Desembermaand het sy opwagting gemaak en oral waar jy in die inkopiesentrums rondloop, sien jy vrolike Kersversierings. Of jy nou gelowig is of nie, Kerstyd is ‘n spesiale tyd en die bekoring geskied wêreldwyd. Kerstyd gaan gewoonlik gepaard met baie inkopies, pragtige geskenke wat in die mooiste geskenkpapier toegedraai word, lekkernye word gebak en versierings wat oral opgesit word. Dit is die tyd van die jaar waar familie en vriende bymekaar kom. Die kinders se afwagting van die magiese figuur wat op Oukersaand die wonderlikste geskenke gaan bring, is alreeds tasbaar. Graag wil ek vir ons skoolgemeenskap ‘n heilsame en geseënde familie-en gesinstyd tydens die komende Kerstyd toewens.

Die wêreld is vol verrassings, veral met die nuwe Covid-19 variant wat verlede week onverwags in Suid-Afrika geïdentifiseer is. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het die onwelkome virus na die 15de letter van die Griekse alfabet vernoem, naamlik Omnicron. Die koms van ‘n nuwe Covid-19 variant met die aanbreek van die Desembervakansie kon seker nie op ‘n slegter tyd gebeur het nie. Behalwe die vrese rakende die nuwe variant, is daar die bekommernis wat dit vir die land se kwesbare ekonomie en toekoms inhou. Ons vuisvose ekonomie kan nie die bedreiging van toenemende sake en inperkings bekostig nie en dit terwyl buitelandsetoeristekansellasies nou die hoogte inskiet. Verblywend was darem die afkondiging tydens Sondagaand se ‘familievergadering’ deur ons president, mnr. Cyril Ramaphosa, dat vlak 1 van die grendelstatus vir eers van toepassing sal wees afhangende van die infeksiekoers in die komende paar weke. Heelwat oorsese toeriste moes inderhaas terugkeer na hul tuislande as gevolg van die onsekerheid wat die 4de vlaag van die pandemie mag bring. Die President het ook ‘n ernstige pleidooi aan alle Suid-Afrikaners gerig om vir die Covid-19 virus ingeënt te word. Die vraag op almal se lippe is: “Gaan inenting verpligtend raak?” Hierdie besluit deur die regering kan geweldige regs-, etiese en politieke uitdagings tot gevolg hê. Dit is dan ook ‘n tydperk waar ons, ons kinders se vrese rakende die pandemie weer moet aanspreek. Dit is belangrik dat ons vir hulle ‘n veilige omgewing skep om daaroor te praat sodat hulle die angs wat die 4de vlaag van die pandemie bring, kan oorkom.

Op Woensdag, 1 Desember, het ons al die Gr. 1’s van 2022 saam met hul ouers vir ‘n heerlike piekniek by die skool agter op die sportveld ontvang. Die samesyn met ouers en die opwinding onder die Gr. R’e maak ons weer van vooraf baie opgewonde om hulle volgende jaar by die ‘groot’ skool te ontvang sodat hulle nuwe reis om hulself te wees, kan begin. Laerskool Jan van Riebeeck is ‘n unieke skool met ‘n plattelandse gevoel in die middel van die stadskom van een van die bedrywigste stede ter wêreld. Ons is ‘n waardegedrewe skool aan die voet van die ikoniese Tafelberg en trots Afrikaans. Ons is vanjaar ‘n 100 jaar oud, en mag ons, ons leuse van “Wees Jouself” as padwyser vir die volgende 100 jaar uitleef. Graad 1’s van 2022, ons kan nie wag om julle volgende jaar te ontvang nie.

Vandag vind ook die prysuitdelings vir die gronslagfase (grade 1 – 3) plaas waartydens ons erkenning aan al ons junior Jannies gee sonder om enige leerder spesifiek uit te sonder. Elke leerder se sertifikaat vertoon hul onderskeie prestasies en wil ons elkeen hartlik gelukwens met hul harde werk en toewyding die afgelope jaar. Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op ons Jannies! Laat my ook toe om die opvoeders en personeel te bedank vir die waardevolle rolle wat hulle in elke Jannie se lewe die afgelope jaar gespeel het. Volgende week is daar baie opwinding op die agenda met Intersen-prysuitdelings, atletiek en afskeidsfunksies. Ons sien ook baie uit om al ons ouers/voogde by die prysuitdelings te ontvang. Ons het spesiaal ons skoolsaal laat uitverf vir die belangrike okasies, maar a.g.v. die stygende Covid-infeksies, wil ons nie kanse vat om voor die Desembervakansie in ‘n vertrek bymekaar te kom nie. Die prysuitdelings sal buite geskied sodat ouers dit steeds kan bywoon. Hier is solank ‘n voorskou van ons nuut-geverfde saal!

Graag sluit ek met die volgende aanhaling deur Christopher Reeve (Superman) oor hoop af: Al lyk dinge op die stadium nie so rooskleurig nie, weet ons dat hoop alles oorwin.

“Once you choose hope,
anything is possible!”