Kategorie: Algemeen
Alle leerders wat besonderse prestasies behaal het of veelsydigheid toon op sport- en kulturele gebied kan in aanmerking kom vir ‘n spesiale prys by die prysuitdeling. Voltooi asb. die VORM en handig die vorm en bewyse van prestasies (hardekopieë) teen Vrydag, 19 November, by juf. Lucia de Jager in. Leerders het hierdie week die vorm ontvang.
Uiteindelik daag die somer na ‘n lang afwesigheid in die Moederstad op. Die lekker warm weer is die spreekwoordelike balsem vir die siel, veral na die baie lang en koue winter. Die nuwe seisoen bevestig weereens die prag en praal van Oktober-maand in ons wonderlike land – vra maar vir die digter C. Louis Leipoldt met sy alombekende gedig dat Oktober-maand die mooiste, mooiste maand is:
‘Viooltjies in die voorhuis –
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!’
Vandag is dit weer “#Bok-Friday”. Die Springbokke se soeke na glorie loop beslis volgens die ‘Rassie-plan’ al was dit ‘n naelskraap oorwinning met 29 – 28 oor die Franse Hane tydens die titaniese kwarteindstryd op Sondagaand, 15 Oktober. Hierdie senutergende wedstryd het elke Bok-ondersteuner kersregop laat sit met veral die laaste 2 minute wat soos 20 minute gevoel het. Die Bokke het dalk nie hul beste spel op die dag gelewer nie, maar hulle was steeds genadeloos op verdediging en het in die proses die Franse se harte gebreek. Môre sit hulle hul wêreldbeker-rugbyveldtog teen Engeland tydens die semi-finale in Parys te Stade de France voort. Dit is dus belangrik dat jy vandag op “#Bok-Friday” en môre jou Springboktrui, of ‘n Springbok t-hemp, net iets groen en goud met trots sal aantrek om die Bokke te ondersteun. Mag die Bokke die naweek die Pommies wys waar Dawid die spreekwoordelike wortels gegrawe het. “Go Bokke Go. Together we are stronger!”
Op Dinsdag, 17 Oktober, het die jaarlikse matrieksaal tydens die weeklikse saalbyeenkoms plaasgevind waartydens ons alle oud-Jannies wat vanjaar in matriek is, uitgenooi het om die spesiale saal by te woon. Die doel van die matrieksaal is om vir die graad 7’s van 2018 wat vanjaar in verskeie skole in hul matriekjaar is, weer bymekaar te kry, hulle so ‘n bietjie terug te neem in tyd, erkenning te gee vir die belangrike rol wat hulle as oud-leerders in die skool gespeel het en af te sluit deur vir hul sterkte vir die komende nasionale eksamen asook hulle toekoms toe te wens. Ek ken nie persoonlik die spesifieke oud-Jannies nie, maar in ‘n baie kort rukkie het ek gou besef die voorreg wat ons het om met kwaliteit leerders en indirek met merkwaardige ouers/voogde te kan werk. Baie dankie Pieter Rademeyer (Skoolhoof van HS Jan van Riebeeck) dat jy ook die spesiale saal bygewoon het om jou matrikulante te ondersteun! Baie dankie Marinda vir die spesiale boodskap wat jy aan hulle deurgegee het en mag hulle altyd groot droom deur net hulself te wees. Vir seker gaan hulle volgende jaar diep spore trap waar ookal hulle hulsef mag bevind.

Ons junior- en senior kore het op Dinsdagaand, 17 Oktober, aan die Weskus Koorfees te Laerskool Tableview gaan deelneem. Beide ons kore het hul puik van hul taak gekwyt met hul uitstekende optredes en keuse van liedere. Hulle het hulself lekker ingeleef en vloeiend gesing met sorgvuldige aandag aan dinamiese kontraste. Baie dankie en geluk aan Helecia, ons dirigent vir beide kore, asook Ben wat albei kore uitstekend met die klavier begelei het. Om ‘n koor af te rig, is uitdagend, want dit behels dat elkeen se individuele sangstem ontwikkel moet word om uiteindelik ‘n eenheid in klank te vorm. Dit was vir seker die beste wat ek beide kore nog ooit hoor sing het. Dit was ‘n voorreg om na hulle te luister en maak my ongelooflik trots op hulle en ons wonderlike skool.

Hierdie week het die eerste wedstryde vir tennis en krieket afgeskop en vanmiddag neem ons aan ‘n swemgala te Laerskool Kampsbaai deel terwyl ons môre aan ‘n o.13A-tennistoernooi te Laerskool Welgemoed deelneem. My beste wense vergesel al ons spelers en mag julle die somersportgeleenthede terdeë geniet.
Ons Jannie-familie het gister twee baba’s ryker geword. Magdel Fourie by Huppelland en haar man, Wynand, het ‘n dogtertjie ryker geword en Maricqe en Cambel Coetzer ‘n seuntjie. Baie geluk! Mag Karli en George baie vreugde en geluk aan julle gesinne bring!
Graag sluit ek af met ‘n bietjie pitkos en gebruik die volgende bekende aanhaling van Oprah Winfrey. Mag julle ‘n wonderlike naweek geniet met die Springbokke wat ons gaan trots maak.
“If you look at what you have in life,
You always have more.
If you look at what you don’t have,
You will never have enough.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Dit is my wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel terug by die skool te verwelkom na ‘n heerlike kort Oktober-vakansie. Ek glo almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om kwartaal 4 met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal 4 is slegs 10 weke lank met heelwat opwindende aktiwiteite wat gaan plaasvind.
Die somersport buitemuurse program het alreeds op Dinsdag, 10 Oktober, met mening afgeskop en maak ons gereed vir al die somersportwedstryde, -toernooi en –byeenkomste wat die kwartaal gaan plaasvind. Ek glo julle stem met my saam dat Moeder Natuur maar so spoedig moontlik die somer kan toelaat om Kaapstad en omgewing oor te neem veral na die lang en koue winterweer.
Maak asseblief seker dat jy en jou kind/ers op Saterdag, 02 Desember, beskikbaar sal wees vir die jaarlikse kleure-atletiekbyeenkoms (baanitems) wat te HS Jan van Riebeeck se sportveld aangebied sal word. Hou die spasie weekliks dop vir meer inligting in die verband.
Graag wil ek weer Laerskool Anton van Wouw se koortoer hartlik bedank wat ons op die laaste dag van die vorige kwartaal besoek het. Hulle het ons spesiaal in die skoolsaal kom vermaak met ‘n puik optrede as deel van die laaste skooldag se saalprogram. Hierdie uitstekende koor bestaan uit 67 leerders wat ‘n koortoer vanuit Pretoria na Kaapstad onderneem het. Laerskool Anton van Wouw is ook soos ons ‘n Afrikaansprekende skool met ongeveer 800 leerders en hulle is geleë aan die agterkant van die Brooklyn-mall te Pretoria.

Die afgelope vakansie is daar hard gewerk om seker te maak die volgende bouprojekte word so spoedig moontlik afgehandel:
- Huppelland – die opgradering van die klubhuis, aanbou van ‘n personeelkamer, personeeltoilette, terapiekamers, biblioteek asook ‘n kantoor vir Louise.

- Ons is tans besig om die ‘ou’ klerebank na die opgradeerde konsertstoor aan die voorkant van die skool te skuif. Die nuwe naam vir die klerebank is Jan Kas. Ons beplan om vanaf 30 Oktober amptelik te open en ‘n effektiewe diens aan ons leerders en ouers te lewer. Verdere inligting in die verband sal binnekort verskyn.

Baie geluk aan die volgende leerders wat puik tydens die WOW-spelfees (nasionale rondte) op 07 Oktober te Stellenbosch gevaar het:
- Graad 1: Wrensch Silvis (8ste)
- Graad 5: Katryn Silvis (2de) en Amelie van der Walt (6de)
- Graad 6: Isabella Marais (15de)
Julle maak ons baie trots!
Graag wil ek ook die volgende musiekleerders gelukwens met hul puik uitslae na afloop van die Unisa-Klaviereksamens. Dit wil gedoen wees!
- Olivia Blackmore
- Stella Zulch
- Sabine Barnard
- Ella Grey
- Frank van der Walt
- Daniella Boshoff
- Mari Steyn
- Neill Ferreira
Graag sluit ek af met die volgende bekende aanhaling van Pele en wens ek vir julle ‘n wonderlike kwartaal en naweek toe.
“Success is no accident. It is hard work and perseverance, learning, studying, sacrifice and most of all, love of what you are doing or learning to do.’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
‘n Skool se trots lê vir seker by sy leerders. Daar is iets baie spesiaal wat gebeur sodra ons terugvoer rakende oud-leerders ontvang. Ons spog vandag met leerders wat in 2019 hul graad 7-jaar by ons voltooi het en tot verskeie hoërskole se leerderrade vir 2024 verkies is. Weer eens ‘n bewys dat ‘n Afrikaanse skool glad nie leerders beperk nie, maar eerder die geleenthede bied om teen hul eie tempo te ontwikkel. Ons is baie trots op elkeen van hierdie leerders wat hul skool op verskeie vlakke van leierskap sal ondersteun. Wees Jouself, liewe oud-Jannie!
HS JvR – Hoofleier (Mari Swanepoel), Hoofdogter (Liezel Snijders), Onderhoofseun (Peet Karsten). Ander leerderraadslede: Lisa Best, Zazzie Henderson, Daniella Coetzee, Layla Erasmus, Josephina Hellman en Darren Cloete.

HS Rondebosch – Bernard Lombaard (leerderraadslid)

St. Cyprians – Jacomien van der Westhuizen (onderhoofdogter)

Ons vier Vrydag Tuindag!
- Leerders mag Vrydag sivvies dra.
- Graad 1 – 7-leerders kan Vrydag blommekransies dra wat hulle tuis maak.
- Graad 1 – 3-leerders kan vanaf môre, 11 Oktober, vetplantsteggies en blomme uit die tuin uit skool toe bring om kransies vir die klasdeure te maak.
- Indien ouers ‘n paar ekstra takkies, soos Ivy of enige ander loof, skool toe kan stuur vir leerders wat nie ‘n kransie uit ‘n tuin sal kan maak nie, sal dit waardeer word.
- Ons het Die Burger genooi om Vrydag foto’s te neem. Indien daar ouers is wat nie graag wil hê hul kind moet in Die Burger verskyn nie, laat weet asb. vir Raché (rache@jvrprim.co.za).
Na afloop van 11 besige en opwindende weke kom kwartaal 3 vandag tot ‘n einde met die sluit van die skole vir ‘n kort vakansie voordat ons die finale kwartaal van die jaar aanpak. Indien ons vinnig ‘n kort refleksie van die afgelope kwartaal sou doen, staan die volgende vir my uit:
- Op Vrydag, 21 Julie, het Stephanie le Roux gereël dat 13 van ons behoeftige leerders se oë by Tomlinson Oogkundiges getoets word. Esna van der Walt en Suna Karsten (almal oud-ouers) het die oogtoetse gratis behartig. Ons is so dankbaar dat 9 van die 13 leerders ‘n pragtige bril ontvang het en ons kan alreeds in ‘n kort tydjie die positiewe impak daarvan op hul akademie sien.
- Heelwat meer sportwedstryde en toernooigeleenthede is vir ons Jannies gedurende kwartale 2 en 3 geskep met 586 wintersportwedstryde (hokkie, netbal & rugby) wat plaasgevind het. Tydens die laaste wintersportnaweek (01 & 02 September) van die seisoen te LS Welgemoed, het 140 dogters netbal gespeel, 99 seuns rugby, 80 dogters hokkie en 80 seuns hokkie gespeel. Puik wintersportuitslae is ook die afgelope kwartaal behaal soos onder andere ons o.13A-spanne (netbal, rugby, dogtershokkie & seunshokkie) wat onderskeidelik hul wedstryde weg tydens die jaarlikse interskole teen LS Dirkie Uys te Moorreesburg gewen het. Baie geluk aan Frank van der Walt wat in die WP o.12A-rugbygroep opgeneem is. Baie geluk ook aan juf. Lucia en haar o.11-netbalspan wat die seisoen onoorwonne afgesluit het. Graag wil ek al ons sportleerders loof vir hul toegewydheid en volgehoue deelname tydens die afgelope winterseisoen. Dan kan ek nie anders nie as om die afrigters hartlik te bedank vir hul opoffering, harde werk en toegewydheid tot voordeel van ons Jannies.
- Op Vrydag, 25 Augustus, het die jaarlikse en gewilde Ouma- en Oupadag plaasgevind. Oumas en oupas het van heinde en verre gekom om die spesiale dag saam met hul kleinkind(ers) by ons pragtige skool te geniet. Die hoogtepunt van die dag was beslis die insiggewende toespraak deur ons gasspreker, naamlik Elsabé Daneel. Elsabé is nie net ‘n formidabele vrou en aktrise nie, maar ook ‘n oud-leerder en nou ‘n ouma by ons skool.
- Tydens week 7 van die kwartaal het ons ‘n spesiale akademiese week gevier met die fokus op die KUNS om ‘n Jannie te wees! Die doel van die akademiese week was juis om ons leerders blootstelling aan leer op ‘n kreatiewe vlak te gee. Leer hoef nie noodwendig in die tradisionele sin van die woord byvoorbeeld slegs in die klaskamer plaas te vind nie. Daarom het die leerders aan nuwe, interaktiewe aktiwiteite deelgeneem om hulle juis te inspireer om buite die spreekwoordelike boksie te dink.
- Op Woensdagaand, 30 Augustus, het die jaarlikse en gewilde Jannies Talent-aand plaasgevind. Weereens laat ons talentvolle Jannies ‘n mens stomgeslaan staan met hul unieke talente en selfvertroue. Weereens wil ek elke deelnemer hartlik gelukwens met hul puik individuele optrede.
- Op Saterdag, 09 September, het 19 van ons leerders aan die jaarlikse WOW-Spelkompetisie se provinsiale rondte te Stellenbosch deelgeneem en soos oudergewoonte stof in die ander skole se oë geskop. Baie geluk aan die volgende vyf leerders wat vir die Nasionale Kompetisie op 07 Oktober gekwalifiseer het:
- Graad 1: Wrensch Silvis (2de)
- Graad 4: Ghia Perreira (3de)
- Graad 5: Katryn Silvis (1ste) en Amelie van der Walt (2de)
- Graad 6: Isabella Marais (4de).
- Ons gr. 6- en 7-leerders het op akademiese gebied nog verder presteer deur die jaarlikse Melkbos Wiskunde Olimpiade vir die sewende agtereenvolgende jaar op Donderdag, 21 September, te wen. Dit is voorwaar ‘n merkwaardige prestasie. Baie dankie mnr. Leon en juf. Andri vir hul leeue aandeel in die verband.
- Op kultuurgebied het ons leerders puik tydens die jaarlikse Eisteddfod en UNISA- klaviereksamens gevaar. Beide ons senior- en junior kore het ‘n puik optrede saam met Jak de Priester in die ikoniese Groote Kerk op 01 Augustus gehad. Ons skool se toneel- en dramagroep onder leiding van juf. Jana het die naweek van 15 – 17 September aan die Silwervaringfees te Laerskool Bastion deelgeneem. Hulle het puik gevaar en ons leerders het met die louere weggestap. Ons skool het ook die prys vir die beste teks gewen. Baie geluk, julle maak ons ongelooflik trots. Die volgende drie leerders het ook presteer met hul optrede in die kinderkoor vir die produksie Tosca by die Kunstekaap Opera Huis vanaf 12 –17 September:
- Karu Rademeyer
- Abigail Fourie
- Jacob Venter
- Die viering van Groen Vrydag om die Proteas tydens die Netbal Wêreldbeker te ondersteun asook al die “#Bok-Fridays” vanaf 08 September om die Springbokke se soeke na glorie om as 2023 wêreldbeker-kampioene bekroon te word, te ondersteun.

- Ons moes ongelukkig die week afskeid neem van oom Steyn wat die einde van die kwartaal aftree. Oom Steyn was sedert 01 Januarie 1997 in ons diens en kan beskryf word as ‘n legende. Sy spesiale verhouding met leerders en ouers het veral uitgestaan en in die leerders se oë was hy eintlik die skoolhoof. Oom Steyn ons salueer jou vir 27 jaar se lojale busdiens aan die skool en ons wens vir jou ‘n wonderlike aftrede toe waar jy genoeg tyd sal hê om jou gunsteling tydverdryf te kan geniet, naamlik visvang. Ons gaan jou vriendelikheid en bedagsaam baie mis!

Bogenoemde is maar enkele hoogtepunte van die suksesvolle kwartaal. Ek glo dat julle ook saam met ons leerders en personeel na die kort, maar lekker Oktober-vakansie uitsien om net weer die spreekwoordelike batterye te herlaai voor ons die pylvak van die laaste kwartaal aandurf. Laat my asseblief toe om ons toegewyde personeel hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid, maar veral vir hul omgee-harte om seker te maak ons Jannies kry geleenthede om hul potensiaal te bereik. Graag wil ek my Bestuurspan (Exco) asook ons dinamiese Beheerraad hartlik bedank vir hulle insette en leeue aandeel om te verseker dat Laerskool Jan van Riebeeck as een van die topskole in die land onderskei kan word. Mag ons die spesiale etos en kultuur om net jouself te wees by ons trotse skool nog tot in lengte van dae koester.
Laat my ook toe om Juf Suzaan en Gerrit geluk te wens met hul huweliksbevestiging wat môre gaan plaasvind. Ons wens vir hullle ‘n geseënde huwelik en ‘n blink toekoms saam.
Graag sluit ek af met ‘n dankbare hart teenoor ons ouers/voogde wat ons weereens die afgelope kwartaal so lojaal ondersteun het. Ek waardeer jul betrokkenheid en omgee by die skool asook in jul kinders se lewens. Betrokke ouers/voogde verseker suksesvolle skole wat altyd van krag-tot-krag sal gaan. Ek wens vir julle ‘n wonderlike vakansie toe. Veilig reis en ek sien uit om julle almal op 10 Oktober weer terug by die skool te ontvang.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Om aan die WKOD en nasionale regulasies te voldoen, moet Laerskool Jan van Riebeeck ons ouers / voogde 30 dae kennis gee van die jaarlikse skoolgeld- en begrotingsvergadering. Neem asseblief kennis dat dit op Maandag, 06 November 2023, om 18:00 in die Biblioteek sal plaasvind.
Die gedetailleerde begrotingsvoorstelle sal vir besigtiging vanaf Maandag, 23 Oktober 2023, tussen 10:00 en 14:00 by die finansiële kantoor beskikbaar wees. lndien jy belangstel om die 2024 begroting te kom besigtig, maak asseblief gebruik van die hoofingang te Kloofstraat. Ons sien uit om julle by die vergadering te verwelkom.
Vind asb. aangeheg die amptelike kennisgewing van die 2024 begrotingsvergadering.
Vriendelike groete,
Naas Beets
- Registrasie sluit 23 Februarie.
- Stuur die bewys van betaling aan Rashard om jou bespreking te bevestig.
- Gebruik asb. jou naam en Gholfdag as verwysing wanneer jy in die skool se rekening inbetaal.
- Kontak asb. vir Rashard indien jy ‘n gaatjie of enige pryse wil borg.
- Daar is slegs 12 4-balle beskikbaar.
- Die kostes sluit baanfooie en ‘n ete na die tyd in.
- Gholfkarretjies is bespreek en is vir jul eie rekening.
- Kontak asb. vir Rashard indien jy enige vrae het: sport@jvrprim.co.za | 067 311 8914

Vandag is dit weer “#Bok-Friday”. Die Springbokke se soeke na glorie loop beslis volgens plan met hul reuse oorwinning van 76 – 0 teen Roemenië. Die Bokke sit hul wêreldbeker-rugbyveldtog die naweek op Saterdag, 23 September, voort teen Ierland in Parys te Stade de France. Dit gaan ‘n titaniese stryd wees om te bepaal watter span as die wenner van poel B gaan wees. Saam met “#Bok-Friday” vier ons as skool ook Erfenisdag wat op Sondag, 24 September, plaasvind. Dit is dus belangrik dat jy vandag weer “#Bok-Friday” en Erfenisdag ten volle ondersteun deur jou springboktrui, of ‘n springbok t-hemp, net iets groen en goud of iets tradisioneel met trots aantrek om die Bokke en ons pragtige land te ondersteun. Mag die Bokke die naweek die Iere wys dat die Iere dalk die gunstelinge mag wees, maar die Bokke hou nie van verloor nie en nog minder hou hul ondersteuners daarvan!
Ons land spog met ‘n magdom kulture en ‘n mengelmoes van mense. Daarom vier ons jaarliks op 24 September Erfenisdag. Tydens die spesiale openbare vakansiedag vier ons as trotse Suid-Afrikaners ons kultuur en ons erfenis. Kom ons gebruik die dag om as ‘n trotse nasie ons wonderlike land, sy pragtige mense, diere en natuurskoon te waardeer. Erfenisdag is juis in 1996 ingestel om die kultuur en die unieke diversiteit van ons Reënboognasie te vier! Jy kan op die spesiale dag self besluit gebaseer op jou taal, kultuur en herkoms om iets te doen om jou eie erfenis te vier, asook om die geleentheid te gebruik om meer oor ander kulture en hul kosbare erfenis te leer. Omhels gerus die spesiale dag al is dit net met ‘n smaaklike vleisie op die kole.
Kwartaal 3 is besig om einde se kant toe te staan en akademies word dié kwartaal vir grade 4 tot 7 veral met take gekenmerk. As skoolhoof is ek in die gelukkige posisie dat die leerders graag by my kom spog met hul uitmuntende take. Die kwaliteit en detail van die take asook die kreatiwiteit wat daarmee gepaard gaan laat my dikwels sprakeloos. Wel gedaan aan al die leerders en onderwysers met die puik take en projekte wat die afgelope kwartaal afgehandel is.

Vandag eindig die buitemuurse program vir kwartaal 3. Baie geluk aan juf. Shahneé se o.13A-seunshokkiespan wat Vrydagaand, 15 September, die hokkietoernooi te Elkanah House gewen het. Liam Joubert het ‘n spesiale toekenning vir die meeste doele aangeteken, ontvang. Graag wil ons ook vir Jana Maree bedank wat die span as gevolg van beserings en siekte uitgehelp het. Dit was baie braaf en dapper van haar om teen die seunspanne te speel.
Ons skool se toneel- en dramagroep onder leiding van juf. Jana het die naweek van 15 – 17 September aan die Silwervaringfees te Laerskool Bastion deelgeneem. Hulle het puik gevaar en ons leerders het met die louere weggestap. Ons skool het ook die prys vir die beste teks gewen. Baie geluk aan die volgende leerders asook juf. Jana. Julle maak ons baie trots:
Zadie Loubser
Eddie Quixley
Neil Heyns
Dino Burger
Chrystal Conradie
Emma Jonker
Nevieke Bender
Samuel Wolff
Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling deur die ikoniese Madiba rakende erfenis. Ek wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe. Geniet die meevallertjie en mag die Bokke wen!
“Our rich and varied cultural heritage
has a profound power
to help build our nation’’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF
Belangrike Datums
junie 2026
julie 2026
augustus 2026
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
maart 2027
mei 2027


