Kategorie: Algemeen
Hartlike welkom terug by die skool na die heerlike kort Oktober-vakansie. Ek glo almal het die ruskansie terdeë geniet en hul spreekwoordelike ‘batterye’ herlaai sodat ons as skoolgemeenskap die laaste kwartaal die bul by die horings kan pak.
Dit is natuurlik Oktober-maand: die mooiste, mooiste maand veral in Kaapstad met die langverwagte arrivering van die heerlike sonnige weer terwyl Moeder Natuur haar winterkloue stadig maar seker uit die Moederstad onttrek. Ek kan nie anders as om in die maand na C. Louis Leipodlt se pragtige gedig te verwys nie, want dan is alles mos so mooi, vars en nuut terwyl die voeltjies tjirp vanaf vroeg soggens tot laat saans vol lewenslustigheid:
Viooltjies in die voorhuis – Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies oral op die veld,
En oral, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!
Op hierdie pragtige noot van ‘mooimaak’, glo ek dat julle waargeneem het dat daar ook hard tydens die vakansie aan die volgende twee opwindende projekte gewerk is:
- Die sportveld, plaveisel en teerwerk (agter die skool): Die gras op die uitgebreide sportveldjie het baie mooi gevestig en ons kan die ‘nuwe’ spasie nou baie meer doeltreffend aanwend. Die plaveisel onder die bome naaste aan die uitgang dra by tot die estetiese effek van die hele projek. Hier gaan ons nuwe bankies vir leerders, ouers en personeel plaas om sommer lekker voor-, tydens en na skool te ontspan. Die teerwerk is op Saterdag, 08 Oktober, onder die wakende oog van Gerhard Conradie perfek voltooi. My mond het letterlik oopgehang terwyl ek die indrukwekkende proses aanskou het. ‘n Baie fyner tipe teer is gebruik en met moderne toerusting en kompakteerde rollers (‘bomag’ rollers) perfek gevestig om die gladde oppervlakte te bewerkstellig. Gerhard Conradie ons salueer jou vir wat jy alles vir die skool doen.
- Die Opgradering van die Vierkant: Die projek het op Maandag, 03 Oktober 2022, begin en sal ongeveer 2 maande duur. Hierdie area is vir die tydperk buite perke vir leerders, personeel en ouers tot verdere kennisgewing. Ons is baie opgewonde oor hierdie projek om onder andere esteties die vierkant aan te spreek sodat ons dit in die toekoms meer effektief vir buitelugfunksies asook netbalwedstryde kan gebruik. Die befondsing van die vierkant geskied deur die opbrengs van die veiling vanjaar.

Ons het ook ‘n nuwe tellingbord op die Conradieveld te danke aan ouers se borgskappe opgerig. Dit gaan verseker baie help in die toekoms! Baie dankie aan almal wat ‘n bydrae gelewer het.

Kwartaal 3 is op ‘n hoogtepunt d.m.v die konsert afgesluit en gesprekke hieroor gaan nog lank duur. Die laaste dag van kwartaal 3 is tradisoneel met ‘n saalbyeenkoms afgesluit waartydens ons die Gr. 7’s se Top 10 akademiese presteerders vir kwartaal 3 aangekondig het. Die Top 10-leerders het elk ‘n spesiale sertifikaat ontvang om erkenning aan hul harde werk en pligsgetrouheid te gee. Ons glo dat dit ook die res van ons Jannies sal inspireer om skouer aan die wiel te sit en verantwoordelikheid vir hul eie leer te neem. Hiermee dan die Graad 7’s se Top 10 akademiese presteerders (alfabetiese volgorde) soos einde kwartaal 3:
- Lara Basson
- Lea Basson
- Mia Janse van Rensburg
- Liza Hitge
- Adele Holtshauzen
- Luja Marx
- Kate Mouton
- Elsabé Scholtz
- Cara Swanepoel
- Emke van Wyk
- Nell von Lieres
- Owen Wiese
Welgedaan aan die bogenoemde leerders, julle maak ons baie trots.
Baie geluk aan Susan van der Walt wat formeel tot die Beheerraad as Tesourier verkies is! Dankie vir die werk wat sy alreeds as gekoöpteerde lid verlede kwartaal vir die Beheerraad gedoen het.
Ek wens almal ‘n wonderlike laaste kwaartaal toe en sluit af met die volgende aanhaling van Hussein Nishah wat op ons waarde vir die laaste kwartaal fokus, naamlik Respek.
“Treat people the way
You want to be treated.
Talk to people the way you want to be talked to.
Respect is earned,
Not given.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Ons sien vreeslik daarna uit om die grootouers van ons pragtige leerders te verwelkom wat die oupa- en oumabederfoggend op Vrydag, 14 Okt., om 10:00 – 12:00 in ons skoolsaal bywoon.
Anders as by Huppelland kan ons ongelukkig net ‘n sekere aantal sitplekke (150) beskikbaar stel. Ons oupa- en oumabederfdag is nie van so ‘n aard dat grootouers saam met hul kleinkinders tee drink nie. Indien jy dalk onder hierdie indruk was en ‘n kaartjie beskikbaar is a.g.v. ‘n kaartjie wat vir ‘n kleinkind gekoop is, moet jy my (marinda@jvrprim.co.za) dadelik kontak om vir iemand anders plek te gee om die geleentheid by te woon.
Belangrike inligting om van kennis te neem:
- Niemand mag op die nuwe sportveld parkeer nie. Parkeer gerus op die plekke wat agter beskikbaar is.
- Aangesien ons tans met verbouings aan die vierkant besig is, maak ons Raché Turner se klas beskikbaar as die deurloopklas om maklik na die saal te stap. Dit is die klas naaste aan die trappe by die tennisbane. Daar sal graad 7-leerders wees wat aanwysings gee.
- Die oggend behels ‘n koppie tee/koffie met ‘n eetdingetjie rondom ‘n gedekte tafel waar lekker samesyn sal seëvier. Graad 7’s sal as kelners optree om die koffie en tee te bedien.
- Daar is ‘n program wat gevolg word met onder andere albei kore (Junior en Senior) wat as vermaak sal optree.
- Nadat die program afgehandel is, sal daar ‘n geleentheid vir foto’s gebied word waartydens grootouers en hul kleinkinders wat in die skool is, afgeneem kan word. Die kinders sal vanuit hul onderskeie klasse geroep word wanneer die tyd vir foto’s aanbreek.
- Grootouers mag gerus hul Grondslagfase kleinkinders (gr. 1-3) se klasse na afloop van die geleentheid besoek. Die kinders mag dan ook saam met hul grootouers huis toe gaan, mits die klasonderwysers daarvan kennis dra.
Ons is opsoek na ‘n OOV-voorsitter vir 2023. Ria Hertzog het die afgelope 2 jaar as OOV-voorsitter opgetree en is gereed om hierdie leisels aan ‘n opvolger te oorhandig. Ons is uiters dankbaar vir die tyd en inisiatief wat Ria aan ons skool gewy het.
Stuur gerus nominasies direk aan Naas Beets (skoolhoof@jvrprim.co.za). Ons beplan om oor ‘n paar weke ‘n aanlyn OOV-verkiesing te hou waartydens die voorsitter verkies sal word. Ons nooi almal hartlik uit om hieraan deel te neem. Hou die nuusbrief dop vir die datum waarop die verkiesing sal plaasvind.
Ek glo dat almal wat die konsert die afgelope 2 weke bygewoon het, sal saam stem dat die konsert instrumenteel was om die kwartaal op die perfekte noot af te sluit. Die gala-aand van die konsert verdiskonteer vir my al die hoogtepunte (akademie, kultuur en sport) van ‘n uiters suksesvolle kwartaal. Ôsim (Ons Seelewe is Magic) was soveel meer as ‘n konsert. Ek is vas oortuig dat dit eerder ‘n skouspel was en dat daar nog lank daaroor gepraat word.
Ôsim kon net suksesvol aangebied word deur ‘n spanpoging van mnr. Ben, juf. Jana, personeel, leerders en ouers. Die detail in die kostuums, grimering en voorportaal was kleurryk en verruklik. Die teks vervat komtemporêre uitdagings en die musiekkeuse van elke graad was perfek en het die boodskap van die gevare van seebesoedeling effektief oorgedra. Ôsim het aand na aand soveel opwinding en energie opgelewer. Hierdie skouspel het verseker dat alle konsertgangers met ‘n breë glimlag die skoolterrein verlaat het, vol geesdrif en positiwiteit. Die konsert het beslis daai lekker en trotse gevoel vir almal gegee. Opvallend was hoe die leerders hulself tydens die konsert behoorlik ingeleef het en die ondervinding terdeë geniet het. Die standaard is gestel en ons sien uit na die volgende opwindende konsert wat vir 2024 beplan word – hou die spasie dop!
As ons oor kwartaal 3 reflekteer en ons wil dit op ‘n manier evalueer, is die vraag: “Kyk ons slegs na prestasie op akademiese-, kulturele- en sportgebied?” Is prestasie die enigste maatstaf vir ‘n suksesvolle kwartaal? As dit so is, dan kan ons elke boksie afmerk. Ons weet egter prestasie is nie alles nie! Ons kan ook die boksies maklik rakende voldoende geleenthede vir ons leerders afmerk, m.a.w. behoorlike blootstelling, groei en ontwikkeling, en laaste maar nie die minste nie, laat ons leerders toe om net hulsef te wees!
Ek is verseker ‘n trotse skoolhoof en ons skoolgemeenskap se spreekwoordelike beker van dankbaarheid loop al vir ‘n geruime tyd oor. Nie net het ons ‘n ongelooflike veiling die jaar gehad nie, ons het ook puik op die sportveld gevaar (o.12A & o.13A-netbalspanne wen hul onderskeie ligas, maar daar wen ons sommer so tussen die konsert vir die 6de agtereenvolgende jaar die wiskunde olimpiade wat deur Laerskool Van Riebeeckstrand aangebied word. Tydens die olimpiade het ons heelwat groter skole uitgestof. Baie dankie mnr. Leon en juf. Andri vir julle leeue-aandeel in die verband. Hiermee word weer bewys dat ons akademie van ‘n hoë standaard is. Dan was daar die puik resultate wat ons leerders op kulturele gebied ook behaal het spesifiek by die Eisteddfod en Unisa musiekeksamens. Ons hoef nie groter of sterker te wees nie, ons moet net onsself wees!
Graag wil ek die personeel hartlik bedank vir hul harde werk, toewyding en bereidwilligheid om die ekstra myl vir ons leerders te loop. Baie dankie aan die EXCO en Beheerraad vir jul dinamiese leierskap en visie asook die lojale ondersteuning die afgelope kwartaal. Laat my ook toe om spesifiek ons adjunkhoof, juf. Marinda hartlik te bedank vir haar waardevolle rol wat sy binne die skool vertolk asook haar lojale ondersteuning aan my.
Ek sluit dan weer af met die volgende aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n lekker en welverdiende vakansie toe. Kan nie wag om op die 11de Oktober 2022 weer al ons dierbare leerders terug by die skool te ontvang nie.
“If it is not right,
Don’t do it.
If it is not true,
Don’t say it!”
Vriendelike vakansie-groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
In die lig dat ons skooldrag in 2023 aangepas word, versoek ons dat wit LO-hempies wat nie meer pas nie, maar nog netjies is om te dra skool toe gestuur moet word sodat ons dit gratis kan versprei aan leerders wie se hempies nie meer pas nie. Ons faseer die hempies uit. Stuur dit asseblief na jou kind se registerklas. Daar is ongelukkig geen nuwe hempies beskikbaar nie. Ons is seker dat daar genoeg wit hempies in sirkulasie is waarmee ons skoolgemeenskap mekaar kan help. Die nuwe hempies is in produksie en dus nog nie hierdie kwartaal beskikbaar nie.
Neem asseblief die vrymoedigheid om die donkerblou feeshempies tydens LO-periode te dra indien dit wel nog pas. Hierdie hempies sal volgende jaar glad nie toegelaat word nie.
Neem asseblief die vrymoedigheid om nuwe hempies by Eda (jvrklerebank@gmail.co.za) te bestel sodat sy betyds voorraad kan aankoop.
Neem kennis van die volgende verandering: Die vergadering vind in die skool se biblioteek plaas.
KENNISGEWING VAN BEGROTINGSVERG 07 NOV 2022Die WKOD vereis dat interim-Beheerraadverkiesings gehou moet word om vakante posisies te vul. Susan van der Walt is verlede kwartaal as Tesourier deur die Beheerraad gekoöpteer om vir ‘n interim-periode uit te help. Ons sal baie graag hierdie posisie formeel wil vul daarom dat daar ‘n aanlyn verkiesing op Woensdag, 12 Oktober, vanaf 06:00 – 18:00 sal plaasvind. Die termyn eindig Maart 2024.
As jy iemand vir die Tesourier-portefeulje wil benoem of as jy bereid is om te staan en ‘n nominasie het, voltooi asseblief aangehegte nominasievorm en handig in of stuur direk vir Suzaan Burger by suzaan@jvrprim.co.za.
Nominasies sluit teen Maandag, 10 Oktober, om 12:00.
Indien jy enige navrae rakende hierdie posisie het, is jy welkom om vir Naas Beets (skoolhoof@jvrprim.co.za) en/of vir Merwe Scholtz (mscholtz@genfin.co.za) te kontak.
Interim-Beheerraadverkiesing Nominasievorm vir Ouerlede - SBL - Periode 2021 -2024Kwartaal 3 staan nou vinnig einde se kant toe en week 10 bereik ‘n hoogtepunt met die afskop van ons ongelooflike konsert. Laerskool Jan van Riebeeck bied aan ’Ôsim’ (Ons Seelewe is Magic). Dit is soveel meer as ‘n konsert en ek glo dié van julle wat die afgelope week alreeds die konsert bygewoon het, sal volkome saamstem dat dit eerder ‘n skouspel van formaat is. Die ‘Ôsim’ is “awesome”!
Baie geluk en hartlike dank aan mnr. Ben, juf. Jana en span met die manjifieke vertoning. Julle sal op enige dag vir Broadway ‘n ding of twee van “show business” kan leer. Die teks van ‘n sprokie seelewe wat in die mooiste gety-poel afspeel, is deur mnr. Ben geskryf. Die voorportaal is prentjiemooi en glansryk, opgemaak en versier met herwinbare materiaal wat die lewe van die sprokieswêreld baie gepas uitbeeld. Die kleurryke kostuums met al die detail laat ‘n mens skoon sprakeloos. Die kreatiwiteit aan die dag gelê, spreek boekdele van ons mammas en onderwysers se innovasie en vaardighede. Graag wil ek al ons mammas en onderwysers wat so hard aan die kostuums en die voorportaal gewerk het, namens die hele skoolgemeenskap hartlik bedank. Julle bydraes spreek van uitnemendheid en dit is waarvoor ons skool staan, nie omdat ons dink ons is beter nie, maar eerder om kollektief te streef na ons visie van uitnemendheid op alle gebiede.

Ek hoop van harte dat die van julle wat die eerste week van die konsert bygewoon het, dit terdeë geniet het. Ek woon elke aand die konsert by, nie omdat ek dit moet doen nie, maar eerder om my gate uit saam met die leerders en personeel te geniet. ‘n Mens kan nie anders as om saam te sing of saam te dans op die ritme van die lekker musiek nie. Julle sou my iewers agter in die saal naby die klank- en ligtepersoneel sien staan het, langs mnr. Ben en juf. Jana waar ons sommer almal lekker saam met die musiek sing, dans en die ongelooflike vlakke van energie omhels. Ek is so trots op ons skool, sy leerders, ouers en personeel wat aan die einde van die kwartaal al ons suksesse sommer so d.m.v. die konsert kan vier. Nie eers ESKOM kon ons pret bederf nie! Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir die reël en bestuur van die kragopwekkers asook die effektiewe sekuriteit. Laat ons nie van die klasonderwysers vergeet wat die danse uitgewerk en met die leerder ingeoefen het en elke konsertaand so mooi na die leerders voor en na die konsert omsien nie. Juf. Rentia, baie dankie dat jy die skoolgange so gepas vir die konsert versier het.
Laerskool Jan van Riebeeck het nie net die afgelope kwartaal op sport- en kultuurgebied presteer nie. Ons akademie is ons ‘spogvoertuig’ en ons presteer meer as gereeld wanneer dit by ons kernbesigheid kom. Ons het onlangs vir die WKOD se skryfkompetisie ingeskryf. Weereens presteer ons Jannies! Sien gerus die name van die leerders en hul prestasies onder die Terugvoer-afdeling.
Vanoggend vertrek ons o.13A-netbalspan op ‘n naweektoer langs die Weskus. Hulle het ‘n uitstekende seisoen agter die rug en sluit die seisoen dan op hierdie manier vir oulaas af aangesien hulle volgende jaar na verskillende hoërskole gaan en nie weer as ‘n span sal kan saamspeel nie. Baie dankie en geluk juf. Ishcké met haar span en al haar kosbare tyd wat sy ingesit het om hul sukses te verseker. Baie dankie ook aan juf. Shahneé en mnr. André wat ook die toergroep vergesel asook aan juf. Razelle vir al die puik toerreëlings. Veilig reis en geniet elke oomblik.

Ek sluit dan weer af met die volgende aanhaling van William Shakespeare wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.
“No legacy is so rich as honesty.”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Maandag – Woensdag (26 – 28 Sept.)
Skooltye:
08:15 – 12:45 Graad 1 – 3
08:15 – 13:00 Graad 4 – 7
13:05 Bus vertrek
Kleredrag:
Sportdrag (wit hempie word met blou eeufeeshempie afgewissel)
Donderdag (29 Sept.)
Skooltye:
07:45 – 12:45 Graad 1 – 3
07:45 – 13:00 Graad 4 – 7
13:05 Bus vertrek
Kleredrag:
Sivvies
Vrydag (30 Sept.)
Skooltye:
07:45 – 10:30 Graad 1 – 3
07:45 – 10:45 Graad 4 – 7
10:50 Bus vertrek
Kleredrag:
Sivvies
Belangrike Datums
februarie 2026
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026

