Die wintersportwedstryde is in volle swang en sommer binne die eerste 2 weke van die nuwe kwartaal is skoolaktiwiteite behoorlik aan die gang. Opvallend hoe die wintersportgeleenthede deur ouers/voogde asook oumas en oupas ondersteun word, amper asof dit die skoolgemeenskap nader aan mekaar bring en veral op ‘n Saterdag ervaar ‘n mens die positiewe sportgees en kameraderie onder ouers en voogde. Verlede Vrydagmiddag het ons o.13A hokkiespanne (seuns en dogters) aan ‘n hokkietoernooi te Laerskool Van Riebeeckstrand deelgeneem. Ons spanne het hulle baie goed van hulle taak gekwyt en graag maak ek melding van die dogters wat 2 van die 3 westryde gewen het en hul laaste wedstryde teen Laerskool Van Riebeeckstrand gelykop gespeel het. Ons seunspan het ook net 0 – 1 teen Laerskool van Riebeeckstrand verloor. Laerskool Van Riebeeckstrand is ‘n heelwat groter skool as ons en weereens kon ons kompeterend wees alhoewel ons ‘diepte’ met die aantal spelers beperk is. Op Saterdag, 13 April, het ons netbalspanne aan 33 wedstryde te Laerskole Sunningdale, Tableview en Kampsbaai deelgeneem. Ons wen 20 van die 33 wedstryde, speel 5 gelykop en verloor slegs 8 van die netbalwedstryde – ek dink dit is merkwaardig en wil graag al die netbalafrigters en -spelers hartlik gelukwens met die prestasie.


Ons o.7 – o.13 Rugbyspanne het ook op Saterdag, 13 April, weg teen Laerskool Sunningdale gespeel. Baie geluk aan ons o.13A-rugbyspan wat hul titaniese stryd 24 – 19 gewen het. Ons opposisie het verseker groter seuns gehad met meerderheid gr. 7-leerders terwyl ons span hoofsaaklik uit gr. 6-seuns bestaan. Welgedaan aan ons afrigters, mnre. Erick en André, asook die seuns wat ‘n klipharde wedstryd vir mekaar en die skool gespeel het.

Dit is dan vir my ook aangenaam om nie net oor sport verslag te lewer nie, maar veral dat daar ‘n opwindende tyd vir die skool se Senior Koor voorlê. Dit is vir ons ‘n groot voorreg om die toonaangewende koordirigent, Leon Starker, as deel van ons koorspan te verwelkom. Die toevoeging van sy gespesialiseerde kennis en vaardighede, maak dit moontlik om in samewerking met mnr. Ben en juf. Rolene te streef na nuwe hoogtes. Net soos ons ons sportspyskaart uitgebrei en ‘n nuwe sportkultuur gevestig het, beplan ons ook om ‘n uitnemende koor- en musiekkultuur by Laerskool Jan van Riebeeck te vestig. Leon se fokus en bydrae sal wees om aandag aan die uitbou van spesifieke vaardighede te skenk, wat insluit stemontwikkeling en bladlees. Dus vir ons koorvisie om te realiseer, is dit belangrik om meer oefentyd aan die koor toe te staan en daarom verander ons Senior Koor se oefentye vanaf 16 April soos volg:

Dinsdag: 12:40 – 14:10
Donderdag: 07:45 – 08:15

Ons het hierdie tye spesifiek gekies, en die skool se rooster so aangepas dat dit nie met enige akademie, sport, kultuur of buitemuurse aktiwiteite bots nie. Ons verwag daarom van ons Senior Koorlede om volkome toegewyd te wees en die kooroefeninge getrou by te woon. Ons kan slegs as ‘n gemotiveerde en gedissiplineerde span die doelwit van sukses bereik. Alhoewel harde werk by tye van die koorlede verwag gaan word, weet ons dat ons besig is om te skaaf aan ‘n produk waarop ons as Jannies trots kan wees! Baie dankie dat julle ons ondersteun in die verband en ons sien uit na ‘n blink toekoms vir ons kore, wat skitter met nuwe geleenthede vir optredes, deelname aan Eisteddfods en kompetisies, en moontlike koortoere.

Vanaf 10 – 11 April het ons die jaarlikse interne redenaarskompetisie gehou. Ons gr. 1 – 7-deelnemers het hulle puik van hul taak gekwyt. Ek bly verstom oor ons leerders se selfvertroue, woordeskat en kommunikasievaardighede. Om van so ‘n jong ouderdom te skaaf aan ‘n vaardigheid waar jy die gehoor moet dwing om na jou te luister en van jou standpunt te oortuig, is nie vir almal beskore nie, maar tog slaag ons leerders dit met vlieënde vaandels. Ek glo vas dat redenaars leerders aanspoor om hul breinkrag tot die maksimum te gebruik, veral as hulle skielik ‘n gedeelte van hul toespraak vergeet het, dan moet hulle vinnig op hul voete kan dink en improviseer. Baie dankie en geluk aan juf. Andri wat die redenaars met soveel passie bestuur en ons leerders bemagtig om bekwame sprekers te word.

Môre vind die gewilde Kaperjolle vanaf 12:00 plaas en ‘n mens kon reeds die afgelope week al die opwinding aanvoel. Die leerders kan nie meer wag om aan al die speletjies en vermaak deel te neem nie. Baie dankie aan die OOV-voorsitter, Coreen Scholtz, haar OOV-span asook al die ouers/voogde wat ingespring het om te verseker dat dit weer ‘n reuse sukses sal wees. Kom geniet die kosbare samesyn, straatdiskompetisie en kosstalletjies wat smaaklike disse te kope bied. Die weer gaan ook môre beter as laasjaar saamspeel en ek sien baie uit om julle almal môre by die pretdag vir oud en jonk te ontvang!

Ons skool is so geseënd in baie opsigte as ons na al die suksesse en vooruitgang die afgelope tyd kyk. Laat ons altyd nederig bly. Ek sluit af met die volgende stelling oor nederigheid deur Gordon. B Hinckley en wens ek vir julle ‘n wonderlike Kaperjolle en naweek toe:

“Being humble means recognizing
that we are not on earth
to see how important we can become,
but rather to see how much DIFFERENCE
we can make in the lives of others’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF