Ek bly verstom oor hoe vinnig tyd eenvoudig verby snel. Ek onthou goed toe ek nog ‘n kind was, wou ek net ‘groot’ word, want ek het telkemale gesê dat ek eendag die wêreld wil sien, projekte wil aanpak om die wêreld ‘n beter plek te maak en baie ander dinge wat ek graag wou doen. Ek glo julle sal ook daarna kan verwys. Die probleem wat ons egter ervaar nou dat ons wel ‘groot’ is, is dat ons nie die tyd het om die dinge te doen waarna ons nog altyd gehunker het nie. Ons werk hou ons 24/7 besig en ons hardloop van bakboord na stuurboord om ‘n lewe te maak en so gaan die lewe ongemerk vinnig verby.

Dit voel amper asof ons dié jaar soos passasiers op ‘n hoëspoedtrein was – Iewers in ‘n eerste wêreld land, waar die trein eenvoudig nie by enige stasie wou stop nie. Ek weet aan die einde van die jaar geniet meeste van ons ‘n welverdiende ruskans waar ons die vinnige pas tot halt roep. Die sogenaamde “rat race” sluk ons so maklik in en ons jaag onverpoosd voort na sukses terwyl ons eintlik elke oomblik met ons kinders, familie en vriende moet waardeer sodat daar geen kosbare oomblikke verlore gaan nie. Dit gee ‘n mens weer ‘n bietjie perspektief van wat belangrik is en wat ons dink belangrik is.

Die muur by die nasorg (gr. 1 en 2 se parkie) in Kloofstraat neem mooi gestalte aan en behoort binnekort voltooi te wees. Hierdie verbetering ten opsigte van ons skool se infrastruktuur is nie net esteties van waarde nie, maar eerder ook om die veiligheid en sekuriteit van ons leerders en personeel te verseker. Die speelarea word beslis nie net vir die nasorgleerders aangewend nie, maar ons beplan om vanaf 2022 die area meer gereeld vir opelugklaskamerdoeleindes te gebruik. Sonder die muur was dit ‘n groot uitdaging vir enige opvoeder om sy/haar klas daarheen te neem, want hulle was dikwels die slagoffers van ongewenste- en krutaal komende vanaf die ‘Kloofstraatgebruikers’. Graag wil ek weer aan al die ouers wat ‘n donasie gemaak het om die oprigting van die muur moontlik te maak, hartlik bedank en indien jy dalk ook ‘n bydrae wil maak, is jy welkom om Marili by finansies@jvrprim.co.za te kontak.

Verder hoop en vertrou ek dat dit met al ons Jannies tydens die eksamen en finale assesserings of sal ek eerder sê die kontroletoetse, goed gaan. Baie dankie aan julle wat seker maak dat jul kinders vroegtydig voorberei het asook om ‘n omgewing by die huis te skep waar hulle rustig kan leer en voorberei. Voor ons ons oë uitvee is die eksamens verby en beplan die skool heelwat pretdae vir ons Jannies om die jaar op ‘n hoogtepunt af te sluit.

Ek sluit dan graag week 7 af met die gedagte om in elke oomblik te leef as agtergrond met die bekende aanhaling deur Dalai Lama en wens ek julle ‘n wonderlike naweek toe:

“There are only two days in the year that nothing can be done.
One is called yesterday and the other is called tomorrow,
so today is the right day to love, believe and mostly live.”