Kwartaal twee is besonders lank, aangesien dit 12 weke insluit. Dus kan ek verstaan dat leerders, ouers en die personeel redelik afgemat mag voel, veral ook met ’n eksamen agter die rug. Gelukkig het die afgelope naweek ’n lekker meevallertjie met ’n langnaweek ingesluit om so ’n voorsmakie van die komende wintervakansie wat voorlê te kry. So kom die tweede laaste week van die kwartaal vandag tot ’n einde.

Ek is seker ons ouers/voogde was saam met hul kinders baie verlig dat die Junie-eksamen iets van die verlede is. Die antwoordstelle is klaar gemerk, ’n deeglike modereringsproses is die afgelope week afgehandel om seker te maak die leerders se antwoordstelle is korrek nagesien en die punte is korrek opgetel. Die finale punte word tans verwerk sodat ons op Vrydag, 26 Junie, die dag wat die skole sluit, vir elke leerder sy/haar elektroniese rapport aan sy/haar ouers kan e-pos.

Graag wil ek spesifiek ons leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die afgelope eksamen en assesserings, asook die besonderse werksetiek wat hulle dwarsdeur die kwartaal gehandhaaf het. Hartlike dank ook aan ons ouers/voogde wat hul kind(ers) so mooi die afgelope tyd tydens die eksamen-/assesseringstydperk ondersteun het om net hul beste te doen. Laaste, maar nie die minste nie, ’n hartlike dank aan ons opvoeders en die leerontwikkelingspersoneel wat met soveel deernis en toewyding ons leerders vir die eksamen en assesserings voorberei het, asook vir hul besonderse wyse van bystand tydens die aflê van die eksamens en assesserings – ek waardeer julle omgee!

Die interim buitemuurse sportprogram wat vanaf 8 Junie in skooltyd plaasgevind het, het ook op Donderdag, 18 Junie, tot ’n einde gekom. Ek het met verskeie leerders gepraat en hulle het almal bevestig dat dit heerlik en opwindend was om direk na ’n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug buite te geniet en net ’n bietjie aktief te wees deur ’n sport te beoefen wat hulle terdeë geniet. Dit het vir hulle baie beteken aangesien dit gehelp het met hul algemene geestelike welsyn, veral omdat die fisiese oefeninge ook die eksamenstres verminder het.

Vandag vind die oorhandiging van die sporttoerklere vir die Suid-Kaaptoer plaas. Ons sporttoerspanne (netbal o.13A & o.12A, hokkie o.13A seuns & dogters en o.13A-rugby) vertrek dan op Maandag, 23 Junie, met ’n luukse bus na die Suid-Kaap vir ’n weeklange sporttoer. Hulle keer op Vrydagmiddag, 26 Junie, terug. Ons beste wense vergesel mnr. Leon en die toergroep, en hartlike dank aan die opvoeders en afrigters wat die toergroep gaan vergesel.

Dit is dan my voorreg om amptelik in die nuusbrief die Hoofseun en Hoofdogter vir 2026, wat op Woensdag, 17 Junie, aangewys is, naamlik Dane Botha en Mila Milan, bekend te maak en hartlik geluk te wens. My beste wense vergesel hulle met hul nuwe rol as die hoofleerderleiers van ons trotse skool. Mag dit vir hulle ’n groot eer en ’n verrykende ervaring wees. Ons is baie trots op Dane en Mila en ek sien baie uit om saam met hulle die skool nog ’n beter plek vir die Jannies te maak waar leerders net hulself kan wees!

Ek glo dat al die pa’s in ons skoolgemeenskap behoorlik op Sondag, 21 Junie, op Vadersdag tot in die afgrond bederf sal word. Baie dankie aan al ons wonderlike pa’s vir die belangrike rol wat julle binne gesinsverband en in die gemeenskap speel; ons het groot waardering vir julle.

Ek gaan dan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

‘Vyfde wiel aan die wa’

Die uitdrukking beteken dat iemand se hulp onnodig is of ’n las veroorsaak. Dit verwys ook na ’n persoon wat meer pla as help tydens die uitvoering van ’n projek.

Ek sluit dan week 11 af en mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek terdeë geniet, en mag die Springbokke môre die Barbarians en die Vroue Protea-krieketspan op Sondag teen Indië wys waar spreekwoordelik Dawid die wortels gegrawe het.

Groetnis

Naas Beets

SKOOLHOOF