Ek glo dat almal wat die konsert die afgelope 2 weke bygewoon het, sal saam stem dat die konsert instrumenteel was om die kwartaal op die perfekte noot af te sluit. Die gala-aand van die konsert verdiskonteer vir my al die hoogtepunte (akademie, kultuur en sport) van ‘n uiters suksesvolle kwartaal. Ôsim (Ons Seelewe is Magic) was soveel meer as ‘n konsert. Ek is vas oortuig dat dit eerder ‘n skouspel was en dat daar nog lank daaroor gepraat word.

Ôsim kon net suksesvol aangebied word deur ‘n spanpoging van mnr. Ben, juf. Jana, personeel, leerders en ouers. Die detail in die kostuums, grimering en voorportaal was kleurryk en verruklik. Die teks vervat komtemporêre uitdagings en die musiekkeuse van elke graad was perfek en het die boodskap van die gevare van seebesoedeling effektief oorgedra. Ôsim het aand na aand soveel opwinding en energie opgelewer. Hierdie skouspel het verseker dat alle konsertgangers met ‘n breë glimlag die skoolterrein verlaat het, vol geesdrif en positiwiteit. Die konsert het beslis daai lekker en trotse gevoel vir almal gegee. Opvallend was hoe die leerders hulself tydens die konsert behoorlik ingeleef het en die ondervinding terdeë geniet het. Die standaard is gestel en ons sien uit na die volgende opwindende konsert wat vir 2024 beplan word – hou die spasie dop!

As ons oor kwartaal 3 reflekteer en ons wil dit op ‘n manier evalueer, is die vraag: “Kyk ons slegs na prestasie op akademiese-, kulturele- en sportgebied?” Is prestasie die enigste maatstaf vir ‘n suksesvolle kwartaal? As dit so is, dan kan ons elke boksie afmerk. Ons weet egter prestasie is nie alles nie! Ons kan ook die boksies maklik rakende voldoende geleenthede vir ons leerders afmerk, m.a.w. behoorlike blootstelling, groei en ontwikkeling, en laaste maar nie die minste nie, laat ons leerders toe om net hulsef te wees!

Ek is verseker ‘n trotse skoolhoof en ons skoolgemeenskap se spreekwoordelike beker van dankbaarheid loop al vir ‘n geruime tyd oor. Nie net het ons ‘n ongelooflike veiling die jaar gehad nie, ons het ook puik op die sportveld gevaar (o.12A & o.13A-netbalspanne wen hul onderskeie ligas, maar daar wen ons sommer so tussen die konsert vir die 6de agtereenvolgende jaar die wiskunde olimpiade wat deur Laerskool Van Riebeeckstrand aangebied word. Tydens die olimpiade het ons heelwat groter skole uitgestof. Baie dankie mnr. Leon en juf. Andri vir julle leeue-aandeel in die verband. Hiermee word weer bewys dat ons akademie van ‘n hoë standaard is. Dan was daar die puik resultate wat ons leerders op kulturele gebied ook behaal het spesifiek by die Eisteddfod en Unisa musiekeksamens. Ons hoef nie groter of sterker te wees nie, ons moet net onsself wees!

Graag wil ek die personeel hartlik bedank vir hul harde werk, toewyding en bereidwilligheid om die ekstra myl vir ons leerders te loop. Baie dankie aan die EXCO en Beheerraad vir jul dinamiese leierskap en visie asook die lojale ondersteuning die afgelope kwartaal. Laat my ook toe om spesifiek ons adjunkhoof, juf. Marinda hartlik te bedank vir haar waardevolle rol wat sy binne die skool vertolk asook haar lojale ondersteuning aan my.
Ek sluit dan weer af met die volgende aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n lekker en welverdiende vakansie toe. Kan nie wag om op die 11de Oktober 2022 weer al ons dierbare leerders terug by die skool te ontvang nie.

“If it is not right,
Don’t do it.
If it is not true,
Don’t say it!”

Vriendelike vakansie-groete
Naas Beets
SKOOLHOOF