Moeder Natuur het ons die afgelope week weer gewys waartoe sy in staat kan wees met hewige storms wat in die Moederstad en omgewing, asook regoor die Wes-Kaap, plaasgevind het. Ongekende stormweer het verwoestende skade in die stad en veral oor die provinsie aangerig, met oorstromings, ontwortelde bome wat paaie versper het, beskadigde eiendom, asook kragonderbrekings. As gevolg van die stormskade aan verskeie skole en infrastruktuur het die WKOD besluit om alle skole in die Wes-Kaap op Dinsdag, 12 Mei, te sluit om die veiligheid van leerders, ouers en personeel te verseker. Verskeie skole het astronomiese skade gely, met dakplate en teëls wat weggewaai het, en baie het oorstroom. Met genade van Bo is ons skool van groot stormskade gespaar, met slegs enkele nuwe lekplekke wat hul verskyning gemaak het. Ek hoop en vertrou dat die res van ons skoolgemeenskap ook van ernstige stormskade gespaar is, en ek is baie dankbaar dat leerders en personeel veilig weer op Woensdag, 13 Mei, by die skool opgedaag het.
Op Woensdagaand, 07 Mei, het ons junior- en senior kore aan die Massa-reünienaweek se Musiekaand te die N.G. Kerk Tamboerskloof opgetree. Hierdie ongelooflike musiekaand is deur HS Jan van Riebeeck as deel van hul eeufeesvieringe aangebied. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om dr. Lestie Hughes en haar span hartlik geluk te wens met ’n baie suksesvolle glansaand van betowerende musiek en sang. Die musiekaand is opgevolg met ’n stylvolle eeufeesdinee en veiling wat Vrydagaand, 08 Mei, in die hoërskool se saal aangebied is. Baie geluk, mnr. Pieter Rademeyer en span, met die suksesvolle gala-dinee wat boekdele spreek van ’n uitnemende skool met groot planne om vir die volgende honderd jaar na nog hoër hoogtes te bereik. Die eeufeesvieringe is dan die naweek met sport afgesluit, en ons sportspanne het weereens hul staal teen LS Noord-Eind gewys.

Ons sportspanne speel altyd om te wen, want ons oefen hard en is toegewyd. Dit is tog lekker om te wen en dit gee sommer almal se selfvertroue en gemoed ’n lekker hupstoot. Die probleem met oorwinnings, veral teen swakker spanne of kleiner skole, is dat ons leerders nie sommer iets daaruit leer nie. Hoe eienaardig dit ook al mag klink, glo ek dat ’n mens ongelukkig dikwels net leer as jy verloor. As opvoeders en ouers moet ons ons leerders/kinders leer om ’n verloor te hanteer, want die lewe gaan nie spreekwoordelik die rooi tapyt met oorwinnings en suksesse uitrol nie. Dit is ook nie so maklik om leerders in ’n klaskamer te leer hoe om mislukkings of teleurstellings te hanteer en te verwerk nie. Die sportveld is ’n baie goeie leerskool, want dit bied meer gevalle van verloor as sukses. Hier speel die opvoeders, afrigters en julle as ouers ’n kardinale rol om ons leerders te help om ’n verloor en teleurstelling te hanteer. Met ’n verloor word ware karakter getoets om te sien of ons uit ons foute kan leer, kan bepaal waar ons moet verbeter en dan daarop kan verbeter, of ons net eenvoudig tou kan opgooi. Hier leer leerders waardevolle lewenslesse van deursettingsvermoë, spanwerk, omgee en veerkragtigheid wat hulle bemagtig om die hoërskool- en volwasse lewe met ’n drafstap te hanteer. Graag versoek ek ouers om nie te veel druk op hul kinders te plaas om net te wen nie en hulle dan nog te beloon as hulle wen of ’n drie druk of ’n doel aanteken. Wees versigtig dat jul kinders nie later gaan dink dat julle hulle net liefhet oor wen nie.
Dieselfde beginsel geld vir akademiese prestasies waar ons as ouers dikwels baie van ons kinders verwag. In my loopbaan (as skoolhoof) het ek al soveel keer gesien hoe heelwat ouers net die Top 10-sertifikate, wisseltrofees, klasposisies, vakpryse, Dux-leerder, prefek, hoofseun en hoofdogter as suksesse tel. Later besef ’n mens gou, sodra jou kind hoërskool en universiteit toe gaan, dat dit bloedweinig tel. Soos die skrywer, Annelie Botes, in haar boek Voetstoots stel, moet die hoofvak of fokus eerder op integriteit wees. Dit is die vak wat ’n mens moet slaag en/of in moet presteer, en die ander goed beteken eintlik niks nie. Wees trots as jou kind met die onsigbare Victor Ludorum vir integriteit en eerlikheid wegstap – dit is ’n vak wat ons almal moet slaag!
Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
“’n Lansie vir iemand breek”
Die uitdrukking beteken om ’n goeie woord vir iemand te doen, of vir iemand op te kom, of vir iemand in die bresse te tree om iemand te verdedig.
Ek sluit dan week 6 af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet. Sien uit om julle die komende naweek tuis langs die sportvelde teen Laerskool Mikro te sien.