Week 10 van die kwartaal kom vandag saam met die Junie-eksamen tot ‘n einde soos kwartaal twee se spreekwoordelike uurglas stadig, maar seker uitloop. Ek glo die Gr. 4 – 7-leerders is saam met hul ouers baie verlig dat die eksamen agter die rug is en dat julle as gesinne gereed is vir ‘n welverdiende wintervakansie wat op ons wag. Hierdie komende naweek sluit ‘n lekker meevallertjie van ‘n buitengewone langnaweek in met ‘n skolevakansiedag wat op Maandag, 15 Junie, plaasvind asook ‘n openbare vakansiedag, naamlik Jeugdag, wat op Dinsdag, 16 Junie, landwyd gevier word.
Jeugdag word jaarliks in ons land op 16 Junie gevier ter nagedagtenis aan die 1976-opstande deur leerders wat hoofsaaklik in Soweto plaasgevind het. Die regering van daardie tyd het slegs Engels en Afrikaans as onderrigtale toegelaat en geen etniese tale vir onderrig in skole toegelaat nie. Tragies het dit gelei tot die sterftes van meer as 600 leerders tydens die opstande wat landwyd uitgebreek het, toe die polisie op die betogende jeugdiges met lewendige ammunisie losgebrand het in hul poging om die opstand in toom te probeer hou. Vandag kan ons jeug die voorregte geniet wat deur die jeugdiges in 1976 die weg begin baan het. Mag die tragiese gebeure en diskriminasie nooit weer in ons land herhaal word nie.
Vanaf Maandag, 08 Junie, het die interim buitemuurse sport- en kultuurprogram in skooltyd net na afloop van die eksamensessies afgeskop. Die doel om nog steeds met sportoefeninge tydens die eksamentyd voort te gaan, is tweeledig: eerstens geniet die leerders dit terdeë om direk na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug buite te geniet en aktief te wees, wat sommer ook met hul algemene geestelike welsyn tydens die eksamen help. Tweedens help die program ook om hulle fiks te hou asook om hul spelpeil langer te handhaaf, veral met ‘n welverdiende drie weke vakansie wat voorlê. Daar is die afgelope kwartaal so hard deur ons afrigters aan die spelers se fiksheidsvlakke gewerk asook om effektiewe spelpatrone te implementeer en indien ons sportoefeninge vanaf die begin van die eksamen sou stop, plus die vakansie wat voorlê, beteken dit dat daar amper vir sewe weke geen oefeninge en/of afrigting sou plaasvind nie. Help ons gerus om jul kind/ers die komende vakansie aktief en fiks te hou deur saam met hulle lekker buitemuurse aktiwiteite te geniet indien die weer dit toelaat.
Op Saterdagaand, 06 Junie, het ons Opvoedingstrust se jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese ‘Pienk Dame’, naamlik die Mount Nelson Hotel, plaasgevind. Al die kaartjies vir die glans- en fondsinsamelingsgeleentheid was vinnig uitverkoop en weens die groter aanvraag moes daar vir nog 30 ekstra kaartjies voorsiening gemaak word. Die tema vir die aand was ‘Ou-Kaapse Sjarme’ en die gaste was elegant en deftig vir die spesiale geleentheid getooi. MC du Toit, een van ons ouers, het soos in die verlede as die afslaer opgetree. Dit was my sesde veilingsdinee as skoolhoof en MC se 11de keer dat hy as die afslaer opgetree het. Hy het die ongelooflike 54 lotte binne ‘n kort tydjie onder groot geesdrif van die gaste verkoop. Baie dankie aan al ons borge en donateurs vir jul ruim skenkings wat die indrukwekkende 54 lotte opgemaak het. Die versameling kunswerke wat ons ontvang het, was uitstekend! MC het soos oudergewoonte hom puik van sy taak gekwyt om die lotte in ‘n baie kort tyd van die hand te sit. Dit is dan my eer en voorreg om bekend te maak dat daar tydens die veiling ‘n enorme R1,6 miljoen ingesamel is. Dit het weereens al ons verwagtinge oortref, veral met die huidige ekonomiese toestande in ag geneem. Graag wil ek ook die geleentheid gebruik om al ons gaste en veral ons ouers wat op die aand ‘n ruim finansiële bydrae gemaak het, hartlik te bedank vir hul bydrae om Laerskool Jan van Riebeeck na nog hoër hoogtes te neem. Die aand het nie net ‘n spogveiling behels nie, maar daar is ook lekker saam gekuier en gedans. Die onthaalsaal van die Mount Nelson was uiters stylvol voorberei en verfraai. Die samesyn was kosbaar en die ‘goeie gevoel’ van die skoolgemeenskap was feitlik tasbaar. Baie dankie aan ons Voorsitter van die Opvoedingstrust en die Beheerraad, naamlik Merwe Scholtz, vir sy dinamiese leiding as Voorsitter en puik toespraak wat die doel van die spesiale aand mooi in konteks geplaas het. Ek glo dit was vir hom nostalgies, aangesien dit sy laaste toespraak as Voorsitter van die Beheerraad by ons veilingsdinee sal wees aangesien sy termyn as BR-voorsitter einde Maart 2027 tot ‘n einde kom. Laat my ook toe om die reëlingskomitee, bestaande uit Anna Blackmore, Lyndi Kuys, Joanita du Toit, Marina van der Westhuizen, Sonia Hough en Pieter Geldenhuys, hartlik te bedank en geluk te wens met ‘n onvergeetlike glansaand. Hulle het spesiaal vir die spoggeleentheid ‘n indrukwekkende webtuiste ontwikkel waar ons as gaste die lotte vooraf kon besigtig.

Dit is dan verder ook my voorreg om bekend te maak dat die welwillendheidsprojek vir kwartaal twee uiters suksesvol afgeloop het. Baie dankie aan juf. Michelle wat aan die stuur van die Bully Beef-projek gestaan het en ‘n allemintige 2 398 blikkies Bully Beef is deur julle as ouers geskenk. Ons het die blikkies op Dinsdag, 09 Junie, aan Laerskool Prestwich se skoolhoof, mnr. Madhi Samodien, oorhandig om hul voedingskema vir leerders te ondersteun. Ons is julle baie dankbaar en wees verseker dat dit hul leerders se magies gaan vol maak. Mag ons altyd dankbaar wees vir al die wonderlike voorregte wat ons elke dag as so vanselfsprekend aanvaar, terwyl daar so baie leerders in Suid-Afrika is wat honger skool toe gaan. Baie geluk aan die volgende klasse wat die meeste blikkies Bully Beef ingesamel het:
Derde plek: Graad 1 juf. Nicola se klas met 179 blikkies
Tweede plek: Graad 3 juf. Michelle se klas met 240 blikkies
Eerste plek: Graad 1 juf. Mieke se klas met 244 blikkies

Op Donderdagoggend, 11 Junie, vanaf 08:00 is die laaste Koffie-en-Beskuit-konsert vir die kwartaal aangebied. Dertien grondslagfaseleerders het deelgeneem en hulle puik van hul taak gekwyt. Hierdie informele musiekkonsertgeleenthede gee ons leerders geleenthede om in ‘n ontspanne omgewing hul musiektalente en -vaardighede vir hul ouers en maats te wys. Ons leerders is so talentvol en laat ‘n mens verstom dat hulle op so ‘n jong ouderdom met soveel selfvertroue kan optree. Komplimente aan die musiekdepartement vir jul harde werk en toewyding om musiek by ons skool te ontwikkel. Groot dankie aan juff. Rolene, Bea en mnr. Ben vir die puik Koffie-en-Beskuit-konserte wat die afgelope kwartaal plaasgevind het. Laaste, maar nie die minste nie, groot dankie aan ons ouers wat hul kinders tydens die musiekgeleenthede getrou ondersteun het – dit is kosbaar! Indien jy nog nie die spesiale vroegoggendgeleenthede bygewoon het nie, moet jy beslis ‘n plan maak, want ek kan jou verseker dat ‘n mens nie jou dag op ‘n beter noot kan begin nie.

Ek gaan dan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
“’n halwe eier is beter as ‘n leë dop”
Die uitdrukking beteken dat dit beter is om ‘n klein bietjie van iets te hê as heeltemal niks nie. Hierdie gesegde herinner ons daaraan om dankbaar te wees vir klein suksesse en nie sommer geleenthede of skamele aanbiedinge van die hand te wys nie, net omdat dit minder is as waarop ‘n mens gehoop het. Dit word ook dikwels gebruik om iemand aan te moedig om ‘n kleiner inkomste te aanvaar of om tevrede te wees met ‘n gedeeltelike oplossing vir ‘n probleem.
SKOOLHOOF