Week 5 het darem weer vir ons ’n normale, volle akademiese week gebied met geen openbare vakansiedae wat leer en onderrig onderbreek het nie. Meevallertjies soos lekker langnaweke is nou eers iets van die verlede en die enigste langnaweek wat nog die kwartaal gaan plaasvind, is vanaf 13–16 Junie. Dit sluit Jeugdag in, wat nóg ’n openbare vakansiedag is, en vind op Dinsdag, 16 Junie, plaas. Dus is Maandag, 15 Junie, dan ’n skoolvakansiedag – maak gerus die aantekening in jou dagboek vir ’n heerlike langnaweek wat voorlê!

Soos julle bewus is, hou ons elke Dinsdagoggend ’n saalbyeenkoms wat al die leerders en personeel bymekaar bring om onder andere gemeenskaplike skoolsake te bespreek, skoolnuus te deel, erkenning vir leerders te gee asook om eenheid en skoolkultuur te bevorder. Ons saalbyeenkomste word op ’n gepaste wyse met ’n boodskap begin wat deur ’n onderwyser op ’n rotasiebasis gelewer word. Die saalboodskappe fokus op ons kernwaardes en hierdie week het juf. Esmarié vir ons ’n baie insiggewende boodskap gelewer om ons spreekwoordelike brille wat nie die goeie in ander mense en in onsself sien nie, af te haal en eerder brille op te sit wat die goeie in mense raaksien en waardeer. Ons is almal so skuldig hieraan en ons vergeet dat kinders die wêreld anders sien as ons as grootmense. Hulle sien ’n wêreld van verwondering en onskuld met ’n hart wat dikwels glo dat alles moontlik is. Hulle vertrou maklik en klou nie vas aan gister se seer en onreg nie. Kinders se vreugde kom dikwels in die kleinste dinge en gebare voor. Dalk moet ons dit ernstig oorweeg om soos kinders te leef met ’n oop hart en gemoed. Kom ons daag mekaar uit om met eenvoudige geloof en vreugde te leef wat nie direk afhanklik van ons omstandighede of eise is nie, maar eerder weer die mooi te sien wat elke dag deur God se genade aan ons geskenk word.

Tydens dieselfde saalbyeenkoms op Dinsdag, 05 Mei, is daar Jannies van die Week- asook Sport-Jannies van die Week-sertifikate aan leerders uitgedeel. Ek sonder nie sommer enige toekenning in die verband uit nie, maar graag deel ek een wat vir my soos ’n paal bo water uitstaan. Stefan van der Walt (Gr. 5) ontvang ’n spesiale Sport-Jannie van die Week-sertifikaat omdat hy verlede week tydens ’n o.11B-rugbywedstryd teen LS Edgemead ’n drie gedruk het wat deur die skeidsregter toegeken is. Hy staan toe egter uit die maalbeweging wat oor die doellyn val, op en versoek die skeidsregter om die drie te kanselleer, want hy het dit kort van die doellyn gedruk en was doodseker dat die skeidsregter dit nie kon sien nie. Stefan se eerlikheid en integriteit spreek boekdele van sy karakter. Sy span was op daardie laat stadium van die wedstryd aan die verloorkant en ’n drie kon die saak beredder, maar hy doen die regte ding en pas een van ons skool se kernwaardes, naamlik eerlikheid, toe ten aanskoue van sy spanlede wat so graag die punte wil hê. Die o.11B-span verloor toe die wedstryd met 19–26. Hierdie kosbare oomblik bevestig weer dat ons ’n waardegedrewe skool in praktyk is en nie net op spreekwoordelike papier nie. Dit sal altyd vir my, die personeel en sy ouers ’n kosbare oomblik bly. Bravo Stefan, jy maak ons so trots! Ons kan so baie by jou leer deur altyd die regte ding te doen, al is dit hoe moeilik!

Op Sondag, 09 Mei, vier ons weer Moedersdag. Moedersdag is wat my betref meer as net ’n dag van geskenke gee, maar eerder ’n viering van onvoorwaardelike liefde wat ’n ma vir haar kind(ers) en gesin het. Ek glo dat al ons mammas en oumas in ons skoolgemeenskap op Moedersdag tot in die afgrond bederf sal word. Kom ons eerbiedig al ons ma’s vir die belangrike rol wat hulle binne ons skoolgemeenskap speel asook al die opofferings wat hulle as ma’s tot voordeel van hul kinders en gesinne maak. Ek glo moeders is die spreekwoordelike gom wat gesinne en gemeenskappe bymekaar hou, veral onder moeilike omstandighede. Daar is ’n anonieme uitdrukking wat sê dat ma’s soos knope is. Hulle hou alles bymekaar. Die hart van ’n ma is seker die mooiste meesterstuk uit die hart van God, want ’n ma is tog die begin van elke mens.

Op Woensdagaand neem ons vir die eerste keer aan Laerskool Eversdal se Evervasvrae deel wat al vir ’n geruime tyd jaarliks aangebied word. Nege skole se Gr. 7’s is uitgenooi om aan die algemene kennis-vasvraekompetisie deel te neem. Ons het die volgende twee spanne ingeskryf:

Span 1:

Jamie Jordaan

Neill Ferreira

Morgan Smit

Reuben Janse van Rensburg

Ben Ward

Span 2:

Ghia Pereira

Deon de Kock

Jacques du Toit

Joan van Vreden

Peter Wickwar

Baie geluk aan Span 1 wat die aand met die louere weggeloop het deur die ander agt skole uit te stof. Dit is merkwaardig dat ons sommer tydens ons eerste probeerslag met die silwerware kon wegstap. Hartlike dank aan juf. Marecia vir die voorbereiding van die leerders asook al die ander reëlings wat gepaard gegaan het om ’n sukses van die uitstappie te kon maak. Baie dankie juf. Marinda dat jy die aand ondersteun het.

Op ’n hartseer noot moet ek julle ongelukkig inlig dat ons Hoof van die Nasorg, juf. Madri Greyling, ons aan die einde van die kwartaal gaan verlaat. Juf. Madri was sewe jaar aan bestuur van die Nasorg en onder haar bekwame bestuur, het die groei van nasorgleerdergetalle tot rekordgetalle gelei met 144 leerders wat hulle onlangs op een dag moes hanteer. Ons beste wense vergesel haar vir die nuwe hoofstuk in haar beroepslewe en mag sy net sukses ervaar.

Ek gaan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind(ers):

“Die klein jakkalsies wat die wingerd verniel”

Die uitdrukking beteken dat dit die klein dingetjies is wat dikwels die grootste skade of hartseer veroorsaak en onmiddellik aangespreek moet word.

Ek sluit dan week 5 af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet en ’n geseënde Moedersdag, propvol bederf, aan al ons uitsonderlike en spesiale mammas. Ek sien uit om julle die komende naweek langs die sportveld te sien. Sterkte ook aan Hoërskool Jan van Riebeeck vir hul Massa-Reünienaweek om hul 100ste bestaansjaar te vier, asook vir hul veilingsgeleentheid vanaand. Baie dankie mnr. Pieter Rademeyer dat ons ook deel van jul eeufeesvieringe kan wees.

Groetnis 
Naas Beets
SKOOLHOOF