Skrywer: Naas Beets

Geagte Ouers / Voogde – 19 Junie 2026  

Kwartaal twee is besonders lank, aangesien dit 12 weke insluit. Dus kan ek verstaan dat leerders, ouers en die personeel redelik afgemat mag voel, veral ook met ’n eksamen agter die rug. Gelukkig het die afgelope naweek ’n lekker meevallertjie met ’n langnaweek ingesluit om so ’n voorsmakie van die komende wintervakansie wat voorlê te kry. So kom die tweede laaste week van die kwartaal vandag tot ’n einde. Ek is seker ons ouers/voogde was saam met hul kinders baie verlig dat die Junie-eksamen iets van die verlede is. Die antwoordstelle is klaar gemerk, ’n deeglike modereringsproses is die afgelope week afgehandel om seker te maak die leerders se antwoordstelle is korrek nagesien en die punte is korrek opgetel. Die finale punte word tans verwerk sodat ons op Vrydag, 26 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar elektroniese rapport aan sy/haar ouers kan e-pos. Graag wil ek spesifiek ons leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die afgelope eksamen en assesserings, asook die besonderse werksetiek wat hulle dwarsdeur die kwartaal gehandhaaf het. Hartlike dank ook aan ons ouers/voogde wat hul kind(ers) so mooi die afgelope tyd tydens die eksamen-/assesseringstydperk ondersteun het om net hul beste te doen. Laaste, maar nie die minste nie, ’n hartlike dank aan ons opvoeders en die leerontwikkelingspersoneel wat met soveel deernis en toewyding ons leerders vir die eksamen...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 12 Junie 2026 

Week 10 van die kwartaal kom vandag saam met die Junie-eksamen tot ‘n einde soos kwartaal twee se spreekwoordelike uurglas stadig, maar seker uitloop. Ek glo die Gr. 4 – 7-leerders is saam met hul ouers baie verlig dat die eksamen agter die rug is en dat julle as gesinne gereed is vir ‘n welverdiende wintervakansie wat op ons wag. Hierdie komende naweek sluit ‘n lekker meevallertjie van ‘n buitengewone langnaweek in met ‘n skolevakansiedag wat op Maandag, 15 Junie, plaasvind asook ‘n openbare vakansiedag, naamlik Jeugdag, wat op Dinsdag, 16 Junie, landwyd gevier word. Jeugdag word jaarliks in ons land op 16 Junie gevier ter nagedagtenis aan die 1976-opstande deur leerders wat hoofsaaklik in Soweto plaasgevind het. Die regering van daardie tyd het slegs Engels en Afrikaans as onderrigtale toegelaat en geen etniese tale vir onderrig in skole toegelaat nie. Tragies het dit gelei tot die sterftes van meer as 600 leerders tydens die opstande wat landwyd uitgebreek het, toe die polisie op die betogende jeugdiges met lewendige ammunisie losgebrand het in hul poging om die opstand in toom te probeer hou. Vandag kan ons jeug die voorregte geniet wat deur die jeugdiges in 1976 die weg begin baan het. Mag die tragiese gebeure en diskriminasie nooit weer in ons land herhaal word nie. Vanaf Maandag, 08 Junie, het die interim buitemuurse sport- en kultuurprogram in skooltyd net...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 05 Junie 2026

Tyd staan beslis vir niemand stil nie, aangesien ’n Junie-maand skielik sy opwagting gemaak het. Ek deel sommer ook ’n bietjie nuttelose inligting: Junie is na die Romeinse godin van die huwelik en vrugbaarheid, bekend as Juno, vernoem, maar sy is ook bekend as die vrou van Jupiter. Die eerste semester van die jaar staan dus einde se kant toe met die eksamen wat tans aan die gang is en ‘n welverdiende wintervakansie wat vir ons voorlê. Sportnaweke vir die Gr. 4 – 7-leerders is nou eers iets van die verlede vir hierdie kwartaal met die sportnaweek wat vanaf 29–30 Mei weg te Laerskool Sunningdale plaasgevind het. Dit was ’n besige sportkwartaal met legio geleenthede vir ons leerders om aan wedstryde en toernooie deel te neem en ons skool te verteenwoordig. Graag wil ek ons ouers en voogde hartlik bedank wat ons leerders by sport- en kulturele geleenthede so getrou ondersteun en saam met ons leerders as ware ambassadeurs van ons trotse skool optree. Ek glo ons almal hou van prestasie en die strewe na uitnemendheid by die skool sodat leerders hul volle potensiaal kan bereik. Die probleem is egter dat ons almal se volle potensiaal anders lyk. As skool wil ons seker maak ons ken ons leerders sodat ons nie ons leerders tot verby hulle potensiaal druk nie. Te veel druk van die skool en veral vanaf ouers...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 29 Mei 2026

Die afgelope naweek het ons Dapper Stappers aan die Geelbek-oorslaapstaproete te Langebaan vanaf Saterdag, 23 Mei, tot Sondag, 24 Mei, deelgeneem. ‘n Groep van 60 ouers en kinders het saam met juff. Anika, Anthea, mnre. Keenen en Dian die pragtige staproete aangepak en hope pret in die buitelug geniet. Baie dankie aan juf. Anika en mnr. Keenen vir al die puik reëlings. Indien jy die buiteluggeleentheid gemis het, moet asseblief nie die volgende staproete wat vanaf 09 tot 11 Oktober te Greyton gaan plaasvind, misloop nie. Die kwartaal 2-eksamen vir die graad 7’s het dan ook vandag met die skryf van Skeppende Kunste en Lewensoriëntering afgeskop, terwyl die graad 4 – 6-leerders volgende week op Woensdag, 03 Junie, begin. Ons hou styf duimvas vir ons leerders dat dit met hulle goed sal gaan, asook dat daar rustigheid in die huishoudings sal heers, aangesien die eksamenstresvlakke by leerders ook dikwels na die gesinne deurfilter. Vandag en môre tree die volgende leerders vir hul sangoptredes by die Eisteddfod op en ons hou vir die volgende leerders styf duimvas dat dit met hulle baie goed sal gaan: • Antjie Samuel • Coreen Scholtz • Pieter Rademeyer • Alida Loubser Ons jaarlikse en baie gewilde o.10 – o.13 B-D-netbaltoernooi het ongelukkig vanjaar uitgereën.  Ek weet die spelers was baie teleurgesteld, maar ongelukkig kon ons nie teen Moeder Natuur baklei nie. Weens ons skool,...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 22 Mei 2026

Vandag kom ons aan die einde van week 7 en dit beteken dat eksamens om die draai is – weereens ’n bewys van hoe vinnig die kwartaal besig is om verby te snel. Die eksamen vir die Gr. 7’s begin reeds volgende week op Vrydag, 29 Mei, en vir die Gr. 4 tot 6-leerders op Woensdag, 04 Junie, sodat ons die eksamen voor die langnaweek vanaf 13–16 Junie kan afhandel, asook om die jaarlikse Suid-Kaapsporttoer tydens die laaste week van die kwartaal te akkommodeer. Die assesserings vir die Gr. 1 tot 3-leerders het reeds die afgelope week op Maandag, 18 Mei, afgeskop en verloop klopdisselboom. Eksamen/assesserings veroorsaak vir die meeste mense ’n hol kol op die maag en verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders wat dikwels ook na die res van die gesin oor spoel. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons te help om angs en spanning tydens die eksamen te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres voor en tydens ’n eksamen is ’n natuurlike reaksie, maar as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit gewoonlik voordelig wees. Dus, met bietjie meer as ’n week voor die eksamen afskop, deel ek graag die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres, -voorbereiding en moontlik jou eie angstigheid daaroor hok te slaan: • Berei betyds voor. Dit is van kardinale belang dat julle jul kind/ers sal...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 15 Mei 2026

Moeder Natuur het ons die afgelope week weer gewys waartoe sy in staat kan wees met hewige storms wat in die Moederstad en omgewing, asook regoor die Wes-Kaap, plaasgevind het. Ongekende stormweer het verwoestende skade in die stad en veral oor die provinsie aangerig, met oorstromings, ontwortelde bome wat paaie versper het, beskadigde eiendom, asook kragonderbrekings. As gevolg van die stormskade aan verskeie skole en infrastruktuur het die WKOD besluit om alle skole in die Wes-Kaap op Dinsdag, 12 Mei, te sluit om die veiligheid van leerders, ouers en personeel te verseker. Verskeie skole het astronomiese skade gely, met dakplate en teëls wat weggewaai het, en baie het oorstroom. Met genade van Bo is ons skool van groot stormskade gespaar, met slegs enkele nuwe lekplekke wat hul verskyning gemaak het. Ek hoop en vertrou dat die res van ons skoolgemeenskap ook van ernstige stormskade gespaar is, en ek is baie dankbaar dat leerders en personeel veilig weer op Woensdag, 13 Mei, by die skool opgedaag het. Op Woensdagaand, 07 Mei, het ons junior- en senior kore aan die Massa-reünienaweek se Musiekaand te die N.G. Kerk Tamboerskloof opgetree. Hierdie ongelooflike musiekaand is deur HS Jan van Riebeeck as deel van hul eeufeesvieringe aangebied. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om dr. Lestie Hughes en haar span hartlik geluk te wens met ’n baie suksesvolle glansaand van betowerende musiek...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 08 Mei 2026

Week 5 het darem weer vir ons ’n normale, volle akademiese week gebied met geen openbare vakansiedae wat leer en onderrig onderbreek het nie. Meevallertjies soos lekker langnaweke is nou eers iets van die verlede en die enigste langnaweek wat nog die kwartaal gaan plaasvind, is vanaf 13–16 Junie. Dit sluit Jeugdag in, wat nóg ’n openbare vakansiedag is, en vind op Dinsdag, 16 Junie, plaas. Dus is Maandag, 15 Junie, dan ’n skoolvakansiedag – maak gerus die aantekening in jou dagboek vir ’n heerlike langnaweek wat voorlê! Soos julle bewus is, hou ons elke Dinsdagoggend ’n saalbyeenkoms wat al die leerders en personeel bymekaar bring om onder andere gemeenskaplike skoolsake te bespreek, skoolnuus te deel, erkenning vir leerders te gee asook om eenheid en skoolkultuur te bevorder. Ons saalbyeenkomste word op ’n gepaste wyse met ’n boodskap begin wat deur ’n onderwyser op ’n rotasiebasis gelewer word. Die saalboodskappe fokus op ons kernwaardes en hierdie week het juf. Esmarié vir ons ’n baie insiggewende boodskap gelewer om ons spreekwoordelike brille wat nie die goeie in ander mense en in onsself sien nie, af te haal en eerder brille op te sit wat die goeie in mense raaksien en waardeer. Ons is almal so skuldig hieraan en ons vergeet dat kinders die wêreld anders sien as ons as grootmense. Hulle sien ’n wêreld van verwondering en onskuld met ’n...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 30 April 2026

Die afgelope week is gekenmerk deur twee openbare vakansiedae. Op Maandag, 27 April, het ons Vryheidsdag gevier en môre is dit Werkersdag, wat jaarliks op 01 Mei gevier word. Ons het skaars ’n lekker langnaweek agter die rug en dan volg daar nog ’n lekker meevallertjie met ’n opeenvolgende langnaweek. Werkersdag word in Suid-Afrika gevier om die werkers van ons land te huldig vir die harde werk wat hulle verrig, asook die soeke na regverdige indiensneming, die vestiging van menseregte en werkersregte in die werkplek. Internasionale Werkersdag het sy oorsprong in die internasionale stryd van werkers en hul vakbonde vir solidariteit tussen werkers, asook die algemene regverdige behandeling van werkers. Hiermee wil ek dus spesiaal vir al ons personeel en almal wat werksaam in ons skoolgemeenskap is, salueer wat dag-in en dag-uit hard werk om nie net ’n verskil in ons skoolgemeenskap te maak nie, maar ook ’n waardevolle bydrae tot onderwys asook tot die Suid-Afrikaanse ekonomie sodat daar ekonomiese groei kan plaasvind, asook om meer werksgeleenthede te skep. Ek is baie dankbaar vir ons toegewyde personeel wat nie altyd die nodige erkenning ontvang vir hul leeue-aandeel om die sukses van ons trotse skool te verseker nie. Soos in my vorige week se nuusbrief genoem, het ons onder leiding van juf. Marecia ’n opwindende Wêreldboekedag op Donderdag, 23 April, by die skool gevier. Leerders het op die dag soos...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 24 April 2026

Ons eerste sportnaweek vir kwartaal twee teen Curro Durbanville het ongelukkig weens gure weer nie heeltemal volgens plan verloop nie. Die hokkiewedstryde sou op Vrydag, 17 April, plaasvind, maar swaar reënbuie het ons genoodsaak om die wedstryde na Dinsdag, 19 Mei, uit te stel. Dieselfde het op Saterdag, 18 April, met die netbalwedstryde gebeur en as gevolg van die natweertoestande is die netbalwedstryde teen Curro Durbanville na Maandag, 25 Mei, uitgestel. Ek weet dat die leerders baie teleurgesteld was om te hoor dat ons die onderskeie hokkie- en netbalwedstryde op die dae moes kanselleer. Die wedstryde is egter net uitgestel en nie net eenvoudig afgestel nie. Gelukkig kon ons op Saterdag, 18 April, met die rugbywedstryde voortgaan, aangesien die gure weer nie regtig so ’n groot impak op rugby het nie. Baie geluk aan ons rugbyspanne en hul onderskeie afrigters wat puik uitslae gelewer het. Ek en my vrou is deur Hoërskool Jan van Riebeeck genooi om hul produksie Dekades: Die storie van Laurika Rauch op Woensdagaand, 22 April, by te woon. Dit is ook deel van hul honderdste bestaansjaarvieringe en was beslis ’n onvergeetlike musikale reis deur die jare met een van Suid-Afrika se mees ikoniese stemme. Die hoërskool kon dit regkry om al hul leerders aan die revue produksie te laat deelneem en dit was opgedra aan ’n oudleerder, Laurika Rauch. Baie geluk mnr. Pieter Rademeyer en...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 17 April 2026

Ons jaarlikse en gewilde Kaperjolle het op Saterdag, 11 April, plaasgevind en hierdie spesiale geleentheid het darem net sy eie sjarme en bekoring. Die kosbare samesyn tussen ouers, personeel en leerders maak ons skool so uniek. Die heerlike kuier is nog steeds op almal se lippe en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se sosiale kalender, veral vir ons leerders. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk. Volgens die leerders was die besoek aan die spookhuis die gewildste aktiwiteit om te doen. Leerders het in lang rye tougestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ’n kans is dat ’n sogenaamde spook, genaamd Trudie, aan jou kan raak. Ek glo dat ’n spookhuis se gewildheid nooit oor die jare sal taan nie en vir geslagte nog, veral ons leerders en selfs volwassenes, sal fassineer. Die nuwe aktiwiteit waartydens jy ’n ou motorwrak (Honda Ballade) met ’n hamer kon slaan, was ook baie gewild. Dit was die ideale geleentheid om al jou opgehoopte frustrasies spreekwoordelik uit jou sisteem te kry. Baie geluk en ook groot dankie aan ons ouers wat die smaaklikste disse by hul onderskeie stalletjies opgedis het vir ieder en elk om te proe. Die fraai versierde kosstalletjies en die heerlike warm weer het die geleentheid perfek afgerond. Die verskeidenheid disse om te proe was hemels en die kompetisie was baie sterk. Baie...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 10 April 2026

Hiermee ’n hartlike welkom aan almal terug by die skool met ’n nuwe kwartaal propvol geleenthede wat voorlê. Ek glo dat almal die kort, maar welverdiende vakansie terdeë geniet het. Dit is veral die spesiale Paasfeestyd saam met familie wat so kosbaar was. Ek is baie dankbaar dat almal veilig terug na die vakansie is, en veral die graad 7’s en hul ouers wat aan die jaarlikse Oranjerivierroeitoer deelgeneem het. Baie dankie aan Pieter Rademeyer en sy span ouers wat aan stuur van die suksesvolle roeiroete gestaan het. Ons graad 7’s sal die ongelooflike ervaring saam met hul ouer(s) vir die res van hul lewe koester. Graad 6-leerders en hul ouers, julle moet beslis ’n plan maak om nie volgende jaar die onvergeetlike avontuur te mis nie. Dit is die ideale geleentheid om ’n spesiale konneksie met jou kind(ers) te maak en spanwerk is bepalend om die eindbestemming te bereik. Die skool het skaars begin en spreekwoordelik, soos ’n goed geoliede masjien, is ons skoolaktiwiteite sommer vanaf dag 1 weer goed op dreef, met die akademiese klasse, wintersport- en buitemuurse program, musiekklasse en kooroefeninge wat op dag 1 van die nuwe kwartaal met baie opwinding afgeskop het. Sportwedstryde vir die o.10 netbal- en o.13-hokkiespanne skop ook die komende naweek af. Saterdag, 11 April, is weer tyd vir die jaarlikse Kaperjolle en ons leerders kan nie wag om aan al...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 27 Maart 2026

Vandag sluit die skole landwyd vir ’n welverdiende vakansie vir leerders en personeel na ’n bedrywige eerste kwartaal. Vir my het die einde van die kwartaal net te vinnig sy opwagting gemaak, met elf opwindende weke agter die rug. Kwartaal een is gewoonlik besonders besig; bo en behalwe die akademie sluit dit verder ’n kombinasie van somersporte en voorseisoen-wintersportvoorbereiding, asook heelwat kultuuraktiwiteite, in. Ek glo ook dat dit vir julle as ouers deeglike logistieke beplanning geverg het om seker te maak jul kind(ers) kom betyds by al die opwindende aktiwiteite uit – daarvoor wil ek vir julle hartlik bedank! Vandag ontvang julle jul kind(ers) se elektroniese rapport(e) om erkenning vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal te gee. Die doel van rapporte is beslis nie om ouers/voogde paniekerig te maak nie, maar eerder om terugvoering oor jou kind(ers) se vordering die afgelope kwartaal te gee. As skoolhoof kyk ek met trots terug na al die opwindende en suksesvolle aktiwiteite wat gedurende die afgelope kwartaal plaasgevind het. Graag wil ek ons personeel hartlik bedank vir hul harde werk, toewyding en omgee die afgelope kwartaal. Baie dankie dat julle die beginsel van uitnemendheid in alles wat ons gedoen en aangepak het, toegepas het. In my opinie is sukses nie permanent nie; dit is tydelik! Dit beteken dat ons nie net soms hard moet werk nie, maar tydens elke geleentheid...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 20 Maart 2026

So kom ons vandag aan die einde van die tweede laaste week van ‘n opwindende kwartaal en môre, Saterdag, 21 Maart, word Menseregtedag in Suid-Afrika gevier. Dit is so hartseer dat min mense hulle werklik aan die betekenis van die belangrike dag steur en dit bloot as nog ‘n openbare vakansiedag sien. Hierdie geskiedkundige dag was juis ingestel ter nagedagtenis aan ‘n tragiese gebeurtenis in ons land se geskiedenis. Die dag herinner ons aan die afgryslike gebeure wat op 21 Maart 1960 in Sharpeville afgespeel het. Duisende swart mense het op die dag teen die destydse paswette betoog. Die skare is egter deur die polisie uitmekaar gejaag, terwyl daar op hulle geskiet is en 69 mense noodlottig gewond is. Sedert 1994 word die dag jaarliks gevier om die slagoffers se tragiese dood te herdenk en seker te maak dat daar nooit weer so ‘n tragedie in ons land sal gebeur nie. Ek glo dat die herdenking van die spesiale dag ‘n waardevolle bydra lewer sodat alle mense met waardigheid, gelykheid, geregtigheid en in vrede in ons pragtige land kan leef. Een kenmerk van Laerskool Jan van Riebeeck wat ons van baie ander skole onderskei, is dat ons ‘n waardegedrewe skool in die ware sin van die woord is, en beslis nie net op papier nie. Dit is werklik ‘n riem onder die hart om daagliks te sien hoe leerders,...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 13 Maart 2026

Hoe is dit moontlik dat dit vandag weer ‘n Vrydag van die dertiende is, en nogal twee maande opeenvolgend? ‘n Mens sou kon dink een vir die jaar is meer as genoeg, maar dit wil voorkom of 2026 vol verrassings is. Dit stop ook nie by twee van hierdie buitengewone Vrydae nie. Die rare kalender sluit nog ‘n Vrydag die dertiende in, wat later in November vanjaar gaan plaasvind. Vrydag die dertiende vind dus vanjaar drie keer plaas – my innige simpatie vir diegene wat ‘n bietjie bygelowig is. Hierdie verskynsel gebeur beslis nie gereeld nie, want dit kan net plaasvind as die maand op ‘n Sondag begin. Dit het laas in 2015 plaasgevind en sal weer sy verskyning in 2037 maak. Hierdie is dalk nuttelose inligting, maar tog is dit ‘n interessante verskynsel wat menigte mense baie benoud laat. Op Vrydagoggend, 06 Maart, het ons o.7 – o.13 netbal- en rugbyspanne om 08:30 met groot opwinding na Porterville vertrek om aan Hoërskool Porterville se jaarlikse Bulfees deel te neem. Dis is beslis ‘n ‘bul’ van ‘n sportfees wat jaar-in en jaar-uit uitstekend gereël word. Die Bulfees raak net elke jaar groter en groter, maar hulle kry dit beslis reg om die sportfees baie opwindend aan te bied terwyl ons die unieke plattelandse gasvryheid ook terdeë kon geniet. Vir die eerste keer het ons o.7 netbalspan aan die fees...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 06 Maart 2026

Graag verwelkom ons Maart-maand in week agt van kwartaal een. Dit beteken dat die skole oor drie weke op 27 Maart vir ‘n kort en welverdiende vakansie sluit voordat ‘n besige kwartaal twee op 08 April afskop. Die seisoene is ook stadig, maar seker besig om te draai met die son wat soggens ‘n bietjie later opkom en vroeër ondergaan. Vanjaar het ons vir seker ook ‘n unieke kalenderperiode, want die Lydenstydperk (Lent) het vir die Christelike geloof begin, terwyl Ramadan ook vir Moslemfamilies begin het. Aangesien beide die Lydenstydperk en Ramadan deur die fases van die maan bepaal word, vind die Lydenstydperk elke jaar plaas in die 40 dae voor Paasfees, terwyl Ramadan elke jaar ongeveer 11 dae vroeër skuif. Hierdie jaar oorvleuel die Lydenstydperk en Ramadan. Dit is ’n seldsame oorvleueling. Dit sal eers weer in 2059, oor 33 jaar, gelyktydig plaasvind. Ons wens al ons Christen-ouers ‘n geseënde Lydenstydperk, asook aan al ons Moslem-ouers/vriende ‘n geseënde Ramadan Mubarak toe. Ons skool was vanaf Maandag weer voltallig met die terugkeer van die gr. 5- en 7-leerders vanaf hul onderskeie skoolkampe die vorige week. Ek het met van die ‘kampers’ gepraat en hulle was almal eens dat hulle die skoolkampervaring terdeë geniet het. Natuurlik was hulle verlede Vrydag met terugkeer doodmoeg van die min slaap, die uitdagings van die onbekende avontuur en al die opwindende aktiwiteite wat aangebied...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 27 Februarie 2026  

Die tyd staan beslis nie stil nie, aangesien ons môre reeds van die tweede maand van die nuwe jaar gaan afskeid neem. Alhoewel die meeste mense Februarie met die maand van liefde assosieer, is Februarie egter na die Romeinse god Februus vernoem wat bekend staan as die god van suiwering of reiniging wat baie insiggewend is. Dikwels gebruik mense die maand Februarie om hul liggame te detoks of te vas na die heerlike feestyd oor Desember- en Januarie maande. Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat op Vrydagaand, 20 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Die weer het vanjaar perfek saamgespeel met Moeder Natuur wat vir ons ’n perfekte en windlose aand opgedis het. Ouers/voogde en leerders het in groot getalle opgedaag, aangesien niemand die gewilde sosiale aand met kosbare samesyn wil misloop nie. Daar is by my geen twyfel dat die Conradieveld met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat dit omring, seker een van die mees idilliese liggings is om ’n klasbraai of ’n funksie te hou. Baie dankie aan die personeel wat na die lang en besige week die moeite gedoen het om ook die spesiale aand by te woon en heerlik saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit dan ook ons gr.1-ouers/voogde se eerste gesamentlike klasbraai by die laerskool...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 20 Februarie 2026

Week 5 is verlede Vrydag op ’n hoë noot met opwindende Valentynsvieringe, ’n mini-kriekettoernooi by Laerskool Hugo Rust te Wellington, asook ’n swemgala te Elkanah House afgesluit. Die skoolprogram in al sy fasette hardloop klopdisselboom, met leerders wat aan verskeie kulturele-, sport- en akademiese aktiwiteite deelneem. Ek het nogal begrip dat dit ’n logistieke uitdaging vir ouers kan wees om hul kind/ers betyds by al die verskillende aktiwiteite te kry en dit mag dalk ook vir al ons nuwe ouers oorweldigend wees. Die skool gaan daarom uit sy pad om sover as moontlik vervoer vir ons leerders in dié verband te verskaf. Dit is ’n waardevolle diens wat baie min skole vandag nog vir hul leerders bied. Week 6 is, soos die vorige weke, ook besig en propvol opwinding, met die jaarlikse Interskole-atletiekbyeenkoms wat ons by Hoërskool Jan van Riebeeck se Boshoff-veld op Dinsdag, 17 Februarie, aangebied het. Twee-en-sestig van ons atlete het aan die byeenkoms deelgeneem en puik gevaar. Baie dankie en baie geluk aan mnr. Leon Hanekom en sy span met die suksesvolle interskole-atletiekdag waaraan tien skole deelgeneem het. Baie geluk aan die volgende 21 atlete wat na afloop van die Interskole-atletiekbyeenkoms gekwalifiseer het om vandag aan die sonebyeenkoms (slegs vir o.10–o.13-atlete) te Vygieskraal deel te neem: 1. Anouk Jacobsz, 1200m  2. Klara Pfeifer, 1200m  3. Lukas Loubser, 1200m   4. Leah Jacobsz, 1200m  5. Samuel Smit, 1200m ...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 13 Februarie 2026

Dit is vandag Vrydag, 13 Februarie! Volgens mites en legendes is Vrydag die 13de ‘n gedoemde dag! Dalk wonder julle ook soos ek: waar kom die bang-Jan-storie vandaan? Ek glo hierdie is ‘n bygeloof wat dikwels onnodig angs by baie mense veroorsaak. Tog bly dit interessant dat hotelle en hospitale nie ‘n kamernommer 13 of ‘n dertiende verdieping het nie. Die negatiewe konnektasie met Vrydag die 13de het ‘n kombinasie van godsdienstige en kulturele oorsprong. Uit ‘n godsdienstige oogpunt word Vrydag die 13de as ‘n ongelukkige dag beskou, want dit was die 13de dissipel, naamlik Judas Iskariot, wat Jesus verraai het, wat gelei het tot Jesus se kruisiging op ‘n Vrydag. Vandag vier ons Valentynsdag by die skool, aangesien dit môre wêreldwyd gevier word waar mense dikwels die geleentheid gebruik om die liefde behoorlik te vier. Op Valentynsdag word die liefde dikwels met blomme, kaartjies en pragtige geskenke gevier. Vir seker beskou baie mense dit net as ‘n kommersiële foefie en bloot ‘n geldmaakspul, maar tog word hierdie gewilde dag in Suid-Afrika geassosieer met die stuur van kaartjies, geskenke en blomme aan ‘n geliefde, en volgens statistiek word die aand met ‘n romantiese ete deur 80% van alle verliefde paartjies afgesluit. Die personeel vier vandag saam met die leerders die liefde en omgee vir mekaar en trek ons tradisioneel ‘iets’ rooi, pienk en/of wit aan. Op ‘n manier sluit...

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde – 06 Februarie 2026

Ons trotse skool het op Saterdag, 31 Januarie, sy 105de verjaardag gevier. Mense mag dalk dink dat ons skool baie oud is, maar die leer en onderrig asook die skoolpraktyke wat ons daagliks toepas, is egter modern en aangepas om ons leerders vir ‘n immer veranderde wêreld voor te berei asook om hulle vir hul hoërskoolloopbaan te bemagtig. Leerders, personeel en BRUL-JANt het op Vrydag, 30 Januarie, vroegoggend reeds met die verjaardagfeestelikhede begin deur al die leerders en hul ouers tydens aflaaityd by die skool te verwelkom. Die skool se gange, klaskamers en deure was baie mooi versier om die spesiale geleentheid behoorlik te vier terwyl daar heerlik aan die spesiale geborgde kolwyntjies gesmul is. Ons is vir Japie Louw ewig dankbaar dat hy meer as ‘n eeu gelede trompop geweier het om in Engels skool te gaan sodat ons vandag trots in Afrikaans kan leer en onderrig. Mag ons merkwaardige skool vir nog ‘n verdere 105 jaar net hom-/haarself wees met ‘n sterk akademiese aanslag en die fokus op moedertaalonderrig. Ons o.12- en o.13-netbalspelers het vanaf Donderdag, 29 Januarie, tot Sondag, 01 Februarie, ‘n voorseisoennetbalkursus saam met hul afrigters op die pragtige karooplaas, genaamd Elandsrus naby Drie Susters bygewoon. Die gewilde netbalkursus word deur die bekende Patrys van der Merwe aangebied en skole staan letterlik in ‘n ry om die spesiale netbal- en unieke plaaservaring saam te beleef....

Lees Verder

Geagte Ouers / Voogde: 30 Januarie 2026  

Ek glo dat julle ook verbaas is dat môre reeds die laaste dag van die eerste maand van die nuwe jaar is. Vir my voel dit asof die nuwe jaar skaars begin het en nou moet ons op Sondag vir Februarie-maand welkom heet. Weet nie of dit iets met ouer word te doen het nie, maar tyd vlieg net te vinnig verby. Tyd het ook ’n magiese kwaliteit, veral as ’n mens met ’n opwindende taak of projek besig is, waarvan jy hou. Geniet dus wat jy doen. Dit is presies waar ek, as skoolhoof, my tans in my loopbaan bevind – ek geniet elke oomblik terdeë by die skool. Ek het ook op dag een van die nuwe akademiese jaar vir die personeel tydens ons eerste personeelvergadering gesê dat dit belangrik is dat ’n mens jou werk moet geniet, want dan voel dit nie soos werk nie, maar eerder meer as ’n roeping. Ek glo dat mense wat van hulle werk hou, geneig is om meer optimisties te wees, meer gemotiveerd, leer vinniger, maak beslis minder foute en maak beslis beter besluite. Die probleem met tyd is egter dat dit vir niemand wag nie. Indien jy dus vanjaar beplan om nog iets spesiaal te doen of dalk moet jy nog iemand vergewe of om verskoning vra, moenie te lank wag nie, doen dit sommer onmiddellik. Ek bly maar...

Lees Verder
  • 1
  • 2