Ons jaarlikse en gewilde Kaperjolle het op Saterdag, 11 April, plaasgevind en hierdie spesiale geleentheid het darem net sy eie sjarme en bekoring. Die kosbare samesyn tussen ouers, personeel en leerders maak ons skool so uniek. Die heerlike kuier is nog steeds op almal se lippe en is onomwonde die hoogtepunt op die skoolgemeenskap se sosiale kalender, veral vir ons leerders. Kaperjolle bied soveel aktiwiteite en pret vir oud en jonk.
Volgens die leerders was die besoek aan die spookhuis die gewildste aktiwiteit om te doen. Leerders het in lang rye tougestaan om die opwinding te ervaar, veral as daar ’n kans is dat ’n sogenaamde spook, genaamd Trudie, aan jou kan raak. Ek glo dat ’n spookhuis se gewildheid nooit oor die jare sal taan nie en vir geslagte nog, veral ons leerders en selfs volwassenes, sal fassineer. Die nuwe aktiwiteit waartydens jy ’n ou motorwrak (Honda Ballade) met ’n hamer kon slaan, was ook baie gewild. Dit was die ideale geleentheid om al jou opgehoopte frustrasies spreekwoordelik uit jou sisteem te kry.

Baie geluk en ook groot dankie aan ons ouers wat die smaaklikste disse by hul onderskeie stalletjies opgedis het vir ieder en elk om te proe. Die fraai versierde kosstalletjies en die heerlike warm weer het die geleentheid perfek afgerond. Die verskeidenheid disse om te proe was hemels en die kompetisie was baie sterk. Baie geluk aan die volgende kosstalletjies wat as wenners aangewys is:
Die dekorstalletjie wat die estetiese prys ontvang het: Vetkoek & Vuur
Derde plek vir die beste kosstalletjie: Die Burger-Meesters
Tweede plek vir die beste kosstalletjie: Vetkoek & Vuur
Eerste plek vir die beste kosstalletjie: Squadra Papà

Die opkoms van ouers en leerders tydens Kaperjolle was weereens verstommend en spreek weer boekdele van die unieke karakter van ons skoolgemeenskap wanneer dit by die ondersteuning van skoolaktiwiteite kom. Hierdie kombinasie saam met omgee-mense maak die perfekte resep vir ’n onvergeetlike ervaring. Ek is so trots en dankbaar dat ons ouers/voogde die skool in alle opsigte ondersteun. Dit dra onder andere kollektief tot ons skool se algemene sukses by. Graag wil ek ons OOV-voorsitter, Susan Derksen, Wilene Sieberhagen, Frances Samuel, asook al die ouers, voogde en personeel wat so hard gewerk het om die sukses van die 2026 Kaperjolle te verseker, hartlik bedank.
Ek en juf. Marinda (Adjunkhoof) het op Sondagmiddag, 12 April, die voorreg gehad om ons senior koor se optrede tydens die Passion ChoralFest in die pragtige Hugo Lambrechts-sentrum by te woon. Die volgende kore het aan die merkwaardige fees deelgeneem:
Vivox Voices
DF Dynamics
Tygerberg City Choir
Cape Town Camerata
Laerskool Jan van Riebeeck
Ons koor onder leiding van Leon Starker en juf. Rolene het die volgende drie liedere gesing:
When you believe
Veni Veni Emmanuel
Liewe Lewe
Ons senior koor het, wat my betref, hul beste vertoning ooit gelewer – dit was eenvoudig net briljant! Hulle het ’n staande toejuiging ontvang en ek is vir seker die trotste skoolhoof in die land. Baie dankie mnr. Leon en juf. Rolene vir jul harde werk en toewyding die afgelope twee jaar om ons senior koor te ontwikkel en na nog hoër hoogtes te neem. Laaste, maar nie die minste nie, baie geluk aan die senior koorleerders self wat so toegewyd is om die sukses van die koor te verseker.

Dit is baie hartseer om met julle te deel dat Loraine van Vuuren, wat ons vakansiesorg vir die laaste tien jaar behartig het, op Sondag, 12 April, tragies afgesterf het. Sy was so geliefd onder ons leerders en ouers en sy gaan so baie gemis word. Ons innige meegevoel aan haar familie met die groot verlies en mag die Here julle vertroos tydens die moeilike tyd.
Op Woensdag, 15 April, is ons skool deur ’n groep van 42 Belgiese jeugwerkers (ouderdomme vanaf 19–27) besoek, wat studente, onderwysers, argitekte en ingenieurs insluit. Hierdie groep jeugwerkers het België en sy kultuur aan ons leerders kom bekend stel en ons leerders is in die proses ook kans gegee om ons unieke Suid-Afrikaanse kultuur en gebruike met hulle te deel. Ons leerders het die blootstelling en ervaring terdeë geniet en nie geskroom om Suid-Afrika en veral Kaapstad te promoveer nie.

Vanaf 15–16 April het die volgende leerders aan die eerste uitdunrondte van die ATKV-redenaarskompetisie te HS Jan van Riebeeck deelgeneem:
Izak Steyn Gr. 3
Pieter-Steph Bothma Gr. 3
Amalie Janse van Rensburg Gr. 5
Christina du Toit Gr. 5
Mia Bothma Gr. 5
Pieter Derksen Gr. 5
Lua Groenewald Gr. 5
Henry Jordaan Gr. 5
Stef Nel Gr. 6
Nina Bremer Gr. 6
Antjie Samuel Gr. 6
Chris Derksen Gr. 7
Ella van der Walt Gr. 7
Pieter Rademeyer Gr. 7
Bella Naylor Gr. 7
Alida Loubser Gr. 7
Ons wag nog vir bogenoemde uitslae en sal dit op ’n latere stadium met julle deel. Baie dankie aan juff. Andri en Anthea wat ons leerders vergesel het.
Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):
“Iemand die leviete voor te lees”
Die uitdrukking beteken om iemand ernstig te berispe of streng aan te spreek oor wangedrag.
Ek sluit dan af en sien baie uit om julle oor die sportnaweek tuis teen Curro Durbanville te sien. Geniet die res van die naweek.
SKOOLHOOF