Kwartaal 3 staan nou vinnig einde se kant toe en week 10 bereik ‘n hoogtepunt met die afskop van ons ongelooflike konsert. Laerskool Jan van Riebeeck bied aan ’Ôsim’ (Ons Seelewe is Magic). Dit is soveel meer as ‘n konsert en ek glo dié van julle wat die afgelope week alreeds die konsert bygewoon het, sal volkome saamstem dat dit eerder ‘n skouspel van formaat is. Die ‘Ôsim’ is “awesome”!

Baie geluk en hartlike dank aan mnr. Ben, juf. Jana en span met die manjifieke vertoning. Julle sal op enige dag vir Broadway ‘n ding of twee van “show business” kan leer. Die teks van ‘n sprokie seelewe wat in die mooiste gety-poel afspeel, is deur mnr. Ben geskryf. Die voorportaal is prentjiemooi en glansryk, opgemaak en versier met herwinbare materiaal wat die lewe van die sprokieswêreld baie gepas uitbeeld. Die kleurryke kostuums met al die detail laat ‘n mens skoon sprakeloos. Die kreatiwiteit aan die dag gelê, spreek boekdele van ons mammas en onderwysers se innovasie en vaardighede. Graag wil ek al ons mammas en onderwysers wat so hard aan die kostuums en die voorportaal gewerk het, namens die hele skoolgemeenskap hartlik bedank. Julle bydraes spreek van uitnemendheid en dit is waarvoor ons skool staan, nie omdat ons dink ons is beter nie, maar eerder om kollektief te streef na ons visie van uitnemendheid op alle gebiede.

Ek hoop van harte dat die van julle wat die eerste week van die konsert bygewoon het, dit terdeë geniet het. Ek woon elke aand die konsert by, nie omdat ek dit moet doen nie, maar eerder om my gate uit saam met die leerders en personeel te geniet. ‘n Mens kan nie anders as om saam te sing of saam te dans op die ritme van die lekker musiek nie. Julle sou my iewers agter in die saal naby die klank- en ligtepersoneel sien staan het, langs mnr. Ben en juf. Jana waar ons sommer almal lekker saam met die musiek sing, dans en die ongelooflike vlakke van energie omhels. Ek is so trots op ons skool, sy leerders, ouers en personeel wat aan die einde van die kwartaal al ons suksesse sommer so d.m.v. die konsert kan vier. Nie eers ESKOM kon ons pret bederf nie! Baie dankie aan mnr. Leon en sy span vir die reël en bestuur van die kragopwekkers asook die effektiewe sekuriteit. Laat ons nie van die klasonderwysers vergeet wat die danse uitgewerk en met die leerder ingeoefen het en elke konsertaand so mooi na die leerders voor en na die konsert omsien nie. Juf. Rentia, baie dankie dat jy die skoolgange so gepas vir die konsert versier het.

Laerskool Jan van Riebeeck het nie net die afgelope kwartaal op sport- en kultuurgebied presteer nie. Ons akademie is ons ‘spogvoertuig’ en ons presteer meer as gereeld wanneer dit by ons kernbesigheid kom. Ons het onlangs vir die WKOD se skryfkompetisie ingeskryf. Weereens presteer ons Jannies! Sien gerus die name van die leerders en hul prestasies onder die Terugvoer-afdeling.

Vanoggend vertrek ons o.13A-netbalspan op ‘n naweektoer langs die Weskus. Hulle het ‘n uitstekende seisoen agter die rug en sluit die seisoen dan op hierdie manier vir oulaas af aangesien hulle volgende jaar na verskillende hoërskole gaan en nie weer as ‘n span sal kan saamspeel nie. Baie dankie en geluk juf. Ishcké met haar span en al haar kosbare tyd wat sy ingesit het om hul sukses te verseker. Baie dankie ook aan juf. Shahneé en mnr. André wat ook die toergroep vergesel asook aan juf. Razelle vir al die puik toerreëlings. Veilig reis en geniet elke oomblik.

Ek sluit dan weer af met die volgende aanhaling van William Shakespeare wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“No legacy is so rich as honesty.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF