Ons eerste sportnaweek vir kwartaal twee teen Curro Durbanville het ongelukkig weens gure weer nie heeltemal volgens plan verloop nie. Die hokkiewedstryde sou op Vrydag, 17 April, plaasvind, maar swaar reënbuie het ons genoodsaak om die wedstryde na Dinsdag, 19 Mei, uit te stel. Dieselfde het op Saterdag, 18 April, met die netbalwedstryde gebeur en as gevolg van die natweertoestande is die netbalwedstryde teen Curro Durbanville na Maandag, 25 Mei, uitgestel. Ek weet dat die leerders baie teleurgesteld was om te hoor dat ons die onderskeie hokkie- en netbalwedstryde op die dae moes kanselleer. Die wedstryde is egter net uitgestel en nie net eenvoudig afgestel nie. Gelukkig kon ons op Saterdag, 18 April, met die rugbywedstryde voortgaan, aangesien die gure weer nie regtig so ’n groot impak op rugby het nie. Baie geluk aan ons rugbyspanne en hul onderskeie afrigters wat puik uitslae gelewer het.
Ek en my vrou is deur Hoërskool Jan van Riebeeck genooi om hul produksie Dekades: Die storie van Laurika Rauch op Woensdagaand, 22 April, by te woon. Dit is ook deel van hul honderdste bestaansjaarvieringe en was beslis ’n onvergeetlike musikale reis deur die jare met een van Suid-Afrika se mees ikoniese stemme. Die hoërskool kon dit regkry om al hul leerders aan die revue produksie te laat deelneem en dit was opgedra aan ’n oudleerder, Laurika Rauch. Baie geluk mnr. Pieter Rademeyer en sy dinamiese span met ’n ongelooflike produksie en hoe wonderlik was dit nie om al ons oud-Jannies op die verhoog te sien nie. Hulle het almal skielik vinnig groot geword, maar beskik nog steeds oor die wonderlikste maniere. Ek is saam met Pieter en die gemeenskap baie trots op die magiese produksie. Baie van ons ouers en leerders het ook die spesiale aand bygewoon en die groot verrassing was dat die legendariese Laurika Rauch self daar was.

Baie geluk aan ons senior koor met nog ’n fantastiese optrede op Dinsdagaand, 21 April, tydens ’n koorfees wat deur Hoërskool Fairmont, geleë in Durbanville, aangebied is. Baie dankie aan mnr. Leon Starker, juf. Rolene en die senior koorlede wat ons so trots maak en as ware ambassadeurs vir ons trotse skool optree.

Die Wêreldboekedag is dié week behoorlik op Donderdag, 23 April, by die skool gevier. Ons het vanjaar besluit dat die leerders soos hul gunstelingkarakters uit Jaco Jacobs se boeke moet aantrek. Die motivering hiervoor was dat dit sy 25-jaar-herdenking is sedert hy sy eerste boek geskryf het. Daar sal ’n boekprys per graad aan die besgeklede leerder oorhandig word en die wenners sal ek in volgende week se nuusbrief bekend maak. Ons het ook die onderwysers gemotiveer om soos ’n Jaco Jacobs-boekkarakter aan te trek en daar sal ’n wenner aangewys word. Baie dankie juf. Marecia vir al die reëlings.

Die komende naweek is ’n langnaweek, want Maandag, 27 April, is ’n openbare vakansiedag. Daar word elke jaar op die 27ste April Vryheidsdag in Suid-Afrika gevier. Vryheidsdag is ’n belangrike dag in die Suid-Afrikaanse geskiedenis daarom is dit belangrik om ons leerders daaroor in te lig, asook om die betekenis daarvan te verduidelik. Vryheidsdag is juis ingestel om die eerste post-apartheidsverkiesing te vier. Dit is dus ’n viering van vryheid vir alle Suid-Afrikaners. Laat ons nooit vergeet dat die eerste nasionale verkiesing op 27 April 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het, waar elke persoon bo die ouderdom van agtien kon stem, maak nie saak watter ras hulle was nie. Dit was ’n reuse waterskeidingsdag in ons land se geskiedenis om die regte van al sy reënboogburgers te erken. Daar is nog ’n meevallertjie op pad met ’n opeenvolgende langnaweek vanaf 01 Mei tot 03 Mei. Dus is volgende week ’n baie kort akademiese week met skooldae slegs op Dinsdag tot Donderdag (28–30 April).

Graag deel ek ook die goeie nuus dat juf. Michelle (gr. 3) swanger is met haar tweede kind. Baie geluk aan haar en haar man, Stefan, en mag die nuwe lid tot die gesin vir hulle baie vreugde bring.

Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):

“Iets op die keper beskou”

Die uitdrukking beteken om iets noukeurig te ondersoek.

Ek sluit dan af en wens vir julle ’n heerlike langnaweek saam met jul gesinne en vriende toe.

Groetnis

Naas Beets

SKOOLHOOF