Vicky is sedert Januarie 1991 `n onderwyseres by Laerskool Jan van Riebeeck. Sy het einde 2016 afgetree. Ek het in Januarie 1994 as skoolhoof by Laerskool Jan van Riebeeck begin en baie gou het ek vir Vicky leer ken as ‘n baie deernisvolle persoon wat veral baie omgegee het vir die ‘afvlerkleerders.’ Sy het die senior leerders met spesiale onderwys-behoeftes onderrig. (vroeër is dit spesiale klasse genoem)
Beide Laerskool – en Hoërskool Jan van Riebeeck het vir haar baie na aan die hart gelê en sy was in murg en been `n Jan van Riebeecker. Sy was vanaf graad 8 (standerd 6) tot matriek in Hoërskool Jan van Riebeeck….`n Karoomeisie wat in die meisieskoshuis (Die Sop) tuisgegaan het.
Alle prestasies van leerders en oud-leerders van beide skole het haar baie trots gemaak. Sy was trots op hulle skooluniforms en hulle geprys as hulle netjies was (buite die skoolterrein) en hulle ook streng aangespreek as die uniform nie netjies of korrek was nie.
Vicky was ‘n baie gewilde personeellid en was altyd omring deur personeellede en leerders. Oud-leerders het gereeld die skool besoek en altyd gevra of hulle gou eers by juffrou Vicky kan gaan inloer. Sy het tot en met haar afsterwe baie kontak gehad met baie van haar oud-leerders en was baie trots op hulle prestasies, al was dit hoe gering. Sy het dit altyd gedeel met die personeel. Wat `n geliefde mens!
Vicky was ook baie betrokke met die organisasie van haar skooljaargroep se Alumni-funksies. Hulle is nog steeds ‘n groep wat gereeld bymekaarkom en gesellig verkeer. Sy gaan voorwaar ‘n groot leemte agterlaat!
Sy was ook vir baie jare in beheer van die uitverhuring van die laerskool se klubhuis op die Conradieveld en het haar ongelooflik goed van haar taak gekwyt!
Sy was ‘n mense-mens wat altyd haar medemens eerste gestel het, altyd kontak gehou met oud-personeellede en oud-leerders. Haar vriendekring was groot, maar sy het elkeen op die hande gedra. Sy het ‘n ongelooflike algemene kennis gehad en was altyd op hoogte van wêreldgebeure!
Op ‘n persoonlike noot was Vicky en Okkie, haar man, wat in Mei 2022 oorlede is, baie goeie vriende van my en Marianna. Sy was ook die een wat ons sommer vroeg na my aanstelling deel gemaak het van hulle vriendekring waarvan nog baie van hulle ons beste vriende is.
Vicky het diep spore in die geskiedenis van die twee skole getrap. ‘n Groter en meer lojale Jan van Riebeecker sal daar nie gou weer wees nie!
Geskryf deur:
Mnr. Johan Oosthuizen, voormalige Skoolhoof