So kom week 6 van die laaste kwartaal tot ‘n einde met die gr. 7’s wat vandag met hul finale eksamen by die laerskool afskop met die skryf van Wiskunde. Die jaar het besonders vinnig verby gesnel en as ‘n mens vinnig daaroor wil reflekteer, wonder ek dadelik hoe is dit moontlik dat dit al amper weer Kersfees kan wees. Die jaar was besonders besig, maar tog was dit ‘n suksesvolle jaar met hope opwinding en sukses. Die somersportbuitemuurse program maak ook vandag klaar met die aflosgala wat by Laerskool Kampsbaai plaasvind. Gedurende die eksamen gaan ons voort met sportoefeninge, maar dit geskied in skooltyd. Ons leerders geniet dit terdeë om tydens die eksamen en veral na afloop van die skryf van ‘n vraestel ‘n bietjie uit die klas te kom om aan ‘n sportaktiwtiteit deel te neem. Dit help ongelooflik baie vir die leerders om die onnodige eksamenangs dikwels onbewustelik onder beheer te kry asook om die eksamenervaring in ‘n positiewe lig te sien.

Ons leerders se merkwaardige deelname en prestasie op kulturele- en sportgebied hierdie afgelope jaar staan uit soos ‘n paal bo water en dit terwyl hul ‘arme’ ouers/voogde onder druk was om al die logistieke reëlings uit te werk en seker te maak hul kinders daag betyds by al die verskillende geleenthede op. Daarvoor salueer ek julle as ouers/voogde asook al die personeel en afrigters wat instrumenteel was tot die suksesvolle skepping van ‘n gesonde sportkultuur by ons skool binne ‘n relatiewe kort tydjie. Daardeur sê ek nie dat ons nou ‘n sportskool wil word nie, maar eerder dat ons onderneem om in die toekoms voort te bou om geleenthede vir ons leerders te skep om te ontwikkel. Graag gebruik ek die voorbeeld van die aflosgalas wat die afgelope kwartaal vir die eerste keer plaasgevind het. Dit was so lekker om verlede Vrydag te sien hoe ons swemmers die aflosgala by die Duitse Skool geniet het. Opvallend vir my was die kameraderie tussen al ons swemmers, selfs tussen seuns en dogters. Dit was werklik ‘n trotste oomblik vir my as skoolhoof om te ervaar hoe die Jannies vir mekaar omgee en vir mekaar uitkyk.

Die lading van al die ‘einde van die jaar’-departementele administrasie beperk ongelukkig my tyd om al die somersportwedstryde by te woon. Gelukkig kon ek op Woensdag, 15 November, ‘n draai by die tennis tuis maak waar ons dogters o.13A teen LS Kenridge o.13A 4 – 2 gewen het asook by die o.11A-kriektspan wat hul laaste wedstryd teen LS Kampsbaai o.11A in ‘n spannende stryd gewen het. Baie geluk aan ons o.13A-dogterspan met die puik oorwinning asook aan juf. Iscké en haar o.11A-krieketspan wat die seisoen onoorwonne afgesluit het.

My dankbaarheidsbeker loop verder oor as ek sien hoe die vierkant weekliks esteties ‘mooier’ en ‘mooier’ word. Ek wonder nog of julle kan onthou hoe die ‘ou’ vierkant gelyk het? Kom loer gerus en aanskou hoe die voorheen slegs beton-, steen- en ‘harde’-omgewing binnekort in ‘n pragtige lushof gaan verander. Verder probeer ons orals die skoolterrein estieties mooier maak. Graag deel ek dan ook die goeie nuus dat ons hierdie afgelope week begin het om die ablusieareas vir ons inwonende terreinpersoneel op te gradeer. Ek sal julle op hoogte hou soos die projek vorder. Ons wil juis met die opgradering verseker dat ons lojale terreinpersoneel met die nodige respek behandel word deur vir hulle en hul gesinne die nodige ablusie- en wasgeriewe te skep.

Ek word daagliks deur die verjaardag-leerders tot in die afgrond bederf met heerlike soet- en/of eetgoed. Ek maak dan altyd ‘n ophef van die geleentheid om hul verjaardae vir hulle ekstra spesiaal te maak deur vir ‘n spesiale verjaarsagplakker en ‘n klein lekkertjie te gee. Op Vrydag, 10 November, is ek deur die gr. 7-tweeling, Jana en Klare Maree, saam met hul ma met ‘n smaaklike ‘doughnut’ bederf om hul dertiende verjaardag te vier. My beste wense vergesel hulle vir hul nuwe lewensjaar.

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling deur Roy. T. Bennet oor positiewe denke. Mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin, vriende of familie geniet.

“Don’t be pushed around by the fears in your mind.
be led by the dreams in your heart.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF