Ons het week 5 van kwartaal 1 op ‘n hoë en ‘besige’ noot afgesluit met onder andere ‘n mini-kriekettoernooi te Laerskool Hugo Rust (Wellington) op Vrydagmiddag en -aand, ‘n swemgala Vrydagmiddag tuis met 8 skole uit ons onmiddellike omgewing wat deelgeneem het, ons o.13-rugbygroep het op Saterdag, 17 Februarie, aan die ‘Onder die Berg’-rugbytoernooi deelgeneem wat HS Jan van Riebeeck aangebied het, ‘n netbalkliniek is op Saterdag, 17 Februarie, tuis deur WPNA aangebied asook ons jaarlikse koorkamp wat op Vrydag, 16 en Saterdag, 17 Februarie, plaasgevind het. Dit is omtrent ‘n mondvol en julle kan dus aflei dat ons skoolprogram besig en propvol aktiwiteite is vir ons leerders om aan deel te neem. Laat my toe om weereens al ons toegewyde onderwysers en afrigters hartlik te bedank wat al die buitemuurse aktiwiteite vir ons Jannies moontlik maak.

Die jaarlikse koorkamp onder leiding van juf. Rolene en mnr. Ben het vanjaar oor twee dae geskied, naamlik die Vrydagmiddag, 16 Februarie, en Saterdagoggend, 17 Februarie. Graag wil ek hulle hartlik gelukwens met die nuwe aanslag van koorafrigting asook die aanleer van nuwe en moderne liedjies waarmee ons leerders hulself kan vereenselwig. Ons koorleerders het die koorkamp terdeë geniet. Hulle het nie net gesing en nuwe liedjies geleer nie, maar ook aan ander pretaktiwiteite deelgeneem. Ons is saam met die koorleerders baie opgewonde en sien uit na al die kooroptredes wat die jaar op hulle wag.

Op Dinsdag, 20 Februarie, om 12:15 het ons ‘n beplande ontruiming vir brand by die skool geoefen. Ons oefen een keer per kwartaal ‘n veiligheidsontruiming sodat ons leerders en personeel presies weet watter prosedure om te volg indien een van die volgende gevaarlike situasies homself voordoen:

  • ‘n Brand
  • ‘n Bomdreigement
  • Stakings en siviele onrus.

Ek wil nie graag sportspanne of individuele leerders uitsonder nie, maar laat my toe om die volgende merkwaardige uitslae met julle te deel:

  • Ons o.13A-dogterstennisspan wen op Maandag, 19 Februarie, die o.13A-dogterspan van Laerskool Durbanville 5 – 1 tydens ‘n ligawedstryd. Baie geluk Jeanne van Heerden, Stella Pansegrouw, Stella Zulch en Ané Swanepoel. Julle maak ons baie trots! Dit wil gedoen wees om hierdie puik uitslag teen ‘n ‘groot’ skool met meer as 1 200 leerders (gr. 4 – 7) te behaal.
  • Op Woensdag, 21 Februarie, het 20 van ons leerders aan die sone-atletiekbyeenkoms te Vygieskraal deelgeneem en die volgende 9 atlete kwalifiseer vir die WP-Kampioenskappe op Woensdag, 28 Februarie, te Dal Josaphat in die Paarl:
    • Delmar Benecke
    • Jana Olivier
    • Stella Zulch
    • Frank van der Walt
    • Daniella Boshoff
    • Carter Schoeman
    • Jeanne van Heerden
    • Ellen van Heerden
    • Maia du Toit

Ons hou styf duimvas dat die boegnoemde atlete hul WP-kleure sal verwerf. Baie dankie aan mnre. Leon en Erick wat ons atlete bygestaan en vergesel het.

Ek is saam met ons leerders baie opgewonde en sien baie uit om almal later vanaand tydens die klasbraai by die Conradieveld vanaf 18:00 te ontvang. Bring dus jou piekniekmandjie of iets ‘lekkers’ om te braai en geniet die samesyn en geselligheid wat net Laerskool Jan van Riebeeck kan opdis. Ons gaan net onsself wees!

Ek herinner ook al ons graad 6- en 7-ouers om gerus ‘n plan te maak om die Opedag van HS Jan van Riebeeck op Dinsdag, 27 Februarie, om 18:00 by te woon. Hulle gaan soos gewoonlik baie moeite doen om ons leerders spesiaal te ontvang.

Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van Chris Bertram rakende groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“When you are in a growth mindset,
what that means is that you choose to see that struggle
and challenges as an opportunity for growth and
for learning and development!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF