Dis die klein gebare wat regtig saak maak …

Mag hierdie feestyd ons fokus daarop rig om ons ingesteldheid so te kondisioneer dat ons die mooi in elke geleentheid sal raaksien. In ‘n tyd waartydens ons emmertjies leeg voel en ons alle balle in die lug probeer hou, het ons dit meer as ooit nodig om vas te hou aan die opregte, klein gebare wat die lewe eintlik so kosbaar maak. Daardie ontasbare hartsdinge wat ons hart en siel voed.

In plaas daarvan om te hunker na die ‘groot’ geskenke onder die kersboom moet ons dalk pertinent na die onskuldige, spontane mooi rondom ons soek – daardie glimlag wanneer jou trane ongesiens vlak lê; die oproep wanneer jy dit regtig nodig het; die ‘op-jou-tande-kners’ eerder as kritiek lewer; die sagte kyk diep in iemand se oë wat regtig raakgesien wil word; die sagte woorde wat ons so graag wil hoor.

Wanneer ons oor ‘n jaar vol baie meer uitdagings as wat ons op ons een hand kan tel, reflekteer, het ons steeds soveel om oor gelukkig en dankbaar te voel. Ons moet daarop fokus om die spreekwoordelike ‘silwer randjie rondom elke donker wolk’ raak te sien. Dis ook ‘n belangrike vaardigheid wat ons aan ons kinders moet oordra veral gedurende hierdie ongekende tye.

Die afgelope 2 weke het Laerskool Jan van Riebeeck interessante, uitdagende maar ook opwindende tye beleef al het die infeksiekoers van die onwelkome Omicron-virus soos ‘n veldbrand onder die leerders en personeel versprei. Ons is dankbaar dat ons as volwassenes en kinders ouer as 12 jaar die geleentheid gekry het om ingeënt te word. Ek glo julle deel ook my groot bekommernis rakende die gesondheid en geestelike welstand van ons kinders aangesien die 4de vlaag hoofsaaklik die jong kinders infekteer. Met die aanvang van die pandemie moes skole besluite neem soos die personeel siek word. Vandag is dit egter omgekeerd waar die leerders siek word en geld besluite rakende die aanvang van Covid nie noodwendig meer nie. Hoe dikwels bevraagteken ons elke situasie eerder as om te vra wat ons daaruit kan leer. Laat ons fokus tydens hierdie feesseisoen op ons ingesteldheid wees. Kom ons hunker na die klein gebare en die liefde wat ons kinders en familie/vriende aan ons bring. Probeer om jou afstandbeheer te programmeer sodat vrede, liefde en dankbaarheid die grootste geskenk onder jou kersboom sal wees, want daar was hierdie jaar ook hope mooi ‘dinge’ in ons lewens! Reflekteer ‘n bietjie oor jou lewe die afgelope jaar en koester al die mooi wat plaasgevind het.

Graag wil ek afsluit om vir julle almal hartlik te bedank dat julle my eerste jaar as skoolhoof by die ongelooflike skool so spesiaal en kosbaar gemaak het. Ek en my gesin is met ope arms ontvang en dit is wonderlik om deel van ‘n skoolgemeenskap te wees waar jy net jouself kan wees. Baie dankie ook aan die personeel en die beheerraad vir jul harde werk, veerkragtigheid en ondersteuning om die sukses van ons skool te verseker. Dit is dan vir my ‘n groot eer en voorreg om 2021 af te sluit in ‘n jaar waar ons skool ‘n 100 jaar jonk is. Ons wens vir julle JvR-vrede en liefde toe. Geniet die heilsame, mooi Feestyd saam met familie en vriende. Moenie vergeet om die Jannies te bederf nie en lekker rus!