Kategorie: Algemeen
Ons het verlede jaar 2 kompetisies geloods: Een vir ‘n eeufees-embleem en tweedens om die 100 jaar feesvieringe te gebruik om in tye van die pandemie ‘n embleem van hoop te skep. Baie geluk aan die volgende leerders wat die onderskeie kompetisies gewen het:
● Klara Jansen van Vuuren Gr.2: LS JVR 100 Embleem
● Taniel Webber Gr.7 : 100-2021 HOOP

Die Laerskool Jan van Riebeeck-Trust bied vir die eerste keer op 6 Mei 2021 by Valley Clay Target Club ‘n Kleiduif-kompetisie aan. Kry ‘n span van 5 lede en kom geniet ‘n dag vol pret en lekker lag. Die kompetisie word gevolg deur ‘n steakbraai en daar is heerlike pryse op die spel. Inskrywings is beperk a.g.v. COVID 19-regulasies. Volg die SKAKEL om in te skryf.

Die Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996, maak pertinent voorsieing vir demokratiese strukture asook vir ‘n demokratiese proses waardeur verteenwoordigers van alle belanghebbendes (ouers, opvoeders en nie-opvoeders) in skoolbeheerrade (BR) verkies word. Dus is skole tans landswyd hard aan die werk om die 2021 Beheerraadverkiesings vir die tydperk 2021 – 2024 af te handel. Die BR-verkiesing stel ouers in staat om ‘n sê te hê in wie in die beheerraad moet dien om belangrike strategiese besluite oor hul kinders se opvoeding te neem. Ons is in die bevoorregte posisie dat ons skool oor die jare vaardige, kundige en toegewyde beheerrade opgelewer het. Dus wil ek baie geluk sê en die volgende genomineerde ouerkandidate (alfabetiese volgorde), wat gisteraand om 19:00 deur ons verkiesingsbeampte, mnr. Chris Storey (Skoolhoof van LS Kampsbaai) tydens die benoemingsvergadering amptelik bekragtig is, asook hulle hartlik bedank vir hul bereidwilligheid om te staan as ‘n moontlike beheerraadslid:
1. Marie Cruywagen
2. Jan-Jurie Fourie
3. Jaco Greeff-Cronjé
4. Wilhelm Hertzog
5. Esri Marais (huidige BR-Lid vir regsake)
6. Henk Oosthuizen
7. Merwe Scholtz (huidige BR-Voorsitter)
8. Barry van Zyl
9. Izelle Venter (huidige BR-Ondervoorsitter)
10. Andries Viljoen
11. Danelle Welgemoed
Ons BR-verkiesing vir die ouerkomponent geskied op Dinsdag, 30 Maart 2021, en vanaf volgende week sal julle as ouers die bogenoemde kandidate se verkorte CV’s vergesel met ‘n motivering waarom hul in die beheerraad wil dien, asook ‘n foto van elk ontvang.
Die verkiesing van die opvoeders en nie-opvoeders het op Donderdag, 18 Maart 2021, geskied. Volgens die SA Skolewet kan opvoeders 2 kandidate verkies en die nie-opvoeders een. Dit is my voorreg om die volgende personeel wat in die 2021 – 2024 BR gaan dien, hartlik geluk te wens en sterkte toe te wens vir die groot taak:
● Lucia de Jager (Opvoeder verteenwoordiger)
● Ischke Felix (Opvoeder verteenwoordiger)
● Hannes Muller (Nie-opvoeder verteenwoordiger)
Graag wil ek die personeel wat by die swemgalas op Donderdag, 18 Maart (Grondslagfase) en op Vrydag, 19 Maart (Intersenfase) betrokke was, hartlik bedank vir hulle toegewydheid. Dit was verblywend om te sien hoe die personeel die swemgala saam met die leerders geniet het. Net om weer te kon deelneem aan ‘n skoolaktiwtiteit het ons leerders baie opgewonde gemaak en hulle was soos visse in die water. Om eerlik te wees, ek het ook amper aan die pret deelgeneem. Met die ikoniese Tafelberg teen die agtergrond en ‘n amper tasbare atmosfeer van entoesiasme het ons beslis die ouers se teenwoordigheid en aanmoediging gemis. Hopelik gaan die pandemie spoedig verby sodat ons weer die ouers, oumas en oupas by ons aktiwiteite kan betrek.
Ons neem graag afskeid en dink vandag aan ons onderwysdistrik se direkteur, Me. Sanette Nowers, wat na ‘n kort siekbed onverwags oorlede is. Nog ‘n groot seder wat in die onderwyssektor val en ons gaan haar kundigheid geweldig mis. Haar gedenkdiens geskied vandag en ons gebede is met haar familie gedurende hierdie moeilike tyd.
Graag wens ek vir julle ‘n lekker ontspanne langnaweek toe aangesien daar op Sondag, 21 Maart, Menseregtedag gevier word en ons op Maandag, 22 Maart, ‘n lekker meevallertjie as ‘n openbare vakansiedag ontvang. Laat ons nooit die betekenis van Menseregtedag in die Suid-Afrikaanse konteks vergeet nie, want dit verwys na die basiese regte en vryhede waarop alle Suid-Afrikaners geregtig is wat die reg tot lewe en vryheid, vryheid van denke en uitdrukking insluit. Ek sluit af met ‘n bekende stelling van Nelson Mandela: “To deny people their human rights is to challenge their very humanity”.
Graag wil ek almal bedank wat die sosiale buitelugfunksie op Vrydagaand, 5 Maart bygewoon het. Dit was ‘n groot voorreg om julle te kon ontmoet en ‘n heerlike aand se samesyn te geniet. Ek is oortuig dat die kinders heel moontlik die piekniekfunksie die meeste geniet het. Wanneer laas kon soveel kinders net lekker saam speel, rondhardloop, mekaar rondjaag en net lekker laf wees soos slegs kinders dit kan doen. Dan besef ‘n mens net weereens die negatiewe impak van die grendelstatus op ons land se kinders.
Ek het ook die voorreg gehad om op Dinsdag, 9 Maart ons prefekte se balkies in my kantoor te oorhandig. Groot was my verbasing om te ervaar hoe die 12 prefekte met soveel selfvertroue hulle aan my voorstel, my verwelkom en hul visie vir die skool met my deel. Ek het ook saam met hulle en juffrou Izel Storm op Woensdagoggend, 10 Maart om 07:30 ‘n leierskapontbyt by Hoërskool Jan van Riebeeck bygewoon. Die gasspreker was Cabous Meiring en die prefekte van die verskillende laerskole het behoorlik aan haar lippe gehang. Prefekte het tydens die funksie ook die geleentheid gekry om hul opinies oor verskeie onderwerpe met almal te deel. Hulle het spontaan en met soveel selfvertroue en insig gekommunikeer. Hartlike dank aan mnr. Pieter Rademeyer, die nuwe hoof by die Hoërskool, vir die uitnodiging en vriendelike ontvangs. Terwyl leierskapvaardighede in die meeste gevalle natuurlik kom, glo ek dat elke kind oor leiereienskappe beskik en dat dit ons verantwoordelikheid is om geleenthede te skep vir alle leerders waartydens dit ontwikkel kan word. Ons kan voorwaar trots wees op elke leerder by ons skool, want ek sien potensiaal in elkeen. Hulle is immers môre se leiers.
Vrolik het my Donderoggend begin toe mnr. Ben Reyneke en me. Helecia Groenewald my saal toe genooi het om die seniorkoor aan te hoor terwyl hulle die eeufeeslied sing. Dit was ‘n baie spesiale oomblik wat ek graag met die hele skoolgemeenskap wou deel. Hulle het my asem behoorlik weggeslaan met die hoë uitvoeringstandaard inaggenome die minimale tyd wat die koor tot hul beskikking gehad het. Ek is baie trots op julle en ek kan nie wag om die juniorkoor te hoor nie.
Ons is geseënd met wonderlike personeel en ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om ons opvoeders en ondersteuningspersoneel hartlik te bedank vir die skep van ‘n bevordelike leeromgewing vir ons leerders. Ons het die voorreg om met jul talentvolle kinders te werk wat ons daagliks uitdaag, akademies stimuleer en motiveer. Wees verseker dat ons julle kinders se beste belange te alle tye op die hart dra. Ons land het ‘n groot behoefte aan kwaliteit leer en onderrig. Graag haal ek Madiba se stelling oor opvoeding aan: “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world’’.
Neem asseblief kennis van die volgende:
1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad (BR):
Ons het tans nog net 4 nominasies ontvang. Ek wil julle weer aan die volgende herinner:
● Die ouerkomponent van die BR bestaan uit 5 posisies.
● Benoeming/nominasie sluit op Dinsdag, 16 Maart 2021 om 10:00.
● Benoeming/nominasie moet met ‘n kort CV en foto vergesel word.
● Voltooide benoemings/nominasies moet by Adri (ontvangs) ingehandig word.
● Benoemings/nominasievorms is beskikbaar by Adri (ontvangs).
● Termyn: 2021 – 2024 (3 jaar).
● Indien daar net 5 nominasie is, word ‘n verkiesing nie verlang nie.
● Indien daar meer as 5 nominasie ontvang word, sal die verkiesing virtueel d.m.v. VotingCrowd op Dinsdag, 30 Maart 2021 geskied. Verdere reëlings en tydsgleuf om aanlyn te stem sal spoedig volg.
2. Visie vs sig
Ek het die week ‘n baie interessante en insiggewende gesprek met een van ons ouers, Karen Koen, oor visie en sig gehad. Ek het so baie van visie geleer en graag wil ek julle uitnooi om die SKAKEL te volg vir haar besondere storie met haar kinders.
Ons wil baie graag weer vanjaar Kaapstad se Lions Club help om paaseiers in te samel vir minderbevoorregte kinders. Dit sal wonderlik wees as elke leerder minstens een paaseier vir ons kan bring en dit in die emmer wat in Adri se kantoor staan, kan plaas. Hulle verkies die eiers wat die malvalekker aan die binnekant van die sjokolade het. Dit kom ook in ‘n string van vier of in verpakkings van 24 en meer. Ons wil vra dat die paaseiers voor of op Vrydag, 26 Maart, skool toe gebring word.
MySchool is Suid-Afrika se vooraanstaande skool ondersteuningsprogram. Hulle dra maandeliks meer as R 1.5 miljoen by tot skole en welsynsorganisasies.
Gereelde kaartgebruik is die sleutel tot sukses van hierdie program: elke transaksie tel! Ondersteuners kan hulle kaarte gebruik by ‘n verskeidenheid nasionale en plaaslike handelaars wat deelneem aan die MySchool program.
Ons versoek dat elkeen wat hierdie kaart besit dit asseblief by onder andere Woolies moet gebruik aangesien ons die geld wat ons terugkry net so in ons eie skoolgemeenskap se Welwillendheids-projek terug sit.
Kliek HIER vir meer inligting oor hoe om te registreer.
Ons wil graag vir Zandile Salimani, Gr.00 klasassistent by Huppelland, baie geluk wens met haar groot prestasie. Zandile het na 20 jaar besluit om haar matriek te voltooi en wil graag verder studeer om ‘n onderwyseres te word. Die Opvoedingstrust het haar in 2019 by College of Cape Town ingeskryf en sy het gedurende 2019 en 2020 aand- en naweekklas geloop. Sy het baie hard gewerk en ons is baie trots op haar. Baie geluk Zandile! Ons bedank ook graag die Opvoedingstrust wat hierdie fantastiese geleentheid moontlik gemaak het.
So breek week 3 van die aangepaste kwartaalkalender aan met die goeie nuus van ons president, Mnr. Cyril Ramaphosa, dat die land se grendelstatus tot vlak 1 aangepas word.
Dit is goeie nuus vir alle Suid-Afrikaners en bring groot verligting vir ons land se kwesbare ekonomie. Die aandklokreël wat tot middernag verleng is, verskaf meer tyd om ons behoefte aan sosiale interaksie op ‘n verantwoordelike wyse te geniet. Baie dankie vir al die Graad 1-ouers wat op Woensdag, 3 Maart 2021, vir die oueraand en piekniek opgedaag het. Ek waardeer julle teenwoordigheid en verwelkom jul betrokkenheid by die skool. Wanneer ouers betrokke by die skool is, ontmoet hulle die opvoeders asook ander ouers om sodoende die gemeenskaplike belang net verder te vergroot. Vir my is die ouers en die skool in ‘n kardinale vennootskap en met jul aktiewe betrokkenheid word die lojaliteit teenoor die skool en sy personeel verstewig. Jane D. Hull het die volgende stelling gemaak: “At the day, the most overwhelming key to a child’s success is the positive involvement of parents’’.
Verder is ek baie opgewonde en sien ek daarna uit om julle en jul gesinne vanaand by die piekniekfunksie te ontvang. Ek is op diens by die Conradieveld, maar sal beslis kom inloer by die skool. Ek glo en vertrou dat ons almal die samesyn sal geniet en nuwe kennisse sal maak. Baie dankie by voorbaat dat julle die Covid-19 protokol tydens die funksie sal eerbiedig.
Neem asseblief kennis van die volgende:
1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad (BR):
Neem asseblief kennis van die volgende belangrike inligting:
● Termyn: 2021 – 2024 (3 jaar).
● Ouerverkiesing geskied virtueel d.m.v. VotingCrowd op Dinsdag, 30 Maart 2021. Verdere reëlings en tydsgleuf om aanlyn te stem sal spoedig volg.
● Die ouerkomponent van die BR bestaan uit 5 posisies.
● Die volgende ouers wat die vorige BR verteenwoordig het, het hulsef weer verkiesbaar gestel:
⮚ Merwe Scholtz (Voorsitter)
⮚ Izelle Venter (Onder-voorsitter)
⮚ Esri Marais
● Benoeming/nominasie begin reeds (vandag) Vrydag, 5 Maart 2021, en sluit Dinsdag, 16 Maart 2021, om 10:00.
● Benoeming/nominasie moet met ‘n kort CV en foto vergesel word.
● Voltooide benoemings/nominasies moet by Adri (ontvangs) ingehandig word.
● Ons skool se verkiesingsbeampte is mnr. Chris Storey, skoolhoof van Laerskool Kampsbaai. Ek is die verkeisingsbeampte vir Hoërskool Jan van Riebeeck. Skoolhoofde mag nie hul eie skool se BR-verkiesings hanteer nie.
● Benoeming/nominasievorms is ook beskikbaar by Adri (ontvangs) of jul kan die onderstaande skakel volg.
Volg asseblief die skakel vir toegang tot die volgende:
⮚ AANHANGSEL A: Kennisgewing van benoemingsbekragtigingsvergadering en verkiesing wat die proses en sperdatums bevat; en
⮚ AANHANGSEL B: Benoemings/nominasievorm vir verkiesing van ouers tot die Beheerraad.
2. Swemgala
Weens die groot belangstelling het ons besluit om die swemgala eerder oor 2 dae aan te bied:
● Grondslagfase: Do., 18 Maart
● Intersenfase: Vr., 19 Maart
Razelle sal binnekort die nodige inligting voorsien. Ongelukkig sal ouers nie die geleentheid kan bywoon a.g.v. Covid-protokol nie.
Woensdag, 10 Maart, is fotodag. A.g.v. COVID gaan ons individuele foto’s neem en ‘n collage vir elke klas maak om ‘n klasfoto te skep (sien voorbeeld onderaan). Daar sal dus geen klasfoto’s geneem word nie. Slegs die volgende foto’s word geneem:
* Individuele foto’s
* Boetie- en sussiefoto
* Beheerliggaamfoto 2020
*Suidoosterredaksie 2021
*OOV
Kleredrag:
Leerders dra hul blou feeshempies. Indien leerders nog nie ‘n feeshempie het nie, moet hulle in skoolklere skool toe kom. Daar sal nie LO op daardie dag wees nie. Maak asb. seker dat jou kind(ers) netjies lyk.
Hoe werk die bestelling van foto’s:
Stap 1: Die fotograaf sal eers na ongeveer 3 weke die foto’s terug skool toe stuur.
Stap 2: Daarna word die foto’s huis toe gestuur en ouers kan dan op die koeverte of op die webtuiste van die fotograaf bestel.
Stap 3: Wag geduldig totdat foto’s terug kom skool toe.
NB: Fotogeld gaan NIE deur die Karri-toep nie!
Laaste dag vir fotobestellings is 21 April 2021

Kan julle glo, vandag is dit reeds die 2de week nadat die skool sy deure geopen het. Tyd vlieg ongelooflik vinnig verby. Roetine word stadig maar seker weer deel van ons leerders se daaglikse lewe en dit is verblydend om die stralende gesiggies te sien wat soggens by die skool opdaag. Ek glo julle as ouers is ook bly om nie meer die rol van ‘huisonderwyser’ te vertolk nie.
Leerders het dit die afgelope week geniet om weer aan skoolsport saam met hul klasmaats deel te neem aangesien die buitemuurse program op Maandag, 22 Februarie 2021, afgeskop het. Kooroefeninge het ook begin wat bydra tot ons skool se gebalanseerde, holistiese benadering. Ek glo dat buitemuurse aktiwiteite fiksheid, konsentrasie, deursettingsvermoë, dissipline, spierontwikkeling en samehorigheid ontwikkel.
Vir ‘n kind om ‘n ontwikkelingsvoordeel uit aktiwiteite te trek, moet hy/sy dit in die eerste plek geniet. Help dus jou kind om die regte sport of aktiwiteit vir hom/haar te vind. Wees egter versigtig om nie te veel druk om te presteer op hulle te plaas nie. Die fokus moet op deelname en karakterontwikkeling wees. Die pandemie het bygedra dat kinders te veel tyd voor die skerms deurbring en daarom is dit belangrik dat ons kinders aanmoedig om te beweeg en aktief te wees. Die beste manier om kinders aan te moedig om meer aktief te wees, is deur self die voorbeeld te stel. Dit kan gedoen word deur eerder te gaan stap of draf as om self voor die TV te gaan lê. Ons moet altyd onthou wat die waardes en prioriteite is wat ons onbewustelik aan ons kinders kommunikeer. ‘n Leefstyl en ingesteldheid van aktief wees vanaf ‘n vroeë ouderdom kan ook help om leerprobleme aan te spreek en geestelike/emosionele gesondheid te verseker wat deur die pandemie onder geweldige druk geplaas is. Ons eie Madiba het die volgende rakende gesondheid gesê: “Exercise is the key not only to physical health but to peace of mind’’. Skep dus geleenthede waartydens julle as ‘n gesin saam iets aktief kan doen.
Neem asseblief kennis van die volgende:
1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad:
Die amptelike datum vir die BR-verkiesing is Dinsdag, 30 Maart 2021. Maak asseblief ‘n aantekening in jul dagboeke. Ons het toestemming ontvang om die BR-verkiesing virtueel d.m.v. VotingCrowd af te handel. Inligting en dokumentasie rakende die nominasieproses sal so spoedig moontlik aan julle voorsien word.
2. Buitemuurse program:
Graag herinner ons julle om asseblief die Covid-protokol te handhaaf deur sover moontlik nie julle voertuie te verlaat wanneer julle die skoolperseel of sportgronde betree nie.
3. Terugvoering: Sosiale byeenkoms
Soos verwag was die reaksie van ouers oorweldigend. Die vrywillige sosiale funksie geskied dus op Vrydag, 5 Maart 2021, vanaf 18:00 tot 22:00 en soos volg:
Formaat en reëlings:
● Slegs piekniekmandjies, geen braaidromme word voorsien nie.
● Weens die getalle gaan die funksie by twee plekke moet plaasvind, nl. die Conradieveld en agter op die skoolveld met ingang vanaf Nuwe Kerkstraat.
● Oranje-kleurgroep woon die funksie te Conradieveld by.
● Blou-kleurgroep woon die funksie by die skoolveld (toegang Nuwe Kerkstraat) by.
● Graag versoek ons dat julle van Uber gebruik maak, aangesien parkering ‘n groot probleem is. Geen voertuig mag op enige van die twee velde parkeer nie.
● Hierdie funksie is nie die gewone klas- of graadbraai nie.
● Ons sal streng Covid-protokol moet handhaaf. Bring dus maskers en handsaniteringsmiddels saam. Sosiale afstand sal sover moontlik gehandhaaf moet word.
● Indien die funksie suksesvol verloop, sal ons dit weer vir kwartaal 2 beplan en dan sal die plekke vir die onderskeie kleurgroepe omruil.
4. Verlore goedere
Graag versoek ons jul om asseblief jul kinders se skoolklere en persoonlike items duidelik te merk aangesien ons ‘n magdom verlore goedere het met geen naam daarop nie. Baie dankie aan een van ons ouers, Colitha Janse van Rensburg, wat bereid is om vir ons die verlore goedere te bestuur. Sy kort egter hulp en indien jy sou belangstel om vir haar te help, kontak haar gerus op 082 868 0906.
5. Swemgala
Ons beplan ‘n swemgala wat op Vrydag, 12 Maart 2021, in graadverband sal plaasvind. Reëlings sal binnekort voorsien word. Ongelukkig sal ouers a.g.v. Covid-protokol nie die geleentheid kan bywoon nie
6. Toesig van leerders na skoolure
Soos julle bewus is, het ons buitemuurse program op 22 Februarie 2021 afgeskop. Opvallend is dat daar na skoolure meer leerders sonder toesig hulself op die skoolperseel bevind totdat ouers hulle kom afhaal. Sommige leerders word eers na 17:00 afgehaal. Ek verstaan dat ons ‘n stadskool is en dit moeilik vir ouers is om hul kinders heen en weer te vervoer, maar ek hoop dat julle sal verstaan dat ons nie personeel net vir die toesigdoeleindes kan aanwys nie, aangesien hulle by die buitemuurse program betrokke is. Daarom wil ek julle aanmoedig om van die nasorgfasilitei gebruik te maak en in die proses ons leerders se veiligheid te verseker. Baie dankie vir jul samewerking in die verband.
7. Verwelkoming van mnr. Pieter Rademeyer
Graag wens ons mnr. Rademeyer, wat op Maandag, 1 Maart, sy pos as die nuwe skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck inneem, die beste toe. Mag hy en sy gesin die nuwe hoofstuk in hul lewe terdeë geniet. Ons sien uit daarna om goeie bande te smee.
Kliek HIER om die ouerhandleiding vir 2021 te sien en/of af te laai. Alle jongste en enigste leerders sou ook ‘n gedrukte kopie ontvang het wat hierdie week aan hulle uitgedeel is.
Al was 2020 die jaar van uitdagings het ons JVR-graad 12’s hulle nie van stryk laat bring nie. Personeel en leerders het saamgewerk en alles in hul vermoë gedoen om suksesvol te wees en dit het vrugte afgewerp.
Dié groep is beslis goed voorberei vir die toekoms en woorde soos MOED, VEERKRAGTIGHEID en DEURSETTINGSVERMOË is kenmerkend van hulle.
Daarom spog ons met die volgende uitslae:
16 Jan van Riebeeckers slaag met ‘n A-gemiddeld [18%]
3 leerders behaal 7 A’s
4 leerders 6 A’s
4 leerders 5 A’s
7 leerders 4 A’s
Altesaam 144 A’s word in verskeie vakke behaal.
TOP PRESTASIES:
Lea Mascher 99% Ontwerp
Mia Stofberg 97% Wiskunde (oud-leerder)
TOP 10 PRESTEERDERS:
Dylan Keyser 90.8%
Louis Jordaan 89.5% (oud-leerder)
Mia Stofberg 87.8% (oud-leerder)
Leah Mascher 86.2%
Johannes Smith 85.4%
Ilse de Lange 84.4% (oud-leerder)
Justin van Heerder 83.4% (oud-leerder)
Jacques Marais 82.5%
Josef Oosthuizen 82.2% (oud-leerder)
Ethan Smith 82% (oud-leerder)
Ons is geweldig TROTS op hierdie groep en sal die herinneringe saam met hulle vir altyd koester.
Groot opgewondenheid het Maandagoggend, 15 Februarie 2021, onder leerders, ouers en personeel geheers met die terugkeer van ons Jannies nadat skole op 15 Desember 2020 gesluit het. Baie dankie aan ons leerderraad wat ons leerders en spesiaal die Gr.1’s ontvang het, en na hul onderskeie klasse begelei het. Uiteindelik was daar weer lewe by die skool met vrolike kinderstemme wat nou daagliks duidelik hul teenwoordigheid aankondig. Roetine word ook weer deel van ons daaglikse lewe en dit is lekker om te sien hoe opgewonde die leerders is om weer hul maats in lewende lywe te sien. Die leerders is die hartklop van die skool en dit is ons voorreg as opvoeders om hulle te help om hul horisonne te verbreed en om nuwe dinge te leer en ervaar. Ek haal Solomon Ortiz aan: “ Education is the key to success in life, and teachers make a lasting impact in the lives of their students.’’
Dan kan ek nie anders as om te noem dat die feeshempies ‘n fees vir die oog is nie! Baie dankie vir elkeen wat hierdie inisiatief ondersteun. Diegene wat hempies bestel het, moet geduldig wees. Die bestelling is nog op pad.
Akademie sal altyd ons kernbesigheid bly. Die eerste week het seepglad verloop. In hierdie onseker-tyd is dit belangrik dat ouers en opvoeders as ‘n span na die emosionele welstand van ons leerders kyk. Daarom moedig ek ouers aan om gedurig met jul kinders te gesels om sodoende spanning en angs te beheer. Dis belangrik om aan hulle te verduidelik dat dinge nou abnormaal is, maar dat dit in die nabye toekoms sal verander. Graag wil ek julle ook as ouers / voogde vra om aktief by jou kind/ers se leer en onderrig betrokke te raak. Loer gerus in hul werkboeke, moedig hulle aan en teken voltooide werk soos deur die opvoeders versoek.
Ons werk hard aan die algemene netheid van die skoolgeboue en terrein. Ek glo julle sal met my saamstem dat die estetiese effek van mooi skoolgeboue en goedversorgde terrein deurslaggewend is tot ‘n positiewe leeromgewing.
Neem asseblief kennis van die volgende:
1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad:
Soos julle bewus is, is 2021 weer die jaar om vir ‘n nuwe Beheerraad vir die tydperk 2021 – 2023 te stem. Ons beplan om die verkiesing virtueel d.m.v. VotingCrowd af te handel. Die voorlopige verkiesingsdatum is 30 Maart 2021. Sodra ons die formele goedkeuring kry, sal ons die prosedure vir julle deurgee. Graag versoek ek ouers om solank jul gedagtes te laat gaan rakende nominasies van ouerkandidate wat die belangrike rolle kan vul.
2. Dra van maskers
Graag versoek ons ouers om ons te help dat leerders asseblief maskers skool toe moet dra en nie ‘’Buffs’’ nie. Leerders trek die ‘’Buffs’’ oor hul ore en dit belemmer kommunikasie in die klas.
3. Klasverteenwoordigers /OOV
Verlede week is ouers d.m.v. die nuusbrief versoek om te oorweeg om as ‘n klasverteenwoordiger te dien. Ons het ongelukkig nie voldoende reaksie gekry nie. Ons versoek dat indien jy bereid is om as ‘n 2021-klasverteenwoordiger op te tree, jy asseblief ‘n e-pos met die volgende inligting aan Ria Hertzog (OOV-Voorsitter) by oov@jvrprim.co.za moet stuur:
● Jou naam en van
● Jou kind se naam en van asook sy/haar klas
● Jou selfoonnommer
● Jou e-posadres
4. Buitemuurse program:
Begin die week van 22 Februarie 2021. Moedig asseblief jul kinders aan om aan die aktiwiteite deel te neem.
5. Skoolaansoeke 2022
Open 26 Februarie 2021 en sluit 26 Maart 2021.
6. Sosiale byeenkoms
Ons besef dat ons ouers ‘n groot behoefte het om weer vir ‘n slag as skoolgemeenskap sosiaal te verkeer. Covid-19 protokol bepaal egter dat daar nie meer as 250 mense ‘n buitelug-byeenkoms mag bywoon nie, maar ons ondersoek tans die moontlikheid om ‘n vrywillige sosiale byeenkoms vir ouers en leerders by die Conradieveld te hou. Volgende week sal julle ‘n “Google Form’’ ontvang om belangstelling te bepaal. Verdere inligting sal volg.
Belangrike Datums
september 2026
oktober 2026
november 2026
desember 2026
januarie 2027
februarie 2027
maart 2027
april 2027
mei 2027
junie 2027
julie 2027
augustus 2027