Hartlike welkom terug by die skool na die heerlike kort Oktober-vakansie. Ek glo almal het die ruskansie terdeë geniet en hul spreekwoordelike ‘batterye’ herlaai sodat ons as skoolgemeenskap die laaste kwartaal die bul by die horings kan pak.

Dit is natuurlik Oktober-maand: die mooiste, mooiste maand veral in Kaapstad met die langverwagte arrivering van die heerlike sonnige weer terwyl Moeder Natuur haar winterkloue stadig maar seker uit die Moederstad onttrek. Ek kan nie anders as om in die maand na C. Louis Leipodlt se pragtige gedig te verwys nie, want dan is alles mos so mooi, vars en nuut terwyl die voeltjies tjirp vanaf vroeg soggens tot laat saans vol lewenslustigheid:

Viooltjies in die voorhuis – Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies oral op die veld,
En oral, ai, so mooi!

Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand!

Op hierdie pragtige noot van ‘mooimaak’, glo ek dat julle waargeneem het dat daar ook hard tydens die vakansie aan die volgende twee opwindende projekte gewerk is:

  • Die sportveld, plaveisel en teerwerk (agter die skool): Die gras op die uitgebreide sportveldjie het baie mooi gevestig en ons kan die ‘nuwe’ spasie nou baie meer doeltreffend aanwend. Die plaveisel onder die bome naaste aan die uitgang dra by tot die estetiese effek van die hele projek. Hier gaan ons nuwe bankies vir leerders, ouers en personeel plaas om sommer lekker voor-, tydens en na skool te ontspan. Die teerwerk is op Saterdag, 08 Oktober, onder die wakende oog van Gerhard Conradie perfek voltooi. My mond het letterlik oopgehang terwyl ek die indrukwekkende proses aanskou het. ‘n Baie fyner tipe teer is gebruik en met moderne toerusting en kompakteerde rollers (‘bomag’ rollers) perfek gevestig om die gladde oppervlakte te bewerkstellig. Gerhard Conradie ons salueer jou vir wat jy alles vir die skool doen.
  • Die Opgradering van die Vierkant: Die projek het op Maandag, 03 Oktober 2022, begin en sal ongeveer 2 maande duur. Hierdie area is vir die tydperk buite perke vir leerders, personeel en ouers tot verdere kennisgewing. Ons is baie opgewonde oor hierdie projek om onder andere esteties die vierkant aan te spreek sodat ons dit in die toekoms meer effektief vir buitelugfunksies asook netbalwedstryde kan gebruik. Die befondsing van die vierkant geskied deur die opbrengs van die veiling vanjaar.

Ons het ook ‘n nuwe tellingbord op die Conradieveld te danke aan ouers se borgskappe opgerig. Dit gaan verseker baie help in die toekoms! Baie dankie aan almal wat ‘n bydrae gelewer het.

 

Kwartaal 3 is op ‘n hoogtepunt d.m.v die konsert afgesluit en gesprekke hieroor gaan nog lank duur. Die laaste dag van kwartaal 3 is tradisoneel met ‘n saalbyeenkoms afgesluit waartydens ons die Gr. 7’s se Top 10 akademiese presteerders vir kwartaal 3 aangekondig het. Die Top 10-leerders het elk ‘n spesiale sertifikaat ontvang om erkenning aan hul harde werk en pligsgetrouheid te gee. Ons glo dat dit ook die res van ons Jannies sal inspireer om skouer aan die wiel te sit en verantwoordelikheid vir hul eie leer te neem. Hiermee dan die Graad 7’s se Top 10 akademiese presteerders (alfabetiese volgorde) soos einde kwartaal 3:

  • Lara Basson
  • Lea Basson
  • Mia Janse van Rensburg
  • Liza Hitge
  • Adele Holtshauzen
  • Luja Marx
  • Kate Mouton
  • Elsabé Scholtz
  • Cara Swanepoel
  • Emke van Wyk
  • Nell von Lieres
  • Owen Wiese

Welgedaan aan die bogenoemde leerders, julle maak ons baie trots.

Baie geluk aan Susan van der Walt wat formeel tot die Beheerraad as Tesourier verkies is! Dankie vir die werk wat sy alreeds as gekoöpteerde lid verlede kwartaal vir die Beheerraad gedoen het.

Ek wens almal ‘n wonderlike laaste kwaartaal toe en sluit af met die volgende aanhaling van Hussein Nishah wat op ons waarde vir die laaste kwartaal fokus, naamlik Respek.

“Treat people the way
You want to be treated.
Talk to people the way you want to be talked to.
Respect is earned,
Not given.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF