Kategorie: Algemeen
Kan jy goed organiseer? Wil jy graag help om die lewe makliker en lekkerder vir almal by Laerskool Jan van Riebeeck te maak of het jy ander eienskappe wat ons by die OOV nodig het?
Kontak asb. vir Ria Hertzog (oov@jvrprim.co.za of 082 320 3288) as jy bereid is om op die OOV te dien of met enige vrae.
Ons is so dankbaar dat skole vanjaar hul deure kon oopmaak soos beplan sonder dat die pandemie die laaste sê het. Groot opgewondenheid het geheers en hoë vlakke van positiewe energie was tasbaar op Woensdag, 19 Januarie, met die opening van ons trotse skool. Die Burger en Maroela Media het ook spesiaal ons Graad 1’s kom afneem terwyl die prefekte al die nuwe leerders ontvang het om die eerste skooldag van die leerders en hul ouers meer spesiaal te maak. Laat my ook toe om al ons nuwe ouers by Huppelland en die Laerskool te verwelkom. Wees verseker julle het die beste keuse vir jul kind gemaak en my beste wense vergesel julle vir die nuwe reis.
Ek wil julle verseker dat ons personeel slaggereed is om 2022 vir ons leerders baie spesiaal te maak. Ek glo julle het ook ‘n heerlike vakansie geniet, kosbare tyd saam met familie spandeer en die spreekwoordelike ‘batterye’ herlaai is om die nuwe jaar aan te pak.
Die pandemie het vir die afgelope 2 jaar verwoesting gesaai en ons is deur die virus geaffekteer of geïnfekteer. Graag wil ek die skoolgemeenskap komplimenteer wat tydens die moeilike tye weereens sy veerkragtigheid getoon het. Baie dankie dat ons mekaar kon inspireer en onderskraag om die uitdagings op ‘n kreatiewe wyse te bowe te kom. Ons moet nog steeds voortbou en uitreik na gemeenskappe wat swaar deur die pandemie geraak is.
Weens die feit dat die pandemie ons 100ste bestaansjaarvieringe verlede jaar in die wiele gery het, beplan ons om vanjaar beslis 100 +1 se feesvieringe te geniet. Op Vrydag, 28 Januarie, skop ons met 100 + 1 Jooldag vir die leerders af. Op Maandag, 31 Januarie, is dit die ouers/voogde se beurt om die ryk tradisies van 100 + 1 saam te vier. Hou gerus die Karri-toep dop om vroegtydige bestellings vir heerlike kos te plaas. Volledige programme volg.
Laat my ook toe om Lousie Neser, die nuwe hoof by Huppelland, by ons te verwelkom. Mag sy die nuwe fase in haar lewe geniet en Huppelland van krag-tot-krag neem.

Ter voorbereiding vir die jaar het ons personeel op Maandag, 17 Januarie, ‘n insiggewende opleidingssessie en praatjie van Lynette Beer oor die Vierkleur Temperament-Model bygewoon. Hierdie model help ongelooflik baie om jou eie en ander mense se temperament te verstaan wat instrumenteel tot beter menseverhoudinge is. Sy het ook op die liefdestale gefokus en ons bewus gemaak dat mense op sekere maniere reageer namate die manier waarop daar gekommunikeer word. Dis natuurlik waardevolle kennis aangesien ons dit direk met die leerders in ons skool kan toepas. “Google” haar gerus, dit is die moeite werd! Ons poog om voortdurend gefokusde opleiding aan ons personeel te bied om te verseker dat die standaard en kwaliteit van onderrig uitmuntend bly.

Ons nuwe ouerhandleiding het ook sy verskyning gemaak. Elke gesin sal ‘n kopie ontvang en graag wil ek Suzaan Burger vir die spogstuk bedank. Die ouerhandleiding bevat alle inligting wat jy benodig rakende ons skool en sy aktiwiteite. Dit is ook op die webtuiste beskikbaar.

Op ‘n hartseer noot versoek ek jul gebede/gedagtes vir die Paschke-Bos gesin. Van die gesinslede was Dinsdag, 18 Januarie, in ‘n motorongeluk betrokke waartydens hul geliefde ouma gesterf het en Kolya (vanjaar Gr. 6) ernstige beserings opgedoen het. Kolya is tans in ‘n stabiele toestand in die Rooikuis-Hospitaal waar hy ‘n operasie ondergaan het. Ons dink aan die familie tydens die moeilike tyd en bid dat Kolya spoedig sal herstel.
Hiermee sluit ek dan af en wens vir jul almal ‘n voorspoedige jaar vol vreugde toe en mag ons stelselmatig terugkeer na ‘n tipe normaal waar ons weer voluit kan leef.
Geniet ‘n wonderlike naweek!
Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof
Program:
Woensdag, 19 Jan. – Skool begin
- Graad 1-ouers is welkom om hul kind na hul klas te vergesel. Foto’s is welkom. Die Burger en Maroela Media sal hier wees om foto’s, met toestemming van ouers/voogde, te neem.
- Oorspronklike skooltye sal gehandhaaf word soos voor Covid: soggens 07:45 en smiddae Maandag tot Donderdag: Gr. 1-2 – 13:12 ; Gr. 3 – 13:41 ; Gr. 4-7 – 14:10
Vrydag: Gr. 1-2 – 13:09 ; Gr. 3 – 13:34 ; Gr. 4-7 – 14:00 - Klerebanktye:
– 07:20 tot almal gehelp is
– 13:30 tot almal gehelp is, maar nie later as 15:30 nie
Verkose aankoopmetode is aanlyn.
Items word gepak sodra beskikbaar en word afgelewer by jou kind. - Nasorg begin
- Ouerhandleiding: Elke jongste en enigste ontvang 1 kopie per gesin.
- Algemene vervoerbeleid word aan elke leerder uitgedeel om onderteken te word.
- Snoepie is oop, maar etes is nie beskikbaar nie. Slegs broodjies sal te koop aangebied word. Etes sal weer vanaf Maandag, 24 Jan., beskikbaar wees.
Donderdag, 20 Jan.
- Klerebanktye:
– 07:20 tot almal gehelp is
– 13:30 tot almal gehelp is, maar nie later as 15:30 nie
Verkose aankoopmetode is aanlyn.
Items word gepak sodra beskikbaar en word afgelewer by jou kind.
Vrydag, 21 Jan. – Stuur Algemene vervoerbeleid terug skool toe.
Dinsdag, 25 Jan. – Gr. 1 en 2-ouerinligtingsvergadering in registerklasse om 18:00-19:00.
Woensdag, 26 Jan.
- Gr. 3 en 4-ouerinligtingsvergadering in registerklasse om 18:00-19:00
Donderdag, 27 Jan.
- Gr. 5 en 6-ouerinligtingsvergadering om 18:00-19:00.
- Gr. 7-onderwysers sal in hul klasse beskikbaar wees (18:00-19:00) indien gesprek of ontmoeting verlang word. Inligtingsessie is reeds Nov. 2021 gehou.
Vrydag, 28 Jan.
- Jannies Jooldag (LS JvR 100 + 1) – pretdag vir leerders in skooltyd.
- Kleredrag: Feeshempie en donkerblou broekie (volledige inligting volg in Vr. se nuusbrief)
Saterdag, 29 Jan. – Lead4Life by skool vir Leerderraadslede
Maandag, 31 Jan.
- Skool se verjaardag! Onderwysers en ouers/voogde vier 100+1! Sien uitnodiging op Karri-toep.
- Algemene gesprek om 18:00 in skoolsaal. Kunsuitstalling dwarsdeur skool en ete (Foodtruck) sal daarna volg.
- Somerbuitemuurse program (sport en kultuur) begin.
*Neem asb. kennis dat skoolfondsrekeninge voor einde Januarie uitgestuur sal word met volledige inligting rakende musiek- en nasorginligting daarop aangedui.
Dis die klein gebare wat regtig saak maak …
Mag hierdie feestyd ons fokus daarop rig om ons ingesteldheid so te kondisioneer dat ons die mooi in elke geleentheid sal raaksien. In ‘n tyd waartydens ons emmertjies leeg voel en ons alle balle in die lug probeer hou, het ons dit meer as ooit nodig om vas te hou aan die opregte, klein gebare wat die lewe eintlik so kosbaar maak. Daardie ontasbare hartsdinge wat ons hart en siel voed.
In plaas daarvan om te hunker na die ‘groot’ geskenke onder die kersboom moet ons dalk pertinent na die onskuldige, spontane mooi rondom ons soek – daardie glimlag wanneer jou trane ongesiens vlak lê; die oproep wanneer jy dit regtig nodig het; die ‘op-jou-tande-kners’ eerder as kritiek lewer; die sagte kyk diep in iemand se oë wat regtig raakgesien wil word; die sagte woorde wat ons so graag wil hoor.
Wanneer ons oor ‘n jaar vol baie meer uitdagings as wat ons op ons een hand kan tel, reflekteer, het ons steeds soveel om oor gelukkig en dankbaar te voel. Ons moet daarop fokus om die spreekwoordelike ‘silwer randjie rondom elke donker wolk’ raak te sien. Dis ook ‘n belangrike vaardigheid wat ons aan ons kinders moet oordra veral gedurende hierdie ongekende tye.
Die afgelope 2 weke het Laerskool Jan van Riebeeck interessante, uitdagende maar ook opwindende tye beleef al het die infeksiekoers van die onwelkome Omicron-virus soos ‘n veldbrand onder die leerders en personeel versprei. Ons is dankbaar dat ons as volwassenes en kinders ouer as 12 jaar die geleentheid gekry het om ingeënt te word. Ek glo julle deel ook my groot bekommernis rakende die gesondheid en geestelike welstand van ons kinders aangesien die 4de vlaag hoofsaaklik die jong kinders infekteer. Met die aanvang van die pandemie moes skole besluite neem soos die personeel siek word. Vandag is dit egter omgekeerd waar die leerders siek word en geld besluite rakende die aanvang van Covid nie noodwendig meer nie. Hoe dikwels bevraagteken ons elke situasie eerder as om te vra wat ons daaruit kan leer. Laat ons fokus tydens hierdie feesseisoen op ons ingesteldheid wees. Kom ons hunker na die klein gebare en die liefde wat ons kinders en familie/vriende aan ons bring. Probeer om jou afstandbeheer te programmeer sodat vrede, liefde en dankbaarheid die grootste geskenk onder jou kersboom sal wees, want daar was hierdie jaar ook hope mooi ‘dinge’ in ons lewens! Reflekteer ‘n bietjie oor jou lewe die afgelope jaar en koester al die mooi wat plaasgevind het.
Graag wil ek afsluit om vir julle almal hartlik te bedank dat julle my eerste jaar as skoolhoof by die ongelooflike skool so spesiaal en kosbaar gemaak het. Ek en my gesin is met ope arms ontvang en dit is wonderlik om deel van ‘n skoolgemeenskap te wees waar jy net jouself kan wees. Baie dankie ook aan die personeel en die beheerraad vir jul harde werk, veerkragtigheid en ondersteuning om die sukses van ons skool te verseker. Dit is dan vir my ‘n groot eer en voorreg om 2021 af te sluit in ‘n jaar waar ons skool ‘n 100 jaar jonk is. Ons wens vir julle JvR-vrede en liefde toe. Geniet die heilsame, mooi Feestyd saam met familie en vriende. Moenie vergeet om die Jannies te bederf nie en lekker rus!
Beste Ouers/Voogde
In ‘n poging om ‘normaliteit’ te skep in ‘n tyd waar dit so skaars soos hoendertande is, moet ons ook so verantwoordelik moontlik optree om ons gemeenskap gesond te hou aangesien die Feesvakansie op hande is. Met dit in gedagte het ons besluit dat dit in almal se beste belang sal wees indien ons die skool reeds eerskomende Vrydag, 10 Desember, vir leerders vir die Desembervakansie sluit. Ons sal soos gekommunikeer met alle beplande aktiwiteite van hierdie week voortgaan:
Woensdag, 8 Desember
– Atletiek (velditems) o/9 – o/13 en OPE
Donderdag, 9 Desember
– Gr. 6-prysuitdeling om 09:00
– Gr. 7-prysuitdeling en afskeid om 18:00 (vervang Woensdag, 15 Desember, se saalbyeenkoms)
Vrydag, 10 Desember
– Atletiek (baanitems) o/7 – o/13 en OPE
*Atletiekkennisgewing:
1. Ouers is welkom om die onderskeie atletiekbyeenkomste by te woon. Dit is baie belangrik dat maskers gedra moet word.
2. Indien daar deelnemers is wat tydens albei of een van hierdie atletiekbyeenkomste isoleer, sal die deelnemers wat in atletiek presteer vroeg in 2022 ‘n kans tydens skooltyd kry om deel te neem sodat ons die atletiekspan so vinnig moontlik kan finaliseer. Vir enige navrae, stuur ‘n e-pos aan sport@jvrprim.co.za.
Rapporte
– Kommunikasie rakende die afhaal van rapporte sal volg.
Maandag, 13 Desember
– Graad 7-afskeid gaan voort soos beplan
*Let wel: Slegs graad 7’s is nog Maandag by skoolaktiwiteite betrokke.
Vakansiesorg
Vakansiesorg gaan voort soos beplan. Kliek HIER vir die aansoekvorm.
Baie dankie vir jul samewerking in die verband.
Sterkte en veilig wees.
Groete
Desembermaand het sy opwagting gemaak en oral waar jy in die inkopiesentrums rondloop, sien jy vrolike Kersversierings. Of jy nou gelowig is of nie, Kerstyd is ‘n spesiale tyd en die bekoring geskied wêreldwyd. Kerstyd gaan gewoonlik gepaard met baie inkopies, pragtige geskenke wat in die mooiste geskenkpapier toegedraai word, lekkernye word gebak en versierings wat oral opgesit word. Dit is die tyd van die jaar waar familie en vriende bymekaar kom. Die kinders se afwagting van die magiese figuur wat op Oukersaand die wonderlikste geskenke gaan bring, is alreeds tasbaar. Graag wil ek vir ons skoolgemeenskap ‘n heilsame en geseënde familie-en gesinstyd tydens die komende Kerstyd toewens.
Die wêreld is vol verrassings, veral met die nuwe Covid-19 variant wat verlede week onverwags in Suid-Afrika geïdentifiseer is. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het die onwelkome virus na die 15de letter van die Griekse alfabet vernoem, naamlik Omnicron. Die koms van ‘n nuwe Covid-19 variant met die aanbreek van die Desembervakansie kon seker nie op ‘n slegter tyd gebeur het nie. Behalwe die vrese rakende die nuwe variant, is daar die bekommernis wat dit vir die land se kwesbare ekonomie en toekoms inhou. Ons vuisvose ekonomie kan nie die bedreiging van toenemende sake en inperkings bekostig nie en dit terwyl buitelandsetoeristekansellasies nou die hoogte inskiet. Verblywend was darem die afkondiging tydens Sondagaand se ‘familievergadering’ deur ons president, mnr. Cyril Ramaphosa, dat vlak 1 van die grendelstatus vir eers van toepassing sal wees afhangende van die infeksiekoers in die komende paar weke. Heelwat oorsese toeriste moes inderhaas terugkeer na hul tuislande as gevolg van die onsekerheid wat die 4de vlaag van die pandemie mag bring. Die President het ook ‘n ernstige pleidooi aan alle Suid-Afrikaners gerig om vir die Covid-19 virus ingeënt te word. Die vraag op almal se lippe is: “Gaan inenting verpligtend raak?” Hierdie besluit deur die regering kan geweldige regs-, etiese en politieke uitdagings tot gevolg hê. Dit is dan ook ‘n tydperk waar ons, ons kinders se vrese rakende die pandemie weer moet aanspreek. Dit is belangrik dat ons vir hulle ‘n veilige omgewing skep om daaroor te praat sodat hulle die angs wat die 4de vlaag van die pandemie bring, kan oorkom.
Op Woensdag, 1 Desember, het ons al die Gr. 1’s van 2022 saam met hul ouers vir ‘n heerlike piekniek by die skool agter op die sportveld ontvang. Die samesyn met ouers en die opwinding onder die Gr. R’e maak ons weer van vooraf baie opgewonde om hulle volgende jaar by die ‘groot’ skool te ontvang sodat hulle nuwe reis om hulself te wees, kan begin. Laerskool Jan van Riebeeck is ‘n unieke skool met ‘n plattelandse gevoel in die middel van die stadskom van een van die bedrywigste stede ter wêreld. Ons is ‘n waardegedrewe skool aan die voet van die ikoniese Tafelberg en trots Afrikaans. Ons is vanjaar ‘n 100 jaar oud, en mag ons, ons leuse van “Wees Jouself” as padwyser vir die volgende 100 jaar uitleef. Graad 1’s van 2022, ons kan nie wag om julle volgende jaar te ontvang nie.
Vandag vind ook die prysuitdelings vir die gronslagfase (grade 1 – 3) plaas waartydens ons erkenning aan al ons junior Jannies gee sonder om enige leerder spesifiek uit te sonder. Elke leerder se sertifikaat vertoon hul onderskeie prestasies en wil ons elkeen hartlik gelukwens met hul harde werk en toewyding die afgelope jaar. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op ons Jannies! Laat my ook toe om die opvoeders en personeel te bedank vir die waardevolle rolle wat hulle in elke Jannie se lewe die afgelope jaar gespeel het. Volgende week is daar baie opwinding op die agenda met Intersen-prysuitdelings, atletiek en afskeidsfunksies. Ons sien ook baie uit om al ons ouers/voogde by die prysuitdelings te ontvang. Ons het spesiaal ons skoolsaal laat uitverf vir die belangrike okasies, maar a.g.v. die stygende Covid-infeksies, wil ons nie kanse vat om voor die Desembervakansie in ‘n vertrek bymekaar te kom nie. Die prysuitdelings sal buite geskied sodat ouers dit steeds kan bywoon. Hier is solank ‘n voorskou van ons nuut-geverfde saal!


Graag sluit ek met die volgende aanhaling deur Christopher Reeve (Superman) oor hoop af: Al lyk dinge op die stadium nie so rooskleurig nie, weet ons dat hoop alles oorwin.
“Once you choose hope,
anything is possible!”
Ek bly verstom oor hoe vinnig tyd eenvoudig verby snel. Ek onthou goed toe ek nog ‘n kind was, wou ek net ‘groot’ word, want ek het telkemale gesê dat ek eendag die wêreld wil sien, projekte wil aanpak om die wêreld ‘n beter plek te maak en baie ander dinge wat ek graag wou doen. Ek glo julle sal ook daarna kan verwys. Die probleem wat ons egter ervaar nou dat ons wel ‘groot’ is, is dat ons nie die tyd het om die dinge te doen waarna ons nog altyd gehunker het nie. Ons werk hou ons 24/7 besig en ons hardloop van bakboord na stuurboord om ‘n lewe te maak en so gaan die lewe ongemerk vinnig verby.
Dit voel amper asof ons dié jaar soos passasiers op ‘n hoëspoedtrein was – Iewers in ‘n eerste wêreld land, waar die trein eenvoudig nie by enige stasie wou stop nie. Ek weet aan die einde van die jaar geniet meeste van ons ‘n welverdiende ruskans waar ons die vinnige pas tot halt roep. Die sogenaamde “rat race” sluk ons so maklik in en ons jaag onverpoosd voort na sukses terwyl ons eintlik elke oomblik met ons kinders, familie en vriende moet waardeer sodat daar geen kosbare oomblikke verlore gaan nie. Dit gee ‘n mens weer ‘n bietjie perspektief van wat belangrik is en wat ons dink belangrik is.
Die muur by die nasorg (gr. 1 en 2 se parkie) in Kloofstraat neem mooi gestalte aan en behoort binnekort voltooi te wees. Hierdie verbetering ten opsigte van ons skool se infrastruktuur is nie net esteties van waarde nie, maar eerder ook om die veiligheid en sekuriteit van ons leerders en personeel te verseker. Die speelarea word beslis nie net vir die nasorgleerders aangewend nie, maar ons beplan om vanaf 2022 die area meer gereeld vir opelugklaskamerdoeleindes te gebruik. Sonder die muur was dit ‘n groot uitdaging vir enige opvoeder om sy/haar klas daarheen te neem, want hulle was dikwels die slagoffers van ongewenste- en krutaal komende vanaf die ‘Kloofstraatgebruikers’. Graag wil ek weer aan al die ouers wat ‘n donasie gemaak het om die oprigting van die muur moontlik te maak, hartlik bedank en indien jy dalk ook ‘n bydrae wil maak, is jy welkom om Marili by finansies@jvrprim.co.za te kontak.

Verder hoop en vertrou ek dat dit met al ons Jannies tydens die eksamen en finale assesserings of sal ek eerder sê die kontroletoetse, goed gaan. Baie dankie aan julle wat seker maak dat jul kinders vroegtydig voorberei het asook om ‘n omgewing by die huis te skep waar hulle rustig kan leer en voorberei. Voor ons ons oë uitvee is die eksamens verby en beplan die skool heelwat pretdae vir ons Jannies om die jaar op ‘n hoogtepunt af te sluit.
Ek sluit dan graag week 7 af met die gedagte om in elke oomblik te leef as agtergrond met die bekende aanhaling deur Dalai Lama en wens ek julle ‘n wonderlike naweek toe:
“There are only two days in the year that nothing can be done.
One is called yesterday and the other is called tomorrow,
so today is the right day to love, believe and mostly live.”
Let wel dat die skool die volgende tye sal uitkom na eksamen totdat die skool sluit:
- Vrydag, 3 Desember 2021 – 13:00 (Gr.1-3) en 13:15 (Gr.4-7)
- Maandag, 6 Desember 2021 – 13:00 (Gr.1-3) en 13:15 (Gr.4-7)
- Dinsdag, 7 Desember 2021 – 13:00 (Gr.1-3) en 13:15 (Gr.4-7)
- Woensdag, 8 Desember 2021 – 13:00 (Gr.1-2) by die skool, ongeveer 14:00 (Gr.3-7) by die Hoërskool se veld
*Die skool sal ‘n WhatsApp op die dag stuur sodra ons ‘n meer definitiewe tyd vir die Gr.3-7’s het.
*Leerders wat by Nasorg is, sal met die skoolbus teruggebring word skool toe.
- Donderdag, 9 Desember 2021 – 13:00 (Gr.1-3) en 13:15 (Gr.4-7)
- Vrydag, 10 Desember 2021 – 14:00 (Gr.1-7) by die Hoërskool se veld
*Die skool sal ‘n WhatsApp op die dag stuur sodra ons ‘n meer definitiewe tyd vir die Gr.1-7’s het.
*Leerders wat by Nasorg is, sal met die skoolbus teruggebring word skool toe.
*Die bus vertrek altyd 5 minute na die Gr.4-7-leerders verdaag.
Kliek HIER vir stappe om die skool se kalender en/of jou kind se taak- en toetsrooster met jou eie kalender te sinkroniseer. Jy kan dit ook op die webtuiste onder die myJvR tab by V&A (vraag en antwoord) kry. Ons gaan in die vervolg meer stappe daar laai vir vrae wat ouers gereeld vra.
Marike Badenhorst, die skool se opvoedkundige sielkundige, deel graag met ouers die volgende dokument: Leer jou kind die stappe van taakvoltooiing
Belangrike Datums
februarie 2026
maart 2026
april 2026
mei 2026
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
