Groot was die opwinding op Vrydag, 03 November, vir leerders, ouers en personeel om die Bokke in die stad te gaan toejuig as deel van die Bokke se trofeetoer deur die Moederstad en die res van die land. Talle geesdriftige Suid-Afrikaners het in die stadskom saamgedrom en dit was ‘n riem onder die hart om te sien dat die Bokondersteuners omtrent elke kultuur van ons reënboognasie verteenwoordig het. Die Bokke het beslis die vermoë om alle Suid-Afrikaners van elke moontlike agtergrond, kultuur en geloof bymekaar te bring en te herenig met volkstrots. Die Bokke is die enigste span wat die Webb Ellis-beker op drie verskillende kontinente (Afrika, Asië en Europa) gewen het. As Suid-Afrkaners kan ons gerus onsself ‘n klop op die skouer gee, want ons veerkragtigheid staan wêreldwyd soos ‘n paal bo water uit. Dit is belangrik dat ons nou op die momentum bou en die Proteas ook ondersteun. Wie weet, dalk is ‘n dubbele wêreldbeker vir 2023 ons beskore.

Op Vrydag, 17 November, begin die finale eksamen vir die gr. 7’s. Die assesserings vir die Grondslagfase is reeds volstoom aan die gang. Vir die eerste keer skryf ons gr. 1’s en 2’s deurlopende assesserings en net die gr. 3’s volg ‘n amptelike rooster. Ek mag mos nie eintlik die ‘E-woord’ gebruik nie, maar op Dinsdag, 21 November, begin die gr. 4 – 6 leerders ook met hul eksamen en ek wens al ons leerders, ouers/voogde en personeel voorspoed toe. Eksamens verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders en dit filter ook dikwels deur na die huisgesin. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as personeel te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres as gevolg van enige eksamen laat enige persoon snak na sy asem, maar dit is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit ook voordelig wees. Probeer gerus die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres en moontlik jou eie angstigheid daaroor hok te slaan:

  • Berei betyds voor. Help om saam met jou kind/ers betyds ‘n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd gee om ook te ontspan en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle genoeg slaap kry. Handhawing van ‘n roetine sal beslis help!
  • Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van stressors by die huis vir jou kind/ers om te leer.
  • Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
  • Skep ‘n emosionele band met jou kind/ers dat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen stap nie. Vra vir hulle hoe die eksamen was en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel word nie.
  • Help jou kind/ers om ‘n gewoonte te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die dag inpak.
  • Vermy gejaagdheid en om op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool jou kinders af te laai, want dit maak leerders angstig.

So tussen die eksamen en die leer gaan die somersportprogram in skooltyd vir gr. 1 – 3-leerders voort terwyl die gr. 4 – 7 leerders slegs op atletiek gaan fokus a.g.v. die kleure-atletiek wat op Woensdag, 06 Desember, (Velditems) en Vrydag, 08 Desember, (baanitems) by die hoërskool se velde plaasvind. Die dirigente word ook die week aangewys en binne die kleurgroepe gaan daar lekker gesing en voorberei word.

Op Maandag, 06 November, het die jaarlikse begrotingsvergadering met ouers vanaf 18:00 in die biblioteek plaasgevind. Die 2024 begroting en verhogings van skoolfooie is soos volg goedgekeur:

Die 2024 skoolgelde is op R39 400 per GF-leerder en R40 400 per ISF-leerder vir die Laerskool, en Huppelland: R44 200 per leerder vir Graad R en R43 200 vir voor-Graad R vasgestel. Baie dankie ons Finansiële Bestuurder, Liesel Hammond, en ons Tesourier, Susan van der Walt, vir jul kosbare tyd en harde werk om ‘n uitstekende en effektiewe begroting vir finale goedkeuring te kon voorlê. Baie dankie aan die ouers/voogde wat die belangrike vergadering bygewoon het.

Hiermee wil ek ook ons ouers/voogde versoek om ernstig met jul kind/ers te praat oor die gebruik van sosiale media. Die onderwysers het die afgelope week onder my aandag gebring dat verskeie leerders mekaar op sosiale media platforms, veral TikTok en Snapchat aanvat, onvanpaste video’s maak en plaas asook onaanvaarbare dinge kwyt raak. Hierdie tipe sosiale media platforms is nie ouderdomsgepas vir ons leerders nie en alhoewel dit buite skoolure plaasvind, is ek bekommerd dat ouers/voogde dalk salig onbewus is dat hul kind/ers dit gebruik of jul toestemming daarvoor het. Ons beplan om net na die eksamen weer met ons leerders oor die gevare van sosiale media te praat.

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Mary Lou Retton oor positiewe denke. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet en nou moet ons, ons volle gewig agter die Proteas gooi.

“If you stay positive
good things and
good people will be drawn to you’’.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF