Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat Vrydagaand, 23 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Ouers/voogde en leerders het in groot getalle opgedaag, want die weer het perfek saamgespeel om die aand nog meer spesiaal te maak. Graag wil ek my dankbaarheid uitspreek, want met die ligging van ons sportveld met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat ons omring, maak die Conradieveld ‘n idilliese sportgrond. Dit was vir die personeel ook heerlik om saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit ook ons gr. 1-ouers/voogde se eerste klasbraai en opvallend was die heerlike samesyn terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is.

Ons skoolgebou en terrein is sedert Woensdag, 28 Februarie, baie stil aangesien ons gr. 7’s en 5’e weg is op kampe (onderskeidelik by Franschhoek en SOS). Ons gr. 7’s en 5’e is reeds vanaf Maandag so opgewonde en kon net nie meer wag dat Woensdag moes aanbreek nie sodat hulle na die kampe kon vertrek. Skoolkampe bied die ideale geleentheid om leerders uit ‘n bekende en gemaklike omgewing te neem en bloot te stel aan ‘n onbekende natuuromgewing wat gestruktureerd, veilig en vriendelik is. Terwyl hulle die natuur verken, word hul karakter gebou, kommunikasievaardighede verbeter, spanwerk verbeter en emosionele- en leiereienskappe ontwikkel, Dit is net ‘n wen-wen situasie vol tonne pret waar hulle beslis hulself kan wees en ander leerders beter gaan leer ken. Hulle gaan dus leer wat dit beteken om saam te werk en op die regte tye vir mekaar spasie te gee. Skoolkampe sal altyd ‘n onvergeetklike deel van ‘n leerder se skoolloopbaan wees, waar hulle dikwels bewustelik en onbewustelik waardevolle lewenslesse leer. Dit is natuurlik ook die gr. 5’e se eerste skoolkamp en ek glo dit het dalk ‘n paar mamma-harte angstig gemaak, maar wees verseker jou kind(ers) gaan baie pret hê en hulle is heel moontlik salig onbewus van die ouerverlange. Gaan bederf gerus die ‘kampers’ na afloop van hul terugkeer by die skool en ek glo hulle kan nie wag om hul nuwe kampervarings en avonture met julle te deel nie. Laat my ook toe om die opvoeders wat ons leerders tydens die skoolkampe vergesel het hartlik te bedank dat hulle so mooi na ons Jannies omgesien het.

Die WP-Atletiekbyeenkoms het op Woensdag, 28 Februarie, by die Dal Josaphat-stadion in die Paarl plaasgevind. Dit was ‘n snikhete dag met die temperatuur wat in die Paarl tot meer as 41°C gestyg het. Nege van ons atlete het deelgeneem en het alles in hul vermoë gedoen om WP-kleure vir atletiek te verwerf. Dit was so naby vir heelwat van ons atlete. maar ongelukkig het net een Jannie hierdie jaar WP-kleure vir atletiek behaal en dis niemand anders as Delmar Benecke nie. Delmar wen goud gemaklik vir die 800m o.13-seuns en verbeter sy beste tyd met 4 sekondes van 2:19 na 2:15. Baie geluk, Delmar, met die merkwaardige prestasie. Jy maak ons baie trots.

Sterkte aan o.13 A-rugbyspan wat môre, 02 Maart, aan die Hopefield Rugbytoernooi deelneem asook die leerders wat oor die naweek aan skaak WP-Proewe deelneem. Die volgende leerders gaan ook oor die naweek WP-tennis in die Synergy Cup vanaf 1 – 2 Maart verteenwoordig:

  • Jeanne van Heerden,
  • Stella Pansegrouw,
  • Ané Swanepoel,
  • Amelie van der Walt,
  • Gustav van der Linde,
  • Adriaan Wessels &
  • Rafa Lamprecht

Ons beste wense vergesel hulle en ons hou styf duimvas dat hulle hul onderskeie sportdoelwitte sal bereik.

Ek herinner julle ook dat die 2024 BR Verkiesing se benoemings van ouers wat bereid is om vir die Beheerraad te staan op Maandag, 04 Maart, om 13:00 sluit. Alle getekende benoemingvorms (nominasies) moet fisies dan by die adminkantoor (Jodene) ingehandig word.

Dit is vanjaar weer ‘n skrikkeljaar en soos ons leerders vir jou sal vertel, is dit ‘n jaar wat ‘n ekstra dag aan die einde van Februarie bevat om die kalenderjaar te sinkroniseer met die astronomiese jaar. Die woord skrikkel het sy oorsprong in oud-Nederlands se “schrikkelen” wat spring of oorslaan beteken. Die ou legende vertel dat ‘n vrou vir ‘n man op 29 Februarie die ‘groot’ vraag mag vra, maar sy moet dan ‘n broek aantrek, want in daardie dae het vrouens slegs rokke gedra. Sou die man dan nee sê vir die huweliksaanbod, moes hy haar ‘n soen gegee het. Dalk gebeur dit vandag nog steeds, maar dit is sommer net ‘n bietjie nuttelose inligting oor skrikkeljaar. Mag julle ‘n wonderlike en geseënde skrikkeljaar geniet.

Graag sluit ek af met die volgende bekende aanhaling deur John C. Maxwell oor groei-ingesteldheid en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Dreams don’t work
unless you do’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF