Die laaste dag van Februarie het net te skielik aangebreek, en ek glo dat julle ook met ‘n skok besef dat die tweede maand van die jaar agter die rug is. Februarie is vernoem na die Romeinse god Februus, wat bekend staan as die god van suiwering of reiniging, wat baie insiggewend is. Dikwels gebruik mense die maand van Februarie om hul liggame te detoks na die heerlike feestyd oor Desember- en Januarie-maand.

Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat op Vrydagaand, 21 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Ouers/voogde en leerders het, soos gewoonlik, in groot getalle opgedaag. Die weer het saamgespeel, en met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat ons omring, maak Conradieveld seker een van die mees idilliese liggings om ‘n klasbraai te hou. Baie dankie aan die personeel wat, na die lang sportweek, die moeite gedoen het om ook die spesiale aand by te woon en heerlik saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit dan ook ons Gr. 1-ouers/voogde se eerste amptelike klasbraai by die laerskool, en dit was opvallend hoe die heerlike samesyn die geleentheid gekenmerk het, terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is.

Op ‘n baie hartseer noot het een van ons skool se oud-onderwysers, naamlik juf. Vicky Taljaardt, op Vrydag, 21 Februarie, afgesterf. Juf. Vicky was ‘n opregte Jan van Riebeecker in murg en been. Sy het vir baie leerders, kollegas en mense so baie beteken. Sy was ‘n toegewyde en deernisvolle onderwyser wat altyd die spreekwoordelike ekstra myl vir haar leerders en kollegas gestap het. Haar gedenkdiens het op Woensdag, 26 Februarie, vanuit die NG Kerk Drieankerbaai om 11:00 plaasgevind. Dit is deur ds. Andries Cilliers behartig, met ‘n besonderse boodskap oor die liefde en omgee wat juf. Vicky vir haar medemens en diere gehad het. Ons vorige skoolhoof, mnr. Oosthuizen, wat baie goed met haar bevriend was, het ‘n spesiale huldeblyk oor haar merkwaardige lewe gelewer, en so is haar lewe tydens die gedenkdiens op ‘n gepaste wyse gevier. Ons medelye en gebede is met die familie. Mag sy sag rus. Vicky gaan verseker baie gemis word.

Ons skoolgebou en -terrein is sedert Woensdag, 26 Februarie, aansienlik stiller aangesien ons Gr. 7’s en 5’s weg op kampe (onderskeidelik te Franschhoek en SOS) is. Ons Gr. 7’s en 5’s is reeds vanaf Maandag baie opgewonde, en hulle kon net eenvoudig nie wag dat Woensdag moes aanbreek nie. Skoolkampe speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van leerders en bied die ideale geleentheid om leerders uit ‘n bekende en gemaklike omgewing te neem en bloot te stel aan ‘n onbekende natuuromgewing wat gestruktureerd, veilig en vriendelik is. Terwyl hulle die natuur verken, word hul karakter gebou, kommunikasievaardighede en spanwerk verbeter, en emosionele- en leierskap eienskappe ontwikkel. Hier is dus net ‘n wen-wen-situasie wat gepaardgaan met tonne pret, waar hulle beslis hulself kan wees en ander leerders sowel as hulself beter leer ken. Hulle gaan dus leer wat dit beteken om as ‘n span saam te werk en op die regte tye vir mekaar spasie te gee. Skoolkampe sal altyd ‘n onvergeetlike deel van ‘n leerder se skoolloopbaan wees, waar hulle dikwels bewustelik en onbewustelik waardevolle lewenslesse leer. Dit is natuurlik ook die Graad 5’s se eerste skoolkamp. Ek glo dit het dalk ‘n paar mamma-harte baie angstig gemaak, maar wees verseker, jou kind(ers) gaan baie pret saam met hul maats hê, en hulle is heel moontlik salig onbewus van die ouerverlange. Gaan bederf gerus die ‘kampers’ vanmiddag of oor die naweek na afloop van hul terugkeer by die skool. Ek glo hulle kan nie wag om hul nuwe kampervarings en -avonture met julle te deel nie. Laat my ook toe om die opvoeders wat ons leerders tydens die skoolkampe vergesel het, hartlik te bedank dat hulle so mooi na ons Jannies omgesien het.

Die Sone-Atletiekbyeenkoms het op Saterdag, 22 Februarie, te Vygieskraal plaasgevind. Die volgende nege atlete het vir die WP-Atletiekbyeenkoms, wat op Donderdag, 27 Februarie, te Groenpuntstadion plaasgevind het, gekwalifiseer:

  • Louis Hofmeyer
  • Matteo Pereira
  • Leah Jacobsz
  • Stef Nel
  • Anabella Boshoff
  • Carter Schoeman
  • Nils le Roux
  • Jack Dawes
  • Ynes Samba Kambassidi

Baie geluk aan die bogenoemde atlete, ons is baie trots op julle en ons hou styf duimvas! Baie dankie aan mnre. Leon, André en Dian wat ons atlete op Saterdag vergesel het. Ons is julle baie dankbaar.

Geniet ‘n heerlike naweek saam met jul gesinne en sterkte aan die senior koor wat môre aan ‘n koorkamp ter voorbereiding vir die Mzansi Conductors Convention gaan deelneem, wat vanaf 14 – 16 Maart plaasvind. Môre gaan die Dapper Stappers saam met die uitreikleerders die strande van Bloubergstrand-area help skoonmaak. Daar vind ook netbalwedstryde asook mini-krieket plaas – sterkte aan almal betrokke.

Ek sluit dan die week af met ‘n onbekende aanhaling rakende respek, een van ons skool se kernwaardes:

“Treat people the way you want to be treated.

Talk to people the way you want to be talked to.

Respect is earned, not given.”

Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF