Die afgelope week is gekenmerk deur twee openbare vakansiedae. Op Maandag, 27 April, het ons Vryheidsdag gevier en môre is dit Werkersdag, wat jaarliks op 01 Mei gevier word. Ons het skaars ’n lekker langnaweek agter die rug en dan volg daar nog ’n lekker meevallertjie met ’n opeenvolgende langnaweek.
Werkersdag word in Suid-Afrika gevier om die werkers van ons land te huldig vir die harde werk wat hulle verrig, asook die soeke na regverdige indiensneming, die vestiging van menseregte en werkersregte in die werkplek. Internasionale Werkersdag het sy oorsprong in die internasionale stryd van werkers en hul vakbonde vir solidariteit tussen werkers, asook die algemene regverdige behandeling van werkers. Hiermee wil ek dus spesiaal vir al ons personeel en almal wat werksaam in ons skoolgemeenskap is, salueer wat dag-in en dag-uit hard werk om nie net ’n verskil in ons skoolgemeenskap te maak nie, maar ook ’n waardevolle bydrae tot onderwys asook tot die Suid-Afrikaanse ekonomie sodat daar ekonomiese groei kan plaasvind, asook om meer werksgeleenthede te skep. Ek is baie dankbaar vir ons toegewyde personeel wat nie altyd die nodige erkenning ontvang vir hul leeue-aandeel om die sukses van ons trotse skool te verseker nie.
Soos in my vorige week se nuusbrief genoem, het ons onder leiding van juf. Marecia ’n opwindende Wêreldboekedag op Donderdag, 23 April, by die skool gevier. Leerders het op die dag soos hul gunstelingboekkarakter uit Jaco Jacobs se leesboeke aangetrek en selfs die onderwysers het aan die pretdag deelgeneem. Dit was baie moeilik om te bepaal watter leerder per graad met die gesogte boekprys moes wegstap, maar soos belowe, volg die name per graad wat as wenners aangewys is:
Gr. 1: Daniel Oosthuizen
Gr. 2: Katrien Redelinghuys
Gr. 3: Alexander Boonzaaier
Gr. 4: Anouk Jacobsz
Gr. 5: Sofia Cleghorn
Gr. 6: Michiel Basson
Gr. 7: Lukas van der Westhuizen
Baie geluk aan die bogenoemde leerders met jul puik kostuums en lekker lees aan die spesiale Jaco Jacobs-boekpryse wat julle ontvang het.


Graag deel ek ook die goeie nuus dat juf. Anika (Gr. 4) oor die naweek verloof geraak het. Ons wens vir haar en Daniel ’n geseënde en gelukkige toekoms saam toe. Hierdie is vir juf. Anika se familie goeie nuus so tussen die hartseer, aangesien haar ma onlangs met kanker gediagnoseer is.
Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):
“As jy ’n hond wil slaan, kry jy altyd ’n stok”
Die uitdrukking beteken as jy vasbeslote is om iemand te benadeel, òf te kritiseer, òf sleg te sê òf te na te kom, sal jy altyd ’n manier vind om dit te regverdig.
Ek sluit dan af en wens vir julle nóg ’n heerlike langnaweek saam met jul gesinne en vriende toe.
SKOOLHOOF