos Qustudio, Mobicip, Bark, Boomerang of Family Time kan ook hiervoor gebruik word. Die meeste internet sekuriteitsagteware, soos Bitdefender Total Security, Norton 360 Deluxe, McAfee Total Protection en Kaspersky Safe Kids bied ook ouerbeheer funksionaliteit.
  • Kweek bewustheid by jou kind oor hul digitale voetspoor.
    ( Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak? | Laerskool Jan van Riebeeck).
  • Skep geleentheid vir oop gesprekke met jou kind oor digitale veiligheid, sodat jou kind die vrymoedigheid het om met jou te gesels as iets hulle aanlyn hinder of ontstel.

Hoe kan ouers verantwoordelike slimfoongedrag oordra?

  • Volg self ‘n gebalanseerde benadering en skep geleentheid vir persoonlike interaksie met jou kind.
  • Bepaal foonvrye tyd vir die gesin, bv. etenstyd, gesinstyd, slaaptyd.
  • Skep foonvrye areas in die huis.
  • Bewustelike bestuur van jou eie slimfoongebruik stel ‘n voorbeeld van selfregulering

Nadele van te vroeë blootstelling aan slimfone

  • Kan breinontwikkeling beïnvloed.
  • Belemmer ontwikkeling van sosiale vaardighede.
  • Blootstelling aan onvanpaste / skadelike inhoud.
  • Kan lei tot tegnologie verslawing.

Redes waarom kinders moontlik toegang tot ‘n foon nodig het

  • Ouers kan hul kinders se bewegings monitor – weet waar hulle is.
  • Kinders bly op hoogte met gebruik van tegnologie.
  • Help met skep van herinneringe met foto’s en video’s.
  • Opvoedkundig en vir akademiese werk.
  • Verantwoordelike kommunikasie met vriende

Maniere om kinders te begelei in gesonde slimfoongebruik

  • Skep ‘n gesinskontrak wat reëls vir slimfoongebruik, asook gevolge vir verbreking van reëls spesifiseer. Spesifiek die Waar, Wanneer en Hoe lank.
  • Ouers behoort ‘n voorbeeld van gesonde en verantwoordelike gebruik te stel deur oor eie selfoongebruik te dink en self die gesinsreëls na te kom.
  • Begin deur jou kind eers ‘n foon sonder Internettoegang te gee en later, wanneer hulle ouer is en ‘n groter verantwoordeliksin ontwikkel het, kan ‘n slimfoon oorweeg word.
  • Leer jou kind foonetiket, bv. wanneer is dit van pas om ‘n foon te gebruik en wanneer behoort dit weggesit te word. Moedig respekvolle kommunikasie aan.
  • Stel ouerbeheer (parental controls) op slimfoon op. Skakel toeps wat onnodige liggingsdienste (location services) gebruik, af.
  • Leer kinders om nie persoonlike inligting aanlyn te deel nie en ook nie sosiale media versoeke van vreemdelinge (mense wat hulle nie in persoon ken nie) te aanvaar nie.
  • Waarsku kinders teen die skep of aanstuur van vernederende of onwelvoeglike foto’s video’s, e-posse of teksboodskappe.
  • Bestuur die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn spandeer.
  • Gebruik ‘n gewone wekker. Geen selfoon in die kamer in die aand nie.
  • Slimfone word op ‘n sentrale plek in die huis herlaai sodat dit nie in die kind se kamer gedoen hoef te word nie.
  • Geen selfoon in die kamer wanneer studeer word nie, veral wanneer die foon nog ‘n nuutjie of nuwe ervaring vir jou kind is.

Alternatiewe tot slimfone vir kinders

  • Eenvoudige selfone wat oproepe kan maak of teksboodskappe stuur. Fokus slegs op noodsaaklike kommunikasie. Minimaliseer afleiding deur sosiale media of speletjies.
  • Tablette met beperkte toegang. Stel ouerbeheer op om toegang tot spesifieke toepassings of webtuistes te beperk. Laat kinders toe om opvoedkundige toeps te gebruik, sonder blootstelling aan ongereguleerde inhoud.
  • Slimhorlosies. Kindervriendelike slimhorlosies kan oproepe hanteer en bied GPS-opsporing.
  • Tweerigtingradio’s. Vir jonger kinders bied tweerigtingradio’s ‘n prettige manier om te kommunikeer sonder die kompleksiteit van ‘n slimfoon. Dit moedig ook buite speeltyd en spanwerk met ander kinders aan.
  • Digitale kameras. ‘n Digitale kamera is ‘n uitstekende manier om kinders se kreatiwiteit aan te wakker, sonder die inmenging van ‘n slimfoon. Digitale kameras bied ook aan kinders ‘n manier om hul omgewing waar te neem en interaksie met die omgewing te hê.
  • Rekenaar of skootrekenaar met toesighouding. Toegang tot ‘n gesinsrekenaar kan aan kinders die geleentheid bied om opvoedkundige inhoud te verken en met maats en familie in kontak te bly via digitale kommunikasiekanale wat met die nodige toesighouding bestuur word.

 

Is die tyd reg dat my kind ‘n slimfoon kry?

Soos ons gesien het, is daar nie ‘n definitiewe antwoord op hierdie vraag nie. Dit is elke ouer se verantwoordelikheid om te besluit wanneer hul kind gereed is om ‘n slimfoon op ‘n verantwoordelike wyse te kan gebruik. Kenners meen verkieslik nie voor die ouderdom van 14 jaar nie.

Wat ook al die ouderdom, dit is belangrik dat ouers dit vir die regte redes doen en nie omdat hulle dink dit gaan hul kind meer tegnologies vaardig maak, of omdat al die maats ‘n foon het nie. Neem ‘n ingeligte besluit, bepaal die reëls, pas die reëls toe en stel ‘n goeie voorbeeld vir jou kind.


DInK-slim Meningspeiling

Hulpbronne:

  • American Academy of Pediatrics. 2016. Screen Time Guidelines. https://www.aap.org/en/patient-care/media-and-children/center-of-excellence-on-social-media-and-youth-mental-health/qa-portal/qa-portal-library/qa-portal-library-questions/screen-time-guidelines/
  • CBS News. 2018. Jerry Burbick: The effects of Cellphones on Children. https://www.youtube.com/watch?v=LKd7MYAmjXU
  • Handspring Health. 2025. Should Kids Have Phones? Pros, Cons, and Recommendations. https://www.handspringhealth.com/post/should-kids-have-phones
  • Parents. 2023. How to Tell If Your Kid Is Ready for a Smartphone. https://www.parents.com/kids/safety/internet/the-great-phone-debate/
  • Simon Sinek. 2023. How Cell Phones Impact our Relationships. https://youtu.be/0tVw2xArV0k
  • Simply Outline. 2024. Guiding Kids’ Smartphone Usage: A Parent’s Guide. https://www.youtube.com/watch?v=3DdWtBrvP4c
  • World Health Organization. 2019. To grow up healthy, children need to sit less and play more. https://www.who.int/news/item/24-04-2019-to-grow-up-healthy-children-need-to-sit-less-and-play-more

Zen Den-gesels: Leesmodel 3: “Simple View of Reading”

Leesmodel: “Simple View of Reading”

Die “Simple View of Reading” teorie is ontwikkel deur Philip B. Gough en William E. Tunmer om vaardighede te identifiseer wat ‘n rol speel in die vroeë ontwikkeling van leesbegrip. Volgens die oorspronklike teorie is daar twee leesvaardighede nodig om leesbegrip te bevorder, naamlik: dekodering en taalbegrip.

Dekodering verwys na die vermoë om geskrewe woorde akkuraat te herken en uit te spreek en taalbegrip is die vermoë om woorde in sinne te verstaan. Hierdie teorie beweer dat bogenoemde twee vaardighede die grootste bepalende faktore in leesbegrip is.

Die model stel leesbegrip voor deur die volgende formule:

Dekodering x Taalbegrip = Leesbegrip

Bogenoemde formule impliseer dat beide dekodering en taalbegrip noodsaaklik is vir effektiewe leesbegrip. Indien een van die komponente 0 is, sal leesbegrip ook 0 wees. Alhoewel die model goed deur navorsing ondersteun word, moet ons dit as ‘n kognitiewe teorie sien en nie ‘n allesomvattende model nie. Die model word die beste toegepas in moedertaalonderrig.

Ouers speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van bogenoemde vaardighede om leesbegrip by kinders te bevorder en kan die vaardighede op die volgende praktiese maniere toepas.

  1. Dekodering

Gebruik flitskaarte met letters en woorde. Vra jou kind om die klank te noem wat by elke letter pas.

  1. Saamlees

Lees elke dag saam met jou kind ‘n paragraaf uit ‘n leesboek. Die saamlees werk soos volg:  As ouer lees jy eers die sin terwyl jou kind met sy vinger elke woord volg. Daarna lees jou kind elke woord in die sin. Nadat julle die paragraaf gelees het, kan jy sekere woorde uitwys en vir jou kind die betekenis van die woord vra. Kyk ook saam na die prente en gesels met jou kind daaroor om leesbegrip te bevorder.

  1. Woordeskat

Praat met jou kind oor sekere onderwerpe. Terwyl julle daaroor gesels kan jy sekere van die woorde op flitskaarte skryf en iewers in die huis opsit.

Dit is belangrik om jou kind se woordeskat uit te brei deur die aanleer van nuwe woorde. Verduidelik die betekenisse van die woorde aan jou kind en vra vir jou kind hoe hy/sy die woord in ‘n sin kan gebruik.  ‘n Goeie woordeskat bevorder beter taalbegrip en leesbegrip.

  1. Alledaagse leergeleenthede

Maak gebruik van alledaagse aktiwiteite om jou kind aan leesgeleenthede bloot te stel. Bv. Vra vir jou kind om die inkopielys te lees of ‘n resep terwyl jy kos maak.

Die sukses van leesontwikkeling word bepaal deur ouers en opvoeders wat op ‘n kreatiewe manier kinders leer om te lees sonder dat hulle blootgestel voel.

Deur: Marietjie de Kock

Hoe lyk my kind se digitale voetspoor en waarom maak dit saak?

 

 

Bewustheid en bestuur van jou digitale voetspoor is belangrik vir ‘n positiewe digitale identiteit.

Konteks

In die digitale era is die internet diep verweef in ons daaglikse bestaan, insluitend die lewe van ons kinders wat in hierdie hoogs gekonnekteerde wêreld grootword.

Net soos volwassenes, laat kinders ook ‘n digitale voetspoor soos hulle sosiale media, aanlyn speletjies, opvoedkundige platforms en verskeie ander toepassings gebruik.

Hul digitale voetspoor is ‘n rekord van al hul aanlyn aktiwiteite en dit is belangrik dat beide kinders en hul ouers die implikasies hiervan verstaan.

Deur ons kinders van digitale voetspore te leer, kan ons hulle help om verantwoordelike aanlyn gedrag te ontwikkel en om hul privaatheid en toekomstige geleenthede te beskerm.

Die verstaan en bestuur van mens se eie digitale voetspoor is ‘n kritiese vaardigheid in die digitale era, wat kan help dat ons kinders met ‘n sterk digitale bewustheid en verantwoordelikheidsin grootword.

Wat is ‘n Digitale Voetspoor?

‘n Digitale voetspoor verwys na die versameling van data wat individue agterlaat wanneer hulle die internet gebruik. Dit sluit alles in — van internetsoektogte en webblaaie wat besoek word tot e-posse wat gestuur word, sosiale media-interaksies, plasings, en aanlyn aankope.

Elke aanlyn aksie dra by tot hierdie digitale voetspoor. Maatskappye kan hierdie data gebruik vir bemarkingsdoeleindes, werkgewers kan dit benut om agtergrondondersoeke uit te voer, en kuberkriminele kan die data misbruik as dit nie voldoende beskerm word nie.

Twee Tipes Digitale Voetspore

1. Passiewe Digitale Voetspoor

‘n Passiewe digitale voetspoor verwys na die data wat oor ‘n gebruiker versamel word sonder hul bewuste toestemming of medewete. Voorbeelde hiervan sluit in webblaaie wat rekord hou van die aantal besoekers, klikke en liggingsdata wat gebaseer is op die gebruiker se IP-adres. Webkoekies wat in die webblaaier gestoor word is ook ‘n algemene voorbeeld van passiewe voetspore.

Hierdie tipe voetspore is dikwels onsigbaar vir die gebruiker, maar kan waardevolle insig verskaf oor hul aanlyn gedrag en voorkeure.

2. Aktiewe Digitale Voetspoor

‘n Aktiewe digitale voetspoor verwys na die data wat ons bewustelik aanlyn deel. Dit sluit sosiale media-plasings, bloginskrywings, foto’s en video’s wat opgelaai word, kommentaar op webblaaie, sowel as enige ander vorm van inhoudskepping en die deel van inhoud met ander in.

Aktiewe digitale voetspore kan tot ‘n groot mate deur die gebruiker beheer word. Dit vereis egter ‘n doelbewuste benadering om hierdie inligting te bestuur en te beskerm. Daarbenewens moet gebruikers seker maak dat die inhoud wat hulle deel, konsekwent is met hul persoonlike en professionele beeld.

Waarom maak Digitale Voetspore Saak?

Sodra data aanlyn geplaas word, is dit baie moeilik om dit weer heeltemal te verwyder. Dit is dus noodsaaklik om digitale voetspore te verstaan, aangesien dit verreikende langtermyngevolge kan hê:

1. Privaatheid

Persoonlike inligting wat aanlyn gedeel word, kan sonder toestemming deur ander gebruik word. Dit kan tot privaatheidskending en selfs identiteitdiefstal lei.

2. Reputasie

Jou digitale voetspoor kan jou reputasie beïnvloed. Onvanpaste plasings of kommentaar uit die verlede kan weer na vore kom en gevolglik skool-, universiteit-, beurs- of werksgeleenthede nadelig raak.

3. Sekuriteit

Kuberkriminele kan jou persoonlike data ontgin en vir bedrogdoeleindes gebruik, wat jou digitale veiligheid bedreig.

4. Veiligheid

Onverantwoordelike aanlyn gedrag kan kinders blootstel aan kuberboeliegedrag en verhoog die risiko van uitbuiting deur aanlyn predatore.

5. Geleenthede

‘n Positiewe digitale voetspoor kan egter ook deure oopmaak—dit bied die geleentheid om jou vaardighede en talente aan potensiële werkgewers of universiteite uit te lig.

Hoe word ‘n Digitale Voetspoor Geskep?

Digitale voetspore kan op verskeie maniere deur kinders geskep word:

1. Sosiale Media

Deel van foto’s en video’s, opdatering van statusse, die lewering van kommentaar en ander interaksies op platforms soos Instagram, TikTok, X (voorheen Twitter), Facebook en SnapChat.

2. Aanlyn Speletjies

Interaksies met ander spelers, aankope binne speletjies en die deel van spelvordering op aanlyn forums dra by tot hul digitale voetspoor.

3. Opvoedkundige Platforms

Deelname aan aanlyn klasse, indien van opdragte, en die gebruik van opvoedkundige toepassings. Laerskool Jan van Riebeeck maak gebruik van die Microsoft 365 Education-platform, wat omvattende maatreëls ingestel het om leerders se privaatheid, sekuriteit en veiligheid te beskerm.

4. Webblaaiergeskiedenis

Elke besoek aan webblaaie, klikke op skakels en internetsoektogte dra by tot hul digitale voetspoor.

5. E-pos, Klets en Boodskappe
Die stuur van e-posse en boodskappe, sowel as deelname aan kletsgesprekke, dra by tot hul digitale voetspoor.

Bestuur en Minimalisering van Digitale Voetspore

Die bestuur van digitale voetspore vereis bewustheid van aanlyn aktiwiteite en die neem van proaktiewe stappe om persoonlike inligting te beskerm. Hier is strategieë wat kinders kan gebruik:

1. Dink voor jy klik

Moedig kinders aan om die langtermyn impak van wat hulle aanlyn deel, in ag te neem. Sodra iets aanlyn geplaas is, kan dit baie moeilik wees om dit weer te verwyder. Ander kan ook maklik skermgrepe neem van enigiets wat aanlyn gepubliseer is. Leer kinders om vooruit te dink oor moontlike gevolge, en om versigtig en respekvol te wees in hul aanlyn optrede.

2. Privaatheidverstellings

Gebruik privaatheidverstellings op sosiale media platforms om te beheer wie toegang tot inligting en plasings het. Maak seker hierdie verstellings word gereeld nagegaan. Kinders moet vermy om publieke profiele op sosiale media te hê.

3. Beperk persoonlike besonderhede

Leer kinders om nie persoonlike inligting soos huisadresse, telefoonnommers, geboortedatums en skoolname aanlyn te deel nie, selfs al vertrou hulle die persoon. Data wat aanlyn gedeel word, kan vinnig na ‘n breër gehoor versprei word en risiko’s verhoog.

4. Gereelde opruim

Verwyder ou aanlyn profiele wat nie meer gebruik word nie, asook plasings, foto’s en video’s wat nie meer relevant is nie. Hierdie praktyk help om die digitale voetspoor klein en hanteerbaar te hou.

5. Gebruik sterk wagwoorde

Moedig kinders aan om unieke, sterk wagwoorde te gebruik om hul aanlyn rekeninge en profiele te beskerm teen ongemagtigde toegang.

Die Rol van Ouers om Digitale Gedrag te Rig

Ouers het ‘n sleuteverantwoordelikheid om hul kinders se digitale gedrag te rig en help bestuur. Hier is hoe dit effektief gedoen kan word:

1. Stel Reëls en Bepaal Grense

Stel duidelike reëls vir die gebruik van die internet, insluitend tydsbeperkings en besluit oor aanvaarbare aanlyn aktiwiteite. Die konsekwente toepassing van hierdie reëls vorm die fondament vir veilige en verantwoordelike aanlyn gedrag.

2. Moniteer Aanlyn Aktiwiteite

Hou ‘n wakende oog oor die webblaaie wat jou kinders besoek, hul sosiale media-interaksies, en die mense met wie hulle aanlyn kommunikeer. Deur hierdie aktiwiteite dop te hou, kan moontlike risiko’s vroeg geïdentifiseer en aangespreek word.

3. Moedig Oop Kommunikasie Aan

Skep ‘n ondersteunende omgewing waar jou kinders gemaklik voel om hul aanlyn ervarings en bekommernisse met jou te deel. Oop kommunikasie kweek vertroue en bevorder samewerking.

4. Bly Self Ingelig

Bly op hoogte van nuwe tendense in tegnologie en aanlyn gedrag. As ‘n ingeligte ouer kan jy relevante en tydige leiding aan jou kinders verskaf en hulle beter beskerm.

5. Stel ‘n Positiewe Voorbeeld

Jou eie aanlyn gedrag behoort verantwoordelikheid en versigtigheid te weerspieël. Deur jou ervarings en benadering met jou kinders te deel, dien jy as ‘n rolmodel wat hulle help om gesonde digitale gewoontes te ontwikkel.

Ter afsluiting, ‘n digitale voetspoor is ‘n onvermydelike aspek van die moderne lewe, veral vir kinders wat grootword in ‘n tegnologiegedrewe wêreld. As ouers speel ons ‘n kritiese rol in die kweek van ‘n generasie van digitaal-verantwoordelike individue wat bewus is van hul aanlyn teenwoordigheid en dit op ‘n positiewe manier kan benut.

 

 

 

DInK-slim © 2025 deur Marié Cruywagen is gelisensieer onder CC BY-NC-SA 4.0 

 Creative Commons Attribution-NonCommercial-ShareAlike 4.0 International