Vandag kom ons aan die einde van week 7 en dit beteken dat eksamens om die draai is – weereens ’n bewys van hoe vinnig die kwartaal besig is om verby te snel. Die eksamen vir die Gr. 7’s begin reeds volgende week op Vrydag, 29 Mei, en vir die Gr. 4 tot 6-leerders op Woensdag, 04 Junie, sodat ons die eksamen voor die langnaweek vanaf 13–16 Junie kan afhandel, asook om die jaarlikse Suid-Kaapsporttoer tydens die laaste week van die kwartaal te akkommodeer. Die assesserings vir die Gr. 1 tot 3-leerders het reeds die afgelope week op Maandag, 18 Mei, afgeskop en verloop klopdisselboom.

Eksamen/assesserings veroorsaak vir die meeste mense ’n hol kol op die maag en verhoog ongelukkig stresvlakke by leerders wat dikwels ook na die res van die gesin oor spoel. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons te help om angs en spanning tydens die eksamen te bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres voor en tydens ’n eksamen is ’n natuurlike reaksie, maar as dit reg aangewend en bestuur word, kan dit gewoonlik voordelig wees.

Dus, met bietjie meer as ’n week voor die eksamen afskop, deel ek graag die volgende wenke om jou kind/ers se eksamenstres, -voorbereiding en moontlik jou eie angstigheid daaroor hok te slaan:

• Berei betyds voor. Dit is van kardinale belang dat julle jul kind/ers sal help om vroegtydig ’n studierooster op te stel wat jou kind/ers genoeg tyd sal gee om deeglik voor te berei. Dit moet egter ook tye insluit om te ontspan, te speel en vroeg saans in die bed te spring sodat hulle voldoende slaap sal kry.

• Skep gerus ’n rustige en ontspanne atmosfeer by die huis, vry van enige stressors, vir jou kind/ers om effektief te leer.

• Skep ’n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.

• Probeer gerus om ’n emosionele band met jou kind/ers te skep sodat hulle nie voel hulle hoef die eksamenpad alleen te stap nie. Vra gerus na afloop van elke dag vir hulle hoe die eksamen/assessering afgeloop het en spreek positiewe woorde uit. Laat hulle verstaan dat julle vir hulle nog steeds baie lief is, ongeag die uitslae, en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel of liefhê nie.

• Help jou kind/ers om die gewoonte aan te leer dat hulle elke dag die regte skryfbehoeftes en toerusting vir die eksamen inpak.

• Vermy asseblief gejaagdheid en veral om jou kind/ers op die nippertjie soggens voor die eksamen by die skool af te laai, want dit maak leerders angstig.

Sterkte met die voorbereiding vir die eksamen en assesserings wat voorlê en by voorbaat dankie dat julle ons sal help om die eksamen en assesserings ’n positiewe ervaring vir die leerders te maak.

Die semi-finale uitdunronde van die ATKV-Redenaars geskied op 27 en 28 Mei. Baie geluk aan die volgende leerders wat daarvoor gekwalifiseer het:

• Izak Steyn

• Henry Jordaan

• Antjie Samuel

• Alida Loubser

Die Trinity-musiekeksamen het op Maandag, 18 Mei, by die Beau Soleil Musieksentrum te Kenilworth plaasgevind. Hierdie is uitdagende eksamens en ons is baie trots op die volgende vier leerders wat daaraan deelgeneem het:

• Benjie Ntloko

• Natalie Lawson

• Deon de Kock

• Micah Nikiforos

Kwartaal twee word ook met die begin van die Eisteddfod geassosieer. Vandag en môre skop die sanggedeelte af en ons hou vir die volgende leerders styf duimvas met hul optredes:

• Noa Rademan

• Lucy le Roux

• Christina du Toit

• Dirkie van Eeden

• Kitty Partner

• Antjie Samuel

• Coreen Scholtz

• Pieter Rademeyer

• Alida Loubser

Laat my ook toe om ons beheerraad hartlik te bedank vir die bywoning van ons weeklikse saalbyeenkoms op Dinsdag, 19 Mei 2026. Ons het tydens die saalgeleentheid die beheerraadslede aan die leerders en personeel bekend gestel en elkeen het onderskeidelik kortliks die rol wat hulle in die beheerraad vertolk, aan die leerders en personeel verduidelik. Dit maak altyd die spesifieke saalgeleentheid baie spesiaal.

Op Donderdag, 14 Mei, het ons vanaf 07:30 Hemelvaart in die saal gevier wat deur ds. Marietjie Steyn aangebied is. Dit was deel van die Jannies vir Jesus-aksie en enige leerder, ouer of personeellid kon dit bywoon. Baie dankie, ds. Marietjie, vir hierdie spesiale Christelike geleentheid om dankie te sê vir al die wonderlike seëninge wat ons skool daagliks geniet.

Ons bied vanmiddag ons jaarlikse o.10 – o.13 B-D-netbaltoernooi aan. Hierdie opwindende toernooi is baie gewild en 12 skole gaan vanjaar deelneem, met 90 spanne wat ingeskryf het. Baie dankie aan die sportkantoor vir al die reëlings en mag die dogters en ouers dit terdeë geniet.

Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

“Skrik nie vir ’n koue pampoen nie”

Die uitdrukking beteken dat iemand nie sommer maklik vir iets of ’n dreigement skrik nie of maklik laat intimideer nie.

Ek sluit dan week 7 af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet.

Groetnis

Naas Beets

SKOOLHOOF