Kwartaal 1 begin nou vinnig einde se kant toe staan met nog ‘n suksesvolle afsluiting van ‘n akademiese week. Week 9 is soos die res van die kwartaal gekenmerk deur verskeie aktiwiteite wat plaasgevind het. Die week het op Maandag, 11 Maart 2024, met netbal-ligawedstryde weg teen Laerskool Fanie Theron in die Noordelike voorstede afgeskop. Ons netbalspanne het tydens die snikhete dag hulle puik van hul taak gekwyt deur 10 van die 12 wedstryde te wen. Ek wil nie ‘n spesifiejke span uitsonder nie, maar ‘n eerste span van ‘n skool gee maar altyd die sogenaamde pas aan en stel die standaard, dus baie geluk aan die o.13A’s en juf. Ischké met hul puik oorwinning van 32 – 3.

Sommige ouers mag dalk nie weet nie, maar ek was voorheen die skoolhoof van Laerskool Fanie Theron en dit was nogal op ‘n manier nostalgies en ironies om na meer as 3 jaar die skool weer te besoek om ons Jannies daar te gaan ondersteun. Ek was omtrent vriendelik deur hul leerders, personeel en ouers ontvang. Dit was ‘n baie spesiale ervaring, veral weens die feit dat hul leerders my nog steeds onthou het en my spontaan kom groet het om te hoor hoe dit gaan. Dit is weer aan my bevestig dat ek vir seker die beste beroep in die wêreld gekies het. Ek is dankbaar dat ek die geleentheid het om op soveel jong leerders se lewens ‘n positiewe impak te hê, wat ‘n wonderlike voorreg!

Om skoolhoof te wees, is nie altyd maklik nie. Dit is ‘n groot verantwoordelikheid, die verwagtinge is hoog en die skoolhoof speel onder andere ‘n kardinale rol in die etos wat by die skool gevestig word. Ek sien skoolhoofskap as ‘n absolute roeping en nie net ‘n beroep nie! Die werksbevrediging wat ek by Laerskool Jan van Riebeeck geniet, is kosbaar en ek sal dit vir ewig koester. Dalk het julle al gewonder hoe my dag as Skoolhoof lyk en waarmee ek myself besig hou. Sommer so bietjie tong-in-die-kies: volgens die leerders werk ek nie as ek nie agter my lessenaar sit nie. Vir seker vereis administrasie, kommunikasie en veral die onderwysdepartement baie van my tyd, maar dit is vir my baie belangrik om tyd vir leerders, ouers/voogde en personeel te maak. Ek glo dat uitnemende skoolhoofde alle besluite rondom sy/haar leerders neem m.a.w. besluite moet altyd geneem word in die beste belang van die leerder(s) en nie wat die beste vir die ouers/voogde of personeel is nie. Ouers/voogde het dikwels hiermee ‘n probleem, maar as skoolhoof moet ek en my bestuurspan (EXCO) alle faktore asook almal se belange in ag neem. Ek nooi julle weer uit dat indien ‘iets’ jou by die skool pla om vir my ‘n e-pos te stuur of kom drink by my ‘n lekker koppie koffie en dan gesels ons daaroor.

Daar was Woensdagmiddag, 13 Maart, groot opwinding by die skool met die aankoms van ‘n 95-ton hyskraan wat ‘n mobiele klaskamer agter die biblioteek vanaf die parkeerarea agter die skool oor ‘n afstand van 45 meter kom plaas het. Die presisie waarmee die klaskamer in posisie geplaas is, gaan my verstand ten bowe. Dit was ‘n wonderlike ervaring om die hyskraanoperateur met sy assistente in aksie te sien. Die doel van die mobiele klaskamer is om tydelik die sportkantoor te akkommodeer, aangesien die leerontwikkelingsentrumprojek (soos genoem in die nuusbrief van 19 Januarie 2024) binnekort gaan afskop. Die leerontwikkelingsentrum gaan gevestig word in die boonste gang oorkant die gr. 6- en gr. 4-klaskamers. Dus gaan juffrouens Marinda, Suzaan, die sportkantoor en die afrolkamer moet skuif. Hierdie opwindende projek gaan spasie voorsien vir leerders met akademiese-, emosionele- en sosiale uitdagings of enige ander leerder wat angstig voel, kan die veilige spasie onder toesig geniet. Laat my weer toe om Whitey en Annallise Basson asook Mari Kushner hartlik te bedank wat die projek befonds. Ons is julle baie dankbaar. Ek sal julle op hoogte hou sodra die projek amptelik afskop asook die logistieke reëlings wat daarmee gepaard gaan.

Vanmiddag om 14:00 skop nog ‘n opgraderingsprojek af. Ons huidige biblioteek word vanaf 15 Maart tot 05 April tot ‘n nuwerwetse media- en digitale sentrum opgradeer waar ons leerders ondere andere in ‘n moderne omgewing kan gaan navorsing doen, take voltooi en natuurlik gaan dit ‘n spasie bied wat ons leeskultuur verder uitbou en ons leerders inspireer om meer te lees. Ons is so opgewonde en kan nie wag vir die langverwagte verbetering nie. Laat my toe om Ton en Anet Vosloo hartlik te bedank vir hul ruim borgskap wat die opgradering moontlik maak.

Woensdagaand, 13 Maart, het die gewilde somersokkie vir ons gr. 5 – 7-leerders in die saal plaasgevind. Ons leerders was baie opgewonde en pragtig getooi vir die spesiale sosiale geleentheid. Die saal was stylvol deur juf. Mardry en die gr. 7-leerders opgemaak, saam met die beligting en musiek was dit vir seker die perfekte venue en sokkie. Baie dankie aan al die onderwysers wat toegesig gehou asook gehelp het met die braai om die aand die smaaklike boereworsrolle aan die leerders te voorsien.

Graag sluit ek dan af met die volgende aanhaling weer oor groei-ingesteldheid en wens ek vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“With the right mindset,
we can’t lose,
we either practice what we’ve learned,
or we learn what we need to practice!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF