Uiteindelik daag die somer na ‘n lang afwesigheid in die Moederstad op. Die lekker warm weer is die spreekwoordelike balsem vir die siel, veral na die baie lang en koue winter. Die nuwe seisoen bevestig weereens die prag en praal van Oktober-maand in ons wonderlike land – vra maar vir die digter C. Louis Leipoldt met sy alombekende gedig dat Oktober-maand die mooiste, mooiste maand is:

‘Viooltjies in die voorhuis –
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!’

Vandag is dit weer “#Bok-Friday”. Die Springbokke se soeke na glorie loop beslis volgens die ‘Rassie-plan’ al was dit ‘n naelskraap oorwinning met 29 – 28 oor die Franse Hane tydens die titaniese kwarteindstryd op Sondagaand, 15 Oktober. Hierdie senutergende wedstryd het elke Bok-ondersteuner kersregop laat sit met veral die laaste 2 minute wat soos 20 minute gevoel het. Die Bokke het dalk nie hul beste spel op die dag gelewer nie, maar hulle was steeds genadeloos op verdediging en het in die proses die Franse se harte gebreek. Môre sit hulle hul wêreldbeker-rugbyveldtog teen Engeland tydens die semi-finale in Parys te Stade de France voort. Dit is dus belangrik dat jy vandag op “#Bok-Friday” en môre jou Springboktrui, of ‘n Springbok t-hemp, net iets groen en goud met trots sal aantrek om die Bokke te ondersteun. Mag die Bokke die naweek die Pommies wys waar Dawid die spreekwoordelike wortels gegrawe het. “Go Bokke Go. Together we are stronger!”

Op Dinsdag, 17 Oktober, het die jaarlikse matrieksaal tydens die weeklikse saalbyeenkoms plaasgevind waartydens ons alle oud-Jannies wat vanjaar in matriek is, uitgenooi het om die spesiale saal by te woon. Die doel van die matrieksaal is om vir die graad 7’s van 2018 wat vanjaar in verskeie skole in hul matriekjaar is, weer bymekaar te kry, hulle so ‘n bietjie terug te neem in tyd, erkenning te gee vir die belangrike rol wat hulle as oud-leerders in die skool gespeel het en af te sluit deur vir hul sterkte vir die komende nasionale eksamen asook hulle toekoms toe te wens. Ek ken nie persoonlik die spesifieke oud-Jannies nie, maar in ‘n baie kort rukkie het ek gou besef die voorreg wat ons het om met kwaliteit leerders en indirek met merkwaardige ouers/voogde te kan werk. Baie dankie Pieter Rademeyer (Skoolhoof van HS Jan van Riebeeck) dat jy ook die spesiale saal bygewoon het om jou matrikulante te ondersteun! Baie dankie Marinda vir die spesiale boodskap wat jy aan hulle deurgegee het en mag hulle altyd groot droom deur net hulself te wees. Vir seker gaan hulle volgende jaar diep spore trap waar ookal hulle hulsef mag bevind.

Ons junior- en senior kore het op Dinsdagaand, 17 Oktober, aan die Weskus Koorfees te Laerskool Tableview gaan deelneem. Beide ons kore het hul puik van hul taak gekwyt met hul uitstekende optredes en keuse van liedere. Hulle het hulself lekker ingeleef en vloeiend gesing met sorgvuldige aandag aan dinamiese kontraste. Baie dankie en geluk aan Helecia, ons dirigent vir beide kore, asook Ben wat albei kore uitstekend met die klavier begelei het. Om ‘n koor af te rig, is uitdagend, want dit behels dat elkeen se individuele sangstem ontwikkel moet word om uiteindelik ‘n eenheid in klank te vorm. Dit was vir seker die beste wat ek beide kore nog ooit hoor sing het. Dit was ‘n voorreg om na hulle te luister en maak my ongelooflik trots op hulle en ons wonderlike skool.

Hierdie week het die eerste wedstryde vir tennis en krieket afgeskop en vanmiddag neem ons aan ‘n swemgala te Laerskool Kampsbaai deel terwyl ons môre aan ‘n o.13A-tennistoernooi te Laerskool Welgemoed deelneem. My beste wense vergesel al ons spelers en mag julle die somersportgeleenthede terdeë geniet.

Ons Jannie-familie het gister twee baba’s ryker geword. Magdel Fourie by Huppelland en haar man, Wynand, het ‘n dogtertjie ryker geword en Maricqe en Cambel Coetzer ‘n seuntjie. Baie geluk! Mag Karli en George baie vreugde en geluk aan julle gesinne bring!

Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende bekende aanhaling van Oprah Winfrey. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet met die Springbokke wat ons gaan trots maak.

“If you look at what you have in life,
You always have more.
If you look at what you don’t have,
You will never have enough.’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF