Dit is my wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel terug by die skool te verwelkom na ‘n heerlike kort Oktober-vakansie. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om kwartaal 4 met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal 4 is slegs 10 weke lank met heelwat opwindende aktiwiteite wat gaan plaasvind.

Die somersport buitemuurse program het alreeds op Dinsdag, 10 Oktober, met mening afgeskop en maak ons gereed vir al die somersportwedstryde, -toernooi en –byeenkomste wat die kwartaal gaan plaasvind. Ek glo julle stem met my saam dat Moeder Natuur maar so spoedig moontlik die somer kan toelaat om Kaapstad en omgewing oor te neem veral na die lang en koue winterweer.

Maak asseblief seker dat jy en jou kind/ers op Saterdag, 02 Desember, beskikbaar sal wees vir die jaarlikse kleure-atletiekbyeenkoms (baanitems) wat te HS Jan van Riebeeck se sportveld aangebied sal word. Hou die spasie weekliks dop vir meer inligting in die verband.

Graag wil ek weer Laerskool Anton van Wouw se koortoer hartlik bedank wat ons op die laaste dag van die vorige kwartaal besoek het. Hulle het ons spesiaal in die skoolsaal kom vermaak met ‘n puik optrede as deel van die laaste skooldag se saalprogram. Hierdie uitstekende koor bestaan uit 67 leerders wat ‘n koortoer vanuit Pretoria na Kaapstad onderneem het. Laerskool Anton van Wouw is ook soos ons ‘n Afrikaansprekende skool met ongeveer 800 leerders en hulle is geleë aan die agterkant van die Brooklyn-mall te Pretoria.

Die afgelope vakansie is daar hard gewerk om seker te maak die volgende bouprojekte word so spoedig moontlik afgehandel:

  • Huppelland – die opgradering van die klubhuis, aanbou van ‘n personeelkamer, personeeltoilette, terapiekamers, biblioteek asook ‘n kantoor vir Louise.

  • Ons is tans besig om die ‘ou’ klerebank na die opgradeerde konsertstoor aan die voorkant van die skool te skuif. Die nuwe naam vir die klerebank is Jan Kas. Ons beplan om vanaf 30 Oktober amptelik te open en ‘n effektiewe diens aan ons leerders en ouers te lewer. Verdere inligting in die verband sal binnekort verskyn.

Baie geluk aan die volgende leerders wat puik tydens die WOW-spelfees (nasionale rondte) op 07 Oktober te Stellenbosch gevaar het:

  • Graad 1: Wrensch Silvis (8ste)
  • Graad 5: Katryn Silvis (2de) en Amelie van der Walt (6de)
  • Graad 6: Isabella Marais (15de)

Julle maak ons baie trots!

Graag wil ek ook die volgende musiekleerders gelukwens met hul puik uitslae na afloop van die Unisa-Klaviereksamens. Dit wil gedoen wees!

  • Olivia Blackmore
  • Stella Zulch
  • Sabine Barnard
  • Ella Grey
  • Frank van der Walt
  • Daniella Boshoff
  • Mari Steyn
  • Neill Ferreira

Graag sluit ek af met die volgende bekende aanhaling van Pele en wens ek vir julle ‘n wonderlike kwartaal en naweek toe.

“Success is no accident. It is hard work and perseverance, learning, studying, sacrifice and most of all, love of what you are doing or learning to do.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF