Kategorie: Algemeen
Prysuitdelings is ‘n kontroversiële onderwerp wat ons met die grootste respek by ons skool probeer hanteer. Ons neem dit baie ernstig op om vir elke leerder in die skool erkenning d.m.v. ‘n sertifikaat te gee. Ons poog om wel deurdagte besluite te neem deur leerders aan te moedig terwyl ons ook toekennings wil gee. Net soos by Sport en Kultuur wil ons ook graag spesiale erkenning aan ons leerders gee wat daagliks hul bes doen om ons skool se kernbesigheid, Akademie, ernstig op te neem en op hierdie gebied te presteer. Dis vir leerders belangrik dat ouers hulle ondersteun afgesien van jou eie ervaring van prysuitdelings, daarom nooi ons alle ouers uit om die onderskeie gr. 4 – 7-prysuitdelingsgeleenthede soos hier onder uiteengesit, by te woon. Tydens hierdie geleenthede word die Top 10 Akademiese prestasies per graad aangekondig saam met die eerste drie plekke in Tale en Wiskunde. Hiermee probeer ons motiveer en aanmoedig. Ons weet ook dat dit uiters belangrik is dat die leerders in klasverband aanwys wie hulle dink die maat was wat die jaar hul deel gedoen het, daarom dat daar drie baie spesiale, geliefde toekennings toegeken word nl.
- Klasburger van die jaar – klas stem
- Mees vasberade leerder – klas stem
- Onderwyserstoekenning – onderwyserskeuse
Prysuitdelings:
- Graad 4 – Dinsdag, 5 Des., 9:00
- Graad 5 – Dinsdag, 5 Des., 11:00
- Graad 6 – Donderdag, 7 Des., 9:00
- Graad 7 – Donderdagaand, 7 Des., 18:00
Dankie vir die ondersteuning. Ons sien uit om jou by hierdie spoggeleentheid te sien.
Neem asseblief kennis dat die skool op Dinsdag, 12 Desember, sluit en nie soos beplan op Woensdag, 13 Desember, nie. Die amptelike vakansiedag wat op 15 Desember is, veroorsaak dat skole genoodsaak word om een dag vroeër te sluit aangesien daar van onderwyspersoneel verwag word om twee dae nadat die skool gesluit het, admin te voltooi. Nasorg sal soos normaal tot op 17:15 plaasvind. Geen skool of nasorg op/vanaf Woensdag, 13 Des. nie.
Organisasie van laaste twee weke van skool:
- Dinsdag, 5 Desember
- Gr. 4-Prysuitdeling 09:00
- Gr. 5-Prysuitdeling 11:00
- Skool verdaag 13:00 (Gr. 1-3) & 13:15 (gr. 4-7)
- Woensdag, 6 Desember
- Atletiek o.10 – Ope (Velditems) 07:45 – 14:00
- Bus sal beskikbaar wees om leerders na veld te vervoer
- Bus sal leerders weer terugbring
- Sien atletiekprogram in Vrydag, 24 Nov., se nuusbrief
- Atletiek o.10 – Ope (Velditems) 07:45 – 14:00
- Donderdag, 7 Desember
- Gr. 6-Prysuitdeling 11:00
- Skool verdaag 13:00 (gr. 1-3) & 13:15 (gr. 4-7)
- Gr. 7-Prysuitdeling 18:00
- Vrydag, 8 Desember
- Atletiek gr. 1-7 (Baanitems) 06:45 – 15:00
- Sien atletiekprogram in Vrydag, 24 Nov., se nuusbrief
- Geen formele skooldag nie
- Atletiek gr. 1-7 (Baanitems) 06:45 – 15:00
- Maandag, 11 Desember
- Gr. 7-afskeidsaal 07:45 – 09:00
- Gr. 7-ouers welkom
- Gr. 2-7 woon saal by
- Gr. 7-rapporte uitdeel
- Gr. 7’s versier saal vir sokkie 11:00
- Skool verdaag 13:00 (gr. 1-3) & 13:15 (gr. 4-7)
- Gr. 7-sokkie 18:00 – 21:00
- Gr. 7-afskeidsaal 07:45 – 09:00
- Dinsdag, 12 Desember
- Gr. 1 – 7-saalbyeenkoms – laaste saal vir jaar 08:30 – 10:00
- Sertifikate uitdeel, Dansoptredes
- Leerderraad aankondig
- Afskeid: Helecia Groenewald, Liezel Theron en Suné Alberts
- Gr. 1-6-rapporte uitdeel
- Gr. 7-afskeid (nie by skool nie) 10:00 – 12:00
- Skool sluit vir vakansie: vir almal 10:30
- As gevolg van vakansiedag, 15 Des., moet skool een dag vroeër sluit sodat onderwysers admin kan afhandel
- Privaat Dramakonsert 18:00
- Gr. 1 – 7-saalbyeenkoms – laaste saal vir jaar 08:30 – 10:00
So kom week 6 van die laaste kwartaal tot ‘n einde met die gr. 7’s wat vandag met hul finale eksamen by die laerskool afskop met die skryf van Wiskunde. Die jaar het besonders vinnig verby gesnel en as ‘n mens vinnig daaroor wil reflekteer, wonder ek dadelik hoe is dit moontlik dat dit al amper weer Kersfees kan wees. Die jaar was besonders besig, maar tog was dit ‘n suksesvolle jaar met hope opwinding en sukses. Die somersportbuitemuurse program maak ook vandag klaar met die aflosgala wat by Laerskool Kampsbaai plaasvind. Gedurende die eksamen gaan ons voort met sportoefeninge, maar dit geskied in skooltyd. Ons leerders geniet dit terdeë om tydens die eksamen en veral na afloop van die skryf van ‘n vraestel ‘n bietjie uit die klas te kom om aan ‘n sportaktiwtiteit deel te neem. Dit help ongelooflik baie vir die leerders om die onnodige eksamenangs dikwels onbewustelik onder beheer te kry asook om die eksamenervaring in ‘n positiewe lig te sien.
Ons leerders se merkwaardige deelname en prestasie op kulturele- en sportgebied hierdie afgelope jaar staan uit soos ‘n paal bo water en dit terwyl hul ‘arme’ ouers/voogde onder druk was om al die logistieke reëlings uit te werk en seker te maak hul kinders daag betyds by al die verskillende geleenthede op. Daarvoor salueer ek julle as ouers/voogde asook al die personeel en afrigters wat instrumenteel was tot die suksesvolle skepping van ‘n gesonde sportkultuur by ons skool binne ‘n relatiewe kort tydjie. Daardeur sê ek nie dat ons nou ‘n sportskool wil word nie, maar eerder dat ons onderneem om in die toekoms voort te bou om geleenthede vir ons leerders te skep om te ontwikkel. Graag gebruik ek die voorbeeld van die aflosgalas wat die afgelope kwartaal vir die eerste keer plaasgevind het. Dit was so lekker om verlede Vrydag te sien hoe ons swemmers die aflosgala by die Duitse Skool geniet het. Opvallend vir my was die kameraderie tussen al ons swemmers, selfs tussen seuns en dogters. Dit was werklik ‘n trotste oomblik vir my as skoolhoof om te ervaar hoe die Jannies vir mekaar omgee en vir mekaar uitkyk.
Die lading van al die ‘einde van die jaar’-departementele administrasie beperk ongelukkig my tyd om al die somersportwedstryde by te woon. Gelukkig kon ek op Woensdag, 15 November, ‘n draai by die tennis tuis maak waar ons dogters o.13A teen LS Kenridge o.13A 4 – 2 gewen het asook by die o.11A-kriektspan wat hul laaste wedstryd teen LS Kampsbaai o.11A in ‘n spannende stryd gewen het. Baie geluk aan ons o.13A-dogterspan met die puik oorwinning asook aan juf. Iscké en haar o.11A-krieketspan wat die seisoen onoorwonne afgesluit het.

My dankbaarheidsbeker loop verder oor as ek sien hoe die vierkant weekliks esteties ‘mooier’ en ‘mooier’ word. Ek wonder nog of julle kan onthou hoe die ‘ou’ vierkant gelyk het? Kom loer gerus en aanskou hoe die voorheen slegs beton-, steen- en ‘harde’-omgewing binnekort in ‘n pragtige lushof gaan verander. Verder probeer ons orals die skoolterrein estieties mooier maak. Graag deel ek dan ook die goeie nuus dat ons hierdie afgelope week begin het om die ablusieareas vir ons inwonende terreinpersoneel op te gradeer. Ek sal julle op hoogte hou soos die projek vorder. Ons wil juis met die opgradering verseker dat ons lojale terreinpersoneel met die nodige respek behandel word deur vir hulle en hul gesinne die nodige ablusie- en wasgeriewe te skep.

Ek word daagliks deur die verjaardag-leerders tot in die afgrond bederf met heerlike soet- en/of eetgoed. Ek maak dan altyd ‘n ophef van die geleentheid om hul verjaardae vir hulle ekstra spesiaal te maak deur vir ‘n spesiale verjaarsagplakker en ‘n klein lekkertjie te gee. Op Vrydag, 10 November, is ek deur die gr. 7-tweeling, Jana en Klare Maree, saam met hul ma met ‘n smaaklike ‘doughnut’ bederf om hul dertiende verjaardag te vier. My beste wense vergesel hulle vir hul nuwe lewensjaar.
Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Roy. T. Bennet oor positiewe denke. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende of familie geniet.
“Don’t be pushed around by the fears in your mind.
be led by the dreams in your heart.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dit is vir ons belangrik om op ‘n tydige en gerieflike wyse met ouers te kan kommunikeer, daarom kondig ons graag die volgende reëlings t.o.v. kommunikasie vir 2024 aan:
- Met die volledige implementering van Teams by die skool en die uitbreiding van funksionaliteit in WhatsApp, is besluit om die gebruik van Skooler aan die einde van 2023 op te skort.
- Die skool het reeds ons eie WhatsApp Community, Ls JvR, geskep. Dié WhatsApp Community, tesame met ‘n aantal WhatsApp-groepe, sal vanaf 11 Desember as amptelike kommunikasiekanaal gebruik word om aankondigings, dringende kennisgewings en reëlings t.o.v. sportoefeninge, wedstryde, optredes e.d.m. aan ouers te kommunikeer. Skooler sal steeds tot einde van die kwartaal gebruik word terwyl ouers kans het om by die WhatsApp Community aan te sluit. Moet asb. nog nie Skooler van jou selfoon af verwyder nie.

Om by die skool se WhatsApp Community-groepe aan te sluit, volg asb. hierdie stappe:
- Gaan in op Skooler en volg die WhatsApp Community-skakel wat later vandag in die Algemeengroep beskikbaar gaan wees.
- Sluit aan by die skool se Community.
- Jy sal outomaties deel wees van die Announcement-groep waarop ons algemene afkondigings sal maak. Niemand sal jou selfoonnommer in hierdie groep kan sien nie.
- Jy gaan ‘n lys van groepe sien waarby jy ook kan aansluit. Kies die relevante groepe en kies die opsie “request to join”. Jou versoek sal met tyd aanvaar word, wees asb. geduldig indien jy nie onmiddellik tot die groep toegelaat word nie. Neem kennis dat jou selfoonnommer wel vir ander ouers sigbaar sal wees in die groepe waarby jy aansluit. Wanneer jy by groepe in die Community aansluit, gee jy toestemming dat die ouers in daardie groep jou nommer mag sien.
- Onthou dat hierdie groepe vir 2024 geskep is. Moet asb. nog nie by klasgroepe aansluit totdat jy weet in wie se klas jou kind volgende jaar is nie.
- Dit is ouers verantwoordelikheid om by die skool se WhatsApp Community en die relevante groepe wat onder dit val, aan te sluit.
- Alle groepe is gestel op eenrigting-kommunikasie en ouers sal dus nie nou op enige groepe boodskappe kan stuur nie. Dit sal verander sodra daar ‘n behoefte in ‘n groep ontstaan vir ouers om met mekaar reëlings te tref.
- Daar is ‘n “Create Group”-opsie in die Community. Ouers sal egter nie groepe binne die Community kan stig nie en dit sal slegs as ‘n versoek by die administrateurs van die Community uitkom. Moet dus asb. nie op “Create Group” kliek nie.
Riglyne tot Kommunikasie
Onderhewig aan ondernemings rondom redelikheid en respek vir die reg op privaatheid, geld die volgende riglyne vir kommunikasie tussen ouers en onderwysers:
- Onderwysers is formeel beskikbaar vanaf 07:00 – 18:00 gedurende weeksdae om ouers se oproepe en boodskappe te beantwoord. Slegs in noodgevalle kan buite hierdie ure gekommunikeer word.
- Neem in ag dat personeel nie noodwendig onmiddellik beskikbaar gaan wees om boodskappe te beantwoord nie. Onderrig in die klas en afrigting op die sportveld geniet voorkeur. Indien daar ‘n dringende versoek gedurende hierdie tyd is, kan ouers die skool se ontvangs kontak om ‘n boodskap te los.
- Onderwysers sal binne 24 uur op boodskappe en navrae reageer.
- Onderwysers sal ouers wat versoek het om by ‘n groep aan te sluit binne 24 uur aanvaar.
- Die skoolhoof is beskikbaar indien daar ‘n krisis is.
- Vertroulike inligting behoort per e-pos gekommunikeer te word en nie per WhatsApp nie.
- Minstens een ouer/voog per gesin moet deel wees van die skool se WhatsApp Community.
- Die volgende is aanvaarbare vorme van kommunikasie tussen ouers en onderwysers:
- E-pos;
- WhatsApp na amptelike skoolnommers soos in die Community aangedui;
- Telefoonoproep;
- Afspraak in persoon.
- Die volgende vorme van kommunikasie met die skool en onderwysers word nie toegelaat nie:
- WhatsApp stemnotas;
- Onderwysers betrek by privaatgroepe wat deur ouers gestig is.
Groot was die opwinding op Vrydag, 03 November, vir leerders, ouers en personeel om die Bokke in die stad te gaan toejuig as deel van die Bokke se trofeetoer deur die Moederstad en die res van die land. Talle geesdriftige Suid-Afrikaners het in die stadskom saamgedrom en dit was ‘n riem onder die hart om te sien dat die Bokondersteuners omtrent elke kultuur van ons reënboognasie verteenwoordig het. Die Bokke het beslis die vermoë om alle Suid-Afrikaners van elke moontlike agtergrond, kultuur en geloof bymekaar te bring en te herenig met volkstrots. Die Bokke is die enigste span wat die Webb Ellis-beker op drie verskillende kontinente (Afrika, Asië en Europa) gewen het. As Suid-Afrkaners kan ons gerus onsself ‘n klop op die skouer gee, want ons veerkragtigheid staan wêreldwyd soos ‘n paal bo water uit. Dit is belangrik dat ons nou op die momentum bou en die Proteas ook ondersteun. Wie weet, dalk is ‘n dubbele wêreldbeker vir 2023 ons beskore.
Op Vrydag, 17 November, begin die finale eksamen vir die gr. 7’s. Die assesserings vir die Grondslagfase is reeds volstoom aan die gang. Vir die eerste keer skryf ons gr. 1’s en 2’s deurlopende assesserings en net die gr. 3’s volg ‘n amptelike rooster. Ek mag mos nie eintlik die ‘E-woord’ gebruik nie, maar op Dinsdag, 21 November, begin die gr. 4 – 6 leerders ook met hul eksamen en ek wens al ons leerders, ouers/voogde en personeel voorspoed toe. Eksamens verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders en dit filter ook dikwels deur na die huisgesin. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as personeel te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres as gevolg van enige eksamen laat enige persoon snak na sy asem, maar dit is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Probeer gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres en moontlik jou eie angstigheid daaroor hok te slaan:
- Berei betyds voor. Help om saam met jou kind/ers betyds ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om ook te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap kry. Handhawing van ‘n roetine sal beslis help!
- Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van stressors by die huis vir jou kind/ers om te leer.
- Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
- Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel word nie.
- Help jou kind/ers om ‘n gewoonte te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die dag inpak.
- Vermy gejaagdheid en om op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool jou kinders af te laai, want dit maak leerders angstig.
So tussen die eksamen en die leer gaan die somersportprogram in skooltyd vir gr. 1 – 3-leerders voort terwyl die gr. 4 – 7 leerders slegs op atletiek gaan fokus a.g.v. die kleure-atletiek wat op Woensdag, 06 Desember, (Velditems) en Vrydag, 08 Desember, (baanitems) by die hoërskool se velde plaasvind. Die dirigente word ook die week aangewys en binne die kleurgroepe gaan daar lekker gesing en voorberei word.
Op Maandag, 06 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers vanaf 18:00 in die biblioteek plaasgevind. Die 2024 begroting en verhogings van skoolfooie is soos volg goedgekeur:
Die 2024 skoolgelde is op R39 400 per GF-leerder en R40 400 per ISF-leerder vir die Laerskool, en Huppelland: R44 200 per leerder vir Graad R en R43 200 vir voor-Graad R vasgestel. Baie dankie ons Finansiële Bestuurder, Liesel Hammond, en ons Tesourier, Susan van der Walt, vir jul kosbare tyd en harde werk om ‘n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Baie dankie aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.
Hiermee wil ek ook ons ouers/voogde versoek om ernstig met jul kind/ers te praat oor die gebruik van sosiale media. Die onderwysers het die afgelope week onder my aandag gebring dat verskeie leerders mekaar op sosiale media platforms, veral TikTok en Snapchat aanvat, onvanpaste video’s maak en plaas asook onaanvaarbare dinge kwyt raak. Hierdie tipe sosiale media platforms is nie ouderdomsgepas vir ons leerders nie en alhoewel dit buite skoolure plaasvind, is ek bekommerd dat ouers/voogde dalk salig onbewus is dat hul kind/ers dit gebruik of jul toestemming daarvoor het. Ons beplan om net na die eksamen weer met ons leerders oor die gevare van sosiale media te praat.
Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Mary Lou Retton oor positiewe denke. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet en nou moet ons, ons volle gewig agter die Proteas gooi.
“If you stay positive
good things and
good people will be drawn to you’’.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
- Bestel foto’s aanlyn teen 24 November.
- Webtuiste: Lunchbox Photography
- Wagwoord: JVR2020
- Indien jy die afsnydatum vir bestellings mis, kan jy steeds aanlyn bestel. Jy gaan wel net self vir die aflewering moet betaal.
- Stuur gerus ‘n e-pos indien jy enige vrae het: info@lunchboxphotography.co.za
November het onverwags sy opwagting gemaak met Oktober wat as gevolg van die rugby- en krieketwêreldbeker net te vinnig verby gesnel het. Ek glo dat na die Springbokke se naelskraap oorwinning in die finaal teen die All Blacks om as wêreldkampioene bekroon te word, moet ons van nou af in Suid-Afrika die maand Oktober na Boktober herdoop. Die Bokke het beslis die vermoë om die land te verenig soos niemand anders kan nie. Hulle bewys weereens dat uitnemendheid in ons land moontlik is en dat ons almal daarna moet streef!
Ek dink almal stem saam dat die Bokke se laaste 3 wedstryde om elke keer met net een punt te wen, werk nie vir ‘n stoere bokondersteuner se senuwees nie. Ek glo die rugbywêreld wag al sedert 1995 vir die klassieke finaal tussen die magtige All Blacks en die Springbokke. Die Springbokke het vir seker die moeilikste pad na die finaal gehad, maar tog het hulle volhard om die eerste span in die geskiedenis te word wat die gesogte titel vir ‘n 4de keer te kon inpalm. Merkwaardig is dat hulle die gesogte titel vir 2 jaar agtereenvolgens kon verdedig en die indrukwekkende Webb Ellis-trofee weer terug na Suid-Afrika kon bring. Die Springbokke leer ons almal groot lewenslesse met hul voete plat op die aarde en ‘n nederige kaptein, Siya Kholisi, wat saam met sy span tot die bittereinde baklei het vir hul land. Soos Rassie gesê het: hulle speel nie vir hulle self nie, maar vir elke Suid-Afrikaner wat elke dag soveel buitengewone uitdagings moet trotseer. Wel gedaan, Bokke! Julle staan vir eenheid en nederigheid en maak elke Suid-Afrikaner so trots!
Verlede Vrydag, 27 Oktober, was Hoërskool Jan van Riebeeck se jaarlikse gholfdag wat op die idilliese Atlantic Beach gholfoord aangebied is. Die puik georganiseerde dag is deur heelwat van ons laerskoolouers ook bygewoon. Die gholfbaan is in ‘n puik kondisie as gevolg van die goeie winterreën. Die laerskool se gholfspan is deur myself, Warren, Rashard en die bekende sportster, Herschelle Gibbs verteenwoordig. Dit was ‘n groot voorreg om Herschelle te kon ontmoet en dan nog 18 putjies gholf saam met hom te kon speel. Hy is voorwaar ‘n legende en kan omtrent enige sport met groot gemak speel.

Die opwinding was groot op Maandag, 30 Oktober, met die amptelike opening van Jan Kas (die nuwe klerewinkel). Die opening behels dan ook die bekendstelling van Jan Kas se aanlyn aankoop platform wat deur Marié Cruywagen ontwerp en geskep is vir ons ouers/voogde se gerief. Dit maak aankope soveel makliker en soomloos. Juf. Suzaan, baie dankie dat jy vir ons Jan Kas met ‘n vriendelike glimlag gaan bestuur. Baie geluk aan Hila Hertzog en Ruben Eksteen wat met die gepaste naam Jan Kas vorendag gekom het na afloop van ‘n kompetisie onder die gr. 6-leerders om met ‘n kreatiewe naam vir die nuwe klerewinkel na vore te kom.

Ek herinner weer en nooi al ons ouers/voogde na die jaarlikse begrotingsvergadering uit wat op Maandag, 06 November, om 18:00 in die biblioteek plaasvind. Tydens hierdie belangrike vergadering word die skoolfooie vir 2024 bekragtig asook die 2024 begroting amptelik deur ouers/voogde goedgekeur.
Verder nooi ek ook al ons ouers/voogde uit om na die vierkant wat oor die afgelope naweek pragtig verfraai is, te kom kyk. Ons beplan om dit oor tyd in ‘n pragtige lushof te omskep waar leerders en personeel tydens pouses kan gaan sit en heerlik ontspan asook om daar buitelug-funksies aan te bied.

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling rakende tyd. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet en nou moet ons ons volle gewig agter die Proteas gooi. Stel julle voor ons wen beide die rugby- en krieketwêreldbekers in dieselfde jaar, dan gee president Cyril ons seker ‘n hele week af.
“Tyd is te stadig vir die wat wag,
te lank vir die wat treur,
te kort vir die wat haastig is,
maar vir die wat liefhet , staan tyd stil om dankbaar te wees.”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Vandag is nie sommer net weer die gewone “#Bok-Vrydag” nie! Vandag gaan ons groot om die Springbokke voluit te ondersteun in hul soeke na roemryke glorie om vir die 4de keer as die Wêreldbeker-wenner uit die stryd teen New Zealand te tree. Die ‘Rassie-plan’ moet eenvoudig net môreaand teen die All Blacks beter uitgevoer word. Die naelskraap oorwinnings met 16 – 15 teenoor die arrogante Engelse asook teen die Franse Hane het menigte bokondersteuners se senuwees behoorlik opgekyl. Die Bokke het teen Engeland weereens nie hul beste spel op die dag gelewer nie, maar hulle het vir 80 minute gespeel en in hulself geglo. Nooit het hulle paniekerig geraak nie en dit terwyl alles op die dag verkeerd geloop het. Die Engelse spelers was die spreekwoordelike kaartmannetjies op die veld en het hard probeer om die Bokke te ontsenu. Die Springbokke het ons veral die afgelope 2 weke beslis ‘n paar belangrike lewenslesse geleer en ek kan kortliks dit soos volg saamvat:
- Moet nooit moed opgee nie, glo in jouself en bly gefokus!
- Deursettingsvermoë word beloon.
- Wees nederig, handhaaf jouself en stel altyd ‘n voorbeeld al loop dinge nie volgens jou verwagtinge nie.
- Wees aanpasbaar en dankbaar.
Ons wag al sedert 1995 vir nog ‘n spesiale finaal teen die All Blacks en dit realiseer môreaand om 21:00 in Parys te Stade de France. Alhoewel Parys bekend staan as die die stad van liefde, gaan daar beslis bittermin liefde tydens die wedstryd wees, maar wel wedersydse respek tussen die twee merkwaardige spanne. Jy het nie meer ‘n keuse nie, vandag op “#Bok-Vrydag” en môre moet jy asseblief jou springboktrui, of ‘n springbok t-hemp, of net iets groen en goud moet aantrek of jouself laat groen verf om die Bokke ten volle te ondersteun. Mag die Bokke die naweek geskiedenis maak en ons land weer verenig oor alle kulture en hoop gee vir ‘n beter Suid-Afrika waar daar dringende aandag aan armoede, misdaad en korrupsie gegee moet word. “Go Bokke Go, just one more time. Together we are stronger!”
Op Dinsdag, 24 Oktober, het ons vir die eerste keer ‘n suskesvolle mini-krieketdag by die Conradieveld aangebied. Die volgende skole uit ons onmiddellike omgewing het deelgeneem:
- Laerskool Kampsbaai
- Laerskool Llundudno
- Laerskool Kronendal
- Laerskool Houtbaai
- Reddam House

Op Donderdagaand, 19 Oktober, het Huppelland hul jaarlikse kunsuitstalling in die opgegradeerde klubhuis aangebied. Louise en haar span het hulself weereens oortref met die pragtigste uitstalling van ons leerders se kinderkuns wat Huppelland-ouers kon aankoop. Dit vorm ook deel van die gewilde onthouboeke. Louise het vanjaar die volgende skilders gebruik en die verskillende grade het hul eie kunswerke daarop baseer:
- Shakes Tembani (Gr. 00)
- Ruschka du Toit (Gr. 0)
- Michael Taylor (Gr. R)

Ons Huppelland-ouers het die aand in groot getalle opgedaag, selfs die weer het saamgespeel met een van die mooiste en windlose aande in die Moederstad. Die lekker samesyn en omgee-kameradie onder die ouers was amper tasbaar. Die bouprojek by Huppelland is amper voltooi en vroeg volgende jaar hoop ons om bouprojeknommer 2 te begin, naamlik die bou van ‘n balletsaal, nuwe ingang en ontvangsarea. Hierdie projek word ook deur ‘n weldoender befonds waarvoor ons baie dankbaar is.
Verlede naweek was Hoërskool Jan van Riebeeck se 50ste reünie m.a.w. die matrikulante van 1973. Twaalf van hulle was vanaf gr. 1 by die laerskool en ek het die voorreg gehad om hulle Vrydagmiddag, 20 Oktober, by die laerskool te ontmoet en vir ‘n kort toer deur die skool te vergesel. Wyle mnr. du Preez was destyds die laerskoolhoof en merkwaardig was al die stories en staaltjies wat hulle rakende hul laerskoolloopbaan met my gedeel het.

Die opwinding is baie groot met die opening van Jan Kas (ons eie nuwe klerewinkel) op Maandag, 30 Oktober. Die ou konsertstoor is opgegradeer tot ‘n pragtige en funksionele klerewinkel. Die hele projek sluit ook die loods van die Jan Kas aanlyn aankope platform wat deur Marié Cruywagen (BR-Lid en ouer van ons skool) ontwerp is om juis skooldragaankope so gerieflik moontlik vir ouers/voogde te maak. Ons is haar baie dankbaar vir al die tyd en werk wat sy by die skool insit. Groot dankie ook aan ons OOV-Voorsitter, Coreen Scholtz, asook Elmarie Erasmus wat met die voorraadoorname en voorbereiding van Jan Kas gehelp het. Baie dankie ook aan Marinda, Liesel (finansies) en Suzaan wat ook hard agter die skerms gewerk het om die sukses van die projek te verseker. Suzaan gaan vir ons Jan Kas bestuur en beman.
Dit is dan my voorreg om met julle te deel dat Raché de Goede-Turner vanaf 01 Januarie 2024 amptelik deur die departement (WKOD) as ons nuwe Hoof van die grondslagfase aangestel is. Baie geluk en welverdiend, Raché. Sterkte met die groot taak wat voorê.
Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende bekende aanhaling van Walt Disney. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet terwyl ons styf duimvas hou dat die Springbokke die naweek geskiedenis gaan maak.
“Laughter is timeless,
Imagination has no age,
Dreams are forever”
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Alle leerders wat besonderse prestasies behaal het of veelsydigheid toon op sport- en kulturele gebied kan in aanmerking kom vir ‘n spesiale prys by die prysuitdeling. Voltooi asb. die VORM en handig die vorm en bewyse van prestasies (hardekopieë) teen Vrydag, 19 November, by juf. Lucia de Jager in. Leerders het hierdie week die vorm ontvang.
Uiteindelik daag die somer na ‘n lang afwesigheid in die Moederstad op. Die lekker warm weer is die spreekwoordelike balsem vir die siel, veral na die baie lang en koue winter. Die nuwe seisoen bevestig weereens die prag en praal van Oktober-maand in ons wonderlike land – vra maar vir die digter C. Louis Leipoldt met sy alombekende gedig dat Oktober-maand die mooiste, mooiste maand is:
‘Viooltjies in die voorhuis –
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!’
Vandag is dit weer “#Bok-Friday”. Die Springbokke se soeke na glorie loop beslis volgens die ‘Rassie-plan’ al was dit ‘n naelskraap oorwinning met 29 – 28 oor die Franse Hane tydens die titaniese kwarteindstryd op Sondagaand, 15 Oktober. Hierdie senutergende wedstryd het elke Bok-ondersteuner kersregop laat sit met veral die laaste 2 minute wat soos 20 minute gevoel het. Die Bokke het dalk nie hul beste spel op die dag gelewer nie, maar hulle was steeds genadeloos op verdediging en het in die proses die Franse se harte gebreek. Môre sit hulle hul wêreldbeker-rugbyveldtog teen Engeland tydens die semi-finale in Parys te Stade de France voort. Dit is dus belangrik dat jy vandag op “#Bok-Friday” en môre jou Springboktrui, of ‘n Springbok t-hemp, net iets groen en goud met trots sal aantrek om die Bokke te ondersteun. Mag die Bokke die naweek die Pommies wys waar Dawid die spreekwoordelike wortels gegrawe het. “Go Bokke Go. Together we are stronger!”
Op Dinsdag, 17 Oktober, het die jaarlikse matrieksaal tydens die weeklikse saalbyeenkoms plaasgevind waartydens ons alle oud-Jannies wat vanjaar in matriek is, uitgenooi het om die spesiale saal by te woon. Die doel van die matrieksaal is om vir die graad 7’s van 2018 wat vanjaar in verskeie skole in hul matriekjaar is, weer bymekaar te kry, hulle so ‘n bietjie terug te neem in tyd, erkenning te gee vir die belangrike rol wat hulle as oud-leerders in die skool gespeel het en af te sluit deur vir hul sterkte vir die komende nasionale eksamen asook hulle toekoms toe te wens. Ek ken nie persoonlik die spesifieke oud-Jannies nie, maar in ‘n baie kort rukkie het ek gou besef die voorreg wat ons het om met kwaliteit leerders en indirek met merkwaardige ouers/voogde te kan werk. Baie dankie Pieter Rademeyer (Skoolhoof van HS Jan van Riebeeck) dat jy ook die spesiale saal bygewoon het om jou matrikulante te ondersteun! Baie dankie Marinda vir die spesiale boodskap wat jy aan hulle deurgegee het en mag hulle altyd groot droom deur net hulself te wees. Vir seker gaan hulle volgende jaar diep spore trap waar ookal hulle hulsef mag bevind.

Ons junior- en senior kore het op Dinsdagaand, 17 Oktober, aan die Weskus Koorfees te Laerskool Tableview gaan deelneem. Beide ons kore het hul puik van hul taak gekwyt met hul uitstekende optredes en keuse van liedere. Hulle het hulself lekker ingeleef en vloeiend gesing met sorgvuldige aandag aan dinamiese kontraste. Baie dankie en geluk aan Helecia, ons dirigent vir beide kore, asook Ben wat albei kore uitstekend met die klavier begelei het. Om ‘n koor af te rig, is uitdagend, want dit behels dat elkeen se individuele sangstem ontwikkel moet word om uiteindelik ‘n eenheid in klank te vorm. Dit was vir seker die beste wat ek beide kore nog ooit hoor sing het. Dit was ‘n voorreg om na hulle te luister en maak my ongelooflik trots op hulle en ons wonderlike skool.

Hierdie week het die eerste wedstryde vir tennis en krieket afgeskop en vanmiddag neem ons aan ‘n swemgala te Laerskool Kampsbaai deel terwyl ons môre aan ‘n o.13A-tennistoernooi te Laerskool Welgemoed deelneem. My beste wense vergesel al ons spelers en mag julle die somersportgeleenthede terdeë geniet.
Ons Jannie-familie het gister twee baba’s ryker geword. Magdel Fourie by Huppelland en haar man, Wynand, het ‘n dogtertjie ryker geword en Maricqe en Cambel Coetzer ‘n seuntjie. Baie geluk! Mag Karli en George baie vreugde en geluk aan julle gesinne bring!
Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende bekende aanhaling van Oprah Winfrey. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet met die Springbokke wat ons gaan trots maak.
“If you look at what you have in life,
You always have more.
If you look at what you don’t have,
You will never have enough.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dit is my wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel terug by die skool te verwelkom na ‘n heerlike kort Oktober-vakansie. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om kwartaal 4 met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal 4 is slegs 10 weke lank met heelwat opwindende aktiwiteite wat gaan plaasvind.
Die somersport buitemuurse program het alreeds op Dinsdag, 10 Oktober, met mening afgeskop en maak ons gereed vir al die somersportwedstryde, -toernooi en –byeenkomste wat die kwartaal gaan plaasvind. Ek glo julle stem met my saam dat Moeder Natuur maar so spoedig moontlik die somer kan toelaat om Kaapstad en omgewing oor te neem veral na die lang en koue winterweer.
Maak asseblief seker dat jy en jou kind/ers op Saterdag, 02 Desember, beskikbaar sal wees vir die jaarlikse kleure-atletiekbyeenkoms (baanitems) wat te HS Jan van Riebeeck se sportveld aangebied sal word. Hou die spasie weekliks dop vir meer inligting in die verband.
Graag wil ek weer Laerskool Anton van Wouw se koortoer hartlik bedank wat ons op die laaste dag van die vorige kwartaal besoek het. Hulle het ons spesiaal in die skoolsaal kom vermaak met ‘n puik optrede as deel van die laaste skooldag se saalprogram. Hierdie uitstekende koor bestaan uit 67 leerders wat ‘n koortoer vanuit Pretoria na Kaapstad onderneem het. Laerskool Anton van Wouw is ook soos ons ‘n Afrikaansprekende skool met ongeveer 800 leerders en hulle is geleë aan die agterkant van die Brooklyn-mall te Pretoria.

Die afgelope vakansie is daar hard gewerk om seker te maak die volgende bouprojekte word so spoedig moontlik afgehandel:
- Huppelland – die opgradering van die klubhuis, aanbou van ‘n personeelkamer, personeeltoilette, terapiekamers, biblioteek asook ‘n kantoor vir Louise.

- Ons is tans besig om die ‘ou’ klerebank na die opgradeerde konsertstoor aan die voorkant van die skool te skuif. Die nuwe naam vir die klerebank is Jan Kas. Ons beplan om vanaf 30 Oktober amptelik te open en ‘n effektiewe diens aan ons leerders en ouers te lewer. Verdere inligting in die verband sal binnekort verskyn.

Baie geluk aan die volgende leerders wat puik tydens die WOW-spelfees (nasionale rondte) op 07 Oktober te Stellenbosch gevaar het:
- Graad 1: Wrensch Silvis (8ste)
- Graad 5: Katryn Silvis (2de) en Amelie van der Walt (6de)
- Graad 6: Isabella Marais (15de)
Julle maak ons baie trots!
Graag wil ek ook die volgende musiekleerders gelukwens met hul puik uitslae na afloop van die Unisa-Klaviereksamens. Dit wil gedoen wees!
- Olivia Blackmore
- Stella Zulch
- Sabine Barnard
- Ella Grey
- Frank van der Walt
- Daniella Boshoff
- Mari Steyn
- Neill Ferreira
Graag sluit ek af met die volgende bekende aanhaling van Pele en wens ek vir julle ‘n wonderlike kwartaal en naweek toe.
“Success is no accident. It is hard work and perseverance, learning, studying, sacrifice and most of all, love of what you are doing or learning to do.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
‘n Skool se trots lê vir seker by sy leerders. Daar is iets baie spesiaal wat gebeur sodra ons terugvoer rakende oud-leerders ontvang. Ons spog vandag met leerders wat in 2019 hul graad 7-jaar by ons voltooi het en tot verskeie hoërskole se leerderrade vir 2024 verkies is. Weer eens ‘n bewys dat ‘n Afrikaanse skool glad nie leerders beperk nie, maar eerder die geleenthede bied om teen hul eie tempo te ontwikkel. Ons is baie trots op elkeen van hierdie leerders wat hul skool op verskeie vlakke van leierskap sal ondersteun. Wees Jouself, liewe oud-Jannie!
HS JvR – Hoofleier (Mari Swanepoel), Hoofdogter (Liezel Snijders), Onderhoofseun (Peet Karsten). Ander leerderraadslede: Lisa Best, Zazzie Henderson, Daniella Coetzee, Layla Erasmus, Josephina Hellman en Darren Cloete.

HS Rondebosch – Bernard Lombaard (leerderraadslid)

St. Cyprians – Jacomien van der Westhuizen (onderhoofdogter)

Belangrike Datums
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
