Vandag is nie sommer net weer die gewone “#Bok-Vrydag” nie! Vandag gaan ons groot om die Springbokke voluit te ondersteun in hul soeke na roemryke glorie om vir die 4de keer as die Wêreldbeker-wenner uit die stryd teen New Zealand te tree. Die ‘Rassie-plan’ moet eenvoudig net môreaand teen die All Blacks beter uitgevoer word. Die naelskraap oorwinnings met 16 – 15 teenoor die arrogante Engelse asook teen die Franse Hane het menigte bokondersteuners se senuwees behoorlik opgekyl. Die Bokke het teen Engeland weereens nie hul beste spel op die dag gelewer nie, maar hulle het vir 80 minute gespeel en in hulself geglo. Nooit het hulle paniekerig geraak nie en dit terwyl alles op die dag verkeerd geloop het. Die Engelse spelers was die spreekwoordelike kaartmannetjies op die veld en het hard probeer om die Bokke te ontsenu. Die Springbokke het ons veral die afgelope 2 weke beslis ‘n paar belangrike lewenslesse geleer en ek kan kortliks dit soos volg saamvat:

  • Moet nooit moed opgee nie, glo in jouself en bly gefokus!
  • Deursettingsvermoë word beloon.
  • Wees nederig, handhaaf jouself en stel altyd ‘n voorbeeld al loop dinge nie volgens jou verwagtinge nie.
  • Wees aanpasbaar en dankbaar.

Ons wag al sedert 1995 vir nog ‘n spesiale finaal teen die All Blacks en dit realiseer môreaand om 21:00 in Parys te Stade de France. Alhoewel Parys bekend staan as die die stad van liefde, gaan daar beslis bittermin liefde tydens die wedstryd wees, maar wel wedersydse respek tussen die twee merkwaardige spanne. Jy het nie meer ‘n keuse nie, vandag op “#Bok-Vrydag” en môre moet jy asseblief jou springboktrui, of ‘n springbok t-hemp, of net iets groen en goud moet aantrek of jouself laat groen verf om die Bokke ten volle te ondersteun. Mag die Bokke die naweek geskiedenis maak en ons land weer verenig oor alle kulture en hoop gee vir ‘n beter Suid-Afrika waar daar dringende aandag aan armoede, misdaad en korrupsie gegee moet word. “Go Bokke Go, just one more time. Together we are stronger!”

Op Dinsdag, 24 Oktober, het ons vir die eerste keer ‘n suskesvolle mini-krieketdag by die Conradieveld aangebied. Die volgende skole uit ons onmiddellike omgewing het deelgeneem:

  • Laerskool Kampsbaai
  • Laerskool Llundudno
  • Laerskool Kronendal
  • Laerskool Houtbaai
  • Reddam House

Op Donderdagaand, 19 Oktober, het Huppelland hul jaarlikse kunsuitstalling in die opgegradeerde klubhuis aangebied. Louise en haar span het hulself weereens oortref met die pragtigste uitstalling van ons leerders se kinderkuns wat Huppelland-ouers kon aankoop. Dit vorm ook deel van die gewilde onthouboeke. Louise het vanjaar die volgende skilders gebruik en die verskillende grade het hul eie kunswerke daarop baseer:

  • Shakes Tembani (Gr. 00)
  • Ruschka du Toit (Gr. 0)
  • Michael Taylor (Gr. R)

Ons Huppelland-ouers het die aand in groot getalle opgedaag, selfs die weer het saamgespeel met een van die mooiste en windlose aande in die Moederstad. Die lekker samesyn en omgee-kameradie onder die ouers was amper tasbaar. Die bouprojek by Huppelland is amper voltooi en vroeg volgende jaar hoop ons om bouprojeknommer 2 te begin, naamlik die bou van ‘n balletsaal, nuwe ingang en ontvangsarea. Hierdie projek word ook deur ‘n weldoender befonds waarvoor ons baie dankbaar is.

Verlede naweek was Hoërskool Jan van Riebeeck se 50ste reünie m.a.w. die matrikulante van 1973. Twaalf van hulle was vanaf gr. 1 by die laerskool en ek het die voorreg gehad om hulle Vrydagmiddag, 20 Oktober, by die laerskool te ontmoet en vir ‘n kort toer deur die skool te vergesel. Wyle mnr. du Preez was destyds die laerskoolhoof en merkwaardig was al die stories en staaltjies wat hulle rakende hul laerskoolloopbaan met my gedeel het.

Die opwinding is baie groot met die opening van Jan Kas (ons eie nuwe klerewinkel) op Maandag, 30 Oktober. Die ou konsertstoor is opgegradeer tot ‘n pragtige en funksionele klerewinkel. Die hele projek sluit ook die loods van die Jan Kas aanlyn aankope platform wat deur Marié Cruywagen (BR-Lid en ouer van ons skool) ontwerp is om juis skooldragaankope so gerieflik moontlik vir ouers/voogde te maak. Ons is haar baie dankbaar vir al die tyd en werk wat sy by die skool insit. Groot dankie ook aan ons OOV-Voorsitter, Coreen Scholtz, asook Elmarie Erasmus wat met die voorraadoorname en voorbereiding van Jan Kas gehelp het. Baie dankie ook aan Marinda, Liesel (finansies) en Suzaan wat ook hard agter die skerms gewerk het om die sukses van die projek te verseker. Suzaan gaan vir ons Jan Kas bestuur en beman.

Dit is dan my voorreg om met julle te deel dat Raché de Goede-Turner vanaf 01 Januarie 2024 amptelik deur die departement (WKOD) as ons nuwe Hoof van die grondslagfase aangestel is. Baie geluk en welverdiend, Raché. Sterkte met die groot taak wat voorê.

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende bekende aanhaling van Walt Disney. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet terwyl ons styf duimvas hou dat die Springbokke die naweek geskiedenis gaan maak.

“Laughter is timeless,
Imagination has no age,
Dreams are forever”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF