Tyd staan beslis vir niemand stil nie, aangesien ’n Junie-maand skielik sy opwagting gemaak het. Ek deel sommer ook ’n bietjie nuttelose inligting: Junie is na die Romeinse godin van die huwelik en vrugbaarheid, bekend as Juno, vernoem, maar sy is ook bekend as die vrou van Jupiter. Die eerste semester van die jaar staan dus einde se kant toe met die eksamen wat tans aan die gang is en ‘n welverdiende wintervakansie wat vir ons voorlê.
Sportnaweke vir die Gr. 4 – 7-leerders is nou eers iets van die verlede vir hierdie kwartaal met die sportnaweek wat vanaf 29–30 Mei weg te Laerskool Sunningdale plaasgevind het. Dit was ’n besige sportkwartaal met legio geleenthede vir ons leerders om aan wedstryde en toernooie deel te neem en ons skool te verteenwoordig.
Graag wil ek ons ouers en voogde hartlik bedank wat ons leerders by sport- en kulturele geleenthede so getrou ondersteun en saam met ons leerders as ware ambassadeurs van ons trotse skool optree. Ek glo ons almal hou van prestasie en die strewe na uitnemendheid by die skool sodat leerders hul volle potensiaal kan bereik. Die probleem is egter dat ons almal se volle potensiaal anders lyk. As skool wil ons seker maak ons ken ons leerders sodat ons nie ons leerders tot verby hulle potensiaal druk nie. Te veel druk van die skool en veral vanaf ouers sal veroorsaak dat hulle hul liefde vir sport asook hul selfvertroue verloor. Hou gerus wedstryde in die algemeen dop – ouers skreeu luidkeels selfs vanaf o.7-ouderdom op skeidsregters, afrigters en die kinders om ’n doel aan te teken, te duik, minder foute te maak of om ’n drie te druk, en dit op sewejariges wat nog nie eers die vaardigheidsvlakke van die sport begin bemeester het nie. Ons as volwassenes vergeet beslis dat heelwat van die leerders dalk nie eers op hoërskool aan die spesifieke sport gaan deelneem of dit eendag as ’n professionele sport sal kan beoefen nie. Die vraag is: Hoekom raak ouers as ondersteuners langs die sportveld meer as gereeld die kluts heeltemal kwyt? Ek is van mening dat die skolesportomgewing al hoe meer kompeterend raak en vir ’n ouer om sy/haar kind op die sportveld te sien meeding, verskillende emosies en verwagtinge skep. Ouers is dalk bang hul kind/ers faal in hul poging òf dit kan selfs die ouers se ego wees wat op die spel is. As volwassenes moet ons baie versigtig wees dat ons verwagtinge van ons kinders en hulle potensiaal om te presteer, nie uit balans is nie. My afrigters weet dat ons leerders die kwesbaarste is wanneer hulle die baan of veld na afloop van ’n wedstryd verlaat, veral as hulle verloor het, want hulle is moeg en hul streshormone is hoog. Dit is juis dan dat sinvolle gesprekke moet geskied eerder as om jou kind of ’n spanmaat se foute uit te wys, die skeidsregter te blameer of, erger, die afrigters se besluite met jou kind te bespreek. Baie dankie dat julle as ouers ons sal help dat ons eerder in verloor situasies ons kinders sal komplimenteer dat hulle hard geoefen het, nooit tou opgegooi het nie, ’n moeilike verloor situasie hanteer het en eerbaar opgetree het. Dit is waarom ons op ons kinders trots is. Dit maak die wêreld se verskil en so leer hulle van jongs af om hul deursettingsvermoë te ontwikkel!
Die eksamens vir die Gr. 4 tot 6-leerders het op Woensdag, 03 Junie, afgeskop terwyl die Gr. 7’s al ‘n rukkie met hulle eksamen aan die gang is. Die eksamenprogram verloop klopdisselboom. Assesserings van die Gr. 1 tot 3-leerders is ook die afgelope week afgehandel. Ek glo die grondslagfaseleerders is saam met hul ouers baie verlig dat dit afgehandel is. Graag wil ek die grondslagfasepersoneel komplimenteer en bedank wat elke dag voor skool en na afloop van die assesseringsessies hul leerders buitentoe geneem het om eers bietjie rond te hardloop en te speel om sodoende die assesseringsangs te bekamp. Hulle het dit so geniet en was baie jolig, wat beslis gehelp het om die assesserings met minder angs af te lê. Moderering van die grondslagfase se antwoordstelle geskied tans voordat die finale punte vir die rapporte gefinaliseer word.
Môreaand vind die Opvoedingstrust se jaarlikse veilingsdinee in die ikoniese Mount Nelson Hotel plaas waartydens fondse ingesamel word ten bate van die laerskool. Die fondse wat vanjaar geïn word, gaan vir die opwindende sportbouprojek wat aan die agterkant van die skool aangewend word. Sterkte en by voorbaat hartlike dank aan Anna Blackmore, Lyndi Kuys en hul span wat so hard gewerk het om die sukses van die glansgeleentheid te verseker.
Graag neem ek die vrymoedigheid om julle as ouers te versoek om asseblief nie op private WhatsApp-groepe boodskappe of kommentaar te plaas asook uitlatings te maak wat julle nie eers vooraf met onderwysers, afrigters of met myself opgevolg het nie. Dit lei tot onnodige ongelukkigheid en vermorsing van tyd en energie. Ons het effektiewe kommunikasiekanale en platforms by die skool om jul bekommernis aan te spreek of klagte aan te hoor sodat al die feite op die tafel geplaas kan word. Ek het begrip dat ’n ouer alles glo wat hul kind/ers vir hul vertel wat by die skool of op die sportveld gebeur. Ons moet egter onthou dat ons leerders baie jonk is en moontlik dit wat die onderwyser of afrigter sê verkeerdelik vertolk. Ek verstaan ook dat dit instinktief vir ’n ouer is om sy/haar kind altyd te glo en kant teen ’n onderwyser of ’n afrigter sal kies. Neem asseblief in ag dat daar ’n gebrek aan konteks is, want as ouer is jy nie in die klaskamer of op die sportveld nie. Jy hoor net jou kind se weergawe en dikwels laat hulle belangrike feite uit, wat ons ook nie as kwaadwillige leuens sien nie, maar dit is hoe kinders somtyds situasies ervaar. Ek is baie seker dat al die personeel en buite-afrigters net die beste belange van jou kind/ers op die hart dra en die ekstra myl vir jou kind stap om geleenthede te skep en hulle te help groei. Dit is nogal hartseer dat sommige ouers ons nie vertrou nie en so maklik krities kan wees sonder om eers al die feite in te win. Ek probeer nie hiermee foute van personeel of afrigters verdoesel nie, maar ongegronde beweringe en negatiewe boodskappe op private WA-groepies doen niemand goed nie. Baie dankie vir julle samewerking in die verband.
Ek gaan dan die kwartaal verder voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer; deel gerus met jou kind/ers:
‘’Die kameel wat deur die oog van ‘n naald moet gaan’’
Die uitdrukking beteken moeilikheid wat nie oorkom kan word nie, ‘n probleem wat nie opgelos kan word nie of om ‘n skynbaar onmoontlike taak uit te voer.
Ek sluit dan week 9 af en mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet.
SKOOLHOOF