Ons gr. 7’s en 5’e het vanaf 28 Februarie – 01 Maart 2024 en die gr. 6’e vanaf 04 – 06 Maart die jaarlikse en gewilde skoolkampe bygewoon. Die gr. 5 – 7-leerders het die skoolkampe terdeë geniet en kon seker nie wag om al die interessante kampstories met julle as ouers/voogde en die ander gesinslede te deel nie. Natuurlik was hulle doodmoeg van die min slaap, die onbekende avontuur en al die opwinding. Tydens die kampe kon ons junior stadsjapies heerlik die natuur verken terwyl hulle in spanne moes saamwerk. Skoolkampe bou beslis karakter, verbeter kommunikasievaardighede, vereis deursettingsvermoë en ontwikkel leiereienskappe. Ons leerders het oorgenoeg te ete en te drinke ontvang, maar het verseker hul ouers/voogde se smaaklike en tuisgemaakte kos asook die gemak van hul ouerhuise gemis. Ek glo hulle waardeer en is ook sommer weer van vooraf dankbaar vir al die wonderlike voorregte wat hulle baie keer as vanselfsprekend aanvaar.

Die afgelope naweek het ons o.13A-rugbyspan aan die Hoërskool Hopefield Rugbydag op Saterdag, 02 Maart 2024, deelgeneem. Ons seuns het puik gevaar en wen beide wedstryde teen Jurie Hayes Primêr 20 – 5 asook 10 – 5 teen Hopefield Primêr. Wel gedaan, seuns en baie geluk aan ons afrigters, mnre. Erick en André, met die voorseisoenprestasies. Julle maak ons trots. Ons wens vir julle ‘n suksesvolle seisoen toe en mag dit vandag en môre goed tydens julle deelaname aan die Bulfees te Porterville gaan. Ons mini-krieketspanne (o.8 & o.9) het op Saterdag, 02 Maart, aan ‘n toernooi te Laerskool Tableview deelgeneem. Die o.8’s het vyf van die 6 wedstryde gewen en die o.9’s het 4 van die 6 wedstryde gewen. Wel gedaan aan ons spelers asook juffrouens Helene en Naomi.

Na afloop van die WP-Atletiekkampioenskappe wat op 28 Februarie 2024 tydens ‘n snikhete dag te Dal Josafat (Paarl) plaasgevind het, is dit net Delmar Benecke van ons 9 leerders wat deelgeneem het om WP-kleure tydens die byeenkoms te verwerf. Ons wens vir Delmar sterkte toe wat môre, 09 Maart, aan die Wes-Kaap Atletiekkampioenskappe te Dal Josafat deelneem. Tydens die byeenkoms neem atlete vanaf WP, Boland en Suid-Kaap deel om vir die nasionale kampioenskappe te kwalifiseer. Ons hou vir Delmar styf duimvas dat hy vir sy gunsteling 800m baanitem suksesvol sal wees en dus sy Wes-Kaap Kleure vir atletiek verwerf!

Verlede Vrydag het ons jaarlikse Junior Swemgala plaasgevind en ons grondslagfase-swemmers was spreekwoordelik soos visse in die water terwyl hulle luidkeels deur hul ouers/voogde, grootouers en maats aangemoedig is. Die junior swemgala bly maar altyd vir my ‘n hoogtepunt, veral omdat die gr. 1-leerders vir die eerste keer ‘n geleentheid kry om aan ‘n formele skoolswemgala deel te neem. Hierdie week het die wintersportbuitemuurse program ook afgeskop wat die eerste netbal-ligawedstryde op Woensdag, 06 Maart, tuis teen Parow-Oos ingesluit het. Die fiksheidsvlakke van beide skole se netbaldogters is beslis met die aanvang van die seisoen beproef. Ons spanne het puik gevaar en laat my toe om ons eerste netbalspan asook hul afrigter, juf. Ischké, hartlik geluk te wens met hul puik oorwinning van 13 – 11 in ‘n titaniese stryd. Baie dankie aan aan al die netbaljuffrouens en –afrigters, my beste wense vergesel julle vir die komende seisoen.

Dit is dan presies ‘n jaar gelede dat ons amptelik vanaf die Google Workspace na Microsoft Education emigreer het met die fokus op MS Teams om ons leer en onderrig verder te komplimenteer. Ek glo en verstaan dat die spesifieke verandering nie noodwendig deur almal in ons skoolgemeenskap omhels is nie, maar dit is werklik ‘n riem onder die hart om die omvang van vordering te sien wat in ‘n relatiewe kort tydperk vermag is. Ek is baie trots op ons opvoeders wat ‘n kwartaal weg is van ‘n volledige nuwe kurrikulum vir grade 4 – 7. Laat my toe om hulle hartlik te bedank vir die harde werk en toewyding om kwalitieit digitale leermateriaal te ontwikkel. Die leermateriaal is ‘lewendig’ m.a.w. dit is hedendaags en kan maklik aangepas word soos die wêreld verander en ontwikkel sodat ons, ons leerders kan voorberei vir ‘n wêreld waar die pas van verandering voortdurend toeneem. Ons poog verder om die vervlegting van leer (blended learning) met tradisionele onderrigmetodes in die klas toe te pas. Tegnologie maak beslis vernuwende onderwys meer haalbaar, onder andere weens die feit dat ons leerders tans grootword binne die paradigma van tegnologie. Ons visie is dat tegnologie ‘n kragtige instrument is om interaktiewe leer in die klas moontlik te maak asook leerervarings buite die mure van die klaskamer te skep. Vir seker is ons nog nie waar ons presies wil wees met die kurrikulumontwikkeling en aanwending van tegnologie in die klaskamer nie, maar ek is voorwaar trots op die ongelooflike vordering wat ons gemaak het om die leerervaring vir ons leerders te verbeter en opwindend te maak.

Laat my ook toe om die volgende ouers geluk te wens wat deel van die nuwe Beheerraad vir die ampstermyn 2024 – 2027 uitmaak:

  • Merwe Scholtz
  • Marié Cruywagen
  • Susan van der walt
  • Stephen Hitchcock
  • Hugo van den Heever

Soos ek die afgelope week met julle via ons WhatsApp Communities gedeel het, is daar slegs vyf vakatures vir ons ouers om op die Beheerraad te dien en daar was slegs vyf benoemings teen die sperdatum van 04 Maart 2024 om 13:00 vir die Beheerraadsverkiesing Dit beteken dat ons nie hoef voort te gaan met die formele verkiesing op 18 Maart nie. Die personeelverkiesing tot die Beheerraad het op Dinsdag, 05 Maart, plaasgevind en graag wens ek die volgende personeellede geluk met hul insluiting:

  • Marinda Brink (verteenwoordig opvoeders)
  • Andri de Villiers (verteenwoordig opvoeders)
  • Hannes Muller (verteenwoordig die nie-opvoeders)

Ek dien ex officio as Skoolhoof op die Beheerraad en sien baie uit om saam met die nuwe Beheerraad ons trotse skool na nog hoër hoogtes te lei.

Graag sluit ek af en fokus ek nog steeds op groei-ingesteldheid met ‘n bekende aanhaling deur deur Jamie Paolonetti en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Limitations only lives in our minds’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF