Kategorie: Algemeen
Dit is met groot trots dat ons met julle deel dat Aiyana Alfredo, Gr. 6DV, WP Kleure in akrobatiese dans-sport verwerf het.
Sy het vanaf Donderdag, 15 Mei tot Saterdag, 17 Mei deelgeneem aan die Akrobatiese Solo-dans Sport Assosiasie se WP proewe en het die 3de plek behaal in beide die distrik en inter-distrik kompetisies vir ”Level 5 u/13″. Sy het toe ook gekwalifiseer vir WP en sal in Julie deelneem aan die Nasionale Kampioenskappe in Johannesburg.

Een van ons oudskoliere, Katja de Villiers (tans Graad 11 in Hoër Meisieskool Bloemhof) speel tans vir WP se o/17 en o/21 raakrugby (“touch rugby”) spanne. Sy is onlangs as “Touch Bok”
gekies om Suid-Afrika by die “Atlantic Youth Touch Cup” in Limerick, Ierland te verteenwoordig. Die toernooi vind vanaf 31 Julie tot 3 Augustus 2025 plaas waar sy vir die o/18 span gaan uitdraf.
Poppy Frames is besig met ‘n promosie op blokmontering (sien meegaande advertensie) ten bate van Katja se fondsinsameling om in Ierland te toer.


Liewe ouers,
Jan Kas moet ongelukkig dringend ‘n voorraadopname doen en sal dus volgende week gesluit wees.
Geen items sal tydens hierdie paar dae aanlyn, of in die winkel, gekoop kan word nie. Maak asseblief seker dat jou kind alle nodige sport en winterklere het voor Dinsdag. Die laaste bestellings vir die week sal Dinsdagoggend afgelewer word.
Voorraadopname vind plaas:
Dinsdag, 20 Mei @ 08:00 – Vrydag, 23 Mei @ 10:00
Ons vra omverskoning vir enige ongerief.
Groete,
Jan Kas Span
Kristi Perez-Snyman het onlangs ’n merkwaardige mylpaal in haar hoogspringloopbaan bereik.
Tydens die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskappe het sy die vroue-hoogspringtitel verower met ’n sprong van 1.88 meter – haar persoonlike beste én ’n nuwe skoolrekord.
Haar deurlopende verbetering en onlangse nasionale titel getuig van haar toewyding en talent in hoogspring. Baie geluk aan Kristi Perez-Snyman met hierdie uitstaande prestasie!
Foto uit: judolphins.com
Nini, ’n oulike twee maande oue Fox Terrier-hondjie, is op soek na ’n liefdevolle vir altyd-huis. Sy word tans met groot sorg ge’foster’ deur die gesin van Annabel Brink (Graad 5).
Sy is regtig ’n oulike hondjie – speels, vol liefde, en altyd lus vir geselskap! Nini is ’n uitstekende stap- en drafmaat, maar verkies ’n skoot wanneer sy nie speel nie. Sy is mal oor mense en sal met haar sagte persoonlikheid enige hart vinnig steel.
As jy of iemand wat jy ken vir Nini ’n warm, veilige huis kan bied, kontak asseblief Deane Brink by brinkdeane@gmail.com of 0764558002.
Help ons om hierdie spesiale hondjie haar perfekte tuiste te gee! ????????

Tydens verlede week se vakansie het tien ywerige dogters skool toe gekom om te leer hoe om op ’n naaldwerkmasjien te stik.
Gedurende hierdie vierdag-kursus het elke leerder geleer hoe om lap te kies, te meet en te knip, en dan ook hoe om haar eie masjien te ryg en te gebruik. Die leerders het vinnig besef dat naaldwerk nie net kreatiwiteit verg nie, maar ook veerkragtigheid en hope geduld.
Na die vier dae kon hulle spog met unieke lapprodukte wat hulle weer en weer sal kan maak – linte-‘scrunchies’, groot vloerkussings, pennesakkies en rygsakke (‘string bags’).
Oor die jare het al 28 Jannies hierdie beginnerskursus bygewoon. My onderwyserhart bars van trots wanneer ek foto’s ontvang van ons leerders wat steeds tuis aanhou bou aan hulle naaldwerkvaardighede. My wens is dat hulle hierdie talent nog vir baie jare sal koester.
Naaldwerkgroete
Juf. Marianne Conradie

Ons splinternuwe voorraad sysakkies met die nuwe embleem is nou beskikbaar in Jan Kas!
Beskikbaar in winkel én aanlyn – koop maklik van waar jy ook al is!
Koop HIER aanlyn.

‘n Groepie Jannies het verlede week aan die Nippers Surf Lewensredding SA-kampioenskappe in Gqeberha deelgeneem. Die spanlede was Alexander Weideman, Nils le Roux, Sebastian en Luc Zietsman, Lukas Loubser en Finley le Roux.
Vir drie dae lank moes ons mannetjies hul staal wys in verskeie hardloop-, swem- en Malibu-reddingsborditems en -kombinasies. Lukas het ’n bronsmedalje in die langafstandstrandresies verower, terwyl Nils medaljes in strandnaellope, vlaggies, Taplin-aflos en strandaflos ingepalm het.
Die Zietsmans, saam met Finley en Lukas, het die “Mad Dog”-toekenning ontvang deur aan álle items deel te neem. Lukas het dit selfs verder geneem deur vir nóg drie dae aan die volledige Stilwater Lewensredding-kompetisie deel te neem. Daar het hy sy persoonlike beste in die 100 m-swem met ses sekondes verbeter!
Baie geluk aan hulle met hul vasberadenheid en indrukwekkende prestasies!

Help ons om ‘n verskil te maak – gee jou ou sporttoerusting ‘n tweede lewe!
Het jy dalk ‘n bal, kolf of raket wat al ‘n rukkie stof staan en vergaar? Ons almal het daardie sporttoerusting wat net in ‘n kas weggebêre is — gaan loer gerus en kyk wat jy kan opspoor!
Ons wil graag ons buurskool, wat tans deur moeilike tye gaan, help deur bruikbare sporttoerusting aan hulle te skenk.
Wat soek ons?
Ou, maar steeds bruikbare sporttoerusting soos balle, kolwe, rakkette – en enigiets anders wat nog in ‘n goeie toestand is.
Waarheen?
Bring jou donasie na Juffrou Michelle Compion se klaskamer.
Wanneer?
Ons versamel van Maandag 5 Mei tot Vrydag 13 Mei.
Laat ons saamwerk en sport pret vir almal moontlik maak!

Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026




