Jou kind het ‘n fout gemaak of iets verkeerd gedoen. Wat is vir hulle dié ergste? Om dit te erken en bereid te wees om die gevolge te dra. Ongeag jou pogings om die waarde van eerlikheid by jou kind te vestig, mag hy/sy enige iets doen om nié verantwoordelikheid te aanvaar nie. Hoekom nie? Hier volg moontlike redes waaraan ons as volwassenes nie altyd aan dink nie:

  • Vrees vir kritiek/verwerping: Jou kind mag bang wees om jou/die onderwyser/vriende teleur te stel. Deur nié verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie, hoop hulle om die negatiewe gevolge te ontduik wat mag volg.
  • Hoe wil ek hê moet ander my sien? Kinders, net soos volwassenes, wil gesien word as goed, bekwaam en eerlik. Daarom “beskerm” hulle hierdie beeld deur die blaam op iemand te verskuif of te ontken hulle is skuldig. Hulle glo hulle gaan dan nie gekonfronteer word of iemand nie teleurstel nie.
  • Om die gevolge te vermy: Deur die blaam op ander te plaas, hoop die kind hy/sy gaan die gevolge vryspring wat hy/sy weet gaan volg en waarvoor hy/sy nie kans sien nie.
  • Gebrek aan emosionele regulering: Soms is die emosies wat mag volg – skaamte, skuldgevoelens/ verleentheid – vir die kind nét te veel om te hanteer. Om die blaam te verskuif, gebruik hulle hierdie verdedigingsmeganisme om nié hierdie uitdagende emosies in die oë te kyk nie.

So, wat kan ons as ouers doen sodat ons kinders gemakliker kan sê: “Ek is jammer?”

  • “Normaliseer” foute: Vir jou kind om eerlik met jou te wees en te aanvaar hulle het ‘n fout gemaak, moet hulle glo om foute te maak, is aanvaarbaar. Gesels met jou kind en wees eerlik oor die foute wat jý gereeld maak en hoe jý daarop reageer.
  • “Stop. Begin weer”: Wanneer jou kind reageer met verskonings, ontkennings en argumente, probeer dalk hierdie eenvoudige tegniek: “Stop. Kom ons begin van vooraf.” Help hulle om te besef dat al wat hulle hoef te doen, is om verskoning te vra, dit agter hulle te sit en aan te gaan. Dit sal die gewoonte kweek om te aanvaar iets kán skeefloop, maar jy het altyd weer ‘n kans om dit nie weer te doen nie.
  • Soek saam met hulle na beter opsies: ‘n Kind wat kan aanvaar hy/sy mag foute maak, het gewoonlik ouers wat openlik hieroor kan praat en saam met hulle kinders kyk na ander maniere om die probleem op te los. Probeer:“ Ek verstaan hoekom jy dit gedoen het, maar wat dink jy kan jy volgende keer anders doen?
  • “Back off a little”: Soms is dit net nodig om terug te staan sodat jou kind uit sy/haar foute leer. Dit is dikwels die enigste manier hoe jou kind kan leer om ander opsies te oorweeg.

Marike Badenhorst