So kom ons aan die einde van ‘n eerste ‘vol’ week na ‘n tydperk van 3 lekker ‘korter’ weke. Ek glo almal het die korter weke geniet en tydens die openbare vakansiedae sommer net tyd spandeer aan iets om lekker te ontspan. Soos in my vorige nuusbrief genoem, is die kwartaal besonders lank en ek kan selfs opmerk dat ons leerders uitsien na die kort vakansie wat volgende Vrydag sal aanbreek.

Ons kom ook aan die einde van die formele assesseringsprogram vir kwartaal een. Graag wil ek jul as ouers verseker dat die standaard van akademie by ons skool uitmuntend is waarop ons as skoolgemeenskap baie trots kan wees. Assesserings volg ‘n effektiewe proses van deeglike moderasie en ek as skoolhoof teken elke formele assessering af voordat die leerders dit finaal aflê. Volgende week sal elke leerder ook ‘n rapport ontvang wat dan sy/haar akademiese vordering vir die kwartaal sal weerspieël. Laat my ook toe ook om ons onderwysers onder leiding van ons bekwame akademiese hoof, Marinda Brink, hartlik te bedank vir hul harde werk, omgee en kwaliteitonderrig tot voordeel van ons leerders.

Ek nader ook teen einde volgende week my eerste kwartaal as skoolhoof by ons merkwaardige skool. Ek ontvang die afgelope tyd gereeld die volgende vraag vanaf ouers: “Is jy darem gelukkig by JvR?”. Die antwoord is ongetwyfeld ‘JA’. Wees verseker ek ervaar ongelooflike geluk in my keuse om deel van die JvR skoolgemeenskap te wees. Die besondere wyse hoe julle as ouers en leerders my met ope arms ontvang het, sal lank by my bly. Ek is so bevoorreg om as ‘n skoolhoof by die skool aan te sluit in die jaar wat die skool ‘n honderd jaar oud word. Ek bewonder die ryk geskiedenis en tradisies van ons skool hier in die middel van die stadskom met die ikoniese Tafelberg in die agtergrong terwyl Leeukop en Seinheuwel ons daaglikse skoolverrigtinge fyn dophou – dit is so uniek en kosbaar. Ek het in ‘n baie kort tydjie ‘n baie trotse Jan van Riebeecker geword, want ons skool se leuse, “Wees jouself”, is nie net lippetaal nie, ons leef dit trots uit! Baie dankie vir julle omgee en die moeite wat julle doen om my te laat tuis voel – ek en my gesin het groot waardering.