Christiaan Cronje verower ‘n medalje in stoeitoernooi

Christiaan Cronje het deelgeneem aan die Gertjie van der Merwe - Spartan Wars Wrestling Toernooi op Saterdag, 22 Februarie 2025. Dit was sy eerste toernooi van die jaar.  Hy het 'n silver medalje in sy ouderdomsgroep verower. Welgedaan Christiaan!    ...

 Geagte Ouers / Voogde – 28 Februarie 2025  

Die laaste dag van Februarie het net te skielik aangebreek, en ek glo dat julle ook met ‘n skok besef dat die tweede maand van die jaar agter die rug is. Februarie is vernoem na die Romeinse god Februus, wat bekend staan as die god van suiwering of reiniging, wat baie insiggewend is. Dikwels gebruik mense die maand van Februarie om hul liggame te detoks na die heerlike feestyd oor Desember- en Januarie-maand. Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat op Vrydagaand, 21 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Ouers/voogde en leerders het, soos gewoonlik, in groot getalle opgedaag. Die weer het saamgespeel, en met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat ons omring, maak Conradieveld seker een van die mees idilliese liggings om ‘n klasbraai te hou. Baie dankie aan die personeel wat, na die lang sportweek, die moeite gedoen het om ook die spesiale aand by te woon en heerlik saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit dan ook ons Gr. 1-ouers/voogde se eerste amptelike klasbraai by die laerskool, en dit was opvallend hoe die heerlike samesyn die geleentheid gekenmerk het, terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is. Op ‘n baie hartseer noot het een van ons skool se oud-onderwysers, naamlik juf. Vicky Taljaardt, op Vrydag, 21 Februarie, afgesterf. Juf. Vicky was ‘n opregte Jan van Riebeecker in murg en been. Sy het vir baie leerders, kollegas en mense so baie beteken. Sy was ‘n toegewyde en deernisvolle onderwyser wat altyd die spreekwoordelike ekstra myl vir haar leerders en kollegas gestap het....

Beoogde Projek – Sportopgradering 2025 

Ons is baie opgewonde om aan te dui dat ons vanaf 25 April tot 12 Mei ons mini-sportveld (agter die skool) na ‘n veeldoelige kunsgrasbaan gaan opgradeer. Die kunsgrasoppervlakte sal ons in staat stel om daarop sport te beoefen, en dit kan ook die ‘verkeer’ van leerders dra wat daarop voor skool, tydens pouses en na skool speel. Dit beteken dat die sportaanbod verder ondersteun word, aangesien ons daarop twee mini-hokkievelde gaan aanbring, wat die hokkieleerders se vaardigheidsvlakke verder sal ontwikkel. Die projek word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Opvoedingtrust, wat gefinansier word uit die fondse van ons mees onlangse skoolveiling. Dit sluit ook die gawe hand van Gerhard Conradie in, wat die grond- en siviele werk van die projek gaan hanteer en borg. Baie dankie, Gerhard – ons waardeer dit baie. Verder wil ons graag die fasiliteite opgradeer met ‘n volledige sportsentrum wat pawiljoene, kleedkamergeriewe en ‘n mini-klubhuis insluit. Dit sal ook ruimte in die skoolgebou maak vir ons kultuuraanbod. Hierdie projek sluit ook die plaveisel agter onder die bome in om die hele area esteties mooi af te rond. Sien aangeheg ons droomplan, soos ontwerp deur Stephen Hitchcock (argitek), wat op ons Beheerraad dien. Ons nooi graag enige belangstellende ouers en voornemende donateurs wat ‘n bydrae sal oorweeg, om met my (skoolhoof@jvrprim.co.za) kontak te maak. Ons het reeds ‘n bedrag geld vir die projek opgesyfer en kan dit in twee fases aanpak. Dit sal vir ons ‘n idee gee of ons nou fase 1 aanpak of die volledige projek. Laat my toe om Stephen Hitchcock hartlik te bedank vir die puik ontwerp van die droomplan,...

Huldeblyk aan oud-onderwyser: Vicky Taljaardt

Vicky is sedert Januarie 1991 `n onderwyseres by Laerskool Jan van Riebeeck. Sy het einde 2016 afgetree. Ek het in Januarie 1994 as skoolhoof by Laerskool Jan van Riebeeck begin en baie gou het ek vir Vicky leer ken as ‘n baie deernisvolle persoon wat veral baie omgegee het vir die ‘afvlerkleerders.’ Sy het die senior leerders met spesiale onderwys-behoeftes onderrig. (vroeër is dit spesiale klasse genoem) Beide Laerskool - en  Hoërskool Jan van Riebeeck het vir haar baie na aan die hart gelê en sy was in murg en been `n Jan van Riebeecker. Sy was vanaf graad 8 (standerd 6) tot matriek in Hoërskool Jan van Riebeeck….`n Karoomeisie wat in die meisieskoshuis (Die Sop) tuisgegaan het. Alle prestasies van leerders en oud-leerders van beide skole het haar baie trots gemaak. Sy was trots op hulle skooluniforms en hulle geprys as hulle netjies was (buite die skoolterrein) en hulle ook streng aangespreek as die uniform nie netjies of korrek was nie. Vicky was ‘n baie gewilde personeellid en was altyd omring deur personeellede en leerders.  Oud-leerders het gereeld die skool besoek en altyd gevra of hulle gou eers by juffrou Vicky kan gaan inloer. Sy het tot en met haar afsterwe baie kontak gehad met baie van haar oud-leerders en was baie trots op hulle prestasies, al was dit hoe gering. Sy het dit altyd gedeel met die personeel. Wat `n geliefde mens! Vicky was ook baie betrokke met die organisasie van haar skooljaargroep se Alumni-funksies. Hulle is nog steeds ‘n groep wat gereeld bymekaarkom en gesellig verkeer. Sy gaan voorwaar ‘n groot leemte agterlaat! Sy was ook...

Eisteddfod inskrywings sluit 4 Maart 2025

Liewe JvR en Huppelland-ouers Die Eisteddfod inskrywings is oop en sal binnekort op Karri gelaai word vir betalings. Die Eisteddfod sal einde Mei by ons skool plaasvind en beloop R110 per item. Gr. R is ook welkom on in te skryf vir voordrag (gedig). Gr.1 en 2 kan aan voordrag (gedig) deelneem, gr. 3 aan voordrag en onvoorbereide lees en gr. 4-7 aan voordrag, onvoorbereide lees en prosa. Ek stuur 'n  skakel na 'n vorm wat ingevul moet word hier onder. Indien jy meer as een kind wil inskryf, vul asb. die vorm vir elke kind apart in. Die inskrywings sluit 4 Maart en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Ek sal elke leerder met hul keuses en afrigting help. Lekker dag! Groete, Jana...

 Geagte Ouers / Voogde – 21 Februarie 2025

Hierdie week het vier Nederlandse proefstudente vanaf Saxion Universiteit in Enschede by ons skool aangesluit. Hulle is almal derdejaar-onderwysstudente en doen by ons ‘n internskap tot einde April 2025. Gedurende hierdie tydperk ontvang hulle opdragte/projekte van hul universiteit om vir hul studies te voltooi saam met die proeftydperk en praktiese ondervinding wat hulle by ons kom aflê. Aangesien hulle ook by uitreikprojekte in minder bevoorregte areas betrokke gaan wees, sal hulle slegs drie dae per week by ons skool wees. Hierdie ooreenkoms met die universiteit gee weer vir ons as skool blootstelling aan hul leer- en onderrigmetodiek. Baie welkom aan die volgende vier Nederlandse onderwysstudente wat almal studeer om laerskoolopvoeders te word, en mag hulle horisonne by ons verbreed word terwyl ons ook van hulle kan leer: Pien van Dam Robin Groot Rouwen Jette Somsen Kaylee Taken Ons is so opgewonde om die bogenoemde vier oorsese studente by ons te akkommodeer, want ons weet dat ons leerders en personeel met hul besoek aan ons ‘n breër perspektief van onderwys en opvoeding in Nederland sal kry. Hierdie uitruil-ooreenkoms stel ons in staat om ‘n eerstewêreld-metodiek van leer en onderrig direk in ons klasse te ervaar. Hulle gaan verseker ook ons kulturele diversiteit verder verryk, en ons gaan ‘n dieper begrip van hul denkwyses en kultuur ervaar. Op Dinsdag, 18 Februarie, het ons skool weer die jaarlikse Interskole Atletiekbyeenkoms by Hoërskool Jan van Riebeeck se sportveld aangebied, en 53 van ons atlete het deelgeneem. Baie dankie en baie geluk aan mnr. Leon en sy span met die suksesvolle atletiekdag waaraan ses skole deelgeneem het. Baie geluk aan die volgende 23 atlete...

Interskole Atletiekbyeenkoms Uitslae

Op Dinsdag, 18 Februarie, het ons aan die jaarlikse interskole atletiekbyeenkoms deelgeneem. Dit was 'n heerlike dag waar meer as 450 atlete van 10 skole deelgeneem het. Ons het die dag baie goed begin deur 5 van die 8 langafstand-wedlope te wen. Daarna het ons atlete baie mooi presteer op die baan en veld. Ons kondig nie 'n wen-skool aan die einde van die dag nie, maar as ons na die punte kyk na afloop van die dag, sou Jan van Riebeeck met die loure weggestap het. Baie geluk aan Leah Jacobsz wat die beker verower het vir die beste dogter-atleet op die dag. Baie dankie aan al ons onderwysers wat op die dag diens gedoen het om te verseker dat dit 'n uiters suksesvolle dag was. Sien volledige uitslae hier:  23 van ons atlete het gekwalifiseer om aan die Zone-kampioenskappe deel te neem. Dit vind Saterdag, 22 Februarie by Vygieskraal plaas. Ons hou vir al die atlete duim vas en weet almal sal hulle beste...

Somersokkie: 19 Maart 2025

Dis weer tyd vir 'n somersokkie! Sien meer inligting hier onder: Neem asseblief kennis dat kaartjieverkope op Karri, Maandag, 17 Maart sluit. Bestel jou kaartjie sommer nou!

SENIOR KOOR MCC – “Rehearsal” Program

Sien die oefensessieprogram(Rehearsal session) vir Mzanzi Conductor’s Convention by die CTICC hier onder: [pdf-embedder url="https://laerskooljanvanriebeeck.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Rehearsal-session-MCC-Convention-Choirs.pdf" title="Rehearsal session MCC Convention...

SENIOR KOOR: MCC 14-16 Maart 2025

Mzanzi Conductor’s Convention by die CTICC: 14 - 16 Maart 2025 Beste Ouers, Die naweek waarvoor die koor so hard oefen en voorberei, is om die draai. Tydens die MCC gaan ons senior koor deel vorm van die MCC Kinderkoor wat saamgestel word uit vier kinderkore: Tygerberg Kinderkoor, Pietermaritzburg Kinderkoor, Cantaré Kinderkoor, en die Laerskool Jan van Riebeeck Senior Koor. Die MCC Kinderkoor gaan onder leiding van die bekende Kanadese kinderkoor dirigent, Zimfira Poloz, vanaf Vrydag, 14 Maart, tot Sondag, 16 Maart, werk. Die leerders se toewyding en harde werk word dan Sondag, 16 Maart @ 13h45, tydens die Convention Choirs Showcase ten toon gestel. Dit is defnitief ‘n geleentheid wat julle nie wil misloop nie! Deel van hierdie konvensie sluit verskeie optredes deur plaaslike en internasionale kore in. Ek heg die program vir die naweek aan, en moedig almal aan om die geleentheid te gebruik om na hierdie briljante kore te luister. Ons koorlede sal toegang hê tot hierdie konserte, maar familie en vriende sal vooraf kaartjies moet koop om dit by te woon. Kaartjies kan op die MCC se webtuiste gekoop word by die volgende skakel https://tickets.tixsa.co.za/events/26842  OF stuur vir my ‘n epos (rolene@jvrprim.co.za) om kaartjies teen ‘n goedkoper prys te kry: R120 volwassenes en R75 vir kinders en pensionarisse. Hierdie aanbod is slegs geldig tot 10 Maart. Hier is ‘n lys van die konserte waarvoor julle kaartjies kan koop. Ons senior koor tree op in die Convention Choirs Showcase op Sondag, 16 Maart: Die koor gaan lang ure by die CTICC spandeer, maar ons vertrou dat die naweek ‘n besonderse belewenis vir elke kind sal wees....

Belangrike Datums

julie 2026

29jul00:0023:59Rugby: Fanie Theron (WEG) - Almal

29jul00:0023:59Netbal: Tableview (TUIS) - Almal

31jul00:0023:59Quiz-aand: Bring & Raai

31jul00:0023:59TOETS: Afrikaans (Gr.5&7)

31jul00:0023:59o.9 Hokkietoernooi

31jul00:0023:59TOETS: Engels (Gr.4&6)

31jul00:0023:59Sivvies

Wys Meer

augustus 2026

31jul00:0023:59Quiz-aand: Bring & Raai

31jul00:0023:59TOETS: Afrikaans (Gr.5&7)

31jul00:0023:59o.9 Hokkietoernooi

31jul00:0023:59TOETS: Engels (Gr.4&6)

31jul00:0023:59Sivvies

01aug00:0023:59Netbal & Rugbytoernooi (o.7-o.9)

02aug(aug 2)16:0004(aug 4)17:00EXCO-Strat

03aug(aug 3)00:0008(aug 8)23:59Hs JvR JanArte Kunstefees

03aug18:0018:00Hs JvR - Tafelbergkoorfees

04aug00:0023:59Rugby: o.9 & o.13 Bishops (WEG)

04aug18:0018:00Reddam Sings - Junior Koor (Constantia)

september 2026

31aug00:0023:59GEEN SPORT

01sep00:0023:59GEEN SPORT

02sep19:0020:00Laerskool JvR Kore en Tjeggiese Kinderkoor (Ls JvR)

03sep00:0023:59Jannies vir Jesus

03sep00:0023:59Wintersporttoer o.13B

04sep00:0023:59TOETS: EBW (Gr.7)

05sep09:0013:00SING. MOVE. PLAY. CONNECT

07sep00:0023:59Somersport Begin

08sep00:0023:59Dolinda (Nasorg) Verjaar

08sep08:0008:00Kaapse Afrikaanse Eisteddfod - Junior Koor