November het onverwags sy opwagting gemaak met Oktober wat as gevolg van die rugby- en krieketwêreldbeker net te vinnig verby gesnel het. Ek glo dat na die Springbokke se naelskraap oorwinning in die finaal teen die All Blacks om as wêreldkampioene bekroon te word, moet ons van nou af in Suid-Afrika die maand Oktober na Boktober herdoop. Die Bokke het beslis die vermoë om die land te verenig soos niemand anders kan nie. Hulle bewys weereens dat uitnemendheid in ons land moontlik is en dat ons almal daarna moet streef!

Ek dink almal stem saam dat die Bokke se laaste 3 wedstryde om elke keer met net een punt te wen, werk nie vir ‘n stoere bokondersteuner se senuwees nie. Ek glo die rugbywêreld wag al sedert 1995 vir die klassieke finaal tussen die magtige All Blacks en die Springbokke. Die Springbokke het vir seker die moeilikste pad na die finaal gehad, maar tog het hulle volhard om die eerste span in die geskiedenis te word wat die gesogte titel vir ‘n 4de keer te kon inpalm. Merkwaardig is dat hulle die gesogte titel vir 2 jaar agtereenvolgens kon verdedig en die indrukwekkende Webb Ellis-trofee weer terug na Suid-Afrika kon bring. Die Springbokke leer ons almal groot lewenslesse met hul voete plat op die aarde en ‘n nederige kaptein, Siya Kholisi, wat saam met sy span tot die bittereinde baklei het vir hul land. Soos Rassie gesê het: hulle speel nie vir hulle self nie, maar vir elke Suid-Afrikaner wat elke dag soveel buitengewone uitdagings moet trotseer. Wel gedaan, Bokke! Julle staan vir eenheid en nederigheid en maak elke Suid-Afrikaner so trots!

Verlede Vrydag, 27 Oktober, was Hoërskool Jan van Riebeeck se jaarlikse gholfdag wat op die idilliese Atlantic Beach gholfoord aangebied is. Die puik georganiseerde dag is deur heelwat van ons laerskoolouers ook bygewoon. Die gholfbaan is in ‘n puik kondisie as gevolg van die goeie winterreën. Die laerskool se gholfspan is deur myself, Warren, Rashard en die bekende sportster, Herschelle Gibbs verteenwoordig. Dit was ‘n groot voorreg om Herschelle te kon ontmoet en dan nog 18 putjies gholf saam met hom te kon speel. Hy is voorwaar ‘n legende en kan omtrent enige sport met groot gemak speel.

Die opwinding was groot op Maandag, 30 Oktober, met die amptelike opening van Jan Kas (die nuwe klerewinkel). Die opening behels dan ook die bekendstelling van Jan Kas se aanlyn aankoop platform wat deur Marié Cruywagen ontwerp en geskep is vir ons ouers/voogde se gerief. Dit maak aankope soveel makliker en soomloos. Juf. Suzaan, baie dankie dat jy vir ons Jan Kas met ‘n vriendelike glimlag gaan bestuur. Baie geluk aan Hila Hertzog en Ruben Eksteen wat met die gepaste naam Jan Kas vorendag gekom het na afloop van ‘n kompetisie onder die gr. 6-leerders om met ‘n kreatiewe naam vir die nuwe klerewinkel na vore te kom.

Ek herinner weer en nooi al ons ouers/voogde na die jaarlikse begrotingsvergadering uit wat op Maandag, 06 November, om 18:00 in die biblioteek plaasvind. Tydens hierdie belangrike vergadering word die skoolfooie vir 2024 bekragtig asook die 2024 begroting amptelik deur ouers/voogde goedgekeur.

Verder nooi ek ook al ons ouers/voogde uit om na die vierkant wat oor die afgelope naweek pragtig verfraai is, te kom kyk. Ons beplan om dit oor tyd in ‘n pragtige lushof te omskep waar leerders en personeel tydens pouses kan gaan sit en heerlik ontspan asook om daar buitelug-funksies aan te bied.

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende aanhaling rakende tyd. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet en nou moet ons ons volle gewig agter die Proteas gooi. Stel julle voor ons wen beide die rugby- en krieketwêreldbekers in dieselfde jaar, dan gee president Cyril ons seker ‘n hele week af.

“Tyd is te stadig vir die wat wag,
te lank vir die wat treur,
te kort vir die wat haastig is,
maar vir die wat liefhet , staan tyd stil om dankbaar te wees.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF