Ons is so dankbaar dat skole vanjaar hul deure kon oopmaak soos beplan sonder dat die pandemie die laaste sê het. Groot opgewondenheid het geheers en hoë vlakke van positiewe energie was tasbaar op Woensdag, 19 Januarie, met die opening van ons trotse skool. Die Burger en Maroela Media het ook spesiaal ons Graad 1’s kom afneem terwyl die prefekte al die nuwe leerders ontvang het om die eerste skooldag van die leerders en hul ouers meer spesiaal te maak. Laat my ook toe om al ons nuwe ouers by Huppelland en die Laerskool te verwelkom. Wees verseker julle het die beste keuse vir jul kind gemaak en my beste wense vergesel julle vir die nuwe reis.

Ek wil julle verseker dat ons personeel slaggereed is om 2022 vir ons leerders baie spesiaal te maak. Ek glo julle het ook ‘n heerlike vakansie geniet, kosbare tyd saam met familie spandeer en die spreekwoordelike ‘batterye’ herlaai is om die nuwe jaar aan te pak.

Die pandemie het vir die afgelope 2 jaar verwoesting gesaai en ons is deur die virus geaffekteer of geïnfekteer. Graag wil ek die skoolgemeenskap komplimenteer wat tydens die moeilike tye weereens sy veerkragtigheid getoon het. Baie dankie dat ons mekaar kon inspireer en onderskraag om die uitdagings op ‘n kreatiewe wyse te bowe te kom. Ons moet nog steeds voortbou en uitreik na gemeenskappe wat swaar deur die pandemie geraak is.

Weens die feit dat die pandemie ons 100ste bestaansjaarvieringe verlede jaar in die wiele gery het, beplan ons om vanjaar beslis 100 +1 se feesvieringe te geniet. Op Vrydag, 28 Januarie, skop ons met 100 + 1 Jooldag vir die leerders af. Op Maandag, 31 Januarie, is dit die ouers/voogde se beurt om die ryk tradisies van 100 + 1 saam te vier. Hou gerus die Karri-toep dop om vroegtydige bestellings vir heerlike kos te plaas. Volledige programme volg.

Laat my ook toe om Lousie Neser, die nuwe hoof by Huppelland, by ons te verwelkom. Mag sy die nuwe fase in haar lewe geniet en Huppelland van krag-tot-krag neem.

Ter voorbereiding vir die jaar het ons personeel op Maandag, 17 Januarie, ‘n insiggewende opleidingssessie en praatjie van Lynette Beer oor die Vierkleur Temperament-Model bygewoon. Hierdie model help ongelooflik baie om jou eie en ander mense se temperament te verstaan wat instrumenteel tot beter menseverhoudinge is. Sy het ook op die liefdestale gefokus en ons bewus gemaak dat mense op sekere maniere reageer namate die manier waarop daar gekommunikeer word. Dis natuurlik waardevolle kennis aangesien ons dit direk met die leerders in ons skool kan toepas. “Google” haar gerus, dit is die moeite werd! Ons poog om voortdurend gefokusde opleiding aan ons personeel te bied om te verseker dat die standaard en kwaliteit van onderrig uitmuntend bly.

Ons nuwe ouerhandleiding het ook sy verskyning gemaak. Elke gesin sal ‘n kopie ontvang en graag wil ek Suzaan Burger vir die spogstuk bedank. Die ouerhandleiding bevat alle inligting wat jy benodig rakende ons skool en sy aktiwiteite. Dit is ook op die webtuiste beskikbaar.

Op ‘n hartseer noot versoek ek jul gebede/gedagtes vir die Paschke-Bos gesin. Van die gesinslede was Dinsdag, 18 Januarie, in ‘n motorongeluk betrokke waartydens hul geliefde ouma gesterf het en Kolya (vanjaar Gr. 6) ernstige beserings opgedoen het. Kolya is tans in ‘n stabiele toestand in die Rooikuis-Hospitaal waar hy ‘n operasie ondergaan het. Ons dink aan die familie tydens die moeilike tyd en bid dat Kolya spoedig sal herstel.

Hiermee sluit ek dan af en wens vir jul almal ‘n voorspoedige jaar vol vreugde toe en mag ons stelselmatig terugkeer na ‘n tipe normaal waar ons weer voluit kan leef.

Geniet ‘n wonderlike naweek!

Vriendelike groete
Naas Beets
Skoolhoof