Die afgelope naweek het ons Dapper Stappers aan die Geelbek-oorslaapstaproete te Langebaan vanaf Saterdag, 23 Mei, tot Sondag, 24 Mei, deelgeneem. ‘n Groep van 60 ouers en kinders het saam met juff. Anika, Anthea, mnre. Keenen en Dian die pragtige staproete aangepak en hope pret in die buitelug geniet. Baie dankie aan juf. Anika en mnr. Keenen vir al die puik reëlings. Indien jy die buiteluggeleentheid gemis het, moet asseblief nie die volgende staproete wat vanaf 09 tot 11 Oktober te Greyton gaan plaasvind, misloop nie.
Die kwartaal 2-eksamen vir die graad 7’s het dan ook vandag met die skryf van Skeppende Kunste en Lewensoriëntering afgeskop, terwyl die graad 4 – 6-leerders volgende week op Woensdag, 03 Junie, begin. Ons hou styf duimvas vir ons leerders dat dit met hulle goed sal gaan, asook dat daar rustigheid in die huishoudings sal heers, aangesien die eksamenstresvlakke by leerders ook dikwels na die gesinne deurfilter.
Vandag en môre tree die volgende leerders vir hul sangoptredes by die Eisteddfod op en ons hou vir die volgende leerders styf duimvas dat dit met hulle baie goed sal gaan:
• Antjie Samuel
• Coreen Scholtz
• Pieter Rademeyer
• Alida Loubser
Ons jaarlikse en baie gewilde o.10 – o.13 B-D-netbaltoernooi het ongelukkig vanjaar uitgereën. Ek weet die spelers was baie teleurgesteld, maar ongelukkig kon ons nie teen Moeder Natuur baklei nie. Weens ons skool, asook ander skole se besige buitemuurse programme, kon ons dit ongelukkig ook nie uitstel nie. Die wintersportprogram (oefeninge) vir kwartaal 2 het ook vir graad 4 – 7-leerders op Donderdag, 28 Mei, geëindig met die eksamen wat op hande is. Die graad 1 – 3-leerders se sportoefeninge eindig op Donderdag, 04 Junie. Die interne sportoefeninge gaan egter gedurende skooltyd voort en dit begin op 08 Junie en eindig op 18 Junie. Hierdie wintersportoefeninge (o.7 – o.13) gedurende die eksamen is egter vrywillig. Ons ondervinding is dat leerders die oefeninge gedurende eksamen terdeë geniet. Dit help hulle beslis om die angstigheid van eksamen te verminder, asook om net ‘n bietjie asem te skep na ‘n lang eksamensessie.
Navorsing toon dat leerders wat gereeld oefen en aan sport deelneem, beter tydens kognitiewe toetsing presteer, ‘n beter geheue het en meer gefokus tydens eksamens is. Ons weet ook dat om vir eksamens voor te berei en tussendeur vir vakke te studeer, geestelik en fisies uitputtend is, wat leerders dikwels moeg en afgemat laat voel. Wanneer ‘n mens egter oefen, stel jou liggaam onder andere hormone soos adrenalien en kortisol vry, wat weer help om die energievlakke te verhoog. Ek glo dat julle sal saamstem dat deur sportoefeninge vir leerders tydens die eksamen in te sluit, dit hulle beslis sal help om beter te konsentreer, beter tydens die eksamen te presteer, asook hul algemene gesondheid en welstand in die proses te verbeter.
Ek glo dat julle ook opgemerk het dat die sportopgraderingsprojek amptelik afgeskop het met die garages wat afgebreek is en dat hulle tans besig is om die fondasies te grawe. Ek glo dat julle saam met ons as leerders en personeel baie opgewonde is oor die bouprojek wat die volgende fasiliteite gaan insluit:
• Sportkantoor
• Badkamergeriewe vir seuns en dogters
• Pawiljoenarea
• Klubhuis en kafeteria
• Kodering- en robotika-klaskamer
• Stoorspasie vir sporttoerusting
Die nuwe sportgebou en pawiljoen gaan saam met die kunsgrasveld die agterste gedeelte van ons skoolterrein esteties perfek afrond.



Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer, deel gerus met jou kind/ers:
“Banger as die duiwel vir ‘n slypsteen’’
Die uitdrukking beteken dat iemand buitengewoon of verskriklik bang vir iets is.
Ek sluit dan week 8 af en kan nie wag om julle die komende naweek langs die sportveld weg teen Laerskool Sunningdale te sien nie. Mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike naweek geniet.
SKOOLHOOF