Kategorie: Algemeen
Ons hou eerskomende Vrydag ‘n baie spesiale sivviedag waartydens ons ons mediese personeel, spesifiek die dokters (dokkies), eer vir die werk wat hulle doen. Deur hierdie dag te vier trek ons snaakse, opwindende, prettige sokkies aan. Geen kostes is hieraan verbonde nie, want mediese personeel lewer ‘n kosbare diens en gee baie ekstra van hulself aan hul gemeenskap.
Respek is om bv. ander te behandel soos wat jy behandel wil word, aan ander se gevoelens te dink en verskillende mense se opinies in ag te neem. Kom ons moedig ons leerders aan om mooi te dink en praat van hulself, hul ouers en hul vriende, hul besittings op te pas en met respek teenoor ander mense op te tree.
Kliek op die video om te sien hoe twee van ons leerders verduidelik hoe hulle respek toon.
Kliek hieronder vir ‘n video van die leerderraad wat verduidelik hoe jy respek kan toon.
Terwyl Mei-maand einde se kant toe staan, is Moeder natuur hard aan die werk om die heerlike herfsweer stadig maar seker aan die genade van die winter oor te laat. Ons is so geseënd met die goeie reën die afgelope tyd en moontlik het ons gou vergeet dat ons pragtige moederstad aan die einde van Februarie 2018 ‘n baie ernstige waterkrisis beleef het en amper die gevreesde ‘’Dag Zero’’ bereik het.
Wie sou kon voorspel dat na afloop van die waterkrisis in Kaapstad en die beplande beurtkrag van ESKOM ons nog ‘n krisis in die gesig sou staar met die Covid-19 pandemie wat ons daaglikse bestaan en werkswyse drasties verander. Alles wat vanselfsprekend is, het in ‘n oogwink verander. Met die 3de vlaag van Covid-19 wat haas onafwendbaar is, wil ek vir julle die versekering gee dat ons alles in ons vermoë sal doen om die veiligheid van die leerders en die skoolgemeenskap te verseker. Nuwe regulasies het ons as skool reeds die afgelope week genoodsaak om die formaat van sportoefeninge te verander asook dat kooroefeninge vanaf 24 Mei slegs in graadverband sal geskied. Ons sal dan weekliks die sport- en kooroefeninge bestuur afhangend van die erns van die 3de Covid-vlaag. Dit is vir ons belangrik dat ons leerders so lank as moontlik aktief bly en met aangepaste sport- en kultuuraktiwiteite voortgaan totdat die erns van die pandemie vir ons anders wys. Die musiekkonsert van Woensdagaand, 26 Mei, is ook vir eers uitgestel tot latere kennisgewing. Ek is van mening dat indien ons met die konsert Woensdagaand sou voortgaan, dit beslis die verkeerde boodskap na buite sou stuur.
Die pandemie het nie net ‘n vernietigende impak op die ekonomie nie, maar lei tot lewensverlies. Die onlangse afsterwe van die bekende akteur, Ben Kruger, het my opnuut weer laat besef die geweldige emosionele skade van kommer, angs, hartseer en om dan nie eers van die onsekerheid van hoe lank ons nog gebukkend onder die die virus se impak sal wees, te praat nie. Graag versoek ek julle om ook gereeld met jul kinders te gesels oor hul ervaring van die pandemie. Hou asseblief hul gemoed dop, want soveel reëls en regulasie maak net eenvoudig nie sin nie. Die enigste normaal wat hulle nou ken, is verandering. Daarom doen ek ‘n ernstige beroep op die skoolgemeenskap dat ons positief sal bly en nie sal toelaat dat die 3de vlaag ons vrese sal verteenwoordig nie, maar eerder ons vermoë om nog ‘n krisis te oorwin.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling: “Staying positive does not mean that things will turn out okay. Rather it is knowing that you will be okay no matter how things turn out.”
Ons kom aan die einde van nog ‘n suksesvolle week en ons skool is baie geseënd dat alles klopdisselboom verloop. Die enigste demper die week is die afkondiging deur die Nasionale Onderwysdepartement, asook WKOD, dat alle kontaksporte met onmiddellike effek afgestel moet word as ‘n voorsorgmaatreël om die impak van die 3de Covid-vlaag hok te slaan.
Julle wonder seker waar dit ons as skool t.o.v. die sportaktiwiteite laat wat die afgelope tyd so mooi in plek geval het? Graag deel ek dat ons met wintersportoefeninge tot verdere kennisgewing voortgaan, maar die formaat gaan verander en die fokus tydens oefeninge verskuif na vaardigheidsontwikkeling terwyl fisiese kontak totaal vermy word. Ek glo julle stem saam dat ons nie nou al die leerders se bietjie sportervaring net eenvoudig moet bederf nie, want dit is belangrik dat ons leerders aktief en fiks bly terwyl hulle ook die vars lug buite kan geniet. Om nie eers te praat van die sosiale interaksie en vaardighede wat met wintersport gepaardgaan nie. Ongelukkig sal daar tot verdere kennisgewing geen wedstryde of sportklinieke kan geskied nie. Ons gaan egter nie die beplande sportklinieke en wedstryde net eenvoudig afstel nie, maar bloot uitstel. Ek wil graag ‘n skoolkultuur skep waar ons slegs onder uiterste omstandighede sport en/of funksies sal kanselleer. Om net eenvoudig te kanselleer kan so maklik ‘n slegte gewoonte raak.
Soos julle, wonder ek ook of die 3de vlaag van die pandemie die Wes-Kaap en Suid-Afrika so hard gaan tref en wat is die plan van die regering om die ‘beloofde’ entstofprogram vinniger uit te rol. Ons moet egter nie te selfvoldaan raak en die erns van die 3de golf onderskat nie. Dus vra ek dat ons as JvR-familie waaksaam sal wees en ten alle tye Covid-protokol sal toepas om die veiligheid van ons skoolgemeenskap, provinsie en land te verseker. Wees verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om die veiligheid van ons leerders, personeel en ouers te verseker.
Graag versoek ek julle as ouers/voogde se hulp t.o.v. die volgende:
Die Covid-19 inperking het ons leerders genoodsaak om baie meer van die internet, aanlynonderrig, sosiale media en kommunikasie met maats gebruik te maak. Weens die feit dat leerders minder buitemuurse programme en sosiale geleenthede gehad het, is baie tyd dus deur sosiale media opgeneem en moontlik deel van hul daaglikse lewe geword. Ek versoek graag om ‘n bietjie te loer waarmee jou kind/ers op sosiale mediaruimtes besig is. Kinders besef nie die gevare van sosiale platforms nie en besef nog minder dat hulle as gevolg van groepsdruk (om “cool” te wees) dikwels kommentaar bewustelik en onbewustelik lewer wat onvanpas is. Sosiale media gebruik kan so maklik ‘n gewoonte raak en ook so maklik ‘n verslawing. Dit op sy beurt kan lei tot geestelike en emosionele skade. Baie dankie dat julle betrokke gaan raak en duidelike grense t.o.v. sosiale media gebruik sal stel. Wees asseblief vir jou kind/ers ‘n voorbeeld om sosiale media verantwoordelik te gebruik.
Graag sluit ek af met die volgende aanhaling om vir julle ‘n wonderlike en geseënde naweek saam met familie en vriende toe te wens: “Be like sunshine that gives life to others.”
Ek kan nie glo hoe vinnig die eerste week van die nuwe kwartaal verby gesnel het nie. Ek hoop en vertrou julle het ‘n wonderlike Moedersdag op Sondag, 9 Mei, saam met jul familie en / of gesin geniet. Mag ons nooit die belangrike rol wat moeders vertolk, vergeet nie. Ek glo moeders is die gom wat alle huishoudings bymekaar hou; moeders is die kompas wat die gesinne se kernwaardes op koers hou. Baie dankie dat julle aan die waardes bou, want dit skep geborgenheid en standvastigheid vir ons kinders.
Op Donderdag, 6 Mei, het ons Trust ‘n baie suksesvolle kleiduifskietdag by die ‘’Gun Valley Clay Target Club’’ aangebied. Kleiduifskietery behels klein (oranje) teikens wat deur die lug geskiet word om voëljag te stimuleer. 65 Persone waarvan die meeste aspirante skutte was, het aan die gewilde dag deelgeneem. Ons hoofborg vir die dag was Safari Outdoor. Baie dankie aan Stephanie le Roux, Ria Hertzog en LJ le Roux wat hard agter die skerms gewerk het om die unieke geleentheid moontlik te maak. Dankie ook aan Pieter Janse van Vuuren wat met soveel entoesiasme betrokke was. Die dag is afgesluit met ‘n klein, intieme veiling waartydens R141 000 onder die bekwame leiding van ons uitstekende afslaer, MC du Toit (ouer by Huppelland), ten bate van welwillenheid ingesamel is. Ek wil graag soos tydens my toespraak ons ouers hartlik bedank vir die feit dat hul beursies vir welwillendheid wawyd oop staan. Gelde geïn gaan direk aangewend word om twee gebalanseerde etes per dag vanuit die snoepie aan ons behoeftige leerders te voorsien. Ek het self die voorreg gehad om ook deel te neem en vinnig besef hierdie sport vereis ‘n ander vaardigheid as om bloot statiese teikens raak te skiet. Die ‘kleiduiwe’ vlieg vrek vinnig in verskillende rigtings en ek moet bieg ‘n mens ervaar emosies soos geen ander en kan ek verstaan dat dit ‘n baie self-verslawende sport kan word. Dit was lekker om te sien dat heelwat van ons mammas ook deelgeneem het en in die proses die meeste van ons pappas op hul neuse laat kyk het. Baie geluk aan Coreen Scholtz wat as die beste dames skut aangewys is.
Gisteroggend het ons die skooldag met ‘n kort vrywillige saalbyeenkoms begin om Hemelvaart te vier. Hemelvaartsdag val altyd op die 40ste dag gereken vanaf die eerste Paasdag. Op Hemelvaartsdag vier Christene wêreldwyd dat Jesus na Sy kruisiging en opstanding in die hemel opgevaar het en alomteenwoordig deur Sy gees is. Ons wens ons Christen-gemeenskap ‘n geseënde Pinkster toe.
Graag wil ons ook ons Moslem-ouers en breër Moslem-gemeenskap wat vandag die einde van Ramadan vier, ‘n geseënde dag van Eid Mubarak toewens. Mag julle as gesinne en/of families hierdie spesiale dag geniet.
Graag sluit ek af met hemelvaart, Ramadan en ons waarde vir die maand ingedagte met die volgende aanhaling: “Jy sal niks verloor deur nederig te wees nie, want ‘n nederige persoon wen die harte van mense.”
Ek hoop en vertrou dat julle as gesinne die kort vakansie terdeë geniet het. Alhoewel die vakansie baie kort was, amper gevoel soos ‘n ‘laaang’ naweek, kon dit beslis nie op ‘n beter tydstip aangebreek het nie. Dit was ‘n lang eerste kwartaal en as ons dit aan prestasie sou koppel, het ons as skoolgemeenskap holities met vlieënde vaandels geslaag. Nou lê daar ‘n baie opwindende kwartaal 2 voor wat 10 weke en 49 skooldae insluit. Jammer vir die bietjie nuttelose inligting, maar dit is tog van belang wanneer dit kom by akademiese- en selfs persoonlike beplanning. Kwartaal 2 is die begin van wintersport en as die parmantige pandemie ons toelaat, sien ons baie uit om aan ‘n paar wedstryde of ‘n lekker sportdag deel te neem.
Op akademiese gebied, sluit kwartaal 2 ‘n assesseringsweek vir Gr. R – 3 asook die eksamen vir Graad 4 – 7 in. Wees verseker dat ons opvoeders die ekstra myl gaan loop om ons Jannies behoorlik voor te berei en toe te rus om die spreekwoordelike ‘eksamen-bul’ by die horings te pak. Die afgelope week het julle die geleentheid gehad om jou kind/ers se onderwysers te ontmoet asook hul kwartaal 1 akademiese vordering met die onderskeie opvoeders tydens ouerafsprake te bespreek. Ek is baie beïndruk met die hoeveelheid ouers wat die ouerafsprake eerbiedig het. Baie dankie dat jy kosbare tyd in jou kind se toekoms investeer. Laat my ook asseblief toe om ons bekwame opvoeders te bedank vir hul waardevolle insette tydens die belangrike ouerafsprake. Ek nooi julle as ouers/voogde uit om aktief by jou kind/ders se akademie betrokke te bly en behou gereelde kontak met hul onderskeie opvoeders.
Die veranderde Covid-maatreëls laat nou toe dat tot en met 250 persone binnenshuis mag vergader. Dit het vir ons die geleentheid gebied om op Dinsdag, 4 Mei, ‘n saalbyeenkoms vir die Graad 6- en 7-leerders te hou. Ons bekwame leerderraad het die saalbyeenkoms uitstekend gelei, ‘n verrykende boodskap gebring en dit was ongelooflik om hul in aksie te sien. Tydens die saalbyeenkoms is die Top 10 akademiese Gr. 7-leerders vir kwartaal 1 na vore geroep om erkenning vir hul harde werk en prestasie te ontvang. Ons beplan ook vir die komende weke om saalbyeenkomste vir die res van die grade te reël. Dit bied vir my die eerste keer as nuwe skoolhoof ‘n geleentheid om meer formeel met ons leerders in groter groepe te kommunikeer asook om ons leerderraad aan al ons leerders amptelik voor te stel. Covid het hierdie belangrike byeenkomste en funksies van ons vir ‘n baie lang tyd beroof.
Neem asseblief kennis dat ons waarde vir die maand ‘nederigheid’ is. Help ons asseblief as opvoeders om ons Jannies te leer om nederig te bly, nie te dink dat ons beter is as ander mense nie, maar wys genoeg om te weet dat ons mag anders wees. Ek glo natuurlik die beste manier om nederig te bly is om ander mense te dien. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling van C.S. Lewis: “Nederigheid is nie om minder van jouself te dink nie; dit is om minder áán jousélf te dink.”
So sluit ons die eerste kwartaal op ‘n hoë noot af met ‘n baie besige, maar opwindende week agter die rug. Die enigste demper van die opwinding was die verwoestende bergbrande teen Tafelberg. Dit was hartseer om te sien hoe die genadelose vlamme die pragtige fynbos hektaar vir hektaar verslind terwyl honderde brandbestryders en die rampbestuurpersoneel die vlammeoorlog probeer beveg. Ek is so trots op ons skoolgemeenskap wat d.m.v. die Karri-toep R7 625 geskenk het waarmee Razelle, Maricqe, Beulah, Elana en Sanna etes uit die kafeteria voorberei en aan die plaaslike brandweerstasie in Roelandstraat geneem het. Dit is ‘n toonbeeld van ‘n omgee skoolgemeenskap om hul opregte dankbaarheid teenoor die nooddienspersoneel te toon wat onverskrokke die brande oor die afgelope dae sonder rus trotseer het.
Ek is so bly ons het die afgelope Maandag die Grondslagfase se pretatletiekbyeenkoms deurgevoer. Die magtige Suidooster het hard probeer om ons planne by die Conradie-sportvelde in die wiele te ry. Dit was so lekker om te sien hoe ons jong atlete hul gate uit geniet het, salig onbewus van die dreigende brand- en rookgevaar asook dat van ons ouers hul huise as gevolg van die dreigende brande moes ontruim. Ons is baie dankbaar dat ons ouers en hul eiendom ongeskonde gebly het.
Dinsdagoggend, 20 April, het ons Gr. 4 – 7-leerders aan die tweede dag van die pretatletiekbyeenkoms by die hoërskoolvelde deelgeneem. Die rook van die smeulende brande het sy uitdagings tydens die aanvang van die dag gebring, maar Jannies en die personeel laat hulle nie sommer onderkry nie. Gelukkig het die rook vinnig weggetrek en die dag het in ‘n pragtige sonkyndag getransformeer, waar ‘uitgehongerde’ leerders vir sportdeelname, in hul massas deelgeneem het. Die “sing songs” van die verskillende kleurgroepe het almal in ‘n vrolike luim gekry en die atlete die volle byeenkoms gemotiveer om hul beste te gee. Baie dankie aan al ons leerders wat ‘n skoon en netjiese pawiljoen agtergelaat het, ek is so trots op julle!
Baie dankie aan Ben, Helecia en Estelle wat Woensdagoggend vir ons Gr. 1-3-musiekleerders ‘n pragtige interne musiekkonsert gereël het. Dit was ‘n voorreg om ons Jannies se besondere musiektalent te aanskou, te bewonder en te geniet. Tydens die uitdeel van musiektalente, het ek die spreekwoordelike heel laaste in die ry gestaan, ek wens ek kon ‘n musiekinstrument bemeester soos wat ons musiekleerders doen.
Groot opgewondenheid het ook gister in die vierkant geheers met die kwartaalikse markdag. Ons leerders het soos ervare entrepreneurs hul produkte uitgestal, luideliks bemarking gedoen en verkoop aan menigte gewillige kopers. Ek het dit gewaag om tussen al die stalletjies rond te beweeg, net om te sien wat daar te koop is. Natuurlik het ek hopeloos te min kontant by my gehad, want elke verkoper het verwag dat die skoolhoof hulle ten minste sal ondersteun. Ons leerders het baie pret gehad met die mees interessante produkte wat te koop was.
Graag wil ek ook ‘n kort huldeblyk aan een van ons voormalige skoolhoofde, mnr. Francois Schreuder, lewer wat op Saterdag, 17 April, na ‘n lang siekbed afgesterf het. Mnr. Schreuder was skoolhoof vanaf 1973 – 1983 en was instrumenteel tot die sukses van ons skool. Hy het diep spore by JvR en onderwys in die algemeen getrap. Mnr. Schreuder het onder andere die swembad en tennisbane by ons skool laat aanlê. Hy het hoë aansien en respek by ander skoolhoofde afgedwing. Hy was beskou as baie beleefd en was uiters deursigtig teenoor leerders, personeel en ouers.
Mnr. Schreuder het ook op die sportveld presteer deur onder andere vir Boland, Griekwas en WP rugby te speel. Hy het ook kultuur by ons skool gemotiveer deur nou betrokke by die Kaapse Eisteddfod te wees en deelname daaraan sterk onder leerders aangemoedig. Ons dink met heimwee en waardering aan hom, hy was ‘n merkwaardige onderwysleier en mag sy nagedagtenis lank bly voortleef. Ons innige meegevoel aan sy vrou, Barbara, en die kinders. Ons beplan om binnekort ‘n meer volledige huldeblyk aan hom te skenk.
Vandag ontvang die leerders ook hul rapporte wat hul akademiese vordering vir die eerste kwartaal sal weerspieël. Baie geluk aan al die leerders met jul puik akademiese prestasies. Julle maak ons en jul ouers baie trots. Gun my dan ook die geleentheid om die personeel van ons skool en Huppelland hartlik te bedank vir hul harde werk en toegewydheid. Ons is baie geseënd met puik personeel wat nie net hard werk nie, maar werklik omgee vir die leerders. Baie dankie ook aan ons nuwe beheerraad onder leiding van Merwe wat kosbare tyd afstaan om te verseker dat JvR van krag-tot-krag gaan!
Ek wens vir al ons leerders, personeel, ouers en voogde ‘n welverdiende vakansie toe. Dit was ‘n lang kwartaal, lekker rus en indien julle reis, reis veilig en ek kan nie wag om julle almal weer op Maandag, 3 Mei, terug by die skool te verwelkom nie.


So kom ons aan die einde van ‘n eerste ‘vol’ week na ‘n tydperk van 3 lekker ‘korter’ weke. Ek glo almal het die korter weke geniet en tydens die openbare vakansiedae sommer net tyd spandeer aan iets om lekker te ontspan. Soos in my vorige nuusbrief genoem, is die kwartaal besonders lank en ek kan selfs opmerk dat ons leerders uitsien na die kort vakansie wat volgende Vrydag sal aanbreek.
Ons kom ook aan die einde van die formele assesseringsprogram vir kwartaal een. Graag wil ek jul as ouers verseker dat die standaard van akademie by ons skool uitmuntend is waarop ons as skoolgemeenskap baie trots kan wees. Assesserings volg ‘n effektiewe proses van deeglike moderasie en ek as skoolhoof teken elke formele assessering af voordat die leerders dit finaal aflê. Volgende week sal elke leerder ook ‘n rapport ontvang wat dan sy/haar akademiese vordering vir die kwartaal sal weerspieël. Laat my ook toe ook om ons onderwysers onder leiding van ons bekwame akademiese hoof, Marinda Brink, hartlik te bedank vir hul harde werk, omgee en kwaliteitonderrig tot voordeel van ons leerders.
Ek nader ook teen einde volgende week my eerste kwartaal as skoolhoof by ons merkwaardige skool. Ek ontvang die afgelope tyd gereeld die volgende vraag vanaf ouers: “Is jy darem gelukkig by JvR?”. Die antwoord is ongetwyfeld ‘JA’. Wees verseker ek ervaar ongelooflike geluk in my keuse om deel van die JvR skoolgemeenskap te wees. Die besondere wyse hoe julle as ouers en leerders my met ope arms ontvang het, sal lank by my bly. Ek is so bevoorreg om as ‘n skoolhoof by die skool aan te sluit in die jaar wat die skool ‘n honderd jaar oud word. Ek bewonder die ryk geskiedenis en tradisies van ons skool hier in die middel van die stadskom met die ikoniese Tafelberg in die agtergrong terwyl Leeukop en Seinheuwel ons daaglikse skoolverrigtinge fyn dophou – dit is so uniek en kosbaar. Ek het in ‘n baie kort tydjie ‘n baie trotse Jan van Riebeecker geword, want ons skool se leuse, “Wees jouself”, is nie net lippetaal nie, ons leef dit trots uit! Baie dankie vir julle omgee en die moeite wat julle doen om my te laat tuis voel – ek en my gesin het groot waardering.
Leerders wat belangstel om Donderdag, 22 April, ‘n tafel te bestuur of beman, kan R15 op die Karri-toepassing betaal.
Produkte moet van so ‘n aard wees dat leerders dit self skool toe kan dra, aangesien ouers nie op die perseel toegelaat word nie. Leerders is verantwoordelik vir hul eie kleingeld en geen lewende hawe mag verkoop word nie.
Die markie sal vanaf 09:45 tot 10:45 bedryf word.
Daar word sportwedstryde vir die tweede kwartaal gereël. Die oranje sporthemde word tydens netbal- en hokkiewedstryde gedra. Dit is dieselfde as die tennis- en kriekethemde. Dogters dra die moulose hemp, en seuns die hemp met moue en ‘n kraag. Plaas asseblief hierdie bestellings voor die skool sluit.
Klerebanktye: Maandae en Woensdae, 07:20 – 8:00
**Volgende week Dinsdag en Donderdag sluit die skool vroeër. Die klerebank gaan dus nie oop wees nie.
Let op dat die skool volgende week Maandag tot Vrydag die volgende tye open en sluit:
Maandag
Gr.1-3 09:00 – 11:30 (Conradieveld)
Gr.4-7 Gewone skooldag
Dinsdag
Gr.1-3 Gewone skooldag
Gr.4-7 07:15 – 13:30 (Hoërskool JvR Sportvelde)
Woensdag
Gewone skooldag
Donderdag
Gr.1-3 Sluit 11:45
Gr.4-7 Sluit 12:00
**Die skool sluit vroeër aangesien die personeel se 2020 jaareindfunksie wat a.g.v. die pandemie uitgestel is, nou eers op Donderdag om 13:00 gaan plaasvind. Die bus sal nie hierdie dag beskikbaar wees om leerders huis toe te vat nie, want dit word benodig vir die personeelfunksie. Leerders sal wel steeds die oggend gehaal word.
Vrydag
Gr.1-3 Sluit 10:30
Gr.4-7 Sluit 10:45
**Die bus vertrek om 10:50
Leerders ontvang vandag die koeverte om die foto’s te bestel wat op Woensdag, 10 Maart 2021, geneem is.
Hoe werk die bestel van foto’s:
1. Leerders ontvang ‘n koevertjie om huis toe te vat met hul gesiggies daarop. Moet asseblief NIE die gesiggies afhaal nie!
2. Vul asseblief alle inligting duidelik en leesbaar op die koevert in.
3. Die verskillende fotopakkette is alles op die koevert aangedui. Merk jou keuse duidelik af.
3. Probeer om die korrekte bedrag geld binne die koevert te sit.
4. Maak die koevert toe en stuur dit skool toe.
6. Indien jou kind(ers) nie ‘n foto gaan bestel nie, stuur asb. die leë koevert terug skool toe.
Wat maak ek indien my kind die koevert verloor het?:
Indien jou kind(ers) die koevert(e) verloor het, kan jy ook foto’s op die fotograaf se webtuiste bestel. Kliek op die skakel: LUNCHBOX PHOTOGRAPHY. Die wagwoord om in te gaan is JVR2020.
NB: Fotogeld gaan NIE deur die Karri toep nie!
Laaste dag vir fotobestellings is Woensdag, 21 April 2021
Belangrike Datums
augustus 2026
september 2026

